Die geskiedenis van tegnologie is 'n taamlik nuwe vakgebied wat uit verskillende gesigspunte benader kan word. Vroeër het amateurs en geleerdes dikwels volstaan by ʼn opsomming van al die uitvindings en uitvinders op die gebied van die tegniek, van die vroegste tye tot die hede, en so die vooruitgang van die mensdom probeer meet.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die benadering verander. Die tegniek het onbetwisbaar groot en belangrike veranderings in die samelewing teweeggebring (dink maar aan die koelkas, radio, televisie en motor), maar daar is ook vasgestel dat die onoordeelkundige gebruik daarvan die mens en die natuur kan benadeel. Die geskiedenis van die tegniek hou hom besig met die vraag na watter rol die tegniek in die maatskaplike ontwikkeling gespeel het en wat die plek daarvan in die moderne samelewing is.

Inleiding Die tegniek is 'n maatskaplike verskynsel en omvat in die breë sin 'n versameling vaardighede en (kuns) middele wat deur die mens gebruik word om sy omgewing te beheer en ontwikkeling moontlik te maak. Elke kultuur of elke tydvak word gekenmerk deur sy eie tegniek, ʼn feit wat in die daaglikse lewe dikwels uit die oog verloor word. Baie mense beskou hul materiële omgewing (al die apparaat en ander tegniese hulpmiddels wat hulle gebruik) as vanselfsprekend deel van hulle omgewing. In werklikheid het die eenvoudigste voorwerp, die spyker, die potlood of die balpuntpen, ʼn geskiedenis wat hul aanwesigheid verklaar.

By die geskiedenis van tegniek gaan dit om 'n beskrywing van die ontwikkeling van tegniese kennis en om dit met ander menslike aktiwiteite in verband te bring. Die verhouding tussen tegniek en kultuur is egter buitengewoon ingewikkeld en voorlopig is selfs die indeling van tegniese ontwikkelings en probleme in afsonderlike periodes nog nie voltooi nie. ʼn Groot praktiese probleem vandag is byvoorbeeld die feit dat tegniese geskiedenis in die verlede beskryf is deur spesialiste uit verskillende vakgebiede (geskiedenis, tegniek, ekonomie, ensovoorts) wat almal hul eie ondersoekmetodes gebruik het.

Wat in handboeke oor tegniese geskiedenis geskryf word, is dikwels net 'n nougesette opsomming van veranderings in die sogenaamde apparatuur, dit wil sê veranderings in gereedskap, masjinerie en produkte, en ook in produksieprosesse. Die benadering is onvoldoende, want geskiedenis (ook die geskiedenis van tegniek) gaan om mense in hul verhouding tot hul omgewing en nie net om dinge nie. By veranderings is daar altyd ʼn sosiale element as dryfveer aanwesig in die vorm van 'n sterk sosiale behoefte.

Dit gaan dus nie net om die tegniese vernuf van individue of ondernemers nie. Die omstandighede waarin die mens leef, word soms deur die tegniek so gewysig dat die waardes en norme van die samelewing daardeur verander word. Die wisselwerking tussen tegniek en samelewing vorm een van die kernprobleme van die geskiedenis van die tegniek en wanopvattings of simplifikasies ('n moderne woord daarvoor is determinisme) oor die aard van die verhoudings kom dikwels voor.

Determinisme en tegniese ontwikkeling Die bekendste determinisme is tegniekdeterminisme: tegniek word beskou as deurslaggewend vir die ontwikkeling of die stilstand van 'n samelewing. Met tegniek as 'n vooruitstuwende krag moet 'n samelewing onvermydelik ʼn hoër vlak van ontwikkeling bereik. Die uitgangspunt blyk reeds uit byvoorbeeld die bekende werk van William Fielding Ogburn. Hy het in 1922 al die term cultural lag (kulturele agterstand) geformuleer en dit van toepassing gemaak op samelewings wat ten opsigte van ander samelewings 'n agterstand op die gebied van tegniek gehad het en aanpassings moes maak.

Die agterstandteorie bied egter weiig verklarings en hou byvoorbeeld nie rekening nie met gebeurtenisse en bewegings in die samelewing wat uit eie krag die tegniese vernuwing kan beïnvloed. Ogburn het byvoorbeeld daarby volstaan om ongeveer 100 maatskaplike gevolge van die koms van die vliegtuig te "ontdek", maar die ontwikkeling van die vliegtuig self nie verklaar nie. By die beskrywing van die Industriële Revolusie in Engeland word die hele gebeurtenis dikwels gesien as ʼn regstreekse gevolg van 3 saamvallende ontwikkelinge: die meganisasie van die spin proses, die gebruik van steenkool en die toepassing van die stoomenjin, en daarby word die wisselwerking tussen mens en tegniek buite rekening gelaat.

'n Meer resente voorbeeld van tegniekdeterminisme is die idee van onderontwikkeling, wat beskou word as 'n internasionale variasie op die cultural lag-teorie. Volgens die aanhangers van die teorie is daar net een oplossing vir die probleme van die arm lande van die Derde Wêreld: hulle moet die Westerse tegnologie so gou moontlik oorneem en dan sal "welvaart" vanself volg. By die sogenaamde ekonomiedeterminisme is daar dikwels sprake van 'n soort spiraal waarbinne ekonomie en tegniek mekaar hoër opstoot.

Die struktuur van die spiraal word in hoofsaak egter bepaal deur ekonomiese gegewens soos skaarste aan produksiefaktore, grond, kapitaal en arbeid, en die markmeganisme. Waar Marx self nog 'n paar nuanses aangebring het, het baie van sy aanhangers spoedig verval in vereenvoudigde sosio-ekonomiese verklarings waarby produksieverhoudings sender meer as klasseteensteilings gesien is: tegniek speel geen selfstandige rol nie en alles draai om besit van kapitaal.

Die invloed van die argumente van die ekonomiedeterminisme is ook te bespeur in die beskouing oor die ontwikkeling van 'n speerpunt-nywerheid en speerpunttegnologie (dit wil sê ondernemings met ʼn vooruitstrewende produksiewyse, -organisasie en tegniek). Dit gaan immers dikwels om die mededingingsposisie ten opsigte van die buiteland en die bevordering van ekonomiese groei, al is dit nie selektief nie. Ter ondersteuning vir hul siening wys die ekonomiedeterministe graag daarop dat die meeste vernuwing (innovasie) in die nywerhede die gevolg van markbehoefte of-vraag (demand pull) is en nie van tegniese ontwikkeling (technological push) nie.

Volgens die sogenaamde politiekdeterminisme word tegniese ontwikkeling hoofsaaklik bepaal en rigting gegee deur die magstrewes van bepaalde groepe of persone en deur belange-teenstellings. Tegniese vooruitgang is dus die gevolg van pogings om 'n bepaalde magsverhouding te bestendig of juis te vernietig. Volgens die siening is tegniek nie 'n neutrale proses nie, maar 'n magsmiddel, meestal vir die handhawing van die status quo.

Vanselfsprekend neem militêre tegniek in die teorie 'n sentrale plek in, maar ander faktore, soos die ontwikkeling van kernenergie, is ook belangrik. By die sogenaamde ideologie-determinisme word die klem geplaas op die norme en waardes van 'n samelewing en moet die tegniese revolusie in die Weste verklaar word uit die wyse waarop die mens-natuur-verhouding benader is. In teenstelling met ander kulture het daar, volgens die teorie, reeds in die Middeleeue in Europa ʼn beset ontstaan dat die mens nie aan die natuur onderworpe is nie, maar juis in opdrag van God bestem is om die natuur te oorheers.

Vanuit die Middeleeuse kloosters strek ʼn ononderbroke draad via die Renaissance en die 17e-eeuse natuurvorsers na die uiteindelike meganisering van die 18e en 19e eeu. Die grootste kritiek op die voorafgaande teorieë is dat hulle die kompleksiteit van tegniese ontwikkeling verontagsaam en dit te deterministies (vereenvoudig) benader. Tegniese vooruitgang was nog altyd die gevolg van ʼn kombinasie van faktore (stimulerend of vertragend) en feitlik nooit net van een nie.

Periodisering en indeling Die geskiedenis van die tegniek kan nie so maklik soos algemene geskiedenis in periodes ingedeel word nie omdat die tradisionele geskiedkundige tydperke (byvoorbeeld prehistorie, Oudheid, Middeleeue, Nuwe Tyd) nie daarop van toepassing gemaak kan word nie. Na analogie van die indeling van die prehistorie in die Steen-, die Brons- en die Ystertyd het Lewis Mumford in 1934 in sy Technics and civilization periodes probeer vasstel op grond van die belangrikste energiebron en die materiaal wat gebruik is.

Die periodes wat hy onderskei het, was die van eotegniek (water, wind, hout), paleotegniek (steenkool, yster), neotegniek (elektrisiteit, staal, ligte metaal) en ten slotte (maar nie heeltemal konsekwent nie) die periode van die biotegniek, waarin natuurwetenskaplike metodes op lewensprosesse van toepassing gemaak word. Knee (geb. 1922) het 'n ander indeling gemaak op grond van die opset (organisasie) en die aard van die tegniese bedrywigheid. In sy indeling in 5 fases word elke volgende fase gekenmerk deur ʼn toename in ingewikkeldheid en in vervlegting van tegniese en ander vaardighede.

Die eerste fase, naamlik van werktuigtegniek, was nog betreklik eenvoudig, daarna volg die fases van konstruksietegniek, masjientegniek, energietegniek en ten slotte die bestuurstegniek. Ander meer tradisionele periodiserings is gebaseer op verskillende onderdele van die tegniek of op spesifieke nasionale kenmerke. Baie handboeke oor die geskiedenis van die tegniek het steeds 'n uitgesproke nasionale karakter.

Omdat daar nog nie voldoende ondersoek ingestel is na die kenmerkende faktore en struktuur van die ontwikkelingsproses van tegniese veranderings nie, word in die praktyk meestal volstaan met sogenaamde klein periodisering, dit wil sê die fasering van afsonderlike tegniese vernuwings. ʼn Periodisering wat die hele wêreldgeskiedenis omvat, wek 'n verkeerde indruk, naamlik dat opeenvolgende (tegniese) tydperke duidelik onderskei kan word. In werklikheid het baie vernuwings langsaam ontwikkel, terwyl die "ouderwetse" metodes lank daarna nog toegepas is.

'n Ander gevaar van streng periodisering is dat slegs een bepaalde tegniekstelsel (gewoonlik die moderne Westerse tegniek) as eindpunt van die ontwikkelingsproses gekies word. Alke tegniese ontwikkeling voor die eindpunt word as 'n "pre-industriële" voorfase afgemaak en ander tegniekstelsels word sonder meer as primitief of onderontwikkel veroordeel.

Middeleeue Hoewel die geskiedenis van die tegniek 'n jong vak is, bevat dit ʼn aantal ingeburgerde begrippe. Dit geld in die eerste plek vir die begrip uitvinding, wat lank van toepassing gemaak is op elkeen wat hom met die "vooruitgang" van die mensdom en die tegniek bemoei het. Tegniese vooruitgang is deur baie mense verkeerdelik beskou as bloot ʼn kwessie van wie wat wanneer uitgevind het, en 'n omvattende lys van uitvindings in chronologiese volgorde moes die geskiedenis van tegniek kort en saaklik weergee.

Die benadering het spoedig in ʼn doodloopstraat beland. Van die meeste uitvindings voor 1500 is die naam van die uitvinder onbekend en baie van die uitvindings voor en na 1500 is in werklikheid nie uitvindings nie. Die wiel is byvoorbeeld nie uitgevind nie, maar "ontwikkel". Die motor, radio, televisie en bandopnemer is elk 'n reeks tegniese stelsels, bestaande uit uitvindings en tegniese ontwikkelings wat met mekaarverband hou, dit wil sê ʼn akkumulasie van tegniek. Om dit nog duideliker te stel, kan die voorbeeld van die Middeleeuse tegniek gebruik word.

In die Middeleeue het die sentrum van die kultuur en ekonomie (landbou) verskuif na die noorde (Noord-Frankryk, Rynland, België en Suidwes-Engeland). Slawearbeid, wat ʼn normale verskynsel in die Oudheid was, het in die Middeleeue min voorgekom. Op geestelike en sosiale gebied het die Kerk 'n soort monopolie verkry. Die moeiliker bewerkbare (klei) grond van Noordwes-Europa het die soeke na verbeterde landboumetodes, die vervanging van mannekrag deur masjiene en die gebruik van ander energiebronne gestimuleer.