Hierdie artikel handel oor die Brasiliaanse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Brasiliaanse nasionale vrouerugbyspan.

Die Brasiliaanse nasionale rugbyspan (Portugees: Seleção Brasileira de Rugby Union) is die nasionale rugbyspan wat Brasilië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Os Tupis (Portugees vir: “die Tupi’s”), ontleen aan die gelyknamige inheemse volk. Rugby word in Brasilië geadministreer deur die Brasiliaanse Rugbykonfederasie (Confederação Brasiliera de Rugby, CBRu) wat in 1963 gestig is. Brasilië word as die sesde beste rugbyspan in die Amerikas beskou (ná Argentinië, die Verenigde State, Kanada, Uruguay en Chili) en deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Brasiliaanse rugbyspan is tans (November 2025) 32ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

Brasilië het in 1950 sy eerste toetswedstryd teen Uruguay gespeel. Die span het tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap drie titels ingepalm, een keer tweede en drie keer in die derde plek geëindig. Sedert 2016 neem Brasilië ook aan die jaarlikse Amerikaanse Rugbykampioenskap deel, saam met die tweede Argentynse span, Chili, Kanada, Uruguay en die Verenigde State. Brasilië kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Brasilië speel tradisioneel in geel truie met groen kleuraksente, groen broeke en groen sokkies.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Brasilië is die Brasiliaanse Rugbykonfederasie (Portugees: Confederação Brasileira de Rugby, CBRu). Die beheerliggaam is in 1963 onder die naam Brasiliaanse Rugbyunie (União de Rugby do Brasil, URB) gestig en in 1970 in Brasiliaanse Rugbyvereniging (Associação Brasileira de Rugby, ABR) hernoem; in 2010 het die beheerliggaam sy huidige naam aangeneem. In 1995 het die Brasiliaanse beheerliggaam ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Brasiliaanse beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR).

Die hoogste rugbyliga in die land is die Campeonato Brasileiro de Rugby wat in 1964 gestig is en tans tussen twaalf spanne beslis word (vandaar die handelsnaam Super 12), waarvan die meeste uit die deelstaat São Paulo. In die verlede was die meeste spelers van die Brasiliaanse nasionale span uit dié amateurliga afkomstig. Sedert 2020 draf die meeste Brasiliaanse spelers egter uit vir die keurspan Cobras wat aan die professionele Superrugby Amerikas deelneem. Hieraan neem ook spanne uit Argentinië, Chili, Paraguay en Uruguay deel. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Europa aktief.

Naas die amptelike nasionale span roep die Brasiliaanse Rugbykonfederasie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Brasilië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Brazil Sevens is die Brasiliaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.

Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby duimnael|upright|Charles William Miller word as stigter van Brasiliaanse sokker en rugby beskou Net soos in ander Suid-Amerikaanse lande is rugby aan die einde van die laat 19de eeu deur Britse immigrante na Brasiliaanse hawestede saamgebring. Hulle het verskeie atletiekklubs gestig waar ook sokker beoefen is. Die eerste gedokumenteerde rugbywedstryd in Brasilië is in 1891 onder toesig van Charles William Miller deur die São Paulo Atletiekklub (SPAC) gespeel. Daarna was veral Augusto Shaw by die verspreiding van die sport betrokke, terwyl Miller hom uitsluitlik op sokker toegespits het.

Gedurende die 1920’s en 1930’s het rugby in Brasilië begin floreer, maar dit het nie dieselfde blootstelling as sokker geniet nie. Rugby is veral deur mense van ’n Britse herkoms beoefen of wat een of ander ander verbintenis met Brittanje gehad het. In 1926 is ’n plaaslike toernooi begin. Teen 1932 is ’n nasionale span gekies en Brasilië het sy eerste internasionale wedstryd gespeel teen ’n Suid-Afrikaanse XV, maar hulle is verslaan. Die sport is ’n nekslag toegedien, toe die outoritêre diktatuur Estado Novo geweier het om dit as ’n nasionale sport te erken omdat rugby op vier deelstate beperk was; die vereiste aantal was vyf deelstate. Die Tweede Wêreldoorlog het tussen 1941 en 1946, soos in talle ander lande, rugby bedwing.

Die nasionale span se eerste jare In September 1950 het Brasilië weg in Montevideo in sy eerste toetswedstryd teen Uruguay te staan gekom en ’n naelskraapse 6–8-nederlaag gely. In Februarie 1951 sou Brasilië aan die eerste Pan-Amerikaanse Spele in Buenos Aires deelneem, maar die rugbytoernooi is om organisatoriese redes nie beslis nie. Dit moes tot in September uitgestel word en is onder die naam ABCU-toernooi aangebied (genoem na die vier deelnemende lande). Tydens die eerste Suid-Amerikaanse vastelandse rugbytoernooi het Brasilië al drie sy wedstryde verloor met onderskeidelik 0–68 teen Chili, 0–72 teen Argentinië (tradisioneel een van die sterkste spanne wêreldwyd) en ’n 10–17-verlies teen Uruguay. Sewe jaar later is dié toernooi terugwerkend erken as eerste Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap. Rugby is gedurende die 1950’s sporadies in Brasilië georganiseer; daar was geen amptelike beheerliggaam nie en die nasionale span is slegs deur Jimme Macintyre, wat die SPAC bestuur het, saamgeroep. Brasilië sou eers weer tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1961 toetswedstryde speel, maar hulle is deur Uruguay, Argentinië en Chili geklop. Die hedendaagse Brasiliaanse Rugbykonfederasie (Confederação Brasiliera de Rugby, CBRu) is in 1963 onder die naam Brasiliaanse Rugbyunie (União de Rugby do Brasil, URB) gestig om die spel in Brasilië meer effektief te bestuur. Die eerste beheerliggaamspresident was Harry Donovan. ’n Jaar later is die nasionale kampioenskap Campeonato Brasileiro de Rugby vir die eerste keer beslis. In dieselfde jaar het Brasilië tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap met ’n tweede plek sy in dié tyd beste uitslag behaal ná ’n gelykopuitslag teen Chili (met 16–16), ’n minder swak nederlaag teen Argentinië (met 8–30) en ’n oorwinning oor Uruguay (met 15–8). Daarna het Brasilië eers weer aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1971 deelgeneem, waar hulle slegs Paraguay kon klop, maar swak verloor het teen Argentinië, Uruguay en Chili.

In 1970 is die Brasiliaanse beheerliggaam in Brasiliaanse Rugbyvereniging (Associação Brasileira de Rugby, ABR) hernoem en in die daaropvolgende jare het die verbeterde struktuur die spel aan Brasiliane buite die Britse gemeenskap begin bekendstel. Brasilië het ’n effense oplewing in rugby beleef; die spel is aan universiteite regdeur die land begin speel en die land het ’n bestemming vir toere van vername nasionale rugbyspanne geword. In 1974 het Brasilië vir die eerste keer Frankryk gehuisves en met 7–99 verloor, maar die Franse Rugbyfederasie het vanweë die klasverskil aan die wedstryd nie amptelike toetsstatus toegeken nie. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 1973, 1975 en 1979 is die span deur Argentinië, Chili en Uruguay telkens geklop, terwyl hulle dikwels teen Paraguay kon wen. Daarteenoor het hulle in 1977 ná vier nederlae in die laaste plek geëindig.

Nadat die buurland Argentinië ’n verbod op alle sportiewe ontmoetings met Suid-Afrika geplaas het, is in 1980 die “skaduspan” Sudamérica XV (ook Jaguares Sudamericanos genoem) gestig. Hoewel die meeste van die spelers Argentyne was, het ook ’n aantal Brasiliane vir die span uitgedraf. Die altesaam vyf betrokke beheerliggame het die span nie amptelik erken nie, maar in die geheim geduld. Gedurende die volgende vier jaar het die Sudamérica XV agt keer teen die Springbokke gespeel, maar hulle kon slegs een wedstryd wen (op 3 April 1982 in Bloemfontein). Argentinië, die onoorwonne wenner van al die vorige vastelandse rugbykampioenskappe, het in 1981 nie aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem nie, waardeur die ander deelnemers die kans gehad het om dié toernooi vir die eerste keer ooit te wen. Die Brasiliane het egter swak nederlae gely teen Chili, Uruguay en Paraguay, waarmee hulle in die laaste plek geëindig het.

In 1985 het Frankryk weer deur Brasilië getoer en teen ’n meer gedugte Brasiliaanse span te staan gekom. Die wedstryd het met ’n telling van 41–6 in die guns van Frankryk geëindig; dié wedstryd is ook nie as ’n toetswedstryd erken nie. In dieselfde jaar het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Brasilië het geen uitnodiging ontvang nie. In Oktober 1988 was die Brasiliaanse beheerliggaam in Asunción een van die vastelandse beheerliggaam CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR) se stigterslede; die ander was Argentinië, Chili, Paraguay en Uruguay.

In 1989 het Brasilië ná ’n pouse van agt jaar weer aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe deelgeneem, maar hulle kon slegs Paraguay klop. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 1991 en 1993 het die span ná vier nederlae elk slegs in die laaste plek geëindig. Die Brasiliaanse beheerliggaam het in Oktober 1995 ’n volle lid van die IRVR geword. Gevolglik is Brasilië se wedstryde tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe 1993 nie in ag geneem vir die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering nie; hulle het ook nie aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering deelgeneem nie. Een jaar later het hulle eerste kragmeting in ’n kwalifiserende wedstryd egter rampspoedig afgeloop deurdat die span met 41–0 teen Trinidad en Tobago verloor het. Dit het hulle veldtog vir die Rugbywêreldbeker 1999 tot ’n abrupte einde gebring.

In die nuwe millennium duimnael|Die Brasiliaanse en Peruaanse nasionale rugbyspanne in 2005 Van 2000 af is die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap jaarliks beslis, maar die magsbalans op die vasteland het vir eers nie verander nie. Buitendien is Brasilië in Afdeling B gerangskik en was die sterk teenstanders Argentinië, Chili en Uruguay kwyt. In 2000 het Brasilië die Afdeling B teen Colombia en Venezuela gewen, en die sukses sowel in 2001 as in 2002 herhaal in die afdeling teen Colombia, Peru en Venezuela. Hiervan is die 2001-toernooi as die eerste Suid-Amerikaanse kwalifiseringsrondte vir die Rugbywêreldbeker 2003 geag, waarvolgens Brasilië na die volgende kwalifiseringsrondte deurgedring het. Hulle het maklik teen Trinidad en Tobago gewen; hoewel Brasilië sy laaste wedstryde teen Chili en Paraguay verloor en daarmee die hooftoernooi misgeloop het, het hulle eindelik die gaping begin verklein.

Voor die afskop van die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2003 het Brasilië in ’n kwalifiserende wedstryd teen Paraguay vasgeval, waarvolgens hulle in afdeling B moes aanbly. Dié afdeling het die span weens die verlore wedstryd teen Venezuela tweede afgesluit. Een jaar later moes die Brasiliane met die tweede plek ná die gerelegeerde Paraguay tevrede wees. Die 2004-Rugbykampioenskap was deels gelyktydig die eerste Rugbywêreldbeker 2007-kwalifiseringsrondte, waaraan Peru pleks van Paraguay deelgeneem het, waardeur die Brasiliane met hul eerste plek die tweede rondte gehaal het. Hulle is ná swak nederlae teen Chili en Paraguay egter uitgeskakel.