thumb|280px|Die Romeinse Ryk onder Augustus (31 v.C. - 14 n.C.); geel: 31 v.C., donkergroen: 31-19 v.C., liggroen: 19-9 v.C., dofgroen: 9-6 v.C., ligpers: vasalstate. thumb|280px|Die Romeinse Ryk onder Hadrianus (125), met die provinsies soos hulle toe georganiseer was.

Die Romeinse provinsies (Latyn: provincia, meervoud provinciae) was verowerde gebiede buite die stadstaat Rome en die Italiese kernland wat as administratiewe eenhede in die magsgebied van die Republiek en later die Ryk ingesluit is. Elke provinsie is deur ’n Romein regeer wat as goewerneur aangestel is.

Die Latynse term provincia het oorspronklik na ’n gebied verwys waar ’n magistraat of promagistraat sy bevoegdheid uitgeoefen het, veral militêre kommando’s. Hierdie term is later ook met die betekenis van administrasie van ’n verowerde of geannekseerde gebied gebruik, aangesien dit dikwels met militêre operasies verband gehou het. Dit is eindelik uitgebrei na die administratiewe eenhede self.François Jaques / John Scheid: Rom und das Reich. Staatsrecht • Religion • Heerwesen • Verwaltung • Gesellschaft • Wirtschaft. Hamburg: Nikol 2008, bl. 181

Oorsig ’n Provinsie was die basiese en, tot met die tetrargie (vanaf 293 n.C.), die grootste streeks- en administratiewe eenheid van die ryk se grondgebiede buite Italië. Die woord "provinsie" in Afrikaans het sy oorsprong in die Latynse term wat deur die Romeine gebruik is.

Provinsies is gewoonlik bestuur deur politici met die rang senator, meestal voormalige konsuls of magistrate (pretors). ’n Latere uitsondering was die provinsie Aegyptus, wat deur Augustus ingelyf is ná die dood van Cleopatra van Egipte; dit is deur ’n goewerneur regeer wat die rang van blote eques ("ridder") gehad het, dalk as ’n ontmoediging vir ambisie om tot die senaat toe te tree. Dié uitsondering was uniek, maar nie teenstrydig met die Romeinse reg nie, omdat Egipte beskou is as die persoonlike eiendom van Augustus volgens die tradisie van konings van die vroeëre Hellenistiese tydperk.

Die Latynse term provincia het ook die algemener betekenis van "regsgebied" gehad.

Republikeinse provinsies Die Latynse woord provincia het oorspronklik beteken enige taak of stel verwantwoordelikhede wat die Romeinse senaat aan ’n individu met bevelsreg (imperium) gegee het. Dit was dikwels ’n militêre opdrag vir ’n spesifieke operasionele gevegsterrein. Die magistrate in die republiek is vir ’n jaar gekies, en dié wat buite Rome diens gedoen het, soos konsuls wat as generaals in ’n militêre veldtog opgetree het, het ’n sekere provincia gekry waarin hulle beheer uitgeoefen het.

Verskeie soorte verdrae het gegeld vir die grondgebied van ’n volk wat in ’n oorlog verower is; soms het dit algehele oorgawe (deditio) behels. Met die formele anneksasie van ’n gebied is ’n provinsie geskep, in die moderne sin van ’n administratiewe eenheid wat geografies afgebaken is. ’n Konsul of pretor het dan bevelsreg gekry en is vir ’n jaar aangestel om ’n provinsie te beheer.

Rome het tydens die Eerste Puniese Oorlog buite Italia begin uitbrei. Die eerste permanente provinsies wat geannekseer is, was Sicilia in 241 v.C. en Corsica et Sardinia in 237 v.C. Danksy militêre ekspansionisme het die getal provinsies al hoe vinniger toegeneem, totdat daar nie meer genoeg gekwalifiseerde individue was wat die pos van goewerneurs kon vul nie.

Hulle termyne moes dikwels met ’n paar jaar verleng word en soms is bevelsreg selfs aan privaat burgers (privati) toegeken, waarvan Pompeius die bekendste was. Dit het die grondwetbeginsel van jaarliks verkose magistrate ondermyn en die versameling van buitensporige rykdom en militêre mag deur ’n paar mans tot gevolg gehad. Dit was ’n groot faktor in die oorgang van ’n republiek tot ’n keiserlike outokrasie.

Lys republikeinse provinsies 241 v.C. – Sicilia (Sisilië), wat aan die einde van die Eerste Puniese Oorlog van die Kartagers verower is 237 v.C. – Corsica et Sardinia, wat ook by die Kartagers afgeneem is kort ná die Huursoldaatoorlog, in onderskeidelik 238 v.C. en 237 v.C. 197 v.C. – Hispania Citerior, aan die ooskus van die Iberiese Skiereiland; deel van die gebiede wat van die Kartagers afgeneem is 197 v.C. – Hispania Ulterior, aan die suidkus van die Iberiese Skiereiland; deel van die gebiede wat van die Kartagers afgeneem is 147 v.C. – Macedonia in Griekeland; geannekseer ná ’n rebellie deur die Achajiese Bond 146 v.C. – Africa (hedendaagse Tunisië en Wes-Libië), tuisgebied van die Kartagers; geannekseer ná die verwoesting van Kartago in die Derde Puniese Oorlog 129 v.C. – Asia, voorheen die Koninkryk Pergamum in Wes-Anatolië (hedendaagse Turkye) 120 v.C. – Gallia Narbonensis (Suid-Frankryk); voor sy anneksasie bekend as Gallia Transalpina (Gallië anderkant die Alpe) om dit te onderskei van Gallia Cisalpina (Gallië duskant die Alpe, in Noord-Italië); dit is geannekseer ná aanvalle op die geallieerde Griekse stad Massalia (Marseille) 67 v.C. – Creta et Cyrenaica; Cirenaïka is in 78 v.C. aan Rome bemaak; dit het egter nie dadelik ’n provinsie geword nie, maar is by die provinsie Creta et Cyrenae ingelyf nadat Kreta in 67 v.C. geannekseer is 63 v.C. – Bithynia et Pontus; die Koninkryk Bithinië in Noordwes-Anatolië, Turkye, is in 74 v.C. deur hul laaste koning, Nicomedes IV, aan Rome bemaak. Pompeius het dit aan die einde van die Derde Mithridatiese Oorlog (73–63 v.C.) as provinsie georganiseer; hy het die oostelike deel van die verowerde Koninkryk Pontus in 63 v.C. daarby ingelyf. 63 v.C. – Syria; Pompeius het Sirië aan die einde van die Derde Mithridatiese Oorlog geannekseer 58 v.C. – Cilicia et Cyprus; Cilicia is in 102 v.C. in ’n provinsie in die sin van ’n gebied onder militêre bevel omskep in ’n veldtog teen seerowery. Die Romeine het net ’n klein gebied beheer. In 74 v.C. is Licië en Pamfilië (in die ooste) tot die klein Romeinse besitting in Cilicia gevoeg. Cilicia het ten volle onder Romeinse beheer gekom teen die einde van die Derde Mithridatiese Oorlog. Pompeius het die provinsie in 63 v.C. herorganiseer. Siprus is in 58 v.C. geannekseer en by dié provinsie gevoeg. 46 v.C. – Africa Nova (Oos-Numidië – Algerië); Julius Caesar het Oos-Numidië geannekseer, asook die nuwe provinsie wat Africa Nova ("nuwe Africa") genoem is om dit te onderskei van die ouer provinsie Africa, wat bekend geword het as Africa Vetus ("ou Africa").

Gallia Cisalpina (in Noord-Italië) was ’n provinsie in die sin van ’n gebied onder militêre bevel, maar nooit in die sin van ’n administratiewe eenheid nie. Tydens Rome se uitbreiding op die Italiaanse Skiereiland is sekere gebiede as militêre gebiede geïdentifiseer wat onder bevel van ’n konsul of pretor gestaan het (en nie prokonsuls of propretors soos in die geval van administratiewe provinsies nie), vanweë die risiko van rebellies of invalle. Dit was die geval met Liguria weens ’n reeks rebellies, asook Bruttium en Calabria weens moontlike rebellies wat voorsien is.

In die vroeë dae van die Romeinse teenwoordigheid in Gallia Cisalpina was rebellies ter sprake. Later was die gevaar die risiko van invalle deur oorlogvoerende volke oos van Italia. Die stad Aquileia is gestig om Noord-Italia teen invalle te beskerm. Julius Caesar het aan die inwoners van dié streek Romeinse burgerskap gegee en die streek by Italia ingelyf.

Provinsies gedurende die prinsipaat thumb|280px|Die Romeinse Ryk op sy grootste, onder Trajanus (117); groen: imperiale of keiserlike provinsies, pienk: openbare provinsies, grys: vasalstate.

Ná die sogenaamde Augusteïese Skikking van 27 v.C, waardeur die Romeinse Ryk gestig is, is die staatsbestuur van die provinsies gereguleer. Gaius Julius Caesar Octavianus, wat uit die Romeinse burgeroorlog getreë het as die onbetwiste oorwinnaar en meester van die Romeinse staat, het sy magte amptelik neergelê en in teorie die gesag van die Romeinse senaat herstel. Octavianus self het die titel "Augustus" aangeneem en het benewens Egipte die strategies belangrike provinsies Gallië, Hispania en Syria (insluitende Cilicia en Cyprus) gekry om te regeer.

Onder Augustus is Romeinse provinsies as óf openbare óf imperiale provinsies geklassifiseer, wat beteken hulle goewerneurs is deur óf die senaat óf die keiser aangestel. Die ouer provinsies van die Romeinse Republiek was oor die algemeen openbaar. Openbare provinsies is, soos voorheen, deur ’n prokonsul regeer, wat deur ’n lootjie gekies is onder die senatore wat oudkonsuls of oudpretors was, na gelang van die provinsie.

Die groot imperiale of keiserlike provinsies was onder ’n legatus Augusti pro praetore, ook met die rang van senator, konsul of pretor. Kleiner provinsies is regeer deur ’n prokurator (prefek of praefectus in Egipte), wat die keiser gekies het uit niesenatore met die rang ridder.

Die provinsies se status kon van tyd tot tyd verander. In 68 n.C. was 11 van die 36 provinsies openbaar en 25 imperiaal. Van laasgenoemde was 15 onder legati en 10 onder procuratores of praefecti.

Gedurende die prinsipaat het die getal en grootte van die provinsies ook verander, óf deur verowerings óf deur die verdeling van bestaande provinsies. Die groter provinsies of dié in garnisoen (soos Syria en Moesia) is in kleiner provinsies verdeel om te keer dat enige goewerneur te veel mag het.

Lys provinsies gedurende die prinsipaat Onder Augustus 30 v.C. – Aegyptus, wat gestig is ná Augustus se oorwinning oor Marcus Antonius en Cleopatra VII van Egipte in 30 v.C. Dit was die eerste imperiale provinsie en Augustus se eie domein omdat die Egiptenare hom as hulle nuwe farao erken het. Die aanvanklike naam was Alexandrea et Aegyptus. 27 v.C. – Achaia (Suid- en Sentraal-Griekeland), wat Augustus geskei het van Macedonia. Openbare provinsie. 27 v.C. – Hispania Tarraconensis; voorheen Hispania Citerior (Noord-, Sentraal- en Oos-Spanje), wat geskep is met die herorganisering van die provinsies in Hispania deur Augustus. Imperiale provinsie. 27 v.C. – Hispania Baetica; voorheen Hispania Ulterior (Suid-Spanje); geskep met die herorganisering van van die provinsies in Hispania deur Augustus. Openbare provinsie. Die naam is afgelei van Betis, die Latynse naam vir die Guadalquivirrivier. 27 v.C. – Lusitania (Portugal en Extremadura in Spanje), geskep met die herorganisasie van die provinsies in Hispania deur Augustus. Imperiale provinsie. 27 v.C. – Illyricum; Augustus het Illirië en Suid-Pannonië in 35–33 v.C. verower. Dit is in 27 v.C. as ’n openbare provinsie gestig. Noord-Pannonië is tydens die Pannoniese Oorlog (14-10 v.C.) verower. Onderverdeel in Dalmatia (’n nuwe naam vir Illirië) en Pannonia, wat amptelik in 9 v.C. onderskeidelik Bo- en Onder-Illyricum genoem is. Dit was aanvanklik ’n openbare provinsie, maar het in 11 v.C. tydens die Pannoniese Oorlog imperiaal geword. Dit is tydens die bewind van Vespasianus (69-79) ontbind en die nuwe provinsies Dalmatia en Pannonia is gestig. In 107 is Pannonia verdeel in Pannonia Superior en Pannonia Inferior – imperiale provinsies. 27 v.C. or 16–13 v.C. – Aquitania (Suidwes-Frankryk) is in die gebiede in Gallië gestig wat deur Julius Caesar verower is; dit is onseker of dit gestig is tydens Augustus se eerste besoek en die eerste sensus in Gallië of tydens Augustus se besoek in 16-13. Imperiale provinsie. 27 v.C. of 16–13 v.C. – Gallia Lugdunensis (Sentraal- en deel van Noord-Frankryk), geskep in die gebiede in Gallië wat deur Julius Caesar verower is; dit is onseker of dit gestig is tydens Augustus se eerste besoek en die eerste sensus in Gallië of tydens Augustus se besoek in 16-13. Imperiale provinsie. 27 v.C. of 16–13 v.C. – Gallia Belgica (Nederland suid van die Rynrivier, België, Luxemburg, deel van Noord-Frankryk en Duitsland wes van die Ryn); dit is onseker of dit gestig is tydens Augustus se eerste besoek en die eerste sensus in Gallië of tydens Augustus se besoek in 16-13. Imperiale provinsie.