duimnael|Tinfoeliehoede is die komiese verpersoonliking van samesweringsteorieë
'n Samesweringsteorie, of komplotteorie is 'n uiteensetting van 'n gebeurtenis of situasie wat 'n sameswering oproep deur onheilspellende en kragtige akteurs, dikwels polities van motivering, wanneer ander verduidelikings waarskynliker is. Daar word soms na hierdie wêreldbeskouing verwys as konspirasionisme of, meer gewoonlik, samesweringsdenke.
Die term impliseer dat die beroep op 'n sameswering gebaseer is op vooroordeel of onvoldoende bewyse. Sulke teorieë weerstaan vervalsing en word deur sirkulêre redenering versterk. Bewyse teen die sameswering sowel as 'n afwesigheid van bewyse daarvoor word weer geïnterpreteer as bewys van die waarheid daarvan, en die sameswering word 'n saak van geloof eerder as bewys.
Navorsing stel voor dat op 'n sielkundige vlak samesweringsteorieë skadelik of patologies kan wees. Die samesweringsteorieë wat eens tot beperkte gehore beperk is, het gereeld in massamedia verskyn en het as 'n kulturele verskynsel van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu ontstaan.
Samesweringsteorie-onderwerpe sluit beroemde sterftes, regeringsaktiwiteite, nuwe tegnologieë, terrorisme en vrae oor buiteaardse lewe in. Voorbeelde van die langste en mees erkende samesweringsteorieë is die moord op John F. Kennedy, die Apollo-maanlandings van 1969, en die terreuraanvalle van 11 September 2001, asook talle teorieë rakende beweerde komplotte vir wêreldoorheersing deur verskillende groepe, beide eg en denkbeeldig.
Die volgende is die WAT se definisie van ’n samesweringsteorie:
“Teorie of hipotese vir iets wat moeilik verklaar kan word of waaroor daar legitieme vrae gevra kan word en waarvolgens sekere groepe, organisasies, regerings, of dergelike aanspreeklik gehou word vir onwettige of skadelike praktyke wat in die geheim beoefen word of beoefen is.”
Dit kan ook as ’n manier gesien word om gebeure wat min mense wil aanvaar te verduidelik. Hierdie verduidelikings is egter somtyds heeltemal sinneloos en word dikwels op meer as een manier verkeerd bewys. Dit kan in sommige gevalle selfs met ’n kultus vergelyk word, omdat die wat dit glo dit blindelings navolg en nie die werklikheid aanvaar nie.
Daar is baie maniere hoe samesweringsteorië ontstaan. Dit volg gewoonlik na gebeure wat baie verwarring veroorsaak. Voorbeelde hiervan is die teorieë rondom die aanvalle op 11 September 2001, die oudpresident John F. Kennedy se sluipmoordaanval en natuurrampe soos tsunami’s, aardbewings en pandemies.
Noudat ons ’n basiese riglyn het van wat ’n samesweringsteorie is, kan ons dieper delf en kyk na voorbeelde van die teorieë en hoe hulle verkeerd bewys of beredeneer is.
Die vervalste maanlandingteorie
Op die 20ste Julie 1969 het mense vir die eerste keer ooit op die maan geland. Dit was die einde van die ruimtewedloop wat een aspek van die koue oorlog tussen die Sowjetunie en die Verenigde State van Amerika (VSA) was. Die VSA het die Apollo 11 tuig met drie ruimtevaarders na die maan gestuur. Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins was die eerste mense om op die maan te loop en het geskiedenis gemaak. Daar is egter ’n hele klomp mense wat baie, baie skepties is.
Hierdie teorie is deur grootliks Bill Kaysing begin in 1976. Hy het ’n pamflet geskryf getiteld: We never went to the moon: America’s Thirty-Billion-dollar swindle. Die teorieë in hierdie boek gebruik die wetenskap agter vuurpyle as een van sy grootste “bronne”. Die teorie is hoofsaaklik dat alles gesimuleer was. Dit gee baie deeglike teorieë en redes vir die “vervalsing” en stel alles voor as regte navorsing eerder as wat dit werklik was: ’n teorie. Die teorie van die simulasie word deeglik bespreek en ek gaan dit nou volledig uiteensit.
Die boek beweer eerstens dat die National Aeronautics and Space Administration (NASA) en die Defense Intelligence Agency (DIA) saam vergader en besluit het om alle Apollo missies te vervals en simuleer nadat hulle gedink het dat hulle die ruimtewedloop gaan verloor. Die projek is die kodenaam: Apollo Simulation Project (ASP) gegee. Tweedens beweer Kaysing dat die ASP ses hooftake gehad het:
Geheime, hoë gehalte organisasie en bestuur. Uitstekende sekuriteit, wat ook spioenasie en inligting versameling teen die opposisie ingesluit het. Geheime verkryging van werknemers. Onderlangse ontwerp, vervaardiging, inrigting en gebruik van gespesialiseerde toestelle en masjinerie Om fopnuus deur video’s en radiouitsendings te versprei. Spesiale projekte en geheime beplanning.
Die pamflet sit dan al hierdie redes volledig uiteen. Die rede waarom Kaysing sê niemand al ooit van die ASP gehoor het nie, is omdat dit in die destyds nuutgestigte DIA opgerig is en dié as ’n vals naam gebruik het. Die volgende is al die afdelings van die DIA en sy verduideliking van wat die ASP (as deel van die DIA) werklik gedoen het.
Die wetenskaplike raad was verantwoordelik om met NASA se ASP lede te kommunikeer.
Die nasionale foto analise groep was verantwoordelik om al die vervalste foto’s van die maan en Apollo missies te skep, insluitend foto’s van die aarde vanaf die maan af.
Die fotografiese afdeling het eintlik voorstellings en nabootsings van die maan gemaak. Hulle moes ook tegnieke kry om dit te laat lyk asof foto’s op die maan geneem is.
Die menslike hulpbronne afdeling was verantwoordelik vir die aanstel van werkers en akteurs insluitend die ruimtemanne en simulasie vervaardigers.
Die stelsel beheer afdeling moes simulasie hardeware ontwikkel en toets.
Die missie koördinasie afdeling was volgens Kaysing se teorie verantwoordelik daarvoor om alle uitsendings i.v.m. die Apollo missies te beheer en reguleer.
Die “Teikens” moes geheime ASP inligting wat die publiek in die hande gekry het verwyder en geheim hou.
Daar was ook ’n afdeling wat moes sorg dat die fotografiese afdeling se voorstellings akkuraat en geloofwaardig was.
Die wetenskap en tegniese intelligensie afdeling sou by NASA inligting bymekaarskraap vir die simulasies en idees gee om dit te verbeter.
Die afdeling verantwoordelik vir kaarte, filmstelle en vervaardiging van valse maanrotse was die kartografie en geodesie afdeling gedoop.
Die afdeling genaamd spesiale projekte was blykbaar in beheer van internasionale handel wat nodig was. Hulle moes byvoorbeeld maanrotse bymekaarmaak uit Idaho.
Die kommunikasie-afdeling moes fopnuus versprei aan die pers en uitsendings uitdink.
Laastens moes die sekuriteitsafdeling seker maak niemand maak die ASP se planne aan die wêreld bekend maak nie.
Kaysing het al die bogenoemde werke van die afdelings van die DIA opgemaak en as bewyse verskaf in sy boek. Kaysing het oorspronklik by ’n maatskappy genaamd Rocketdyne gewerk en het gehelp om die Saturn V vuurpylenjins te ontwerp. Alhoewel die teorie van die vervalste maanlanding al voor sy boek bestaan het, het hy die idee grootliks versprei en vernuwe. Die samesweringsteorie het al baie gegroei van sy boek se publikasie af en baie gewilde mense soos Joe Rogan en Shane Dawson het al hulle geloof in die teorie uitgespreek. Die teorie klink baie deeglik en selfs geloofwaardig, totdat ’n mens dieper grou.
Een van die beste bewyse is eenvoudig deur die kwaliteit van die uitsendings en video’s van die maanlanding te vergelyk met wat selfs die grootste film-maatskappye in 1969 kon doen. Die hoofteorieë is ook lankal verkeerd bewys. Hier volg die vyf hoofteorieë en hoe hulle verkeerd bewys is:
1. Die skaduwees wat nie uit dieselfde rigting uit kom nie (kyk na die foto langsaan) bewys dat stelligte gebruik is.
Professor Anupam Ohja verduidelik dat dieselfde effek op Aarde gesien kan word. Omdat ’n die grond soos ’n twee-dimensionele oppervlakte is en die wêreld rondom ons driedimensioneel is, gaan dit maak dat lyne wat veronderstel is om parallel te wees, nie so lyk nie. ’n Mens kan selfs die effek sien as jy net buitentoe gaan as die son laag in die lug is, nes in die foto.
2. Die Apollo 11 ruimtevaarders sou nie die aarde se radiasie-veld oorleef het nie.
Planeet aarde is omring deur ’n area met gelaaide molekules. Hierdie word die Van Allen radiasie gordel genoem. Hierdie gebied is baie gevaarlik omdat dit energiebelaaide deeltjies bevat wat nie kan ontsnap nie. Die beste manier om hierdie teorie van die gras af te maak is met ’n vergelyking deur dieselfde professor Ohja. Hy sê dit is soos om deur vuur te loop. Al wat jy moet doen, is om vinnig te beweeg. So het jou liggaam nie genoeg tyd om die hitte te gelei nie. Dit is presies hoe die Aldrin en sy spanmaats die Van Allen gordel oorleef het. Hulle het vinnig genoeg beweeg.
duimnael|'n Voorstelling van die maanlanding in 1969 3. Waarom is daar geen sterre in die foto’s wat NASA geneem het nie?
Hierdie teorie maak staat op die feit dat daar geen atmosfeer is om die beeld van die sterre te versteur nie. Dus moes daar baie meer sterre as op aarde sigbaar wees. Die verduideliking is egter eenvoudig. Dit was dag toe die foto’s geneem is. Al is die lug swart (juis omdat daar nie ’n atmosfeer is nie) het die son op die kant van die maan geskyn waar ons ruimtevaarders was. Verder kan die werking van kameras ook hierdie teorie verkeerd bewys. As foto’s in ’n goed beligte omgewing geneem word, gaan kleiner ligbronne in die agtergrond moeilik gesien word.
4. Die VSA se vlag wat geplant is kon nie waai nie, as gevolg van die feit dat daar nie wind op die maan is nie.
Almal ken die foto van die Amerikaanse vlag wat “wapper” op die maan. Die vlag wapper egter nie. Dit lyk net asof dit doen. Daar is twee redes hiervoor. Eerstens, die vlag is reguit aangesien daar ’n paal aan die bokant ingesit is om die vlag mooi ten toon te stel. Tweedens is al die kreukels wat op die vlag sigbaar is daar omdat die vlag vir vier dae in ’n ruimteskip opgefrommel was. ’n Baie eenvoudige, maar steeds baie sinvolle verduideliking.
5. As ons rêrig in 1969 op die maan was, waarom het ons nog nie teruggekeer nie?
Vanaf 1972 en Apollo 17 het die mens nog nie na die maan teruggekeer nie. Die rede hieragter is egter hartseer. Die publiek het belangstelling verloor. Die idee dat die ruimtewedloop gewen is, het gemaak dat belangstelling en dus befondsing vir maansendings al minder geraak het. Die regering se prioriteite het ook verander, aangesien die Viëtnamese oorlog uitgebreek het. Dit is die eenvoudige, hartseer rede wat hierdie teorie belaglik maak.
Die Illuminati-teorie
Die Illuminati-teorie is een van die gewildste teorieë en word wydstreeks geglo. Die teorie is dat die hele wêreld, nie deur afsonderlike regerings nie, maar deur ’n klein groepie individue (die Illuminati) beheer word. Mense wat in hierdie teorie glo het al bekende politici en ander prominente gewilde persone aangekla daarvan dat hulle deel van hierdie groep is.
Die Illuminati was egter ’n werklike groep in die laat 1700’s. Adam Weishaupt het die organisasie gestig in 1776. Hy het geglo dat die monargie van die destydse kerk die mens se vrye wil gekniehalter het. Hy wou met sy organisasie idees versprei en “die lig op mense se gedagtes laat skyn.” (Van daar ook die naam: Illuminati, afgelei van “Illumination”) Hy en sy organisasie wou die hiërargie van Europa verander. Hulle wou hê dat die manier waarop dinge regeer word ook moes verander. Hulle het baie geskrifte uitgegee wat die korrupsie in die regering bekend gemaak het. Die groep se getalle het vinnig gegroei, maar Weishaupt se planne is gou in die wiele gery toe Karl Theodor organisasies soos syne onwettig verklaar het in die laat 1780’s. As daar bevind is dat jy deel het in so ’n organisasie, was dit bokveld toe met jou. So het die organisasie stelselmatig ontbind. Die idee van die Illuminati het egter net gegroei.