200px Oscar Niemeyer

Brasiliaanse argitek

Skool Moderne Internasionale Argitektuur

Beduidende projekte Geboue langs die Esplanada dos Ministérios in Brasília 150px

Toekennings en pryse Pritzker-prys (VSA) in 1988 Praemium Imperiale (Japan) in 2004

Handtekening 200px

Oscar Ribeiro de Almeida Niemeyer Soares Filho (15 Desember 1907 – 5 Desember 2012) was 'n Brasiliaanse argitek en ontwerper wat as een van die belangrikste figure van die internasionale moderne argitektuur beskou word. Niemeyer was 'n baanbreker wat onder meer met die boukundige moontlikhede van gewapende beton geëksperimenteer het. Die Internasionale Styl, wat deur die Duitse Bauhaus-beweging begin is, het in die tropiese klimaat van Brasilië danksy Niemeyer 'n nuwe dimensie van openheid en vryheid gekry.

Niemeyer se geboue word deur baie dinamiese vorms en sinlike boë gekenmerk (die laasgenoemde elemente het reeds in die Brasiliaanse barok-styltydperk 'n beduidende rol gespeel), en sommige van sy bewonderaars verwys na Niemeyer eerder as 'n beeldhouer van monumente as 'n argitek. Die argitektuurkritikus Paul Andreas van die Duitse Argitektuurmuseum (DAM) in Frankfurt, wat in 2003 die grootste Duitse retrospektiewe uitstalling oor Niemeyer se werk gekoördineer het, beskou die vrye vorms van Niemeyer se betongeboue as een van die belangrikste bydraes tot die argitektuurgeskiedenis van die 20ste eeu.

Sy beduidendste projek, die nuwe Brasiliaanse hoofstad Brasília, wat hy saam met Lucio Costa ontwerp het, is deur Unesco in 1987 as wêrelderfenis aangewys – as die enigste 20ste eeuse stad waaraan dié status verleen is.

Terwyl Niemeyer self steeds beklemtoon het dat argitektuur nie net funksioneel moet wees nie, maar met sy kreatiwiteit ook die verbeelding van mense moet kan uitdaag, beweer kritici dat sy geboue nie aan menslike behoeftes voldoen nie, dikwels steriel en amper sielloos gebly het en eerder deur kommunistiese ideale gekenmerk is. Niemeyer het egter steeds ontken dat argitektuur in staat sou kon wees om maatskaplike hervorming te bevorder en die ontwerp van 'n gebou met die skepping van 'n kunswerk vergelyk. Vergelyk Paul, Andreas en Ingeborg Flagge (reds.): Oscar Niemeyer. Eine Legende der Moderne / A Legend of Modernism. Met bydraes deur Paul Andreas, Max Bill, Lauro Cavalcanti, Elmar Kossel, Carsten Krohn, Niklas Maak, Oscar Niemeyer en José Carlos Süssekind. Frankfurt am Main/Basel Boston Berlin: Birkhäuser 2003 Gedurende sy loopbaan, wat oor 78 jaar gestrek het, het Niemeyer sowat 600 projekte voltooi.

Lewe en werk Vroeë lewe duimnael|links|100px|Oscar Niemeyer (omstreeks 1917) Oscar Niemeyer is in 1907 in Laranjeiras, 'n woonbuurt van Rio de Janeiro, gebore. Die Duitse familienaam Niemeyer in Portugal en Brasilië dateer terug na die 18de eeu toe Konrad Heinrich von Niemeyer (1761–1806) vanuit Hannover na Portugal geëmigreer het. Konrad Heinrich von Niemeyer, geneall.net Oscar Ribeiro de Almeida de Niemeyer Soares, geneall.net

Niemeyer het sy jeug soos 'n tipiese jong Carioca van dié tyd deurgebring en glad nie oor die toekoms bekommer nie. Hy het sy sekondêre opleiding op die ouderdom van 21 voltooi en in dieselfde jaar met Annita Baldo getrou, 'n dogter van Italiaanse immigrante uit Padua. Die huwelik het aan hom 'n sin vir verantwoordelikheid gegee: hy het besluit om te werk en by 'n universiteit ingeskryf.

Aanvanklik het hy in sy vader se tipografiese onderneming gewerk en by die Escola de Belas Artes ("Skool van Skone Kunste") ingeskryf. In 1934 het hy 'n graad as ingenieur-argitek behaal. Alhoewel hy op daardie tydstip finansiële moeilikhede ondervind het, het Niemeyer nogtans sonder vergoeding in die ateljee van die argitekte Lucio Costa en Carlos Leão gewerk. Hy was ontevrede met die argitektuur wat hy in die strate gesien het – en die besluit geneem om self 'n loopbaan as argitek te volg om iets daaraan te verander.

Nadat hy reeds bekendheid as argitek verwerf het, het hy in 1945 by die Kommunistiese Party van Brasilië aangesluit. Gedurende die Russiese Rewolusie van 1917 was Niemeyer nog 'n seun van tien jaar, maar in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog het hy 'n jong idealis geword – maar ook 'n entoesiastiese kommunis. Later in sy lewe sou hy vir sy politieke oortuiging 'n hoë prys betaal.

Tydens die militêre diktatuur in Brasilië is sy kantoor deursoek en Niemeyer het as balling na Europa gegaan. Volgens berigte het die destydse Brasiliaanse minister van lugvaart gesê dat Moskou die mees geskikte plek vir 'n kommunistiese argitek sou wees. Niemeyer het 'n besoek aan die Sowjetunie afgelê, met 'n aantal Sowjet-leiers gesels en met sommige van hulle vriendskappe gesluit. Fidel Castro het eens opgemerk: "Niemeyer en ek is die laaste kommuniste van hierdie planeet". 100 Years of Oscar Niemeyer : Oorspronklike aanhaling (soos in teks): "Niemeyer and I are the last Communists of this planet".

Eerste projekte duimnael|Die Edifício Gustavo Capanema in Rio de Janeiro huisves die Departement van Onderwys en Openbare Gesondheid In 1936 is Lucio Costa deur die minister van onderwys Gustavo Capanema as die argitek vir die nuwe hoofkwartier van die Departement van Onderwys en Openbare Gesondheid in Rio de Janeiro benoem. Die departement was destyds verantwoordelik vir die skepping van die novo homem, Brasileiro e moderno (die "nuwe mens", wat Brasiliaans en modern sou wees). Oscar Niemeyer het in 1939 die leiding van die span argitekte oorgeneem, wat naas Costa en Niemeyer ook Carlos Leão, Affonso Eduardo Reidy, Jorge Moreira en Ernani Vasconcellos ingesluit het, terwyl die Switsers-Franse argitek Le Corbusier in 1936 as raadgewer gefungeer het.

Volgens Niemeyer se versoek is die gebou se naam in 1985 gewysig tot Palácio Gustavo Capanema. Dit was die eerste wolkekrabber in die modernistiese boustyl ter wêreld wat in opdrag van 'n staatsinstelling opgerig is en die grootste projek wat Le Corbusier ooit aangepak het. Die wolkekrabber met veertien verdiepings, wat in 1943 voltooi is en die hoof-bestuursbeampte van Brasilië se kultuur en kultuurerfenis gehuisves het, het alle elemente vertoon wat later as die boustyl van die Brasiliaanse modernistiese beweging erken sou word: Vir die projek is net inheemse materiale en tegnieke ingespan, soos byvoorbeeld azulejos, die tradisionele blou teëls wat hulle oorsprong in Portugal het; brises-soleil, wat deur Le Corbusier op 'n rewolusionêre manier herskep en by die Moorse sonskerms van die koloniale styl aangepas is; opvallende kleure; die tropiese tuine van die landskapsargitek Roberto Burle Marx; die "Keiserlike Palm" (Roystonea oleraceae); verdere sinspelings op tipiese kenmerke van die Brasiliaanse landskap en die integrasie van kunswerke wat deur Brasiliaanse kunstenaars vir die projek geskep is.

In 1939 het Niemeyer en Costa die Brasiliaanse pawiljoen by New York se wêreldtentoonstelling ontwerp en saam met Paul Lester Wiener uitgevoer. New York se burgemeester Fiorello La Guardia was baie beïndruk deur die pawiljoen en het die sleutels van die stad New York as 'n toekenning aan Niemeyer oorhandig. Costa het verduidelik dat die Brasiliaanse pawiljoen die argitektoniese taal van "bekoorlikheid en swier", ligtheid en ruimtelike vloeiendheid, oop plan, boë en vry mure versinnebeeld het en dit as "Ionies" beskryf – in kontras met die destydse strenge modernistiese argitektuur, waarna hy met die term "Dories" verwys het.

Teen die middel van die 20ste eeu het die Brasiliaanse argitektuur se modernisme erkenning geniet as die "eerste nasionale styl in die moderne argitektuur" (Reyner Bahnam). Die internasionale argitektuur-tydskrifte van die 1940's en 1950's het oorgeloop van lofredes en honderde bladsye aan die "uitverkore land van die mees oorspronklike en moedigste eietydse argitektuur" gewy. Monografieë het individuele argitekte soos Oscar Niemeyer en Affonso Eduardo Reidy behandel.

Pampulha duimnael|250px|Oscar Niemeyer se Igreja da Pampulha (São Francisco de Assis) In 1940 het Niemeyer Juscelino Kubitschek, die destydse burgemeester van Belo Horizonte, die hoofstad van die deelstaat Minas Gerais, ontmoet. Kubitschek was saam met die goewerneur van Minas Gerais, Benedito Valadares, van plan om 'n nuwe voorstad noord van Belo Horizonte te ontwikkel – Pampulha. Niemeyer het die opdrag gekry om 'n reeks geboue, die sogenaamde "Pampulha-kompleks", vir hierdie projek te ontwerp. Die kompleks het 'n kasino, 'n danssaal en restourant, 'n jagklub, 'n gholfklub en 'n hotel met 100 kamers (wat uiteindelik nie gebou is nie) behels wat rondom 'n kunsmatige meer opgerig is. Die kerkgebou van São Francisco de Assis is in 1942 voltooi en reeds een jaar later as die eerste moderne gebou in Brasilië by die nasionale kanon van hoë kuns gelys.

Die bouprojek is in 1943 voltooi en alhoewel die kompleks tydens die Brazil Builds-tentoonstelling van dieselfde jaar in New York Stad se Museum of Modern Art (MOMA) groot internasionale byval gevind het, was die meer konserwatiewe kerklike outoriteite in Belo Horizonte ontsteld oor die ontwerp vir die São Francisco de Assis-kerkgebou. Vir hulle was die argitektuur te gewaagd vir 'n sakrale gebou en ook die muurskildery agter die altaar, wat deur die kunstenaar Candido Portinari geskep is en Christus as die Heiland van die siekes, die armes en veral die sondaars uitgebeeld het, is deur die kerk afgekeur. Die Rooms-Katolieke Kerk was eers in 1959 bereid om die kerkgebou amptelik te wy.

Die 1940's en 1950's duimnael|Niemeyer was by die ontwerp van die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York betrokke. Die foto wys die VN-seketariaat se kantoorgebou In 1947 is sy internasionale aansien bevestig toe Niemeyer na die Verenigde State gereis het om as 'n lid van die internasionale ontwerpspan (Board of Design) die Verenigde Nasies se nuwe hoofkwartier in New York te beplan. Niemeyer se "plan 32" is deur die Board of Design goedgekeur, maar uiteindelik het hy ingegee onder die druk van Le Corbusier en hulle het hul gemeenskaplike projek 23/32 ingedien wat saam met Bodiansky en Weissmann ontwerp is en elemente van Niemeyer en Le Corbusier se bouplanne verenig het, waarby Niemeyer met sy oorspronklike ontwerp die grootste bydrae gelewer het.

Alhoewel Le Corbusier daarop aangedring het dat hulle steeds by die projek betrokke sou bly nadat hulle plan 23/32 goedgekeur is, is die konsepsuele ontwerp vir die VN-hoofkwartier deur die direkteur van beplanning, Wallace Harrison, en Max Abramovitz, sy destydse vennoot, uitgevoer.

In die vorige jaar had Niemeyer 'n uitnodiging ontvang om aan die Yale-universiteit te doseer, tog is hy 'n visum geweier. In 1950 is die eerste boek oor Niemeyer se werk deur Stamo Papadaki in die VSA gepubliseer en drie jaar later is Niemeyer tot dekaan van die Harvard Graduate School of Design benoem. Sy lidmaatskap in die Kommunistiese Party het egter beteken dat vir die tweede keer 'n Amerikaanse visum aan hom geweier is.

duimnael|links|250px|'n Meer in die Parque do Ibirapuera In sy tuisland Brasilië het hy in 1951 ter geleentheid van die stad São Paulo se 400-jaarfees die Ibirapuera-park (Parque do Ibirapuera) ontwerp. In dieselfde jaar het die JK-gebou in Belo Horizonte ontstaan, terwyl die Copan-woonstelprojek in hierdie stad tussen 1953 en 1966 opgerig is. In die jare 1952 en 1953 het ook sy privaat huis in Rio de Janeiro, die Casa das Canoas, ontstaan, wat as sy Brasiliaanse meesterwerk beskou word. Die Niemeyer-luukse woonstel in Belo Horizonte het in die periode tussen 1954 en 1960 verrys.