Angus Frank Johnstone Wilson (11 Augustus 1913 – 31 Mei 1991) word deur sommige kenners as die belangrikste Engelse romanskrywer na die Tweede Wêreldoorlog beskou. Sy werke is skerp ironies in hul ontleding van die Engelse gemeenskap, veral van die kulturele establishment. 'n Belangrike tema in Wilson se skryfwerk is die posisie van die liberale intellektueel in die moderne wêreld.

Angus Wilson, die jongste seun van 'n Suid-Afrikaanse moeder en Skotse vader, is op 11 Augustus 1913 in Bexhill-on-Sea, Sussex, gebore en het aan Merton College, Oxford, gestudeer. Tussen 1936 en 1955 het hy in die British Museum se biblioteek gewerk en eers in 1946 begin skryf om 'n periode van neerslagtigheid te bowe te kom. Sy drie bundels kortverhale, The wrong set (1949), Such darling dodos (1950) en A bit off the map (1957), bevat almal voorbeelde van die anti-held, die kwesbare, self-ironiserende en feilbare mens in ’n vyandige wêreld.

Dit is 'n onderwerp wat Wilson meermale aangepak het. Wilson se enigste toneelstuk, The mulberry bush (1956), beeld nog een van die hooftemas in sy werk uit: die onhoudbaarheid van intellektuele idealisme in na-oorlogse magstrukture. Ander romans deur Wilson is Hemlock and after (1952), Anglo-Saxon attitudes (1956) en ’n toekomsfantasie, The old men at the zoo (1961), asook die komplekse No laughing matter (1967). Daarbenewens het Angus Wilson ook biografiese studies oor Émile Zola en Charles Dickens geskryf en die belangwekkende outobiografiese werk The wild garden (1963). Hy is op 31 Mei 1991 in Bury St Edmunds, Suffolk, oorlede.

Verwysings

Bronnelys Wêreldspektrum, 1982, , volume 29, bl. 131

Eksterne skakels

Kategorie:Engelse skrywers Kategorie:Geboortes in 1913 Kategorie:Sterftes in 1991