Die Roemeense nasionale rugbyspan (Roemeens: Echipa națională de rugby a României) is die nasionale rugbyspan wat Roemenië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span se bynaam is Stejarii (“die eike”). Rugby word in Roemenië geadministreer deur die Roemeense Rugbyfederasie (Federația Română de Rugby, FRR) wat in 1931 gestig is. Roemenië word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Daarmee behoort Roemenië tot die beste Europese rugbyspanne naas die Sesnasies. Die Roemeense rugbyspan is tans (Maart 2026) 22ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

Roemenië het in 1919 sy eerste toetswedstryd teen die Verenigde State gespeel. Roemenië was net soos Italië oor dekades heen een van die sterkste Europese spanne buite die destydse Vyfnasies. Hulle het tydens die Europese Rugbykampioenskap tien titels ingepalm, 20-keer as naaswenner en 17-keer in die derde plek geëindig. Gedurende hul bloeitydperk in die 1980’s het hulle herhaaldelik daarin geslaag om groot rugbylande soos Frankryk, Wallis en Skotland te klop. Ná die omverwerping van die Kommunistiese Ceaușescu-diktatuur is die span van sy vrygewige finansiële befondsing ontneem en het ’n swak fase betree wat tot vandag toe aanhou.

Die Roemeense span speel tradisioneel in geel truie met blou broeke en rooi sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Roemenië ontleen is. Roemenië se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die Rugbywêreldbeker in 1987 ingevoer is, het die span aan amper al die toernooie deelgeneem en slegs die Rugbywêreldbeker 2019 misgeloop.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Roemenië is die Roemeense Rugbyfederasie (Federația Română de Rugby, FRR). Die FRR is in 1931 gestig en het in 1987, net voor die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Roemeense Rugbyfederasie in 1934 ’n stigterslid van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE).

Die hoogste rugbyliga in Roemenië is die professionele SuperLiga, waaraan ses spanne deelneem. As gevolg van die land se swak ekonomiese toestand verkies baie spelers egter ’n loopbaan op professionele vlak by een van die Wes-Europese klubs (veral in Frankryk). Die meeste nasionale spelers wat nie by ’n Wes-Europese klub betrokke is nie, speel vir die professionele span Romanian Wolves wat sedert 2022 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem. Naas die amptelike nasionale span roep die FRR ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Roemenië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese en Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.

Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby duimnael|Roemenië teen Frankryk tydens die Inter-Geallieerde Spele in 1919 op die Stade Olympique Yves-du-Manoir, Frankryk duimnael|Die Roemeense nasionale span tydens die Olimpiese Somerspele 1924 in Parys Die Roemeense rugbygeskiedenis het in 1913 begin, toe studente tydens ’n buitelandse semester in Parys dié sport leer ken en met rugbyballe in hul bagasie na hul tuiste teruggekeer het. Die rugbyspel het in Boekarest gevestig waar dit deur studente en lede van die ontluikende Bourgeoisie uitgeoefen is. In 1913 is met Stadiul Român die eerste klub gestig, waarop vinnig ander gevolg het, maar aanvanklik slegs in die hoofstad. Dié klubs het van 1914 af lede geword van die sportbeheerliggaam Federatiunea Societatilor de Sport din Romania, wat twee jaar vroeër gestig is en ook sportsoorte soos tennis, fietsry en sokker bestuur het. Die eerste klubs in provinsiale stede het in 1919 in Lupeni en Petroșani ontstaan.

In 1919 is Roemenië ook as een van die Eerste Wêreldoorlog se seëvierende magte vir die Inter-Geallieerde Spele in Parys genooi. Die FSSR het ’n nasionale span saamgestel uit diegene by die weermag, wat die beste talent vir dié spel getoon het en reeds lede van een van die bestaande klubs was. Hul eerste internasionale wedstryd op 23 Junie het in ’n 5–48-nederlaag teen ’n nieamptelike span van die gasheer geëindig. Drie dae later het teen die Verenigde State ’n 0–21-nederlaag gevolg. In teenstelling met die wedstryd teen Frankryk is dit as ’n toetswedstryd erken en word derhalwe as die eerste amptelike toetswedstryd van Roemenië beskou. Een Jaar later sou Roemenië aan die Olimpiese Somerspele 1920 se rugbytoernooi deelneem, maar hulle moes hulself onttrek, aangesien die Nasionale Olimpiese Komitee nie oor genoeg finansiële middele beskik het om hoegenaamd atlete na Antwerpen te stuur nie. Aan die Olimpiese Somerspele 1924 het hulle wél deelgeneem. Die Roemeense span het ná ’n vierdaagse treinrit uitgeput, sonder kos en met min finansiële middele Parys bereik. Hulle is deur Frankryk met 61–3 en die Verenigde State met 39–0 geklop. Ondanks dié swak nederlae het die Roemene die bronsmedalje gewen, aangesien slegs drie spanne aan dié toernooi deelgeneem het.

Gedurende die daaropvolgende jare het Roemenië min aan internasionale wedstryde deelgeneem, hul eerste oorwinning was in 1927 oor Tsjeggo-Slowakye. In 1931 het die FSSR se rugbykommissie afgestig en die beheerliggaam Roemeense Rugbyfederasie (Federația Română de Rugby, FRR) gestig wat tot vandag toe bestaan. In Januarie 1934 was die FRR een van die stigterslede van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) wat onder Franse leiding as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. In 1936 het Roemenië deelgeneem aan die eerste FIRA-kampioenskap in Berlyn wat as nieamptelike Europese Nasiesbeker beskou is en hulle het die klein finale om die derde plek teen Italië naelskraap met 7–8 verloor. In April 1937 het die eerste tuiswedstryd teen Italië in ’n puntelose gelykop geëindig. ’n Halwe jaar later is Roemenië tydens die FIRA-kampioenskap 1937 in Parys weer in die klein finale om die derde plek verslaan, dié keer deur Duitsland. In 1938 het Boekarest die derde FIRA-kampioenskap aangebied en Roemenië het onder drie deelnemers in die laaste plek geëindig. In 1939, 1940 en 1942 het hulle in internasionale wedstryde teen Italië gespeel, maar die Tweede Wêreldoorlog het die internasionale speelprogram vir sekere jare gekniehalter; die nasionale kampioenskap kon ononderbroke voortgaan.

Simbool van kommunistiese propaganda duimnael|upright|Alex Penciu word as een van die beste rugbyspelers gedurende die 1960’s beskou duimnael|Die Roemeense nasionale span in 1960 Ná die Kommunistiese magsoorname was die Roemeense rugby se toekoms aanvanklik onseker, aangesien sommige Kommuniste dit as ’n sportsoort van die onlangs afgesette “Bourgeoisie” beskou het. Die staat het rugby nie net geduld nie, maar dit ook direk befonds. Een rede was glo dat Gheorghe Gheorghiu-Dej, die Roemeense Werkersparty se voorsitter, voorheen by Boekarest se Grivița-werkswinkel van die Roemeense staatsspoorweg gewerk het, wat oor ’n suksesvolle rugbywerkspan beskik het. Die regering se waardering blyk ook uit die feit dat die minister van buitelandse sake Grigore Preoteasa gelyktydig as die FRR se president gedien het. In 1954 is die eerste sportkontak oor die Ystergordyn heen aangeknoop, toe die Walliese klub Swansea RFC ’n toer na Roemenië onderneem het. ’n Jaar later het die Roemeense nasionale span se teenbesoek plaasgevind, hulle het teen Walliese en Engelse klubs te staan gekom en ’n gebalanseerde wenrekord behaal.

Gedurende die Koue Oorlog en veral nadat Nicolae Ceaușescu in 1965 die bewind oorgeneem het, het die Kommunistiese diktatuur rugby en ander sportsoorte vir internasionale wedywering met die Westerse Kapitalistiese “klasvyand” ingespan. Elke internasionale sukses het volgens die propaganda die beweerde meerderwaardigheid van die Kommunistiese regering en sy ideologie direk bewys. Al die finansiële hulpbronne is aangewend vir die afrigting en toerusting van die nasionale span. Die noodwendige opleidingswerk is aanvanklik veral deur Franse afrigters gedoen, voordat dié werk later deur plaaslike mense oorgeneem is. Die meeste topspelers is deur die leër of polisie in diens geneem, waarvolgens hulle veral vir Steaua Bukarest of Dinamo Bukarest uitgedraf het (derhalwe het albei spanne die kampioenskap oorheers). As sogenoemde staatsamateurs het hulle amper uitsluitlik mededingende sport beoefen en in goed toegeruste fasiliteite geoefen. Hierdie infrastruktuur en finansiële ondersteuning het baie talent vir die nasionale span opgelewer.

Toe die nasionale span in 1949 weer begin speel het, het hulle aanvanklik veral teen die Sosialistiese Broerstate in Oos-Europa te staan gekom en hulle oorheers. Die tuiswedstryd op 19 Mei 1957 teen Frankryk op Boekarest se Stadionul 23 August was histories op twee maniere: Die eerste ontmoeting tussen albei spanne in twee dekades het met ’n naelskraapse 15–18-nederlaag vir die gasheer geëindig, nadat hulle teen halftyd voorgeloop en die oorwinning in die laaste minuut uit die hand gegee het. Die buitelandse pers het ook berig dat ’n gehoor van 100 000 dié wedstryd bygewoon het – dit was ’n nuwe wêreldrekord vir ’n rugbywedstryd, wat eers tydens ’n wedstryd tussen Australië en Nieu-Seeland in 2000 oorgesteek is. In 1958 het politieke suiweringe in die Roemeense rugbysport plaasgevind, waartydens ’n aantal topspelers deur die outoriteite as “polities agterdogtig” bestempel, uit die leidende klubs ontslaan en van die nasionale span verban is. Dit het die nasionale span se sterkte egter nie beïnvloed nie – in Oos-Europa is hul oorheersing nie aangetas nie – maar dit het daartoe gelei dat beplande wedstryde teen Britse spanne afgelas en vir meer as ’n dekade uitgestel is. Die Italianers en Franse was die enigste Wes-Europese spanne wat gereeld teen Roemenië bly speel het. Op 5 Junie 1960 is in Boekarest ’n noemenswaardige prestasie behaal, toe Frankryk, wat enkele maande voorheen die Vyfnasies-toernooi 1960 gewen het, met 11–5 geklop is.

Nadat hulle ’n verdere nederlaag gely en twee gelykopslae behaal het, het die Franse in November 1964 eindelik daarin geslaag om die Roemene se wenreeks van 20 wedstryde te beëindig. Van 1965 af het Roemenië aan die jaarlikse FIRA-nasiesbeker deelgeneem en weens sy destydse vaardigheidsvlak aan die hoogste van twee afdelings deelgeneem. Ná ’n derde en twee verdere tweede plekke in die eerste drie toernooie het die Roemene die FIRA-nasiesbeker 1967/68 beklink, dit was hul eerste Europese titel. Die fondasie is in Desember 1968 gelê met ’n taai 15–14-tuisoorwinning oor Frankryk, wat die Vyfnasies-toernooi 1968 met ’n Grand Slam gewen het.

Goue tydperk van Roemeense rugby duimnael|Roemenië teen Argentinië in 1973 duimnael|Die Roemeense nasionale span in 1980 duimnael|Die Roemeense nasionale span in 1983