duimnael|Herkonstruksie van 'n Romeinse reiswa rytuig versier met brons toebehore, Romisch-Germanisches Museum, Keulen 'n Rytuig is 'n privaat vierwielvoertuig vir mense en word meestal deur perde getrek. Tweedehandse privaatwaens was algemene openbare vervoer, die ekwivalent van moderne motors wat as taxi's gebruik word.
Die ontwikkeling van rytuie is sinoniem met die ontwikkeling van die beskawing. Sedert die vroegste tye het die mens 'n drang na reis en verkenning gehad om so die beskawing uit te dra, en rytuie was hiervoor noodsaaklik.
Reeds in 5 000 v. C. is die slee waarskynlik al gebruik, en teen ca. 700 v.C. was die strydwa reeds in Engeland bekend. In Suid-Afrika moes 'n onherbergsame binneland verken word en Europese waens is vir hierdie doel by die Suid-Afrikaanse toestande aangepas. Jare later, toe rytuie hier gevestig was, het Suid-Afrika nie agteruitgestaan vir die res van die wêreld wat 'n verskeidenheid van rytuie betref nie. Ondanks probleme soos swak paaie het die vakmanskap en ondernemingsgees van rytuigbouers tog rytuie van formaat opgelewer.
Met die koms van die motor, waardeur gerief en spoed verseker is, behoort hierdie ou rytuie vir altyd tot die verlede: dit is vandag slegs museum- en versamelaarstukke. Sommige ou rytuie word egter vandag nog plaaslik en oorsee vir sekere seremonies gebruik, byvoorbeeld die koetse van die Britse koningshuis, dié van die Lord Mayor of London, die Nederlandse glaskoets en die Goue Koets wat in 1898 as inhuldigingsgeskenk aan koningin Wilhelmina geskenk is. In Suid-Afrika word die vroeë rytuie ook nie net as vervoermiddels beskou nie, maar dit het kultuurbesit geword: die ossewa, die vierperdewa en die poskoets.
Algemene ontwikkeling Die Romeine was baanbrekers op die gebied van rytuie en het 'n groot verskeidenheid van rytuie vervaardig. Hulle het onder meer renwaens vir wedrenne gebou, maar ook groter waens waarmee gereis is. Met die bekende segewa het die Romeine na 'n oorwinning op die oorlogsveld teruggekeer huis toe.
Gedurende die vroeë Middeleeue, na die val van die Romeinse Ryk, was daar geen verdere ontwikkeling op hierdie gebied nie, en al rytuie wat gedurende die donker tyd behoue gebly het, was die primitiewe plaaswa en boerekar. Eers teen 1200 n.C. is karre, waens en koetse vervaardig en gebruik.
In die Middeleeue is daar meestal te perd gereis. Die rede hiervoor was hoofsaaklik die swak toestand van die paaie en 'n gebrek aan vering, wat ʼn reis per wa baie ongemaklik gemaak het. Die veerstelsel is eers in die 15e eeu gebou deur die kas van die wa aan rieme bo die onderstel op te hang. In die 13e eeu is draagstoele in allerlei vorme gebruik. Die wipkar, wat 'n voorloper van die skotskar was, is waarskynlik die eerste rytuig uit die Angel-Saksiese wêreld waaroor iets bekend is. Teen omstreeks 1450 is koetse algemeen in die hele Europa gebruik en die koets was veral by die Italiaanse adel baie gewild. Die eerste werklike staatsiekoets dateer uit die Hongaarse stad Koczy, waarvan die naam koets afgelei is, en waar die keiserlike rytuigpark gevestig was. Die koets is in Nederland bekend gestel toe Louise de Coligny (1555- 1620) ʼn koets uit Frankryk vir haar troue bestel het. Oopkoetse en staatsiekoetse was teen die einde van die 16e eeu algemeen in Europa. Die 2 tipes koetse was die voorlopers van die calèche en barouche. Intussen het die boere steeds die ou plaaskarre en -waens gebruik. Aan die begin van die 17e eeu is die sogenaamde chare gebruik, wat die voorloper van die toekoets was, en in 1660 het Philippe de Chiesa ʼn toe, goed geveerde koets gebou, bekend as die berlyner. Omdat glas so duur was, kon slegs die rykes rytuie met skuifvensters van glas bekostig, wat veral teen 1667 gewild geraak het. Ook die karos (reiskoets) uit Italië dateer uit die 16e en 17e eeu. Aanvanklik het die karos 'n plat dak gehad, met gordyne binne aan die sykante. Ten einde meer reisigers as die gebruiklike 4 te vervoer, is 'n sogenaamde hang aan die sykante aangebring met 'n leersak vir die passasiers se bene. Die sykante en dak van die karos was dikwels ryklik versier. Uit Frankryk het 'n eenperdkar (sjees) in 1670 sy verskyning gemaak. Dit was 'n ligte tweewielrytuig en die voorloper van die meeste tweewielrytuie wat later sou volg. Gedurende die 18e eeu is groot vordering gemaak en verbeterings aangebring. Enkele voorbeelde hiervan is die Gregory Gig uit Engeland, die Franse diligence en kabriolet en die landauer uit Duitsland, wat 'n baie gewilde rytuig was. Verbeterings het nie net op die gebied van tipes en voorkoms plaasgevind nie, maar ook op tegniese gebied. Die veringstelsels het merkwaardig verbeter sowel as die krinkspil en remstelsel. Teen 1790 is ysterbladvere, maar nog in kombinasie met rieme, gebruik. Namate paaie verbeter het en vaart al hoe belangriker geword het, en nywerheidsontwikkeling die vervaardiging van onderdele ook goedkoper gemaak het, het die aantal rytuie vinnig vermeerder. Daar was toe ook 'n groot verskeidenheid van rytuie, byvoorbeeld die staatsierytuig, waarvan die bok (sitplek van 'n koetsier) met fluweel beklee was, en wat met wapens op die panele en silwer of goue ornamente versier was. Tot hierdie tipe behoort die berlyner, die caleche en die barouche. Die triomfkar of segekar was 'n besondere tipe berlyner met slegs twee sitplekke, terwyl die barouche 'n oopkoets met 'n kap oor die agterste sitplek was. Ander tipe rytuie was die janplesierwa en die faëton. Dan was daar rytuie vir daaglikse gebruik soos die berlyner de ville, coupé en landauer. 'n Tweesitpleklandauer het as die landauet bekend gestaan. In Engeland was die tweewielhansom baie gewild. Ander tweewiel rytuie was die kapsjees uit Friesland, die Gelderse kapkar, die hondekar, die tilbury, die tonneau en die kabriolet. Wat vierwielrytuie betref, was daar die highflyer, waentjie en Franse jagwa. Die begin van die 19e eeu is ingelui met die Duitse baroucheplesierwa en die Franse dormeuse. Nog meer tipes faetons het ontwikkel en in 1829 het 'n nuwe rytuig, die omnibus, verskyn waarvoor 3 perde langs mekaar ingespan is: Die poskoets, wat teen 1880 vir openbare vervoer gebruik is, is ʼn swaar rytuig met plek vir tussen 10 en 20 mense en is deur 'n span van 4 perde getrek wat gereeld vervang moes word. Hierdie rytuie was gewoonlik voorsien van 'n remblok wat met die voet beheer is. Teen 1830 het die Hansom-"keb" sy verskyning gemaak. Hierdie gewilde rytuig is deur een perd getrek. Lord Brougham het in 1839 'n ligte toekoets ontwerp wat ook deur net een perd getrek is, naamlik die Brougham, en 3 jaar later is die waentjie (wagonnette) in Engeland gebou. Teen die einde van die 19e eeu was daar bykans 'n honderd verskillende soorte rytuie, onder meer die Victoria, Norfolk-kar, verewaentjie, sovereign, carriol, malvernkar, tilbury en chaise. Die rytuie, maar soms net die naam, is deur verskillende lande oorgeneem en verander. Gewoonlik het 'n nuwe rytuig 'n ander een vervang, byvoorbeeld die tilbury wat in die plek van die chaise gekom het. Die faëton-modelle het so vermeerder dat daar later van die faëton-familie gepraat is, byvoorbeeld die Emperor, Victoria, Stanhope, Beatrice, ensovoorts. In Engeland was daar toe ongeveer 3 tipes triomfkoetse, 3 tipes landauers, omtrent 7 model le tweewielhondekarre (byvoorbeeld die Oxford, Windsor, Manchester, ensovoorts), etlike soorte waentjies, eenperdkarre en rytuie met saamgestelde name. Die Victoria-faëton, wat in 1870 op die mark gekom het, was waarskynlik een van die laaste soorte wat ontwerp is. Veranderinge wat konstruksie betref, het onder meer die volgende ingesluit: die staaldrukveer, die C-veer, 'n nuwe krinkspil, verbeterde asse, in 1884 die Warner-naaf, en in 1886 'n wielband waarop soliede rubberbande gepas het. Versierings en bykomstighede het groot aandag geniet en 'n ligte disselboom is toe algemeen gebruik - dit het in der waarheid klopdisselboom met die ontwikkeling van rytuie gegaan. Vakmanne het hulle op 'n bewonderenswaardige wyse van hul taak gekwyt en net die beste materiaal is gebruik. Die wa, aan die ander kant, het byna geen ontwikkeling getoon nie, hoofsaaklik omdat die wa 'n lang leeftyd gehad het en omdat dit ontwerp is vir die doel waarvoor dit gebruik is. Die waens het nie baie swaar gewerk nie, die dorpe was naby mekaar geleë en die vragte was redelik lig. Verkenning oor onherbergsame dele was nie nodig soos in die geval van Suid-Afrika nie - dit was alles faktore wat tot die lang gebruik van die wa bygedra het. Bekende soorte waens was die Hollandse boerewa en die wipkar. Waens uit Engeland wat op die Hollandse boerewa gebaseer was, is die Sussex-, die Berkshire-, die Hampshire- en die Gloucesterboerewaens. Vroeg in die 18e eeu het die stage wagon, wat deur 8 tot 10 perde getrek is, sy verskyning gemaak. Hoewel die wa basies nie ontwikkel het nie, is waens vir sekere funksies gebruik, wat wel sekere veranderings meegebring het, byvoorbeeld waens vir vullisverwydering, waens vir die vervoer van gewonde soldate, ensovoorts.
Suid-Afrika
Algemene oorsig Jan van Riebeeck het geen rytuie uit Nederland na die Kaap saamgebring nie, maar die eerste rytuig is nie lank na sy koms nie in 1652 gebou. Hierdie rytuig was 'n tweewielkar wat deur osse getrek is. Waens is later algemeen gebruik, onder meer vir ekspedisies na die binneland.
Die wa uit Nederland het die grondslag gelê vir waens, hoewel talle aanpassings gedoen moes word. Donkiekarre is algemeen gebruik, asook die Nederlandse "speelwagen", wat waarskynlik die voorloper van die verewaentjie was. Talle probleme, soos die gebrek aan paaie en trekdiere is ondervind, en Van Riebeeck was klaarblyklik nie baie ingenome met die idee van osse as trekdiere nie. Perdewaens is egter later gebruik, onder andere deur lady Anne Barnard. Teen die einde van die 18e eeu het die toestand verbeter nadat perde ingevoer is en die rytuig as vervoermiddel algemeen gebruik is.
'n Verslag van William Bird dui daarop dat daar teen 1882 'n verskeidenheid van rytuie aan die Kaap was: die berlyner, barouche, landauer, tilbury, ligte karretjie (curricle) en sjees was gewild. Die paaie het gevolglik ook toe verbeter, in so mate dat 'n poskoets vir die Kaapstad-Swellendamroete in 1843 ingestel is. Teen 1849 was die Hansom-"keb" die eerste huurrytuig in Kaapstad. Geveerde karre is egter eers in 1851 noord van die Oranje aangetref.
Die omnibus het in 1860 sy verskyning in Natal en Kaapstad gemaak, en in 1862 het die Natallers ook kennis gemaak met die faëton en landauer. Allerlei rytuie het hul verskyning gemaak en die ontwikkeling van rytuie in Suid-Afrika het goed tred gehou met die van oorsese lande.
'n Beskrywing van rytuie in Suid-Afrika Perdewaens vorm net soos die ossewa deel van Suid-Afrika se kultuur. Hierdie tipe wa is in volksliedjies besing (Die vierperdewa) en dan was daar ook die agtperdewa wat soms die Sarie Marais-wa genoem is. Die molwa, waarskynlik 'n afstammeling van die Kaapse perdewa, is 'n klein en ligte tipe wa en is soms ook deur muile getrek. Net soos in Europa en Engeland, was spesiale waens vir spesiale behoeftes nodig en gevolglik was sekere veranderings noodsaaklik.
ʼn Mens dink hier byvoorbeeld aan die vervoer van wolbale, vragte hooi, vullis, ensovoorts. Aan die begin van die 20e eeu het die trollie op die toneel verskyn. Dit was gebaseer op die plan van die molwa maar sonder die langwa, amper soos die moderne sleepwa. Hoewel goewerneur Simon van der Stel 'n staatsiekoets gehad het, was dit 'n redelik onbekende rytuig in Suid-Afrika, veral omdat hier geen adelstand was nie, en die Victoria's en landauers is algemeen deur hooggeplaaste persone gebruik.