Eltanin (ook bekend as Gamma Draconis en γ Dra) is ’n ster in die noordelike sterrebeeld Draak (Draco). Dit is die helderste ster in die sterrebeeld, met ’n skynbare magnitude van 2,4.

Eltanin is 154,3 ligjare van die Son af. In 1728, terwyl James Bradley onsuksesvol probeer het om die ster se parallaks te meet, het hy die afwyking van lig ontdek wat deur die Aarde se beweging veroorsaak is. Dié ontdekking het Copernicus se teorie bevestig dat die Aarde om die Son draai.

Oor 1,5 miloen jaar sal Eltanin sowat 28 ligjare van die Aarde af wees. As sy absolute magnitude nie verander nie, sal dit ’n ruk lank die helderste ster aan die naghemel wees, amper so helder soos Sirius tans is.

Eienskappe Eltanin is ’n geëvolueerde reusester met ’n oranje kleur en ’n sterreklassifikasie van K5 III. Sy spektrum dien sedert 1943 as een van die stabiele ankerpunte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word. Sy massa is 72% groter as die Son s’n en dit het uitgesit tot ’n radius van 48 keer dié van die Son. Sy ligsterkte is omtrent 471 keer die Son s’n, al is dit met sy oppervlaktemperatuur van 3 930 K koeler as die Son

Name Die ster se Bayer-naam is "Gamma Draconis" en sy Flamsteed-naam "33 Draconis". Dit het die tradisionele naam "Eltanin" (of "Etamin" of "Ettanin"), wat afgelei is van die Arabiese التنين At-Tinnin "Die Groot Slang". Die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) het dié naam vir die ster op 21 Augustus 2016 goedgekeur.

Verwysings

Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:K-tipe reusesterre Kategorie:Draak (sterrebeeld)