Die 8,8 cm-Flak 18/36/37/41 is 'n Duitse lugafweer- en antitenkkanon wat in die 1930's ontwikkel is. Dit was een van Nazi-Duitsland se mees gebruikte kanonne regdeur die Tweede Wêreldoorlog en van hul mees gevreesde en herkenbare wapens tydens die oorlog. Die ontwikkeling van die oorspronklike ontwerp het gelei tot die daarstelling van 'n groot verskeidenheid kanonne.

Die naam het betrekking op 'n verskeidenheid kanonne; die eerste een was amptelik die 8,8 cm-Flak 18, die verbeterde weergawe van die 8,8 cm-Flak 36 en later die 8,8 cm-Flak 37 genoem. Die woord Flak is 'n akroniem in Duits vir Flugzeugabwehrkanone en beteken lugafweerkanon, die oorspronklike doel vir die ontwerp van die kanon. In Engels het die woord Flak 'n generiese term geword vir enige lugafweervuur vanaf die grond. Informeel is na die kanonne verwys as Acht-acht (agt-agt) deur die Duitsers en die eighty-eight deur die Geallieerdes.

Die beweegbare, goed ontwerpte kanonwa het daartoe bygedra dat die lugafweerkanon direk in 'n beperkte antitenkrol gebruik kon word terwyl dit net so op sy wiele gestaan het. Dit kon binne twee en 'n halwe minuut geskuif word. Die kanon se sukses in die geforseerde antitenkrol het tot gevolg gehad dat 'n kanon vir tenks ontwikkel is uit die lugafweerkanon, die 8,8 cm-KwK 36; KwK beteken Kampfwagen-Kanone (letterlik oorlogsvoertuigkanon of gevegsvoertuigkanon) en is ontwerp om as die primêre wapen in die skiettoring van 'n tenk gebruik te word. Die Tiger I-swaartenk was toegerus met die 8,8 cm-KwK 36-kanon.

Benewens hierdie Krupp-ontwerpe het Rheinmetall later 'n kragtiger lugafweerkanon, die 8,8 cm-Flak 41, ontwerp waarvan maar relatief min vervaardig is. Krupp het hierop gereageer met 'n prototipe van die langloop- 8,8 cm-kanon, wat later ontwikkel is as die 8,8 cm-PaK 43-kanon wat vir tenkvernietiging gebruik is in die Elefant en Jagdpanther-tenkvernietiger. Dit is ook in die skiettoring van die Tiger II-tenk geïnstalleer, wat dit 'n ware swaargewigtenk gemaak het.

Ontwikkelingsgeskiedenis Agtergrond duimnael|links|Troepe van die Gemenebeslande in die Eerste Wêreldoorlog met 'n verowerde Duitse 8,8 cm-Flak 16-lugafweerkanon, Augustus 1918 Aanvanklik tydens die Eerste Wêreldoorlog was lugafweerkanonne aangepaste mediumkaliberwapens, so gemonteer dat hulle teen 'n veel groter hoek kon vuur. Teen 1915 het die Duitse bevelvoerders egter besef dat die aksie nutteloos was en miskien net as 'n afskrikmiddel dien, selfs teen die lugballonne en stadig bewegende vliegtuie van die tyd. Namate die vermoë van vliegtuie verbeter het, het weermagte doelgerigte lugafweerkanonne met hoë trompsnelhede ontwerp wat projektiele tot hoër hoogtes kon skiet. Dit was juis die hoë trompsnelheid, gekoppel met die projektiel se swaar massa, wat die 8,8 cm-Flak een van die beste antitenkwapens van die Tweede Wêreldoorlog gemaak het. Die eerste sodanige Duitse kanon is in 1917 in diens gestel en het die 8,8 cm-kaliber gebruik, wat 'n standaardkaliber in die Duitse Vloot was.

Ná die Duitse nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog is hulle volgens die bepalings van die Verdrag van Versailles verbied om nuwe wapens van die meeste tipes aan te skaf. Tog het die Krupp-maatskappy begin om 'n nuwe lugafweerkanon saam met Bofors van Swede te ontwikkel. Die ontwerp was 'n 75 mm-model. Gedurende die prototipefase het die Duitse Leër gevra vir 'n kanon met groter slaankrag; die ontwerpers het toe weer van voor af begin en die 88 mm-kaliber gebruik.

Prototipes van die 88 is in 1928 vervaardig. Die eerste model, die Flak 18, het oor 'n enkelloop met 'n lengte van 56 kalibers beskik, wat gelei het tot die algemene benaming van L/56.

Eerste generasie: Flak 18, 36 en 37 duimnael|links|8,8cm Flak 36 besig om opgestel te word met beide stelle wiele reeds ontkoppel. Die Flak 18 was gemonteer op 'n kruisvormige kanondraer. Dit kanon het oor 'n eenvoudige halfoutomatiese herlaaistelsel beskik wat die dop van die pas gevuurde skoot uitskop sodat die volgende projektiel gelaai kan word. Die kanon vuur die volgende skoot en die terugslag vind plaas. Gedurende die terugslag word die leë dop deur middel van hefbome terugwaarts uitgewerp en dan skop 'n nokas in en die kanon word oorgehaal. Dit verseker dat 15 tot 20 skote per minuut gevuur kon word, wat beter was as die meeste soortgelyke wapens van die era. Hoëplofkragammunisie is gebruik teen vliegtuie en soldate en pantserammunisie teen tenks en ander pantservoertuie.

Namate die Nazi's in 1933 begin beheer oorneem het, is daar wydverspreid met produksie begin en die Flak 18 was in klein hoeveelhede beskikbaar toe Duitsland aan die Spaanse Burgeroorlog deelgeneem het. Dié kanon het homself gou bewys as die beste lugafweerkanon wat toe beskikbaar was. Die afdeling wat die Flak 18 gebruik het, het bewys dat die kanon akkuraat is en ook in ander rolle gebruik kan word, byvoorbeeld teen landteikens. Die hoë trompsnelheid en groot kaliber het verseker dat dit 'n uitstekende langafstandteenvoertuig- en teenbunkerwapen was. Die aksie in die oorlog het ook 'n aantal klein probleme geïdentifiseer en ook waar moontlik verbeteringe aangebring kon word.

Die beweegbare, goed ontwerpte kanondraer het tot gevolg gehad dat die lugafweerkanon direk in 'n beperkte antitenkrol gebruik kon word terwyl dit net so op sy wiele gestaan het sonder dat die ekstra bene uitgeplaas word. Daar was egter beperkings op die hoogte en afstand wat behaal kon word in dié modus. Vir normale werking is die voorste en agterste wiel- en asstelle ontkoppel, die ekstra bene is vanaf die vertikale posisie na die grond oopgevou en die proses het slegs twee en 'n halwe minuut geduur. Albei modusse het verseker dat die kanon gebruik kon word in vinnig bewegende operasies, tipies soos met die Blitzkrieg. Omrede die kanon swaar was, kon slegs groot voertuie dit sleep; die Sd.Kfz. 7-voertuig met rusperbande agter was die beste keuse.

Elke battery het uit vier kanonne bestaan met 'n teikenaanwyser elk, wat aan die sentrale beheerder gekoppel is wat gekoördineerde vuur moontlik maak. Met 'n outomatiese herlaaistelsel was die kanonrigter se taak om die kanon se loop op die teiken te hou met die seine vanaf die sentrale beheerder. Die laaiers moes net seker maak dat die wapen gevoer word met lewendige ammunisie wat gevuur is sodra dit gelaai is; die kanonrigter moes die kanon mik volgens die data.

duimnael|links|Noord-Afrika, 8,8 cm-Flak 18 gesleep deur 'n Sd.Kfz. 7, met die kantbene gelig. Baie verbeteringe is aangebring aan die Flak 36; dit is toegerus met 'n loop wat uit twee stukke bestaan het om geslyte voerings makliker te vervang. Die Flak 36 was ook somtyds toegerus met 'n pantserskerm om beperkte beskerming aan die bemanning te verleen. Hierdie skerms kon ook aan die Flak 18's geheg word.

Die latere model Flak 37 se instrumentasie is opgegradeer sodat die kanonrigters die aanwysings vanaf die sentrale beheerder makliker kon volg. Sommige bronne berig verkeerdelik dat die Flak 37 nie in 'n teenpantserrol gebruik kon word nie. Die feit is dat alle 8,8 cm-Flak-kannone in staat was om vir beide die rolle van lugafweer en teenpantser gebruik te word.Chow, Roy "Mistakes and Myths in German 8,8 cm Flak Identification" Troy, MI, 6 Februarie 2012. Besoek op op 8 Oktober 2014.

Die onderdele van die verskeie modelle was uitruilbaar en dit was nie ongewoon dat onderdele gemeng word nie. Beide die Flak 18 en die Flak 36 het dieselfde permanente tydbuis met twee "Zünderstellbecher" gehad. Die Flak 37/41 het 'n eenvoudiger tydbuis gehad.

Tweede generasie: Flak 41 duimnael|regs|8,8 cm-Flak 41 by die Amerikaanse Leërartilleriemuseum So vroeg as 1939 reeds het die Lutfwaffe 'n versoek gerig vir wapens met 'n nog beter vermoë om die bedreiging van vliegtuie wat aanvalle vanaf hoë hoogtes doen, die hoof te bied. Rheinmetall se antwoord was die nuwe 88 mm ontwerp met 'n langer projektiel en loop.

'n Prototipe was reeds vroeg in 1941 beskikbaar wat aanleiding gegee het tot die naam 8,8 cm-Flak 41. Hierdie nuwe kanon het 'n 9,4-kilogram projektiel gevuur met 'n trompsnelheid van 1 000 m/s wat verseker het dat dit hoogtes van 11 300 m kon bereik en 14 700 m ver kon skiet. Die generaal van lugafweerartillerie Otto Wilhelm von Renz het opgemerk dat dié kanon se vermoë amper gelyk is aan die 12,8 cm-FlaK 40-kanon. Die Flak 41 op sy draaibare voetstuk het 'n laer silhoeët gehad as die 8,8 cm-Flak 18/36/37 op sy vaste voetstuk. Die loop was aanvanklik ontwerp as 'n driestuk met 'n lengte van 74-kalibers maar is later herontwerp na 'n tweestuk met lengte van 72-kalibers. Verbeteringe aan die herlaaistelsel het tot gevolg gehad dat die vuurtempo verbeter het, met 20 tot 25 rondtes wat in een minuut gevuur kon word.

Omrede die kanon meer kompleks was het dit meer instandhouding geverg en ook meer probleme opgelewer. Hulle was hoofsaaklik in Duitsland gebruik omrede dit makliker was om hulle te onderhou en te diens. Van die probleme was dat die leë projektieldoppe vasgehaak het wanneer dit uitgeskop word tydens die terugslag. Weens die hoë koste en kompleksiteit van die kanon was daar maar relatief min van hulle vervaardig, slegs 556 in totaal. Die eerste eenhede is in Maart 1943 afgelewer; vanaf Augustus 1944 was daar slegs 157 eenhede in bedryf en in Januarie 1945 slegs 318.

As gevolg van die lae produksie-uitsette en -probleme met die Flak 41 is daar probeer om die Flak 41 se loop op ander kanonwaens te bou. Gedurende 1942 was die Flak 41 se loop op die Flak 37 se onderstel gemonteer maar dit het gou geblyk dat die onderstel nie die kragte kon absorbeer nie, selfs nadat dit versterk is. Daar is toe probeer om die Flak 37 se loop groter te maak vir 'n Flak 41 projektiel en 'n blitsbreker ook te installeer. Nadat ander onderdele versterk is, was die oplossing suksesvol. Die suksesvolle ontwerp was 74 kalibers lank of 78 met die blitsbreker ingesluit. Daar is egter probleme ondervind met die Flak 37 se multi-onderdeelloop en 'n nuwe loop, gebaseer op die Flak 18 wat uit een stuk bestaan het, is ontwerp. Produksie was egter in elk geval gekanselleer nadat slegs dertien eenhede vervaardig is omrede die hulpbronne wat benodig is dieselfde is om 'n ware Flak 41 te vervaardig. Die hulpbronne was egter nie beskikbaar nie.

Daar is ook geëksperimenteer om die Flak 41 se loop op die onderstel van die 10,5 cm FlaK 39 te monteer. Dié produk het die 105 mm oortref en is die 8,8 cm-Flak 39/41 genoem. Dit het egter nooit in produksie gegaan nie omrede geen Flak 41-lope beskikbaar was nie.

Produksiegeskiedenis Daar is duisende 88 mm kanonne geproduseer gedurende die oorlog in verskeie modelle en onderstelle.

+ Swaar-Flak produksiehoeveelhede Voor-oorlogs 1939 1940 1941 1942 1943 1944 1945 Totaal 8,8 cm-Flak 18/36/37 2 459 183 1 130 1 998 3 052 4 712 6 482 738 20 754 8,8 cm-Flak 41 0 0 0 0 48 122 290 96? 556 10,5 cm Flak 38/39 ? 38 290 509 701 1 220 1 331 92 meer as 4 181 12,8 cm-Flak 40 (insluitend tweeling) 0 0 0 0 65 298 664 98 1 125

In vergelyking met ander tipe artillerie het die Duitse oorlogsindustrie 570 swaar (kaliber 88–128 mm) lugafweerkanonne, 1 020 veldartillerie eenhede en 1 300 tenkkanonne, antitenkkanonne en selfaangedrewe kanonne in Desember 1943 gebou.

Krygsgeskiedenis

Duitse gebruik Die 88 mm is in twee rolle gebruik: as swaarlugafweerkanon en as 'n antitenkkanon. Ander gebruike sluit in ondersteuningsvuur vir die troepe aan die front en in 'n statiese lugafweerrol op die Duitse tuisfront.

Lugverdediging van die Duitse Ryk duimnael|regs|Kommandogerät 40, die afstandmeter en meganiese analoogrekenaar wat die lugafweerkanonne beheer, Manege Militêre Museum, Helsinki, Finland (2006)