Armin Ronacher (gebore 10 Mei 1989) is 'n Oostenrykse oopbronsagtewareprogrammeerder en die skepper van die webraamwerk Flask vir Python.

Hy is 'n gereelde spreker by ontwikkelaarskonferensies en het 'n gewilde webjoernaal oor sagteware-ontwikkeling en oopbron.

Programmering Armin Ronacher begin sy loopbaan in oopbron as 'n vryskutontwikkelaar vir die Duitse Ubuntu-gemeenskapsportaal "ubuntuusers" waardeur hy later 'n stigterslid van die Duitse Ubuntu-vereniging in 2005 word.

Terwyl hy aan ubuntuusers gewerk het, het Ronacher die Python-programmeertaal herontdek en van die eerste implementasies vir Web Server Gateway Interface (WSGI) geskryf met die doel om in samewerking met Georg Brandl 'n buletinbord in Python te skryf. Hierdie buletinbord sou "Pocoo" heet en sou 'n plaasvervanger in Python vir phpBB (in PHP) wees. Alhoewel daar nooit 'n stabiele weergawe van die buletinbord vrygestel is nie, het baie ander projekte vanuit die oorkoepelende Pocoo-projek verskyn: die Pygments-sintaksismerker, die Sphinx-dokumentasiegenereerder, die Jinja-sjabloonenjin en vele ander biblioteke vir Python. Hy het ook funksionaliteit bygedra tot die Python-AST-module en die Ordered Dict vir Python. Na 'n uitgebreide Aprilgekgrap waar hy sy biblioteke in 'n enkellêer-mikroraamwerk verbundel het, het hy besluit om die webraamwerk Flask te skryf. Hierdie raamwerk word uiteindelik een van die twee gewildste webontwikkelingsraamwerke (naas Django) vir Python en die geassosieerde biblioteke het 'n nuwe tuiste gevind in die Pallets-gemeenskap.

Hy is ook die skepper van Lektor CMS, die Twig-sjabloonenjin, en het bygedra tot 'n groot aantal oopbrontoepassings en -biblioteke.

Hy was werksaam by Plurk, by Fireteam ('n speletjienetwerkinfrastruktuurmaatskappy wat deur Splash Damage besit word), en mees onlags vir die Sentry-sagteware-ineenstortingsverslaggewingswerktuig.

Erkenning 2003: 2de plek by die 2003 Prix Ars Electronica in die o-19 vryslagprogrammering "Be a Bee" 2012: Genoot van die Python-sagtewarestigting 2014: Gemeenskapsdienstoekenning van die Python-sagtewarestigting vir sy werk in die Python-oopbronsagtewaregemeenskap 2014: Flitstoegif van die Shuttleworth-stigting

Verwysings

Eksterne skakels

Pallets Project Lektor CMS

Kategorie:Oostenrykers Kategorie:Webontwikkelaars Kategorie:Geboortes in 1989 Kategorie:Lewende mense