duimnael|Benediktyne-abdy van Melk, Wachau, Neder-Oostenryk (noordaansig) duimnael|Die klooster La Grande Chartreuse, Frankryk duimnael|Die bouvalle van die klooster San Juan de la Peña, Spanje duimnael|Die Grieks-Ortodokse Sümela-klooster, Turkye

'n Klooster is 'n gebouekompleks met woonvertrekke en werkplekke waarin mense – meestal monnike en nonne – hulle toewy aan 'n leefwyse wat van die wêreldlike sfeer afgesonder en heeltemal op die beoefening van 'n bepaalde godsdiens toegespits is.

Die huidige Afrikaanse, Nederlandse en Duitse terme klooster en Kloster is afgelei van die Latynse claustrum (letterlik "afgeslote plek"). Later het hierdie Latynse term veral na die tipiese kruisgang van die westerse kloosterargitektuur begin verwys. Die Latynse wortel leef in tale soos Engels (cloister), Frans (cloître), Italiaans (chiostro) en Spaans (claustro) in hierdie spesifieke betekenis voort.

In Nederlands en Duits is die term egter veralgemeen en verwys nou na die hele kloostergebou of die instelling as sulks. In die westerse kultuur staan veral Christelike kloosters bekend wat grotendeels met die Rooms-Katolieke en die Ortodokse Kerke verbind word, alhoewel daar ook Protestantse (soos die Duitse vroueklooster Ebstorf) en ekumeniese (soos die Franse gemeenskap van Taizé) kloostergemeenskappe bestaan.

Protestantse kloosters in Duitsland was oorspronklik instellings vir ongetroude adellike vroue of ongetroude dogters van predikante. Die huidige vroueklooster Ebstorf staan oop vir alle Evangelies-Lutherse vroue. Die monnike van die klooster Loccum (tans in Rehburg-Loccum, 'n stad in die Duitse deelstaat Nedersakse) het tydens die Reformasie die Lutherse geloofsbelydenis aangeneem sonder om hulle kloostergemeenskap te ontbind. Die klooster is tans 'n instelling wat vikarisse as Evangelies-Lutherse pastore oplei.DreiStromLand. Ems – Weser – Elbe. Boekdeel 2. Hamburg: edition nordwest im Europa Verlag 2005, bl. 327

Die kloosterlike leefwyse word in die Christendom ook monastisisme genoem – afgelei van die Latynse monachus ("monnik"). Die Griekse monasterion en die gelatiniseerde afleiding monasterium het in 'n aantal tale die wortel van leenwoorde geword wat "klooster" beteken: Monastery (Engels), monastère (Frans), monasterio (Spaans).

Die kloosters (abdye) van monastiese ordes soos die Benediktyne of Cisterciënsers word deur abte ("geestelike vaders") of abdisse ("geestelike moeders") gelei. Hulle oefen die gesag oor die abdy uit en is slegs aan die plaaslike biskop of regstreeks aan die pous verantwoordelik. Vanaf die 10de eeu tot by die laat Middeleeue was abdye meestal feodale instellings wat oor landgoedere beskik en politieke, regterlike en ekonomiese gesag uitgeoefen het.Grabois, Aryeh: Enzyklopädie des Mittelalters. Zürich: Edition Atlantis 1988, bl. 17

Geskiedenis Vroeë kloosters duimnael|Die Siries-Ortodokse klooster Mor Gabriël in Turkye (gestig in 397) duimnael|Die Sint-Katarinaklooster op die Egiptiese Sinaï-skiereiland is in 565 gestig duimnael|'n Non sluit met 'n godsdienstige plegtigheid amptelik by haar kloosterorde aan duimnael|Die Keltiese klooster Iona is omtrent 563 deur Sint Columbaan gestig en het vinnig tot die basis van die sendingwerk in Skotland en Noord-Engeland ontwikkel. Die Sint-Maartenskruis in die voorgrond is 'n tipiese voorbeeld van Keltiese hoogkruise duimnael|Die stoorhuis van die Spaanse klooster Santa María de Huerta duimnael|Kruisgang in die kapittelkerk Lilienfeld, Neder-Oostenryk duimnael|Kloostertuin in Blaubeuren, Duitsland: Die kruisgang skep 'n gunstige mikroklimaat vir die tuin se boorde duimnael|Die bouvalle van die Rievaulx-abdy, Noord-Yorkshire, Engeland Die kloostergemeenskappe het hulle vroegste oorspronge in die asketiese lewe van die eerste Christelike gemeentes. Hierdie asketisme was aanvanklik tot die gesin beperk, maar het geleidelik tot 'n afsonderlike godsdienstige wêreld begin ontwikkel wat sedert die 3de eeu as 'n nuwe orde tussen die leke en die klerus bestaan het.Prinz, Friedrich: Kelten, Römer, Germanen. Deutschlands Frühgeschichte. München: Piper 2007, bl. 244 Die askete was nou afgesonder van hul gesinne en Christelike gemeentes, maar het nogtans 'n deel van die kerkorganisasie gebly. Ondanks die spanninge, wat hierdie besondere status geskep het, was dit dikwels aan die monnike te danke dat die kerk en Christelike leke hul wêreldlike gesindheid laat vaar het en weer op die spirituele betekenis van hul geloof gaan besin het.

Die eerste monnike, wat 'n strenge godsdienstige ideaal van die Christendom nagestreef het, het in die laat-antieke tydperk in Egipte en Sirië geleef. Die eerste Christelike kloosters het in die 4de eeu uit kluisenaargemeenskappe in Egipte en Palestina ontstaan. Omtrent 300 het Antonius as 'n kluisenaar na die woestyn gegaan, terwyl Pachomius (292–346) die eerste kloosterlike gemeenskappe van die sogenaamde anachorete gestig het, en in die 4de eeu het steeds meer Christene die Egiptiese ideaal van 'n monnikslewe gevolg.Kinder, Hermann en Hilgermann, Werner: dtv-Atlas zur Weltgeschichte. Karten und chronologischer Abriß. München: Deutscher Taschenbuchverlag 1980, bl. 141

Die oudste Christelike klooster, wat nog steeds bestaan, is Mor Gabriël in die Turkse dorp Toer Abdin; hierdie gemeenskap is in 397 deur ene Shmuel (Samuel) en sy dissipel Shem'un (Simon) gestig, en die plaaslike nonne en monnike sit met hulle gebede dus 'n tradisie voort wat reeds meer as 1600 jaar lank bestaan.

Die monnikewese in die Griekse ooste het uiteindelik ook in die Westers-Latynse kerk posgevat, en as die eerste Wes-Europese kloosters het Marmoutier aan die Loire-rivier (Frankryk) en die abdy Sint-Maximyn in Trier (Duitsland) ontstaan. Die kloosterlewe in Gallië en in die Frankiese Ryk, wat reeds duidelik van sy Oosterse voorbeelde verskil het, het 'n groot invloed op die monnikewese in Sentraal-Europa en selfs die kulturele geskiedenis van die vasteland uitgeoefen. Die monastiese lewenstyl het vanuit die Mediterreense wêreld in die 4de eeu na Gallië en die Donaugebied uitgebrei. Die nuwe beweging, wat vir sy uitbreiding van die ou handelspaaie langs die Rhône-rivier gebruik gemaak het, was feitlik 'n tweede fase in die kerstening van Europa wat die nuwe geloof versterk het.

Die monastiese ontwikkeling in Wes-Europa is in drie fases voltrek:

Die Gallies-laat-antieke fase het moontlik al met biskop Hilarius van Poitiers (omtrent 350–367/68) begin, alhoewel die heilige Maarten (omtrent 336–397) in Poitou en Touraine en biskop Victricius van Rouen (omtrent 340–voor 410) as die belangrikste eerste verteenwoordigers van hierdie periode beskou word, wat met die stigting van die kloosters in Provence sy hoogtepunt bereik het. Die heilige Columbaan het die Irofrankiese fase (omtrent 590–690) met die stigting van die klooster Luxeuil in die Vogese ingelui. In die vroeë Karolingiese tydperk het 'n golf van Angelsaksiese kloosterstigtings (omtrent 690–768) plaasgevind wat deur sendelinge soos Willibrord (die stigter van die kloosters in Utrecht en Echternach) en Winfrid-Bonifatius, stigter van die klooster in Fulda (Duitsland), oorheers is.

Tot by die einde van die 8ste eeu is in die Wes-Europese gebiede tot by die Elbe-rivier en die middelloop van die Donau sowat 1 000 kloosters gestig.Prinz (2007), bl. 245 Benedictus van Nursia het in 529 die voorbeeld vir 'n groot aantal westerse kloosters gestig en reëls van die kloosterlewe saamgestel wat as Regula Benedicti eeue lank die ontwikkeling van kloosters sterk beïnvloed het. Die Regula S. Benedicti of Benediktynse reëls het vanaf die 7de eeu die kloosterlewe in die Latynse Weste gedefinieer.

Die vroeë kloosters was nie net sentrums van die geestelike lewe nie, maar het daarnaas ook ambagte en landbou (in die kloostertuine), navorsing en die versameling van kennis (in kloosterbiblioteke) bevorder. Die kloosters het 'n belangrike rol by die bewaring en uitbreiding van kennis gespeel wat sedert die antieke oudheid verlore gegaan het. Met hul werkplase en landboukundige produksie het die kloosters ook die plaaslike boerebevolking met professionele vaardighede en vakkennis ondersteun en sodoende belangrike steunpilare van die Christelike sendingwerk in veral Noord- en Oos-Europa geword.

Keltiese kloosters Kloosterordes het ná die verval van die plaaslike kerkadministrasie in die 6de eeu 'n leidende rol in die Keltiese Christendom gespeel. As gevolg van die klein aantal stede in die Keltiese gebiede van Brittanje en Ierland het die meeste groot kerke by die setels van die adellike heersers ontstaan, en gewoonlik het die wêreldlike gesag die stigting van nuwe kloosters bevorder en beskerming aan hulle verleen.

Keltiese monnike en abde het die ekonomiese onafhanklikheid van hulle kloosters verseker en hulle daarnaas veral op hul kulturele, intellektuele en spirituele ontwikkeling gekonsentreer. In teenstelling met Keltiese biskoppe, wat eerder as die geestelike raadgewers van hulle heersers gefungeer het, het abde oor 'n relatief groot magsbasis beskik.

In Ierland het kloosters tot belangrike sentrums van die Keltiese kultuur ontwikkel; monnike het Keltiese mites en literêre werke neergeskryf en sodoende bewaar, meesterwerke van die destydse Keltiese kuns geskep soos boekskilderye, metaalkunswerke en die kenmerkende Iers-Keltiese hoogkruise. As welvarende kulturele sentrums het Ierse kloosters nie net in konflik met die Rooms-Katolieke Kerk van die Europese vasteland gekom, hulle was in die vroeë 8ste eeu ook 'n gewilde teiken vir Wiking-rooftogte.

Die meeste Keltiese kloosters het geleidelik hul eie onafhanklike reëls en liturgie ontwikkel en sodoende sterk van mekaar verskil. Die gebrek aan eenheidstrukture en 'n gemeenskaplike tradisie het uiteindelik daartoe gelei dat die Keltiese monnikeorde hulle weer aan die Rooms-Katolieke Kerk se sentralistiese stelsel onderwerp het.

Kloosters en heersers Die kloosterkerk, wat deur ab Angilbert van Centula, 'n vriend van Karel die Grote, wat ook nou verwant aan hom was, vanaf 790 opgerig is, het 'n soort modelkerk en -klooster in Karel se ryk geword.Ulrich, Gerhard: Schätze deutscher Kunst. München, Gütersloh, Wene: Bertelsmann 1972, bl. 21 Die nou verbinding tussen kloosterorde en heerserhuis was 'n tipiese kenmerk van die Middeleeuse samelewing, aangesien heersers kloosters dikwels ingespan het om hulle etnies diverse ryke te kersten en tot 'n kulturele eenheid saam te smelt. Vanaf die tweede derde van die 8ste eeu het 'n aantal beduidende kloosters soos dié van Hersfeld, Fulda, Sint Gallen, die eiland Reichenau en Lotsch ontstaan.Ulrich (1972), bl. 21

Die keisers se gunstelingorde was die Benediktyne; hul reëls het naas die geestelike aspek ook praktiese werk behels, en elke klooster was in ekonomiese opsig volledig onafhanklik. Dikwels het die kloosters tot die bakermat van 'n permanente nedersetting ontwikkel, aangesien hulle toegerus was met alle noodsaaklike geestelike en wêreldlike elemente en sodoende uiteindelik tot 'n klein stad kon ontwikkel. Die Switserse klooster Sint Gallen se "plattegrond" uit die jaar 820 is 'n uitstekende voorbeeld vir hierdie soort nedersettings.

Die kerk het monnike as volkome Christene beskou. Nogtans het die politieke en ekonomiese verwêreldliking van kloosters steeds weer die aanleiding tot hervormingsbewegings gegee soos byvoorbeeld die Cluniasensiese hervorming wat van die Franse abdy Cluny uitgegaan het.

Met die sogenaamde bedelordes (Fransiskane, Dominikane, Karmeliete en Augustyne) het 'n nuwe soort kloosters ontstaan. Inderdaad kan die geskiedenis van kloosters as 'n wissel van "verwêreldliking" en hervorming volgens bepaalde reëls beskryf word.