Veldmaarskalk Bernard Law Montgomery, 1ste Burggraaf Montgomery van Alamein, (17 November 1887 – 24 Maart 1976); met die byname "Monty" en "The Spartan General", was ’n senior Britse offisier wat in die Eerste én Tweede Wêreldoorlog geveg het.
Montgomery se eerste deelname aan oorlogvoering was tydens die Eerste Wêreldoorlog as ’n junior offisier van die Koninklike Warwickshire-regiment. In die Eerste Slag van Ypres is hy by Méteren, naby die Belgiese grens by Bailleul, deur ’n skerpskutter deur die regterlong geskiet. Toe hy as ’n generale stafoffisier na die Wesfront terugkeer, het hy in April/Mei 1917 aan die Slag van Arras deelgeneem. Laat in 1917 het hy ook aan die Slag van Passchendaele deelgeneem. Aan die einde van die oorlog was hy stafhoof van die 47ste (2de Londense) Divisie.
In die tussenoorlogse tyd was hy die bevelvoerder van die 17de (Diens)bataljon, Koninklike Musketiers en later die 1ste Bataljon, Koninklike Warwickshire-regiment, voordat hy bevelvoerder van die 9de Infanteriebrigade en daarna die bevelvoerende generaal (GOC) van die 8ste Infanteriedivisie geword het.
Tydens die Westelike Woestyn-veldtog van die Tweede Wêreldoorlog was Montgomery van Augustus 1942, deur die Tweede Slag van El Alamein tot met die finale Geallieerde oorwinning in Tunisië in Mei 1943 bevelvoerder van die Britse Agtste Leër. Hy het daarna die Britse Agtste Leër aangevoer tydens die Geallieerdes se inval in Sisilië en Italië en was in bevel van al die Geallieerde grondmagte tydens die Slag van Normandië (Operasie Overlord), van D-dag op 6 Junie 1944 tot 1 September 1944. Vir die res van die Noordwes-Europese veldtog, insluitende die mislukte poging om die Rynrivier oor te steek tydens Operasie Market Garden, was hy bevelvoerder van die 21ste Leërgroep.
Toe pantsertroepe van die Duitse Weermag deur die Amerikaanse linies in België breek tydens die Ardenne-offensief, is Montgomery aangestel as bevelvoerder van die noordelike skouer van die uitloper. Dit het tydelike bevel van die Amerikaanse Eerste en Negende Leër ingesluit.
Montgomery se 21ste Leërgroep, insluitende die Amerikaanse Negende Leër en die Eerste Geallieerde Valskermleër, het die Ryn in Maart 1945 in Operasie Plunder oorgesteek, twee weke nadat die Amerikaanse Eerste Leër die Ryn tydens die Slag van Remagen oorgesteek het. Teen die einde van die oorlog het troepe onder Montgomery se bevel deelgeneem aan die omsirkeling van die Ruhr-nes, die Nederlanders bevry en ’n groot deel van Noordwes-Duitsland ingeneem. Op 4 Mei 1945 het Montgomery die oorgawe van die Duitse magte in Noordwes-Europa aanvaar by die Lüneburgse Heide, oos van Hamburg, ná die oorgawe van Berlyn aan die USSR op 2 Mei, maar voor die algemene oorgawe aan die Supreme Headquarters Allied Expeditionary Force (SHAEF) op 7 Mei.
Ná die oorlog het hy opperbevelvoerder van die Britse Leër van die Ryn in Duitsland geword, en daarna generalestafhoof (1946–1948). Van 1948 tot 1951 was hy voorsitter van die Opperbevelvoerderskomitee van die Westerse Unie. Hy het daarna, tot met sy aftrede in 1958, gedien as onderbevelvoerder van Navo se militêre opperbevelstruktuur.
Vroeë lewe Montgomery is in Kennington, Surrey gebore in 1887, die vierde kind van nege, sy vader 'n predikant van die Iers-Skotse Kerk, eerwaarde Henry Montgomery, en sy moeder Maud (née Farrar). Die Montgomerys is afkomstig van die County Donegal deel van die Clan Montgomery. Henry Montgomery, destyds prediker van die St Mark's Kerk, Kennington, was die tweede seun van Sir Robert Montgomery, 'n boorling van Inishowen in Donegal, in Ulster, die bekende koloniale administrateur in Brits-Indië, wat 'n maand na sy geboorte van sy kleinseun oorlede is.
Hy was waarskynlik 'n afstammeling van kolonel Alexander Montgomery (1686–1729). Bernard se ma, Maud, was die dogter van die eerw. Frederic William Canon Farrar, 'n bekende prediker, en was agtien jaar jonger as haar man. Na die dood van Sir Robert Montgomery het Henry die Montgomery-landgoed van New Park in Moville in Inishowen, Ulster geërf. Daar was nog £ 13.000 op die verband uitstaande, 'n groot bedrag skuld vir die 1880's, en Henry was toe nog net 'n Anglikaanse predikant. Ondanks die verkoop van al die plase in Ballynally, was dit steeds moeilik om kop bo water te hou.
Dit was 'n finansiële verligting toe Henry in 1889 as biskop van Tasmanië benoem is, toe nog 'n Britse kolonie, en Bernard het sy grootwordjare daar deurgebring. Biskop Montgomery het dit as sy plig beskou om soveel tyd moontlik in die landelike gebiede van Tasmanië deur te bring en was tot ses maande op 'n keer weg. Terwyl hy weg was, het sy vrou, nog in haar middel-twintigerjare, haar kinders konstant lyfstraf gegee, en hulle dan meestal geïgnoreer terwyl sy die openbare pligte van die biskop se vrou uitgevoer het.
Van Bernard se broers en susters sterf Sibyl op 'n vroeë ouderdom in Tasmanië, en Harold, Donald en Una het geëmigreer. Maud Montgomery het weinig belanggestel in die opvoeding van haar jong kinders en het hulle laat onderrig deur tutors wat uit Brittanje gebring is. Die liefdelose omgewing het Bernard ietwat van 'n boelie gemaak, soos hy self onthou: "Ek was 'n aaklige seuntjie. Ek dink nie dat iemand deesdae my soort gedrag sou goedkeur nie". Later in st lewe het Montgomery geweier om toe te laat dat sy seun David iets met sy ouma te doen het, en het ook nie haar begrafnis in 1949 bygewoon nie.
Die gesin het op 'n stadium vir 'n Lambeth-konferensie in 1897 na Engeland teruggekeer, en Bernard en sy broer Harold was vir 'n kwartaal in die King's Skool in Canterbury. In 1901 word biskop Montgomery sekretaris van die Vereniging vir die Uitbreiding van die Evangelie, en die gesin het na Londen teruggekeer. Montgomery was in die St Paul's Skool en daarna die Koninklike Militêre Kollege, Sandhurst, waar hy amper geskors is weens beweerde astrantheid en gewelddadigheid.
Na sy gradeplegtigheid in September 1908 is hy as 'n tweede luitenant in die 1ste Bataljon, die Koninklike Warwickshire Regiment, aangestel en is hy later daardie jaar vir oorsese diens na Indië gestuur. Hy is in 1910 tot luitenant bevorder, en in 1912 word hy adjudant van die 1ste Bataljon van sy regiment in die Shorncliffe militêre kamp.
Eerste Wêreldoorlog duimnael|Die minister van munisie, Winston Churchill, hou die opmars verby die 47ste (2de Londen) Divisie in die Grande Place, Lille dop. Voor hom staan die stafhoof van die 47ste Divisie, luitenant-kolonel Bernard Montgomery. links|duimnael|Bernard L. Montgomery, DSO (regs as kaptein afgebeeld), met 'n mede-offisier van die 104e Brigade, 35ste Divisie. Montgomery dien in hierdie brigade van Januarie 1915 tot vroeg in 1917. Die Eerste Wêreldoorlog het in Augustus 1914 begin en Montgomery het daardie maand met sy bataljon na Frankryk vertrek, wat destyds deel was van die 10de Brigade van die 4de Divisie. Hy was daardie maand in aksie in die Slag van Le Cateau, tydens die terugtrekking van Mons. Op Méteren, naby die Belgiese grens by Bailleul op 13 Oktober 1914, is hy tydens 'n geallieerde teenaanval deur 'n sluipskutter in die regterlong verwond. Hy verwerf die Orde vir Voortreflike Diens (Distinguished Service Order) vir dapper leierskap: die aanhaling vir hierdie toekenning, gepubliseer in die Londense Gazette in Desember 1914 lui: “Met opvallende dapperheid lei hy op 13 Oktober, toe hy die vyand met bajonet uit hul loopgrawe dryf. Hy is erg gewond.”
Nadat hy vroeg in 1915 herstel het, is hy eers aangestel as brigade-majoor van die 112ste Brigade en daarna van die 104de Brigade onder opleiding in Lancashire. Hy het vroeg in 1916 na die Westelike Front teruggekeer as 'n algemene stafoffisier in die 33ste Divisie en neem deel aan die Slag van Arras in April/Mei 1917. Hy word 'n algemene stafoffisier by die IX Korps, deel van generaal Sir Herbert Plumer se Tweede Leër, in Julie 1917.
Montgomery het laat in 1917 aan die Slag van Passchendaele deelgeneem. Voordat die oorlog beëindig is, het hy as GSO1 (effektief stafhoof) van die 47ste (2de Londense) Divisie, met die tydelike rang van luitenant-kolonel gedien. Op 'n foto uit Oktober 1918, weergegee in talle biografieë, staan die destyds onbekende luitenant-kolonel Montgomery voor Winston Churchill (op daardie stadium die minister van munisie) tydens die parade na die bevryding van Lille.
Tussen die oorloë
1920’s Na die Eerste Wêreldoorlog was Montgomery bevelvoerder van die 17de (Diens) Bataljon van die Koninklike Fusiliërs, 'n bataljon in die Britse leër van die Ryn, voordat hy in November 1919 teruggekeer het na sy aangestelde rang van kaptein (brevet majoor). Hy is aanvanklik nie gekies vir die Offisiers Kollege in Camberley, Surrey nie (sy enigste hoop om ooit 'n hoë bevel te ontvang). Tydens 'n tennispartytjie in Keulen kon hy egter die opperbevelhebber van die Britse besettingsleër, veldmaarskalk Sir William Robertson, oorhaal om sy naam by die lys te voeg.
Nadat hy aan die Offisierskollege studeer het, is hy aangestel as brigade-majoor van die 17de Infanteriebrigade. Die brigade is in County Cork, Ierland, gestasioneer en het tydens die laaste stadiums van die Ierse Onafhanklikheidsoorlog teen-insurgensie operasies uitgevoer.
Montgomery het tot die gevolgtrekking gekom dat die konflik nie sonder ingrypende maatreëls gewen kon word nie, en dat selfbestuur vir Ierland die enigste haalbare oplossing was. In 1923, na die stigting van die Ierse Vrystaat en tydens die Ierse Burgeroorlog, het Montgomery aan kolonel Arthur Ernest Percival van die Essex Regiment geskryf:
“Persoonlik het ek al my aandag daaraan geskenk om hierdie rebelle te verslaan, maar dit het my nooit 'n bietjie gepla, hoeveel huise afgebrand is nie. Ek dink ek het alle burgerlikes as 'sondaars' beskou en ek het nooit met hulle te doen gehad nie. My eie siening is dat 'n mens ongenaakbaar moet wees om so 'n oorlog te wen. Oliver Cromwell, of die Duitsers, sou dit binne 'n baie kort tydjie afgehandel het. Deesdae verhinder die openbare mening sulke metodes, die nasie sou dit nooit toelaat nie, en die politici sou hul werk verloor as hulle dit goedgekeur het. Dit is so dat ek van mening is dat Lloyd George reg was in wat hy gedoen het, as ons verder gegaan het, sou ons waarskynlik die opstand as 'n tydelike maatreël kon verpletter, maar dit sou weer uitgebreek het soos 'n maagsweer die oomblik as ons die troepe verwyder het. Ek dink die rebelle sou waarskynlik gevegte vermy het en hul wapens weggesteek het totdat ons weg was.”
In Mei 1923 word Montgomery na die 49ste (West Riding) Infanterie-divisie, 'n territoriale weermag, gestuur. Hy het in 1925 na die 1ste bataljon, Koninklike Warwickshire Regiment, as 'n kompaniebevelvoeder teruggekeer en is in Julie 1925 tot majoor bevorder. Van Januarie 1926 tot Januarie 1929 dien hy as adjunk-assistent-generaal aan die Offisierskollege, Camberley, met die tydelike rang van luitenant-kolonel.
Getroude lewe en familie In 1925, in sy eerste bekende hofmakery van 'n vrou, het Montgomery, toe in sy laat dertigerjare, aan 'n 17-jarige meisie, Betty Anderson, gevra om te trou. Sy benadering om haar te beïndruk was om diagramme in die sand te teken van hoe hy sy tenks en infanterie in 'n toekomstige oorlog sou ontplooi, 'n gebeurlikheid wat destyds baie onwaarskynlik gelyk het. Sy het sy ambisie en eensgesindheid eerbiedig, maar het sy huweliksaanbod van die hand gewys.
In 1927 ontmoet en trou hy met Elizabeth (Betty) Carver, neé Hobart, weduwee van Oswald Carver, Olimpiese roeimedaljewenner wat in die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Betty Carver was die suster van die toekomstige bevelvoerder van die Tweede Wêreldoorlog, generaal-majoor sir Percy Hobart. Betty Carver het twee seuns in hul vroeë tienerjare, John en Dick, uit haar eerste huwelik gehad. Dick Carver het later geskryf dat dit "'n baie dapper ding" was vir Montgomery om 'n weduwee met twee kinders aan te neem. Montgomery se eie seun, David, is in Augustus 1928 gebore.