Epsilon Sagittarii (afgekort as ε Sgr) is ’n dubbelster in die suidelike sterrebeeld Boogskutter (Sagittarius). Sy skynbare magnitude van 1,85 maak dit die helderste ligpunt in die sterrebeeld. Volgens parallaksmetings is dit sowat 143 ligjare van die Son af.
Sterstelsel Die primêre ster, ε Sagittarii A, met die amptelike naam Kaus Australis, het ’n sterreklassifikasie van B9,5 III. Sy ligsterkteklas, III, dui aan dit is ’n geëvolueerde reusester wat die waterstof in sy kern opgebruik het. Hy het uitgesit tot ’n radius van sowat 6,8 keer dié van die Son. Sy massa is 3,5 keer die Son s’n en sy ligsterkte sowat 363 keer dié van die Son met ’n effektiewe temperatuur van 9 960 K. Dit gee hom die blouwit kleur van ’n B-tipe ster.
Die ster roteer vinnig, met ’n spoed van 236 km s-1. Dit het ’n magneetveld en is ’n X-straalbron met ’n helderheid van sowat 1030 erg s-1. Daar is ’n oormaat infrarooistraling in die stelsel, wat dui op die teenwoordigheid van ’n sirkumstellêre skyf van stof.
Die sekondêre ster, ε Sagittarii B, is sowat 2,392 boogsekondes van die hoofster af – dit is ’n fisieke skeiding van sowat 106 AE, wat beteken dit lê in die stofskyf. Dit is ’n hoofreeksster met ’n massa van sowat 95% dié van die Son. Voordat dit in 1993 ontdek is, kon die metgesel verantwoordelik gewees het vir spektrale afwykings wat aan die hoofster toegeskryf is. Daar is ’n kandidaat-metgeselster teen ’n hoekskeiding van 32,3 boogsekondes.
Name Die stelsel se Bayer-naam is "Epsilon Sagittarii". Dit het die tradisionele naam "Kaus Australis" gehad, wat afgelei is van die Arabiese قوس qaws, "boog", en die Latynse austrālis "suidelike". In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam Kaus Australis goedgekeur vir die ster ε Sagittarii A omdat hulle eiename aan individuele sterre toegeken het eerder as aan stergroepe.
Verwysings
Eksterne skakels Kaus Australis 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:B-tipe reusesterre Kategorie:Boogskutter (sterrebeeld)