Die Bybelse verhaal van die toring van Babel (Hebreeus: מִגְדַּל בָּבֶל, Migdal Bavel) in Genesis 11:1-9 verduidelik hoekom die wêreld se volke verskillende tale praat.

Volgens die verhaal het ’n verenigde volk wat een taal gepraat het ná die Sondvloed ooswaarts getrek en by Sinar aangekom. Hulle het besluit om ’n stad te bou, asook ’n toring waarvan die punt tot in die hemel sou reik. God het dit gesien en verwarring in hulle taal gebring sodat hulle mekaar nie meer kon verstaan nie. Hy het hulle toe oor die aarde verstrooi. Sommige moderne skrywers het al die toring van Babel met bekende strukture verbind, veral Etemenanki, ’n ziggoerat in Babilon wat aan die god Mardoek opgedra was.

Bybelse geleerdes beskou die boek Genesis as mitologies en nie as ’n historiese weergawe van gebeure nie. ’n Sumeriese storie met soortgelyke elemente word in Enmerkar en die god van Aratta vertel. Die Skotse sosiale antropoloog sir James George Frazer vertel ook in sy Folklore in the Old Testament van 1918 van verskeie ooreenkomste van stories uit die Ou Testament, soos die Sondvloed en die toring van Babel, met inheemse legendes oor die wêreld heen.

thumb|240px|links|Uitbeelding uit die Duitse laat Middeleeue van die bou van die toring (omstreeks 1370's). Bybelse verhaal

Etimologie Die frase "toring van Babel" kom nie in die Bybel voor nie; dit word "stad en toring" of net "stad" genoem. Die oorspronklike ontlening van die naam Babel (ook die Hebreeuse naam vir Babilon) is onseker. Die Akkadiese naam vir die stad was Bāb-ilim, wat beteken "poort van God". Dié vorm en vertolking kom egter vermoedelik uit ’n volksetimologie wat op ’n vroeëre naam, Babilla, toegepas is; laasgenoemde se betekenis is onbekend en dit het waarskynlik ’n nie-Semitiese oorsprong.Dietz Otto Edzard: Geschichte Mesopotamiens. Von den Sumerern bis zu Alexander dem Großen, Beck, München 2004, p. 121.

Volgens die Bybel is die stad "Babel" genoem, van die Hebreeuse werkwoord בָּלַ֥ל (bālal), wat beteken "deurmekaargooi" of "verwar".

Samestelling Genre Die verhaal van die toring van Babel is ’n etiologie (oorsaakleer). ’n Etiologie verduidelik die oorsprong van ’n gebruik, ritueel, naam of ander verskynsel. Die storie van die toring verduidelik die ontstaan van verskeie tale. God was bekommerd dat die volk ’n toring wou bou om ’n tweede vloed te voorkom en daarom het Hy baie tale geskep. Mense is dus in taalgroepe verdeel wat mekaar nie kon verstaan nie.

Temas Die verhaal se tema van mededinging tussen God en die mens kom elders in Genesis voor, in die storie van Adam en Eva in die tuin van Eden. Die 1ste-eeuse Joodse vertolking wat in Flavius Josephus voorkom, verduidelik die bou van ’n toring as ’n aanmatigende daad om God te tart, waarvoor die arrogante tiran Nimrod opdrag gegee het. Hierdie klassieke vertolking word egter soms betwis en klem word gelê op die eksplisiete motief van kulturele en linguistiese homogeniteit wat in verse 1, 4 en 6 genoem word. In hierdie vertolking van die verhaal word God se optrede nie beskou as ’n straf vir trots nie, maar as ’n etiologie van kulturele verskille, en word Babel as die wieg van die beskawing beskou.

Outeurskap Tradisie gee Moses die eer vir die skryf van die hele Pentateug; in die laat 19de eeu is die dokumentêre hipotese egter deur Julius Wellhausen voorgestel. Daarvolgens word vier bronne vir die Pentateug voorgestel: J (Jahwisties), E (Elohisties), P (priesterlik) en D (Deuteronomisties). Aanhangers hiervan meen die verhaal van Babel kan toegeskryf word aan die Jahwistiese bron. Die etiologiese aard van die verhaal word as tipies van J beskou. Daarbenewens word die opsetlike woordspeling in verband met die stad Babel en die geraas van die mense wat "babbel", beskou as tipies van J.

Historiese konteks links|220px|thumb|Die Hangende Tuine van Babilon, ’n illustrasie uit die 19de eeu, wys die toring van Babel op die agtergrond. Bybelse geleerdes beskou die boek Genesis as mitologies en nie as ’n historiese weergawe van gebeure nie. Die storie van Babel kan nietemin in terme van sy konteks vertolk word. In Genesis 10:10 word Babel as deel van Nimrod se koninkryk verklaar. Die Bybel noem nie spesifiek dat Nimrod opdrag vir die bou van die toring gegee het nie, maar baie ander bronne verbind dit wel met Nimrod.

Genesis 11:9 skryf die Hebreeuse weergawe van die naam "Babel" toe aan die werkwoord balal, wat beteken om te verwar. Ook Flavius Josephus het verduidelik die naam kom van die Hebreeuse woord Babel (βαβὲλ), wat "verwarring" beteken.Josephus, Antiquities, 1.4.3

Vernietiging Die weergawe in Genesis maak geen melding daarvan dat die toring vernietig is nie. Die volk wat verskillende tale begin praat het, is bloot "verstrooi oor die hele aarde", sodat hulle kon ophou om die stad te bou. In ander bronne, soos die Boek van Jubileë (hoofstuk 10:18-27), Cornelius Alexander (frag. 10), Abudenos (frag. 5 en 6), Josephus (Antiquities 1.4.3) en die Sibillynse Orakels (iii. 117-129) waai God die toring met ’n sterk wind om.

In een midrasj (Joodse Bybelse eksegese) word gesê die bopunt van die toring het afgebrand, die onderkant is ingesluk en die middelste deel is laat staan om mettertyd te verweer.

Etemenanki, die ziggoerat in Babilon thumb|220px|’n Voorstelling van Etemenanki, wat 91 m hoog was. Etemenanki was die naam van ’n ziggoerat in die stad Babilon wat aan die god Mardoek gewy was. Dit is in die 6de eeu v.C. deur die Neo-Babiloniese konings Nabopolassar en Nebukadnesar II laat herbou. Volgens moderne geleerdes soos Stephen L. Harris is die verhaal van die toring van Babel waarskynlik beïnvloed deur Etemenanki tydens die Babiloniese gevangenskap van die Jode.

Nebukadnesar het geskryf die oorspronklike toring is in antieke tye gebou: "’n Vorige koning het die Tempel van die Sewe Ligte van die Aarde gebou, maar hy het nie die punt voltooi nie. Mense het dit lank gelede ontruim, sonder ’n verslag van hulle woorde. Sedertdien het aardbewings en weerlig sy songedroogde klei opgebreek; die stene aan die buitekant het gebars en die grond aan die binnekant is in hope versprei." Die sewe ligte was die planete, maan en son wat destyds geglo is om die aarde wentel.

In 2011 het geleerdes die oudste bekende voorstelling van Etemenanki ontdek. Dit is uitgekerf op ’n swart steen bekend as die "Toring van Babel-stele", wat dateer van 604 tot 562 v.C., die tyd van Nebukadnesar II.

Die Griekse historikus Herodotos (440 v.C.) het later van hierdie ziggoerat geskryf, wat hy die "Tempel van Zeus Belus" genoem het. Daarin skyf hy van sy enorme afmetings.

Die reeds vervalle Groot Ziggoerat van Babilon is eindelik deur Alexander die Grote vernietig in ’n poging om dit te herbou. Sy dood het egter ’n einde aan die projek gebring.

Toring se hoogte In Genesis word nie genoem hoe hoog die toring was nie. Die frase wat gebruik word om die toring te beskryf, "punt tot in die hemel" (Genesis 11:4), was ’n idioom vir ’n indrukwekkende hoogte en beeld nie arrogansie uit nie.

Volgens die Boek van Jubileë was die toring 5 433 el en 2 palms hoog – of 2 484 m, sowat drie keer so hoog soos Burj Khalifa. Die Derde Openbaring van Barug noem die "toring van twis" was 463 el hoog – of 211,8 m, hoër as enige mensgemaakte struktuur tot met die oprigting van die Eiffeltoring in 1889. Die Eiffeltoring is 324 m hoog.

Gregorius van Tours haal omstreeks 594 ’n vroeëre skrywer, Orosius (omstreeks 417), aan wat gesê het die toring was "vierkantig, op ’n baie gelyk vlakte. Sy muur, wat van gebakte stene gemaak was en met pik gemessel is, was 50 el breed, 200 el hoog en 470 stadions in omtrek." ’n Stadium het destyds ’n omtrek van sowat 176 m gehad.Donald Engels (1985). The Length of Eratosthenes' Stade. American Journal of Philology 106 (3): 298–311. (subskripsie nodig). Aan elke kant was 25 poorte, dus altesaam 100. Die groot deure was van brons. "Dieselfde historikus vertel baie stories oor die stad en sê: 'Hoewel sy gebou so glorieryk was, is dit steeds verower en verwoes.'"Gregorius van Tours, History of the Franks, vertaling van die 1916-vertaling deur Earnest Brehaut, Boek I, hoofstuk 6. Aanlyn beskikbaar by abridged form.

’n Tipiese Middeleeuse weergawe word deur Giovanni Villani (1300) gegee: Dit was 130 km in omtrek, 4 000 treë (5,92 km) hoog en 1 000 treë dik.Uittreksels uit Giovanni se Kronieke in Engels. Die 14de-eeuse reisiger John Mandeville gee ook ’n beskrywing van die toring en sê dit was volgens plaaslike bewoners 64 furlong (13 km) hoog.

In sy boek Structures: Or Why Things Don't Fall Down (Pelican 1978–1984), skryf prof. J.E. Gordon oor die hoogte van die toring. Volgens hom weeg stene en klippe 2 000 kg per m3. Elementêre rekenkunde wys ’n toring met parallelle mure kon 2,1 km hoog gewees het voordat die onderste stene deur die gewig inmekaargedruk word. As die mure nouer geloop het na bo, kon hulle so hoog gewees het dat die mense van Sinar se suurstof sou opraak en hulle moeilik sou asemhaal voordat die stene onder hulle eie gewig sou instort.

Latere geskrifte thumb|links|200px|Turris Babel, deur die Duitser Athanasius Kircher.

Josephus Die Joods-Romeinse historikus Flavius Josephus hervertel die geskiedenis soos dit in die Hebreeuse Bybel voorkom in sy Antikwiteite van die Jode (omstreeks 94 n.C.) en noem die toring van Babel. Hy skryf Nimrod het die toring laat bou en hy was 'n tiran wat probeer het om die mense van God af te keer. God het besluit om die mense te verwar eerder as dood te maak, want uitwissing met 'n vloed het hulle nie geleer om goddelik te wees nie.

Islamitiese tradisie Hoewel dit nie by die naam genoem word nie, het die Koran 'n storie wat met die Bybelse weergawe van die toring van Babel ooreenstem. Dit speel egter in die Egipte van Moses af. Die farao vra Hamaan om vir hom 'n toring te bou sodat hy na die hemel kan opklim om die God van Moses te konfronteer.Soera 28:36 en 40:36–37, Die Heilige Quran. In Afrikaans vertaal deur Imam M.A. Baker. Uitgegee deur IDM (Islamic Dawah Movement of Southern Africa) Publications.

Hoewel variasies soortgelyk aan die Bybelse vertelling van die toring van Babel in Islam voorkom, is die idee dat God die mens geskei het op grond van hulle taal nie in Islam bekend nie, volgens die skrywer Yahiya Emerick. Hy glo God het volgens die Islamitiese geloof nasies geskep om mekaar te ken en nie om geskei te word nie.

Boek van Mormon In die Boek van Mormon vra 'n man met die naam Jared en sy gesin God om nie hulle taal in die tyd van die "groot toring" te verwar nie. Vanweë hulle gebede bewaar God hulle taal en lei hulle na die Vallei van Nimrod. Van hier af reis hulle oor die see na die Amerikas.

Hoewel daar geen melding van die toring van Babel in die Boek van Mormon is nie, glo sommige leiers in die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae die "groot toring" was inderdaad die toring van Babel. Hulle sê hulle Kerk glo die vertellings van die Sondvloed en die toring van Babel, "hoewel baie mense vandag dink dit is fiksie".

Spraakverwarring thumb|200px|Die Spraakverwarring, deur Gustave Doré, ’n houtsneewerk wat die toring van Babel uitbeeld. Die spraakverwarring (confusio linguarum) is die ontstaansmite vir die fragmentasie van die menslike tale wat in die Bybel beskryf word en wat gevolg het op die bou van die toring van Babel.

Bybelse weergawe In Genesis 11 word beweer alle mense het voor die bou van die toring een taal gepraat. Dit bots met ’n vroeëre vers, Genesis 10:5. ("Uit hulle het die mense wat nou die kusstreke bewoon, daarnatoe versprei, volgens hulle stamme en nasies, elkeen met sy eie taal.")

Latere vertolking Tydens die Middeleeue is Hebreeus algemeen deur Joodse, Christelike en Moslemse geleerdes beskou as die taal wat God gebruik het om in die Paradys met Adam te praat, en deur Adam self.