Die Franse Rugbyfederasie (Frans: Fédération française de rugby, afgekort FFR) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Frankryk beheer. Die beheerliggaam is in 1919 gestig en in Marcoussis gesetel. Sedert 1978 verteenwoordig dit Frankryk by Wêreldrugby en sedert 1934 ook by Rugby Europa (RE).
Geskiedenis Die Franse Rugbyfederasie is op 13 Mei 1919 gestig en het die sportkommissie van die polisportiewe beheerliggaam, die Unie van Franse atletiese sportverenigings (Union des sociétés françaises de sports athlétiques, USFSA), vervang. In 1934 het die FFR op sy beurt die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) as ’n mededinger vir die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig; hulle het eers in 1978 ’n lid van laasgenoemde geword.
Taak duimnael|links|Ligging van al die spanne, wat reeds aan die Franse Top 14 deelgeneem het (rooi punte); binne die rooi lyn is Oksitanië, die tradisionele sentrum van Franse rugby duimnael|links|Oefenkamp by die FFR se setel in Marcoussis Die Franse Rugbyfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Frankryk se nasionale seniormansrugbyspan, vroue en jeug, asook Ligue nationale de rugby wat Frankryk se professionele ligas administreer. Die FFR hou ook toesig oor sewesrugby in Frankryk en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Franse Nasionale Olimpiese Komitee saam.
As gevolg van die baie groter gewildheid van rugby in Suid-Frankryk was dié sport veral in Oksitanië oor dekades heen deur ’n kleinskaalse strukturering gekenmerk. In die noorde van die land het elke plaaslike beheerliggaam toesig gehou oor ’n groter geografiese gebied. As deel van ’n fundamentele strukturele hervorming van die FFR in 2018 het die destydse 26 plaaslike beheerliggame 13 nuwes gevorm, wat nou amper met die geografiese uitbreiding van dié van die Franse geweste ooreenstem. Drie plaaslike beheerliggame is oorgrens: Aan die Ligue régionale Auvergne-Rhône-Alpes de rugby behoort ook ’n Switserse span, terwyl Andorra en Monaco onderskeidelik onder toesig van die Ligue régionale Occitanie de rugby en die Ligue régionale Provence Alpes Côte d'Azur de rugby is.
Naas die amptelike nasionale span roep die FFR ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Frankryk. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Frankryk oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Sedert die 2017/18-seisoen is die Franse Barbarians die tweede nasionale span van Frankryk.
Die Ligue nationale de rugby reël die professionele speelprogram in Frankryk; hulle hou toesig oor die belangrikste Franse ligas, die Top 14 met 14 spanne en die Pro D2 met 16 spanne. Bo die nasionale kampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Ierland, Italië, Skotland, Suid-Afrika en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugby-uitdaagbeker beslis. Daarbenewens bestuur hulle ook die twee belangrikste ligas in vrouerugby, die Élite 1 met twaalf spanne en die Élite 2 met tien spanne.
Die Franse Rugbyfederasie organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die rugbywêreldbekertoernooie in 1991 en 1999 (albei saam met die ander destydse Vyfnasies), 2007 (saam met Skotland en Wallis), asook 2023. Daarbenewens het hulle die vrouerugbywêreldbekertoernooi in 2014 aangebied. Saam met die Engelse Rugbyvoetbalunie, die Ierse Rugbyvoetbalunie, die Italiaanse Rugbyfederasie, die Skotse Rugbyunie en die Walliese Rugbyunie organiseer hulle die jaarlikse Sesnasies-toernooi en die Sesnasies-vrouetoernooi, die vernaamste rugbytoernooie in die Noordelike Halfrond. Daarbenewens word die Frankryk Sewes jaarliks beslis.
Kenteken Tot in 1912 was die trui van die Franse span wit met twee ringe (die simbool van Union des Sociétés Françaises de Sports Athlétiques, die destydse beheerliggaam van die meeste sportsoorte in Frankryk). Nadat Frankryk sy eerste wedstryd teen Skotland in 1911 gewen het, het die Franse kaptein Marcel Communeau voorgestel dat die span die coq gaulois (Galliese haan), ’n historiese embleem van Frankryk, as sy simbool gebruik. Die Galliese haan is waarskynlik deels gekies omdat dit as ’n trotse en dapper dier beskou word wat soms aggressief kan word; dit is egter reeds vroeër deur Franse spanne as ’n simbool gebruik – ’n voormalige sokkerspeler, Jean Rigal, het reeds in Mei 1910 ’n trui met dié simbool gedra. Die kenteken was oorspronklik wit en rooi, maar dit is ná 1945 in ’n veelkleurige, geborduurde beeld verander, en is sedert 1970 goud. Die Franse rugbyspan se simbool het gewild geword, en is later deur die Franse afvaardiging by die Olimpiese Somerspele 1920 gebruik, waar die haan op vyf Olimpiese ringe geplaas is. Die haan het sedertdien ’n bekende simbool van Franse sportspanne geword. Na Franse spelers word soms as les coqs (“die hane”) verwys en party Franse ondersteuners laat voor wedstryde hane op die speelveld rondloop.
Verwysings
Eksterne skakels
Die FFR se tuisblad
Kategorie:Rugby in Frankryk Kategorie:Rugbybeheerliggaam Kategorie:Wêreldrugby