300px|duimnael|Iran-Irakse Oorlog - 22 September 1980 - Teheran Die Iran-Irakse Oorlog, soms ook die Eerste Golfoorlog genoem, het op 22 September 1980 begin toe Irak Iran binnegeval het, en dit het op 20 Augustus 1988 geëindig toe Iran die VN-bemiddelde skietstilstand aanvaar het. Irak wou Iran vervang as die oorheersende staat in die Persiese Golf-gebied en was bekommerd dat die Iranse rewolusie van 1979 die Sjia-meerderheid in Irak sou inspireer om teen die Baathregering te rebelleer. Die oorlog het ook gevolg op ’n lang geskiedenis van grensdispute.

Verloop Hoewel Irak die chaos in Iran ná die rewolusie probeer uitbuit het, het hulle min vordering gemaak en is hulle vinnig teruggedryf; Iran het teen Junie 1982 feitlik al sy verlore grondgebied herwin. Vir die volgende ses jaar, tot naby die einde van die oorlog, was Iran op die aanval. Daar was ’n paar niestaatsdeelnemers – veral die Volksmoedjahidien van Iran, wat aan Irak se kant geveg het, en Irakse Koerdiese guerrillastryders aan Iran se kant. Die VSA, Brittanje, die Sowjetunie, Frankryk en die meeste Arabiese lande het egter Irak polities en logisties ondersteun, terwyl Iran in ’n groot mate geïsoleer was.

Ná agt jaar het oorloguitputting, ekonomiese probleme, ’n afname in moreel, herhaalde Iranse mislukkings en toenemende Irakse suksesse, die gebruik deur laasgenoemde land van massavernietigingswapens en ’n gebrek aan internasionale simpatie gelei tot ’n skietstilstand wat deur die VN bemiddel is.

Die konflik is al met die Eerste Wêreldoorlog vergelyk in terme van taktiek, insluitende grootskaalse loopgraafoorlogvoering met doringdraad wat oor gefortifiseerde verdedigingsposisies gespan is, bemande masjiengeweer-posisies, bajonetaanvalle, die uitgebreide gebruik van chemiese wapens deur Irak en, later in die oorlog, doelbewuste aanvalle op burgerlike teikens. ’n Spesiale eienskap van die oorlog was ’n martelaarstaktiek wat in die jare voor die rewolusie in Iran ontwikkel is: "menslikegolfaanvalle". Dit het ’n blywende impak op die dinamika van die oorlog gemaak.Gölz, "Martyrdom and Masculinity in Warring Iran. The Karbala Paradigm, the Heroic, and the Personal Dimensions of War." , Behemoth 12, no. 1 (2019): 35–51, 35.

Na raming het sowat 500 000 Irakse en Iranse soldate gesneuwel, asook ’n kleiner aantal burgerlikes. Die einde van die oorlog het geen skadeloosstellings of veranderde grense tot gevolg gehad nie.

Verwysings

Eksterne skakels

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Oorloë Kategorie:Arabiese wêreld Kategorie:Geskiedenis van Iran Kategorie:Geskiedenis van Irak