Boekarest (Roemeens: Bucuresti, [bukuˈreʃtʲ], ) is die hoofstad en grootste stad van Roemenië. Die metropool lê aan die Dambovita-rivier in die suidooste van die land. Die bevolking word amptelik op 1,71 miljoen geskat en in die groter metropolitaanse gebied op 2,31 miljoen. Dit maak Boekarest die negende digsbevolkte stad binne stadsgrense in die Europese Unie is. Die stad beslaan 240 km², terwyl die metropolitaanse gebied oor 1 811 km² strek. Die stad staan amptelik bekend as die “Munisipaliteit Boekarest” (Roemeens: Municipiul Bucuresti) en het dieselfde status as ’n nasionale provinsie. Dit is verder verdeel in ses sektore, elk met ’n eie burgemeester. Boekarest is ’n belangrike kulturele, politieke en ekonomiese sentrum, die setel van die regering en die hoofstad van die streek Muntenië.

duimnael|links|Die Calea Victoriei (“Oorwinningspad”) in die binnestad van Boekarest. In 1459 is die eerste keer in geskiedkundige bronne na Boekarest verwys: deur Vlad Dracula. Die stad het in 1862 die hoofstad geword en is sedertdien die middelpunt van Roemeense media, kultuur en kuns. Die argitektuur is uiteenlopend en sluit historiese style (hoofsaaklik eklekties, maar ook neoklassiek en Art Nouveau), tussenoorlogse style (Bauhaus, Art Deco en Roemeense herlewingsargitektuur), sowel as sosialistiese en moderne boukuns in. In die tussenoorlogse tydperk het die stad se elegante argitektuur en die verfyndheid van sy elite daartoe gelei dat Boekarest die byname “Klein Parys” en “Parys van die Ooste” verkry het. Hoewel dele van die historiese stadskern deur oorloë, aardbewings en Nicolae Ceausescu se sistematiseringsprogram beskadig of vernietig is, het baie geboue behoue gebly en is hulle onlangs gerestoureer. Die stad beleef die afgelope jare ’n beduidende ekonomiese en kulturele oplewing. Bucica, 2000, bl. 6. Dit is een van die snelsgroeiende hoëtegnologie-stede in Europa, en die historiese stadskern is in 2016 deur die World Monuments Watch as “bedreig” gelys.

Boekarest is verreweg die digsbevolkte stad in Roemenië en het reeds in die 1940’s meer as ’n miljoen inwoners gehad. Volgens die Mastercard Global Index of Urban Destinations was Boekarest in 2017 die Europese stad met die vinnigste groei in oornaggaste. In 2018 en 2019 is dit as die Europese bestemming met die grootste ontwikkelingspotensiaal aangewys.

Boekarest is die welvarendste stad in Roemenië en die rykste hoofstad in die streek, nadat dit Boedapest in 2017 verbygesteek het. Die stad beskik oor groot konferensiegeriewe, opvoedkundige instellings, kulturele sentrums, tradisionele winkelarkades en talle ontspanningsruimtes. Boekarest lê binne, en word volledig omring deur die Ilfov-provinsie.

Etimologie Die Roemeense naam Bucuresti se oorsprong is nie geverifieer nie. Volgens ’n tradisie is die stigting van Boekarest met die naam Bucur geassosieer, wat volgens verskeie legendes ’n prins, ’n voëlvrye, ’n visserman, ’n herder of ’n jagter was. In Roemeens beteken die woordstam bucurie “vreugde” (“geluk”), Rosetti, II. bl. 110 gevolglik sou die stadsnaam “stad van vreugde” beteken.

Vroeë geleerdes het ander etimologieë verskaf, waaronder dié van ’n Ottomaanse reisiger, Evliya Celebi, wat beweer het dat Boekarest na ene “Abu-Karis” uit die “Koeraisj-stam” genoem is. In 1781 het die Oostenrykse historikus Franz Sulzer beweer dat dit afgelei is van bucurie (“vreugde”), bucuros (“vreugdevolle”) of a se bucura (“om vreugdevol te wees”). In ’n vroeë 19de-eeuse boek, gepubliseer in Wene, word beweer die stadsnaam is ontleen aan Bukovie, ’n beukewoud, en dat dit dus verwant sou wees aan die streeksnaam Boekowina in die huidige Noord-Roemenië en Suidwes-Oekraïne. Georgescu et al., bl. 76–77

Geskiedenis duimnael|Die Ou Vorstelike Hof (Curtea Veche), die voormalige residensie van Vlad die Deurboorder, is in die Ou Stad geleë. duimnael|Boekarest in 1923, tydens Roemenië se Goue Eeu in die tussenoorlogse tydperk. Die geskiedenis van Boekarest toon ’n afwisseling van tydperke van ontwikkeling en verval, vanaf die vroeë nedersettings in die oudheid tot die stad se konsolidasie as die nasionale hoofstad van Roemenië laat in die 19de eeu. Op 20 September 1459 word die eerste keer in bronne na die stad verwys as die “Sitadel van Bucuresti”, en dit het die residensiestad geword van die heerser van Walachye, die woiwode Vlad die Deurboorder (Vlad Țepes).

Die Ou Vorstelike Hof (Curtea Veche) is in die middel van die 16de eeu deur Mircea Ciobanul opgerig. Onder latere heersers is Boekarest as somerresidensie van die vorstelike hof gevestig. In die daaropvolgende jare het die stad met Targoviste meegeding om die status as hoofstad, nadat die belang van Suid-Muntenië toegeneem het weens die eise van die suserein, die Ottomaanse Ryk.

Boekarest het ná 1698 onder die bewind van Konstantyn Brancoveanu uiteindelik die permanente setel van die Walachyse hof geword. In die daaropvolgende 200 jaar is die stad herhaaldelik deur natuurrampe, groot brande en oorloë beskadig en telkens weer herbou.

Van die 18de eeu af het die Ottomane Grieks-Christelike administrateurs uit die Fanar-distrik van Konstantinopel, die sogenaamde Fanariote, aangestel om die stad en vorstedom te bestuur. Die Walachyse Opstand van 1821 onder leiding van Tudor Vladimirescu het ’n einde gebring aan die Fanariotebewind in Boekarest.

In 1813-1814 is die stad deur Caragea se pes geteister. In die 18de en vroeë 19de eeu is Boekarest verskeie kere van Ottomaanse invloed losgeskeur en op verskillende tye deur die Habsburgse monargie (1716, 1737, 1789) en die Russiese Ryk (drie keer tussen 1768 en 1806) beset. Tussen 1828 en die uitbreek van die Krimoorlog was die stad onder Russiese administrasie, met ’n onderbreking tydens die Walachyse Rewolusie van 1848, wat in Boekarest gesentreer was. Ná die Russiese onttrekking het ’n Oostenrykse garnisoen die stad beset en tot Maart 1857 daar gebly. Op 23 Maart 1847 het ’n verwoestende brand sowat 2 000 geboue vernietig en omtrent ’n derde van die stad in puin gelê.

In 1862, nadat Walachye en Moldawië verenig is om die Vorstedom Roemenië te vorm, het Boekarest die nuwe staat se hoofstad geword. In 1881, met die uitroeping van die Koninkryk Roemenië onder koning Carol I, het Boekarest die politieke sentrum van die koninkryk geword. Gedurende die tweede helfte van die 19de eeu het die stad se bevolking aansienlik toegeneem en ’n nuwe fase van verstedeliking en stedelike modernisering het begin. Gasbeligting, perdetrems en beperkte elektrifisering is ingevoer. Giurescu, bl.154-161, 169–171 Die Dambovita-rivier is in 1883 sterk gekanaliseer, wat ’n einde gebring het aan herhalende oorstromings soos die groot oorstroming van 1865. Giurescu, p.157, 161, 163 Die Verdedigingswerke van Boekarest is ook in hierdie tydperk gebou.

Die uitspattige argitektuur en kosmopolitiese hoëkultuur van hierdie periode het aan Boekarest die bynaam “Parys van die Ooste” besorg, met Calea Victoriei (“Oorwinningspad”) as sy "Champs-Élysées".

Tussen 6 Desember 1916 en November 1918 is Boekarest ná die Slag van Boekarest deur Duitse magte beset en die amptelike hoofstad is tydelik na Iasi in die streek Moldawië verskuif. Ná die Eerste Wêreldoorlog het Boekarest die hoofstad van Groot-Roemenië geword. In die tussenoorlogse periode het die stedelike ontwikkeling aangehou, met die stad wat jaarliks gemiddeld 30 000 nuwe inwoners gelok het. Sommige van die belangrikste landmerke is in hierdie tyd gebou, onder meer die Arcul de Triumf en die Palatul Telefoanelor. Giurescu, p.191-195 Die Groot Depressie in Roemenië het egter ernstige sosiaal-ekonomiese gevolge gehad en het onder meer uitgeloop op die Grivita-staking van 1933.

In Januarie 1941 was die stad die toneel van die Legionêre opstand en die Boekarest-pogrom. As hoofstad van ’n Spilmoondheid en ’n belangrike deurgangspunt vir Spilmoondheidstroepe op pad na die oosfront het Boekarest groot skade gely as gevolg van Geallieerde bombardemente tydens die Tweede Wêreldoorlog. Op 23 Augustus 1944 was die stad die plek van die koninklike staatsgreep wat Roemenië by die Geallieerdes gevoeg het. Kort daarna het Boekarest ’n kort periode beleef van Luftwaffe-bombardemente en ’n mislukte poging deur Duitse troepe om die stad te herower.

Ná die vestiging van kommunisme in Roemenië is die stad verder uitgebrei. Nuwe woonbuurte is aangelê, die meeste oorheers deur woonstelblokke (toringblokke). Onder Nicolae Ceausescu se bewind (1965-1989) is ’n deel van die historiese stadskern gesloop en vervang met ontwikkeling in die styl van sosialistiese realisme: die Centrul Civic (Burgersentrum), en die Parlementspaleis, toe ’n hele historiese woonbuurt platgevee is om plek te maak vir Ceaușescu se projekte.

Op 4 Maart 1977 het ’n aardbewing met sy episentrum in Vrancea, sowat 135 km buite die stad, 1 500 lewens geëis en verdere skade aan die historiese sentrum aangerig.

Die Roemeense Rewolusie van 1989 het in Timisoara begin en daarna na Boekarest uitgebrei, en het tot die omverwerping van die kommunistiese regime gelei. Ontevredenheid met die postrewolusionêre Nasionale Volksreddingsfront het studentebonde en opposisiegroepe vroeg in 1990 grootskaalse anti-kommunistiese betogings in Boekarest laat reël wat tot verdere politieke verandering gelei het.

Sedert 2000 is die stad voortdurend gemoderniseer. Residensiële en kommersiële ontwikkeling is veral in die noordelike distrikte sigbaar en Boekarest se ou historiese sentrum word sedert die middel 2000’s stelselmatig gerestoureer.

Geografie duimnael|Boekarest is Roemenië se hoofstad en grootste stad. duimnael|Die Koning Mihai I-park. duimnael|Carolpark. duimnael|Die Cismigiutuin. duimnael|Die Alexandru Ioan Cuza-park. Boekarest lê aan die oewers van die Dambovitarivier, wat uitmond in die Argesrivier, ’n sytak van die Donau. ’n Reeks mere – onder meer die Herastrau-, Floreasca-, Tei- en Colentinameer – strek deur die noordelike stadsgebied langs die Colentinarivier, self ’n sytak van die Dambovita. In die stadsentrum is daar ook ’n klein kunsmatige waterliggaam, die Cismigiumeer, omring deur die Cismigiutuin. Die tuin, wat deur die Duitse landskapargitek Carl F.W. Meyer ontwerp en in 1847 geopen is, is een van die oudste en belangrikste stadsparke in Boekarest en was histories ’n ontmoetingsplek vir skrywers en digters.

Die stad se netwerk van parke en groen ruimtes sluit onder meer die Koning Mihai I-park (voorheen Herastraupark), Tineretuluipark en die Botaniese Tuin in. Die Koning Mihai I-park, in die noordelike stadsomgewing rondom die Herastraumeer, huisves ook die Stadsmuseum. Die Grigore Antipa- Natuurhistoriese Museum is naby Oorwinningsplein geleë. In dieselfde gebied is Hard Rock Cafe Boekarest en Beraria H, een van die grootste biersale in Europa.

Tineretuluipark, wat in 1965 aangelê is, dien as die hoofontspanningsgebied vir Suid-Boekarest en bevat ’n Mini Town-speelkompleks vir kinders. Die Botaniese Tuin in die Cotroceni-woonbuurt, wes van die stadsentrum, is die grootste in Roemenië en bevat meer as 10 000 plantspesies, waaronder talle uitheemse soorte. Die tuin het oorspronklik as die Koninklike Plesiertuin ontstaan. Daarbenewens is daar talle kleiner buurtparke, onder meer Alexandru Ioan Cuza-, Kiseleff-, Carol-, Izvor-, Circului- en Moghiorospark. Van die ander groot parke sluit in die Nasionale Park, Teipark, Eroilorpark en Crangasipark met die Moriimeer.

’n Besonderse landskapvorm in die suide van die stad is Vacarestimeer, wat saam met omliggende vleilande ’n gebied van ongeveer 190 hektaar beslaan (waarvan 90 hektaar water is). Dit bevat 97 voëlspesies (waarvan die helfte beskerm word) en minstens sewe soogdierspesies. Die gebied, oorspronklik ’n dorpie wat Ceausescu in ’n meer wou omskep, het ná die 1989-rewolusie – nadat die projek laat vaar is – geleidelik tot ’n selfstandige stedelike vleiland-ekostelsel ontwikkel. In Mei 2016 is dit tot die Vacarestinatuurpark verklaar, wat dikwels die “Delta van Boekarest” genoem word.