Roger Federer (Duits: [ˈrɔdʒər ˈfeːdərər]; gebore 8 Augustus 1981 in Basel, Switserland) is ’n voormalige Switserse professionele tennisspeler en voormalige no. 1 op die wêreldranglys van mansenkelspelspelers volgens die ATP. Baie kenners en tennisspelers glo Federer is moontlik die beste speler in die geskiedenis van tennis. Sy ma, Lynette Federer (née Durand), is ’n Suid-Afrikaner en hy het self ook Suid-Afrikaanse burgerskap.
duimnael|links|upright|Roger Federer tydens die Australiese Ope in 2014. duimnael|links|upright|Roger Federer tydens die Australiese Ope in 2010. duimnael|links|upright|Roger Federer tydens die Wimbledon-kampioenskap in 2009. Federer het al 20 Grand Slam-titels gewen tydens mansenkelspeltoernooie (hy het al aan 79 deelgeneem). Hy het die Wimbledon-kampioenskapstoernooi agt keer gewen (’n rekord), die Australiese Ope ses keer, die VSA-Ope vyf keer (almal agtereenvolgens; ’n rekord) en die Franse Ope een keer. Hy is een van net agt mans met ’n loopbaan-Grand Slam agter sy naam. In 2004 het hy die eerste speler sedert Mats Wilander geword wat drie van die vier Grand Slam-enkelspeltoernooie in dieselfde jaar wen: die Australiese Ope, Wimbledon en die VSA-Ope. Hy het ook al ses Tennismeestersbekertoernooie en 27 ATP-meestersreekstitels gewen.
Federer het die ATP se no. 1-posisie vir ’n rekord van 310 weke beklee. Hy het ook van 2 Februarie 2004 tot 17 Augustus 2008 die no. 1-wêreldposisie vir ’n rekord van 237 agtereenvolgende weke beklee. Op 8 Julie 2007 het hy Björn Borg se rekord van vyf agtereenvolgende seges op Wimbledon geëwenaar.
Sy spel is veelsydig, en sy oënskynlik maklike en doeltreffende bewegings het hom gewild onder tennisaanhangers gemaak.
Persoonlike lewe Vroeë lewe Federer is in Basel, Switserland, gebore. Sy pa, Robert Federer, is ’n Duitssprekende Switser en sy ma, Lynette Federer (née Durand), is van Kempton Park in Gauteng, Suid-Afrika. Hy het ’n ouer suster, Diana, die ma van ’n tweeling.
Federer het Switserse en Suid-Afrikaanse burgerskap.Für wen schlägt Federers Fussball-Herz? , Blick, 11 September 2009 Hy het in Birsfelden, Riehen en Münchenstein grootgeword en praat vlot Duits, Switserse Duits, Engels en Frans, asook Italiaans en Sweeds; sy huistaal is Switserse Duits.
duimnael|200px|Federer se handtekening. Soos alle Switserse burgers was Federer onderworpe aan diensplig in die Switserse weermag. Hy is egter in 2003 "ongeskik" verklaar en het nie sy diensplig gedoen nie. In die plek daarvan het hy in die burgerlike beskermingsmag gedien.
Gesin Federer is getroud met ’n voormalige speler van die Vrouetennisvereniging, Mirka Federer (née Vavrinec). Hulle het mekaar in Sydney ontmoet terwyl albei Switserland verteenwoordig het op die Olimpiese Somerspele 2000. Sy het in 2002 uit die APT-toer getree weens ’n voetbesering. Hulle is op 11 April 2009 naby Basel getroud. In 2009 het Mirka die lewe aan identiese tweelingdogters geskenk. In 2014 het die Federers nog ’n identiese tweeling gehad, dié keer seuns.
Federer se byname is die Federer Express (verkort tot Fed Express of FedEx) en Maestro.
Filantropiese werk Federer doen baie filantropiese werk, onder meer in Suid-Afrika (sy ma se vaderland). In 2003 het hy die Roger Federer-stigting begin om agtergeblewe kinders in dié land te help en toegang tot opvoeding en sport te gee.
Hy steun sedert Mei 2004 die Suid-Afrikaans-Switserse welsynorganisasie IMBEWU, wat kinders op sport-, sosiale en gesondheidsgebied help. Hy het Suid-Afrika in 2005 besoek om die kinders te ontmoet wat by sy steun baat gevind het.
Hy het al geld ingesamel vir onder meer slagoffers van die tsoenami in 2004 in die Indiese Oseaan, die aardbewing van 2010 in Haïti en die oorstromings in 2010-'11 in Queensland. Hy is in April 2006 as welwillendheidsambassadeur van Unicef aangestel en het al in openbare boodskappe van dié organisasie verskyn om mense bewus te maak van vigs.
Op 24 November 2017 het Federer ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Basel ontvang uit erkenning vir sy rol in die verbetering van Basel en Switserland se internasionale reputasie en sy stigting se werk onder kinders van Afrika.
Bemarkingsaktiwiteite Roger Federer is deur die Switserse onderneming Jura, 'n vervaardiger van outomatiese koffiemasjiene in die premiummarksegment, as handelsmerkambassadeur aangestel.Jura.com: Roger Federer, Markenbotschafter für Jura. Besoek op 5 April 2020
Loopbaan Voor 1998 Federer se grootste oorwinnings as ’n junior speler was in 1998 op Wimbledon, waar hy beide die seunsenkelspeleindstryd teen Irakli Labadze en die dubbelspeleindstryd saam met Olivier Rochus teen Michaël Llodra en Andy Ram gewen het. Hy het in dié jaar ook die junior eindstryd van die Amerikaanse Ope gehaal, maar teen David Nalbandian verloor.
Hy het tydens sy junior loopbaan vier ITF-enkelspeltoernooie gewen, insluitende die prestigeryke Orange Bowl, waar hy Guillermo Coria in die eindstryd geklop het. Aan die einde van die jaar was hy no. 1 op die wêreldjuniorranglys en die ITF- junior wêreldkampioen.
1999–2002 Federer het op 20 September 1999 die eerste keer die top-100-ranglys gehaal. Hy het die jaar in die Marseille-Ope begin deur die heersende kampioen van die Franse Ope van 1998, die Spanjaard Carlos Moyá, te verslaan. Sy eerste eindstryd was in 2000 in die Marseille-Ope, waar hy teen die mede-Switser Marc Rosset verloor het. Hy het in 2001 die Hopmanbeker saam met Martina Hingis vir Switserland gewen. Hulle het die Amerikaners Monica Seles en Jan-Michael Gambill in die eindstryd geklop.
Sy eerste oorwinning as enkelspeler was in die Milanese Binnenshuise Toernooi van 2001, waar hy Julien Boutter in die eindstryd verslaan het. In dié jaar het hy sy eerste Grand Slam-kwarteindstryd in die Franse Ope gehaal, waar hy teen die wêreld se no. 2-speler, Alex Corretja, verloor het. Dit het hom vir die eerste keer onder die top-15 geplaas.
In dié jaar se Wimbledon-kampioenskap het die 19-jarige Federer te staan gekom teen die verdedigende kampioen en Grand Slam-voorloper, Pete Sampras. Federer het die no. 1-gekeurde Sampras in vyf stelle geklop en deurgedring tot die kwarteindronde. Hier het hy teen Tim Henman verloor.
Sy eerste eindronde in die ATP 1 000-meestersreeks was in 2002 op ’n harde baan teen die voormalige en toekomstige no. 1 Andre Agassi. Hy het sy eerste meestersreekseindstryd in 2002 se Hamburg-meesterstoernooi op klei gewen deur Marat Safin te klop; dit het hom vir die eerste keer onder die top-10 geplaas.
Federer het tussen 1998 en 2002 tot 10 eindrondes deurgedring, waarvan hy vier gewen het. Hy het ook ses dubbelspeleindrondes gehaal. Aan die einde van 2001 was hy no. 13 op die ATP-ranglys en aan die einde van 2002 no. 6.
2003 Federer het sy eerste Grand Slam-enkelspeltitel op Wimbledon gewen deur Andy Roddick in die halfeindstryd en Mark Philippoussis in die eindstryd te klop. In Augustus het hy die kans gehad om die no. 1-spelersposisie van Agassi af te neem as hy tot die Montreal-eindstryd kon deurdring. Hy het egter in die halfeindronde teen Roddick verloor en was daarna 120 punte agter Agassi.
Hy het sy eerste en tot dusver enigste ATP 1 000-dubbelspel in Miami verloor saam met Max Mirnyi en deurgedring tot een ATP 1 000-enkelspelwedstryd in Rome op klei, wat hy verloor het. Federer het nege eindstryde op die ATP-toer gehaal en sewe gewen, insluitende die 500-reekseindstryde in Doebai en Wene. Hy het ook die jaareindkampioenskap teen Agassi gewen. Hy het die jaar geëindig as no. 2-speler, met Roddick wat met 160 punte voorgeloop het.
2004 In dié jaar het Federer drie Grand Slam-enkelspeltitels gewen, die eerste persoon sedert Wilander in 1988. Ná sy oorwinning oor Safin in die Australiese Ope het hy vir die eerste keer die wêreld se no. 1-speler geword. Hy het Roddick op Wimbledon geklop vir sy tweede oorwinning in dié kampioenskapstoernooi. In die VSA-Ope het hy die kampioen, Lleyton Hewitt, geklop en sy eerste oorwinning daar behaal.
Federer het drie ATP 1 000-meestersreekswedstryde gewen, die een op klei in Hamburg en die ander twee op harde bane in Indian Wells en Kanada. Hy het ook die ATP 500-reeks in Doebai gewen, asook sy eerste toernooi op eie bodem in die Switserse Ope in Gstaad. Sy 11 enkelspeltitels was die meeste deur enige speler in twee dekades, en sy rekord van 74-6 was die beste sedert Ivan Lendl s'n in 1986.
2005 In 2005 kon Federer nie die eindstryd van die eerste twee Grand Slam-toernooie haal nie; hy het in die Australiese Ope teen die eindelike wenner, Safin, verloor en in die Franse Ope teen die eindelike wenner, Rafael Nadal. Hy het egter weer sy meersterskap op gras getoon deur Roddick op Wimbledon te klop. In die VSA-Ope het hy Agassi geklop in dié se laaste groot eindstryd.
Federer het ook vier ATP 1 000-toernooie gewen: in Indian Wells, Miami en Cincinnati op harde bane en Hamburg op klei. Die een in Miami was die eerste eindstryd tussen hom en Nadal. Hy het ook twee ATP 500-toernooie, in Rotterdam en Doebai, gewen. Van September af was hy vir feitlik die hele jaar buite aksie weens ’n voetbesering. Hy was die hele seisoen no. 1.
Federer het 11 enkelspeltitels gewen, nes in 2004. Sy 81 wedstrydoorwinnings was die meeste sedert Sampras s'n in 1993, en sy rekord van 81-4 (95,2%) is steeds die derde beste wenpersentasie in die Ope-era, naas dié van John McEnroe in 1984 en van Jimmy Connors in 1974.
2006 Die 2006-seisoen was statisties gesproke een van die bestes van Federer se loopbaan. Hy het 12 enkelspeltitels gewen (die meeste deur enige speler sedert Thomas Muster in 1995 en McEnroe in 1984) en het ’n wedstrydrekord van 92-5 gehad (die meeste wenslae sedert Lendl in 1982). Hy het in 16 van die 17 toernooie waarin hy gespeel het, die eindstryd gehaal.
In dié jaar het Federer drie Grand Slam-enkelspeltitels gewen en die eindstryd van die vierde een gehaal – sy enigste nederlaag was teen Nadal in die Franse Ope. Dit was sy en Nadal se eerste botsing in ’n Grand Slam-eindstryd. Hy was die eerste man wat die eindstryd van al vier Grand Slams gehaal het sedert Rod Laver in 1969. Federer het Nadal op Wimbledon geklop, Marcos Baghdatis in die Australiese Ope en Roddick in die VSA-Ope. Daarbenewens het hy ses ATP 1 000-eindstryde gehaal; hy het vier op harde bane gewen en twee op klei teen Nadal verloor.
Federer het in 2006 teen net twee spelers verloor: vier keer teen Nadal in eindstryde en een keer teen die 19-jarige Andy Murray in die tweede ronde van die Cincinnati-meesterstoernooi – dit was sy enigste nederlaag in dié jaar voordat hy die eindstryd gehaal het.
Na aan die einde van die seisoen het hy sy tuisstadtoernooi, die Switserse Binnenshuise Toernooi in Basel, Switserland, vir die eerste keer gewen nadat hy in 2000 en 2001 die naaswenner was en die toernooi in 2004 en 2005 misgeloop het weens beserings. Hy het die seisoen met 29 wedstrydoorwinnings afgesluit, en met oorwinnings in 48 van sy laaste 49 wedstryde sedert die Franse Ope.
2007 In 2007 het Federer die eindstryd van al vier Grand Slams gehaal en weer drie daarvan gewen. Hy het Fernando González in die Australiese Ope geklop sonder om ’n stel af te staan – hy was die eerste man wat dit in die 21ste eeu reggekry het nadat Borg dit laas in 1980 in die Franse Ope gedoen het. Nadat Federer sy vierde Doebai-kroon gewen het, het hy al 41 wedstryde agtermekaar gewen, die meeste in sy loopbaan en net vyf minder as die rekord.
duimnael|200px|Aanhangers en kommentators het Federer "Darth Federer" gedoop by 2007 se VSA-Ope.