Hierdie artikel handel oor die Walliese nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Walliese nasionale vrouerugbyspan.
Die Walliese nasionale rugbyspan (Engels: Wales national rugby union team; Wallies: Tîm rygbi'r undeb cenedlaethol Cymru) is die nasionale rugbyspan wat Wallis in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Wallis deur die Walliese Rugbyunie (Welsh Rugby Union, WRU) geadministreer. Wallis neem aan die jaarlikse Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Skotland. Wallis is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Wallis mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.
Wallis se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het Wallis aan elke toernooi deelgeneem en sy beste uitslag tydens die eerste 1987-toernooi behaal, toe die span die klein finale om die derde plek teen die Wallabies gewen het. Wallis het tydens die Rugbywêreldbeker 1999 as nominale gasheer opgetree, maar ook tydens die toernooie in 1991, 2007 en 2015 is wedstryde in Wallis aangebied.
Wallis het sy eerste internasionale rugbywedstryd in 1881 teen Engeland gespeel. Sedert die voorganger van die Vyf- en Sesnasies-toernooi, die Tuisnasies, in 1883 ’n aanvang geneem het, het die span reeds 28 toernooie gewen, en nog elf ander kere die titel gedeel. Sedert Italië in 2000 by die kompetisie aangesluit het om die Sesnasies te vorm, het Wallis vyf titels verower, die laaste in 2021. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Wallis as ’n vlak-een rugbyland. Veral Walliese spelers van die 1970’s word as van die beste in die geskiedenis van die spel beskou. Alhoewel verskeie swak vertonings in die laat 1980’s en 1990’s die span se reputasie baie skade toegedien het, het ’n herstel in die 2000’s en Sesnasies-titels saam met Grand Slams in 2005, 2008, 2012 en 2019 daartoe bygedra om die situasie om te keer. As gevolg van die sukses het Wallis die eerste Europese span ooit geword om ’n Grand Slam met meer weg- as tuiswedstryde te verower.
Walliese spelers dra tradisioneel skarlakenrooi truie, wit broeke en rooi sokkies. Die span se tuisstadion is Millennium in Cardiff waar hulle vir die eerste keer in 1999 gespeel het. 18 voormalige Walliese rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Wallis is tans (Maart 2026) efde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Wallis is een van min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa en Tonga kan soortgelyke bewerings maak.
Beheerliggaam
duimnael|’n Kaart van die Walliese plaaslike beheerliggame en hul spanne Die beheerliggaam vir rugby in Wallis is die Walliese Rugbyunie (Welsh Rugby Union, WRU) wat in 1881 gestig is. In 1886 het die WRU saam met die Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU) en die Skotse Rugbyunie (SRU) die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig. Daarbenewens het die WRU in 1999 by die vastelandse beheerliggaam FIRA-AER (nou Rugby Europa, RE) aangesluit. Die WRU hou toesig oor die vier professionele rugbyspanne Cardiff Blues, Scarlets, Dragons en Ospreys wat aan die professionele Liga Verenigde Rugbykampioenskap deelneem, saam met spanne uit Ierland, Italië, Skotland en Suid-Afrika. Bo die nasionale kampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Skotland die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker beslis. Benede die Verenigde Rugbykampioenskap word die Walliese Premierafdeling beslis, waaraan twaalf Walliese spanne deelneem.
Naas die amptelike nasionale span roep die WRU ook ander keurspanne byeen. Die Wales A is die tweede nasionale span van Wallis, hulle het egter sedert 2000 in geen wedstryd meer te staan gekom nie. Net soos ander rugbylande beskik Wallis oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Wallis beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Walliese nasionale rugbyspan dien.
Dit word as ’n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.
Geskiedenis Invoering van rugby in Wallis duimnael|Die Walliese 1881-span voor hul eerste internasionale wedstryd teen Engeland ’n Aan rugby en sokker ver verwante spel, Cnapan genoem, is sedert eeue in die grafskappe Carmarthenshire, Ceredigion en Pembrokeshire beoefen. Rugby het in 1850 in Wallis posgevat, toe die dominee Rowland Williams die adjunkskoolhoof van St David’s-Kollege, Lampeter, geword en die sport, soos hy dit van gegradueerdes by die Rugby-skool leer ken het, daar bekend gemaak het. Vanaf hoërskole en universiteite het die rugbyspel gedurende die 1870’s veral in die nywerheids- en mynboustede van Suid-Wallis versprei. Die in 1875 gestigte Suid-Walliese Voetbalklub (South Wales Football Club, SWFC) het probeer om ’n algemene stel reëls vas te lê en die sport te versprei. In 1878 het die Suid-Walliese Voetbalunie (South Wales Football Union, SWFU) gevolg, wat van plan was om uit spelers van verskeie klubs ’n keurspan saam te stel. Die SWFU het daarin geslaag om verskeie wedstryde teen Engelse spanne te reël, maar dit was swak bestuur en die keuring is as ongemotiveerd beskou. Richard Mullock, die sekretaris van die Newport Athletic Club, het besluit om op sy eie en sonder afspraak met die SWFU ’n toetswedstryd teen Engeland te reël.
Die eerste Walliese toetswedstryd is op 19 Februarie 1881 in Blackheath naby Londen gespeel. Aangevoer deur die spankaptein James Bevan het hulle met sewe doele, een skepdoel en ses drieë teenoor nul (82–0 sou die huidige telling gewees het) verloor. Alhoewel die eerste Walliese nasionale rugbyspan volgens die geografiese verspreiding van die verteenwoordigende klubs taamlik gebalanseerd was, het dit blykbaar nie oor ’n hoë vaardigheidsvlak beskik nie. Die span het veral uit gegradueerdes van die universiteite Cambridge en Oxford bestaan, en die plaaslike pers het die keuring ná die swak nederlaag skerp gekritiseer. Drie weke later is op 12 Maart 1881 in die Castle Hotel in Neath die Walliese Voetbalunie (Wales Football Union; sedert 1934 die Walliese Rugbyunie, Welsh Rugby Union, WRU) gestig, en die SWFU het homself ontbind.
In 1882 het Wallis vir die eerste keer teen Ierland te staan gekom en ook dié wedstryd verloor. Van 1883 af het die beheerliggame van die vier Britse Tuisnasies die jaarlikse Tuisnasies-toernooi – nou bekend as die Sesnasies-toernooi – vir die eerste keer beslis. Tydens die eerste toernooi het Wallis ook geen oorwinning aangeteken nie, onder andere tydens die eerste toetswedstryd teen Skotland. In 1884 het hulle vir die eerste keer teen Ierland geseëvier, in 1888 is Skotland vir die eerste keer verslaan en in 1890 Engeland. In 1886 het die Walliese beheerliggaam saam met sy Ierse en Skotse eweknieë die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig.
Eerste “goue tydperk” duimnael|links|Die Walliese 1895-span voor hul wedstryd teen Engeland tydens die Tuisnasies-toernooi duimnael|Die Walliese span voor hul oorwinning oor die Original-All Blacks in 1905 duimnael|’n Skrum tydens Wallis se oorwinning oor die Original-All Blacks in 1905 duimnael|Die eerste wedstryd tussen Wallis en Frankryk in Cardiff in 1908 Teen die 1890’s het die Walliesers die “vier vleuels”-formasie bedink – met sewe agterspelers en agt voorspelers pleks van die destyds algemene ses agterspelers en nege voorspelers – dit het die sport gerevolusioneer en is uiteindelik deur al die nasionale en klubspanne oorgeneem. Met dié innovasie het Wallis die Tuisnasies-toernooi in 1893 vir die eerste keer gewen en hulle het ook met ’n Driekroon (Triple Crown) weggestap. Die eerste superster van die Walliese rugby was Arthur Gould, wat die nasionale span 18 keer as kaptein aangevoer het – ’n rekord, wat eers in 1994 deur Ieuan Evans verbeter is. Gould was ook die rede, hoekom Wallis in 1897 deur die ander Tuisnasies geboikot is. Hy het ’n finansiële vergoeding aanvaar wat as ’n oortreding van amateurisme beskou is. Eers met sy aftrede is die nasionale span die volgende jaar weer vir die toernooi toegelaat.
Die volgende Walliese toernooi-oorwinning het in 1900 gevolg, weer met ’n Driekroon, wat die eerste “goue tydperk” van Walliese rugby ingelui het wat tot in 1913 sou strek. In dié tydperk het hulle slegs sewe wedstryde verloor en was tuis onoorwonne. Hulle het in 1902 en 1905 nog twee Driekrone gewen, en in 1901, 1903 en 1904 as naaswenners geëindig.
Toe Wallis op 16 Desember 1905 teen die All Blacks op Cardiff Arms Park gespeel het, het hulle sedert 1899 nie een tuiswedstryd verloor nie. Dié Nieu-Seelandse span – bekend as die Original All Blacks – was die eerste span van die Suidelike Halfrond wat Europa besoek het. Hulle was op daardie stadium tydens hul toer ook onoorwonne, nadat hulle reeds Engeland, Ierland en Skotland verslaan het. Wallis was die 28ste wedstryd op Nieu-Seeland se toer, en op daardie stadium het die besoekers 801 punte aangeteken en slegs 22 afgestaan. Voor die wedstryd het die Nieu-Seelandse span ’n haka (’n Māori-oorlogsdans) opgevoer; die 47 000-gehoor het met die Walliese volkslied – Hen Wlad Fy Nhadau (“Land van my vaders”) geantwoord – dit was die eerste keer wat ’n volkslied voor ’n sportwedstryd gesing is. Die Walliese vleuel Teddy Morgan het ’n drie gedruk en Wallis het toe met 3–0 voorgeloop. Nieu-Seeland se Bob Deans was toe van mening dat hy ook ’n drie gedruk het. Hy is oor die doellyn gesleep, voordat die skeidsregter by die toneel verskyn het. Die skeidsregter het aan Wallis ’n skrum toegeken en die telling het onveranderd gebly; Wallis het met 3–0 gewen. Dié nederlaag was die enigste in Nieu-Seeland se 35 wedstryde op die toer.
In 1906 het Wallis die Tuisnasies-titel met Ierland gedeel. Op 1 Desember dieselfde jaar het hulle vir die eerste keer teen die Suid-Afrikaanse Springbokke te staan gekom. Voor die afskop is Wallis as gunsteling beskou, maar Suid-Afrika het Wallis met sy voorspelers oorheers en dié wedstryd met 11–0 gewen. Twee jaar later, op 12 Desember 1908, het Wallis vir die eerste keer teen die besoekende Australiese Wallabies gespeel en met 9–6 gewen. In 1909 het Wallis ook die Tuisnasies-toernooi gewen. Van 1910 af het Frankryk aan die toernooi deelgeneem, wat toe die Vyfnasies-toernooi geword het. In 1911 het Wallis vir die eerste keer ’n amptelike Grand Slam ingepalm, nadat hulle al hul wedstryde teen die ander deelnemers – insluitende Frankryk – gedurende dieselfde toernooi gewen het. Wallis het ook in 1908 en 1909 Frankryk geklop, maar aangesien Frankryk eers in 1910 by die toernooi aangesluit het, word dié jare nie as Grand Slam-jare erken nie. Dit sou sowat 40 jaar neem voordat Wallis weer ’n Grand Slam sou kon behaal. Engeland se oorwinning oor Wallis in 1913 was Wallis se eerste tuisnederlaag teen een van die Vyfnasies-spanne sedert 1899 en hul eerste tuisnederlaag teen Engeland sedert 1895. Die Groot Oorlog het in 1914 uitgebreek en al die rugby is tydens dié oorlog opgeskort. Die enigste uitsondering was ’n nieamptelike wedstryd teen die Britse Barbarians in April 1915.
Krisis en herstel duimnael|links|1920-illustrasie van ’n wedstryd tussen Ierland en Wallis duimnael|Wallis teen Frankryk tydens die 1922-Vyfnasies-toernooi duimnael|Skets van ’n wedstryd tussen Engeland en Wallis op Twickenham in 1931