duimnael|Die uitwerking van die Kommunisme duimnael|125px|Die Hamer en sekel, 'n algemene simbool van kommunisme.

Kommunisme verwys na 'n klaslose stelsel van politieke en ekonomiese organisering, ingevolge waarvan eiendom en die produksiemiddele deur die staat besit word en alle burgers deel in die gesamentlike rykdom deur te produseer na hul vermoë en te neem volgens hul behoeftes.

In die praktyk word met Kommunisme veral die stroming bedoel wat op die idees van Karl Marx (marxisme) en Wladimir Lenin (leninisme) gebaseer is, en die uitwerking van die idees in die Sowjetunie, Kuba, Noord-Korea en ander "sosialistiese" state.

Met die woord Kommunisme word enersyds 'n ekonomiese stelsel aangedui waarin geen privaatbesit van produksiemiddele voorkom nie en andersyds 'n politieke leer wat die grondslag vorm vir bewegings wat so 'n stelsel nastreef.

Die Kommunistiese leer is veral beïnvloed deur die idees van Karl Marx en Friedrich Engels wat in 1848 in hul Kommunistiese Manifes uiteengesit is. Die oorspronklike Marxistiese teorie is in later jare oral in die wêreld op verskillende wyses by heersende situasies aangepas. In Brittanje en Wes-Europa het politieke bewegings ontstaan wat ten gunste van 'n verwatering van die Marxisme was, terwyl die Sowjetunie onder leiding van Lenin 'n militanter strategie vir die verwesenliking van die Marxisme ontwikkel het as wat Marx waarskynlik self sou voorgestaan het.

In die Sowjetunie het verskeie denkrigtings uit die Marxisme ontwikkel, byvoorbeeld Leninisme, Trotskyȉsme en Stalinisme. Die vinnige verspreiding van die Kommunisme na die Tweede Wêreldoorlog het daartoe gelei dat die beweging sy monolitiese karakter verloor het. In China het Mao Zedong se interpretasie van die Marxisme hom in konflik met die Sowjetunie gebring, terwyl verskeie variasies ook in Europa en Latyns-Amerika ontstaan het, waaronder Titoïsme in Joego-Slawië, Chavisme in Venezuela en Castroïsme in Kuba.

Ontwikkeling Onder Kommunisme word gewoonlik 'n ekonomiese stelsel verstaan waarin, in teenstelling met die kapitalisme, geen privaatbesit van produksiemiddele voorkom nie omdat die middele aan die gemeenskap behoort. Die ware wat deur die produksiemiddele geproduseer word, asook die inkomste wat daaruit verkry word, word op so 'n wyse onder die gemeenskap verdeel dat elkeen volgens sy eie behoefte ontvang. In sy suiwer vorm kom so 'n stelsel nêrens te wêreld voor nie, hoewel sekere lande, waaronder die Sowjetunie en China, wel probeer om dit te bereik.

Die teorie waaruit die gedagte van 'n kommunistiese samelewing ontstaan het, word ook Kommunisme genoem. In die 19e en die 20e eeu het verskeie politieke strominge die leer versprei. Die ideaal van gelykheid in 'n samelewing (die grondslag van die Kommunistiese leer) is al in die antieke tyd deur die Griekse filosoof Plato geopper. Sy idees het denkers soos Thomas More (1478-1535) en Tommaso Campanella (1568- 1639) beïnvloed. Die eerste Christene het ook geprobeer om gelykheid van die gemeenskapslede te bereik en in later eeue het sekere kloosterordes en godsdienstige groepe soos die wederdopers ook die ideaal nagestreef.

Die vorm van "kommunisme" wat hulle beoefen het, het egter geen invloed gehad op die ontstaan van die politieke, ekonomiese en ideologiese leer van die Kommunisme soos dit in die 19e eeu ontwikkel het nie.

Voorlopers In die 17e eeu het die Engelsman Gerrard Winstanley (1609-1660) die beginsel verkondig van "elkeen volgens sy vermoë, elkeen volgens sy behoeftes". Hy was die belangrikste grondlegger van die radikale beweging, die "diggers", wat verwant was aan die radikaal-demokratiese party van die "levellers". In teenstelling met die levellers het die diggers hebsug en privaatbesit beskou as die oorsaak van alle kwaad: onderdrukking, slawerny en verarming. 'n Tydgenoot van Winstanley, James Harrington (1611-1677), het in 1656 'n boek, Oceana, gepubliseer waarin hy die verhouding tussen ekonomiese en politieke mag uitgestippel het. Volgens hom het grondeienaars onvermydelik ook die politieke lewe oorheers: ekonomiese mag lei tot politieke mag. Politieke demokrasie is onmoontlik sonder ekonomiese demokrasie.

In Frankryk het sekere denkers tydens en na die Franse Revolusie die idee verkondig dat ware vryheid en gelykheid nie moontlik is nie solank produksiemiddele privaatbesit bly. Ondanks die verskille in die politieke denkbeelde van skrywers soos Babeuf, De Saint-Simon, Fourier, Louis Blanc en Proudhon, bevat hul werke tog enkele ooreenstemmende kernpunte. Hul ideaal was 'n maatskappy met gelyke ekonomiese geleenthede vir almal, waarin niemand uitgebuit sou word nie. Omdat hulle geglo het dat die mens in wese goed is en privaatbesit sleg, het hierdie sogenaamde utopiese sosialiste verwag dat die afskaffing van privaatbesit alle euwels uit die weg sou ruim. Onderling het hul denkbeelde oor die ideale natuurlike samelewing egter verskil.

Karl Marx Die denke van Karl Marx (1818- 1883) het die grootste invloed op die leer van die Kommunisme gehad. Marx is geïnspireer deur onder andere die idees van die Franse Revolusie en deur die haglike omstandighede waarin die arbeiders van Engeland verkeer het. Die arbeiders was 'n industriële proletariaat wat opeengehoop in die agterbuurte van die groot stede gewoon het. Deur die omverwerping van die kapitalistiese stelsel, wat op privaatbesit van die produksiemiddele gegrond was, sou die proletariaat volgens Marx sosiale onregverdigheid en egoïsme uit die weg ruim. Hy was ook van mening dat die ekonomiese produksiewyse van 'n maatskappy die staatsvorm daarvan bepaal. Die idees van Karl Marx is in 1848 duidelik geformuleer toe hy in samewerking met Wilhelm Friedrich Engels (1820-1 895) die Kommunistiese Manifes gepubliseer het. Die Manifes is in opdrag van die Bond van Kommuniste in Londen geskryf. In die openingsin van die Manifes konstrasteer Marx en Engels dat die kommunisme reeds oral versprei het: " Daar dwaal 'n gees deur Europa, die gees van kommunisme." In die slotgedeelte versoek hulle die kommuniste om alle demokratiese en radikale strominge te ondersteun, maar voeg by dat die doel- die vorming van die proletariaat tot 'n selfbewuste, almalomvattende klas - bereik kan word slegs deur die gewelddadige omverwerping van die sosiale struktuur. Die slotwoorde lui dan ook: "Proletariërs van die wêreld, verenig."

Politieke leer By die moderne Kommunisme is daar nie sprake van een politieke leer nie. In die lande waar kommunistiese stelsels toegepas word, is die oorspronklike teorie gewysig om by plaaslike toestande aan te pas. Die verskillende vorme soos die oorspronklike Marxistiese Leninisme van Lenin, die Trotskyȉsme van Leon Trotsky, die Stalinisme van Josef Stalin, die Maoïsme van Mao Zedong en die Castroïsme van Fidel Castro het egter almal die teorie van Karl Marx as grondslag.

Marxisme Die denke van Karl Marx is grootliks beïnvloed deur ander beroemde filosowe soos Georg Wilhelm Friedrich Hegel , Johann Gottlieb Fichte, Immanuel Kant en Ludwig Feuerbach, asook deur die denkers van die Franse Revolusie en Engelse ekonome soos Adam Smith en John Stuart Mill. Sy geskrifte is meer 'n radikale kritiek op die werk van hierdie filosowe as wat dit 'n filosofiese stelsel op sigself is. Sy belangrikste werk na die Kommunistiese Manifes van 1848 was Das Kapital, waarvan die eerste volume in 1867 gepubliseer is.

Die ander twee volumes is na sy dood deur Friedrich Engels gepubliseer. Marx se wêreldbeskouing was materialisties, dit wil sê hy het die waarneembare werklikheid as die enigste werklikheid beskou. Hy het soos die ander materialiste geglo dat alles in en op die aarde materie is wat uit materie ontstaan het. Marx het egter van die ander materialiste verskil in die opsig dat hy 'n onderskeid gemaak het tussen lewelose materie aan die een kant en die mens aan die ander kant.

Terwyl die materialiste hulle bemoei het met die vraag wat die mens is, het Marx meer belang gestel in wat die mens se denke en optrede bepaal. Volgens Marx begin die geskiedenis by die mens se drang om sekere behoeftes te bevredig. In die proses van behoeftebevrediging verrig die mens arbeid, dit wil sê hy produseer middele om sy behoeftes te bevredig. Namate die proses vorder, beweeg die mens, wat self uit die natuur ontstaan het, verder weg van die natuur.

Deur die natuur te bemeester en tot die insig te kom van wat hom van die natuur onderskei, bereik die mens volkome menswees en daarmee 'n vrye bewussyn. Die gedagte dat die mens deel is van die materiële werklikheid en daaruit ontstaan het, is die grondslag van Marx se wêreldbeskouing en 'n ommeswaai van die idealisme van Hegel. Volgens Hegel word die mens se optrede deur idees bepaal, idees wat hy van die Absolute Idee (wat hy God noem) ontvang.

Alles is manifestasies van die Absolute Idee, wat beteken dal mens en materie brokkies daarvan is. By Hegel geskied die wordingsproses van bo af, vanuit 'n bonatuurlike sfeer, en beweeg afwaarts na die mens. Marx het verklaar dat Hegel se filosofie "op sy kop staan" en het dit omgedraai: in plaas daarvan dat die werklikheid uit die idee ontstaan, ontstaan die idee uit die werklikheid. Die proses geskied dus van onder af boontoe en eindig met die mens se bereiking van 'n vrye bewussyn wanneer hy tot die besef kom dat hy die opperste wese is en homself geskep het. Volgens Marx is daar geen bonatuurlike sfeer nie en ontstaan godsdiens, net soos alle ander sosiale instellings, uit die mens se materiële omstandighede.

Die bereiking van 'n vrye bewussyn deur middel van arbeid (skeppende aktiwiteit) beteken dat ekonomiese omstandighede die belangrikste faktor in die mens se omgewing is, want daardeur word sy denke en optrede bepaal. Staat, politiek, godsdiens, regspleging, ideologie, kultuur, en so meer ontstaan dus alles uit die ekonomiese struktuur en sal verander na gelang die ekonomiese omstandighede verander. Die kern van die ekonomiese lewe, volgens Marx, is die produksiemiddele, wat hy ook die produksiekragte genoem het. Die produksiekragte bevat twee elemente, naamlik die arbeidsmiddele (werktuie) en die tegniese kennis wat daarvoor aangewend word.

Die aard van die produksiekragte beïnvloed die produksieverhoudinge, met ander woorde die verhoudinge waarin mense in die produksieproses tot mekaar staan. Die weefgetou het byvoorbeeld 'n feodale stelsel met leenhere tot gevolg gehad, terwyl die stoomenjin 'n industrieel kapitalistiese stelsel tot gevolg gehad het. In die kapitalistiese stelsel is die produksieverhoudinge die van kapitaliste (werkgewers) aan die een kant en arbeiders (werknemers) aan die ander kant. Marx het die arbeiders die proletariaat genoem. Marx het aangevoer dat die mens in die kapitalistiese stelsel nie vry is nie (geen vrye bewussyn het nie) omdat hy van die produk van sy arbeid vervreem is. Die produk wat hy met sy arbeid vervaardig en waarin hy homself uitdruk of vergestalt, behoort nie aan hom nie maar aan die kapitalis. Die arbeider word dus van sy produk (sy selfuitdrukking) beroof. Die vervreemding word nog 'n stap verder gevoer deur gespesialiseerde stukwerk.

Die proses van vervreemding versprei onvermydelik ook na die sogenaamde bo-strukture van die samelewing, naamlik die staat, die politiek, godsdiens en kultuur, omdat die strukture uit die ekonomiese omstandighede ontwikkel. Volgens Marx was die staat 'n instrument vir die bourgeoisie (die kapitaliste) om hul bevoorregte posisie te handhaaf. Die regspleging en die politieke lewe het die belange van die bourgeoisie weerspieël, terwyl godsdiens as opium vir die volk moes dien.