Ukraine International Airlines Vlug 752 (PS752) was 'n geskeduleerde internasionale passasiersvlug van Teheran na Kijif, bedryf deur Ukraine International Airlines. Op 8 Januarie 2020 is die Boeing 737-800 wat die roete bedien deur gewapende magte van die Islamitiese Republiek van Iran afgeskiet, kort nadat dit opgestyg het vanaf die Internasionale Iman Khomeini Lughawe in Teheran. Al 176 passasiers en bemanning is dood, wat dit die dodelikste lugvaartramp in meer as 'n dekade op Iranse grondgebied maak. Die voorval was die eerste noodlottige lugvaartvoorval vir die Ukraine International Airlines sedert die aanvang van hul werksaamhede in 1992.
Aanvanklik het die Iranse owerhede ontken dat hulle die vliegtuig afgeskiet het en aantygings daarvan as "sielkundige oorlogvoering" afgemaak en gemeld dat daar 'n tegniese fout met die vliegtuig was. Na die aanvanklike verklaring van Iran het die owerhede in die Oekraïne gesê dat die afskiet van die vliegtuig een van hul "belangrikste werksteorieë" was.
Amerikaanse, Kanadese en Britse amptenare het gesê dat hulle glo dat die vliegtuig afgeskiet is deur 'n Tor-M1-grond-tot-lug-missiel wat deur Iran gelanseer is. Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het gesê dat Kanada se eie intelligensie sowel as bewyse deur Amerikaanse intelligensie-agentskappe voorgestel het dat die vliegtuig afgeskiet is. Iran het op 11 Januarie erken dat hy die vliegtuig afgeskiet het weens menslike foute omdat hul weermag die vliegtuig verkeerdelik aangesien het as 'n "vyandige teiken".
Die voorval het plaasgevind gedurende 'n tydperk van toenemende spanning tussen die Verenigde State en Iran, na 'n hommeltuigaanval wat die Iranese generaal-majoor Qasem Soleimani doodgemaak het en 'n reeks vergeldingsaanvalle van ballistiese missielle deur Iran op Amerikaanse troepe in Irak. Dit is voorafgegaan deur 'n bevel van die Verenigde State dat alle Amerikaanse burgerlike vliegtuie die Iranse lugruim moet vermy en is gevolg deur verskeie ander nasies en lugrederye wat ook hul vliegtuie beveel het om Iran se lugruim te vermy.
Verwysings
Kategorie:Vliegongelukke