Hamal (ook Alpha Arietis of α Ari genoem) is die helderste ster in die sterrebeeld Ram (Aries). Met ’n skynbare magnitude van 2 is dit een van die helderste sterre aan die naghemel. Dié reusester, wat dalk ’n planeet het met ’n massa groter as Jupiter s’n, is sowat 65,8 ligjare van die Sonnestelsel af.

Eienskappe Die ster se spektraaltipe is . Die ligsterkteklas "III" dui daarop dat dit ’n reusester is wat al sy waterstof opgebruik en weg van die hoofreeks beweeg het, en hom nou in die rooireusetak bevind. Die "Ca-1"-deel van die klassifikasie dui swakker absorpsielyne van kalsium in sy spektrum aan. Sedert 1943 dien die spektrum van die ster as een van die stabiele ankerpunte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word.

Hamal het na raming sowat 50% meer massa as die Son, terwyl sy deursnee 15 keer groter is. Dit het ’n metaalinhoud van sowat die helfte van die Son s’n en is sowat 91 keer so helder. Dit is na verwagting effens veranderlik, met ’n omvang van sowat 0,06 in magnitude.

In 2011 is die moontlike teenwoordigheid van ’n planeet deur Byeong-Cheol Lee et al. aangeteken. Dit is met die radialesnelheidsmetode opgespoor na aanleiding van metings tussen 2003 en 2010 in Korea. Dit is minstens 1,8 keer so groot soos Jupiter en die geraamde halwe lengteas van sy wentelbaan is 1,2 AE.

Name Die ster se Bayer-naam is "Alpha Arietis" en sy Flamsteed-naam is "13 Arietis". Die tradisionele naam, "Hamal" of "Hemal", kom van die Arabiese term راس الحمل rās al-ħamal, "kop van die ram", na aanleiding van die naam vir die hele sterrebeeld, Al Ħamal, "die ram".

In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Hamal" vir die ster goedgekeur.

Verwysings

Eksterne skakels GJ 84.3, Hamal in die Gliese–Jahreiß-katalogus (Preliminary Version of the Third Catalogue of Nearby Stars, W. Gliese en H. Jahreiss, 1991, CDS ID V/70A.) Foto van Hamal van Aladin. "The Constellations and Named Stars", Purple Hell. 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:K-tipe reusesterre Kategorie:Ram (sterrebeeld)