Die kat of huiskat is een van die oudste troeteldiere van die mens. Dit is ’n klein, gewoonlik harige, vleisetende soogdier wat tot die biologiese familie Felidae (katagtiges) behoort. Die ou wetenskaplike naam was Felis domesticus, maar is later vervang deur Felis catus of soms Felis silvestris catus.
Mense hou katte aan vir geselskap en hul vermoë om klein knaagdiere soos muise en rotte te vang. Katte is al minstens 9 500 jaar deel van die mens se lewe en is vandag die gewildste troeteldier. Hulle word om dié rede feitlik oral ter wêreld aangetref.
Katte se anatomie is dieselfde as dié van ander lede van die Felidae-familie. Hulle het sterk, buigbare lywe, vinnige reflekse, skerp naels wat teruggetrek kan word en tande wat aangepas is om klein prooi dood te maak. Hulle kan besonder goed hoor en in die donker sien. Hulle kan klanke van ’n hoë frekwensie hoor wat die mens nie kan nie. Hul reukvermoë is ook baie beter.
Hoewel hulle alleen jag, is katte baie sosiale diere en kan op verskeie maniere kommunikeer, soos deur te miaau, spin, sis en grom, asook deur feromone (chemiese afskeidings) en hul liggaamshouding.
Die teling van opregte katte is ’n gewilde bedryf. Talle katrasse bestaan; sommige het natuurlik ontstaan en ander deur mutasie of teling, en nuwes word voortdurend ontwikkel.
Naam Die Afrikaanse woord "kat" kom van Nederlands en stem ooreen met die naam in talle ander Europese tale: cat (Engels), cath (Wallies), gato (Spaans), chat (Frans), κάτια (kátia, Bisantynse Grieks), Katze (Duits), katė (Litaus), kissa (Fins), կատու (katoe, Armeens), kotka (Oud-Slawies), кошка (kosjka, Russies), ens.
Evolusie duimnael|Die Afrika-wildekat (Felis silvestris lybica) is nou verwant aan en waarskynlik die voorvader van die huiskat. Die Felidae is ’n familie soogdiere met ’n gemeenskaplike voorouer wat slegs sowat 10–15 miljoen jaar gelede geleef het, en sluit benewens die huiskat ook diere in soos die leeu, tier, jagluiperd en baie ander. Binne dié familie is die huiskat (Felis catus) deel van die genus Felis, ’n kleinerige groep met verskeie spesies wat uit klein katte bestaan. Lede van die genus word wêreldwyd aangetref en sluit in die moeraskat (Felis chaus) van Suidoos-Asië, die Afrika-wildekat (Felis silvestris lybica), die Sjinese bergkat (Felis silvestris bieti) en die woestynkat (Felis margarita).
Al die katte in die genus het ’n gemeenskaplike voorouer wat moontlik sowat 6–7 miljoen jaar gelede in Asië voorgekom het. Alle huiskatte stam af van die Afrika-wildekat en hulle kan maklik met ander wildekatte gekruis word. Hierdie hibrides (kruisings van verskillende spesies) kan ’n bedreiging inhou vir die voortbestaan van die wildekat.
Geskiedenis en mitologie duimnael|upright|160px|Egiptiese beeld van ’n kat in die Louvre. Omdat katte kultusdiere in antieke Egipte was en in skilderye van tot 3 600 jaar oud uitgebeeld is, is aanvanklik geglo dat die Egiptenare katte die eerste keer mak gemaak het. In 2004 is die oorblyfsels van 'n gedomestikeerde kat en ’n kind van omtrent 9 500 jaar gelede naby mekaar in grafte uit die Nuwe Steentydperk ontdek op die Shillourokambos-opgrawingsterrein in Siprus. Siprus is ’n eiland waar geen lede van die wilde Felis silvestris voorkom nie. Die kat was groot en het meer soos ’n wildekat as vandag se huiskatte gelyk. Hierdie ontdekking, tesame met genetiese toetse, dui daarop dat katte waarskynlik in die Midde-Ooste mak gemaak is, min of meer in die tyd toe landbou ontwikkel het, en dat hulle van daar na Siprus en Egipte gebring is.
duimnael|links|upright|200px|Die Noorse godin Freya se wa is deur katte getrek. Katte het moontlik reeds in die laat Ystertydperk in Brittanje beland en het in die tyd van die ontdekkingstogte deur die res van die wêreld versprei toe hulle op seilbote aangehou is om knaagdiere te vang en as gelukbringers.
Die kat beklee al lank 'n belangrike plek in die mitologie: Freyja, die Noorse godin van vrugbaarheid, liefde en skoonheid, ry deur die wolke in 'n wa wat deur katte getrek word. By die Egiptenare was die kat die simbool van vrugbaarheid in die vorm van die kattegodin Bastet (soms Bubastet). Die kat het ’n hoë aansien geniet en mense wat katte in daardie jare doodgemaak of mishandel het, is swaar gestraf. Katte is deur die Egiptenare gemummifiseer.
In verskeie antieke godsdienste is geglo katte is verhewe siele, metgeselle en gidse vir die mens, en dat hulle alles weet, maar stom is sodat hulle nie besluite deur die mens kan beïnvloed nie.
In baie kulture is katte ook die onderwerp van bygelowe. ’n Voorbeeld is die geloof dat swart katte wat oor jou pad kom, ongeluk bring, of dat hekse katte gebruik om hul toorkrag uit te brei. Dit het meegebring dat katte in die Middeleeue op groot skaal uitgeroei is. Dit het gelei tot ’n vermeerdering van rotte en die Swart Dood wat versprei is deur die byt van vlooie van besmette rotte.
In baie lande word geglo katte het nege lewens, maar in Spaans-sprekende streke word geglo hulle het sewe en in Turkye en Arabiese lande is die getal ses. Die mite het ontstaan vanweë die dier se vlugvoetigheid en vermoë om uit gevaarlike situasies te ontsnap. Dit is aangehelp deur die feit dat ’n kat op sy pote land as hy val deurdat hy sy lyf instinktief draai. Katte kan egter steeds beseer word of hulle doodval.The ASPCA Warns About High-Rise Falls by Cats. About.com
Genetika duimnael|140px|Katte met blou oë en ’n wit pels loop ’n hoë risiko van genetiese doofheid. Die huiskat en sy naaste wilde verwante is tweekernige organismes wat 38 chromosome en rofweg 20 000 gene het.
Sowat 250 oorerflike afwykings is by katte geïdentifiseer, waarvan baie soortgelyk is aan dié by mense. Vanweë die groot ooreenkoms tussen die metabolisme van soogdiere kan baie van hierdie katsiektes gediagnoseer word met genetiese toetse wat vir mense ontwikkel is.
’n Voorbeeld van ’n mutasie wat alle katte, ook die groot spesies, deel, is ’n mutante chemoreseptor in hul smaakkliere wat voorkom dat hulle soet goed proe. Dit kan verduidelik hoekom katte gewoonlik nie van soet kossoorte hou nie. In sommige katrasse is doofheid algemeen, soos by die meeste wit katte met blou oë. Die gene wat daarvoor verantwoordelik is, is onbekend, maar die siekte word ondersoek in die hoop dat dit lig kan werp op die oorsake van oorerflike doofheid in die mens.
Anatomie duimnael|260px|Diagram van ’n mannetjieskat se anatomie. Huiskatte is net so groot soos ander katte in die genus Felis. Hulle weeg gewoonlik tussen 4 en 5 kg, hoewel sommige rasse soos die Maine Coon swaarder as 11 kg kan weeg. Hulle is tussen 23 en 25 cm hoog en 46 cm lank plus sterte van gemiddeld 30 cm.
Katte het 7 nekwerwels soos die meeste soogdiere, 13 borswerwels (mense het 12), 7 lendewerwels (mense het 5), 3 heiligbeenwerwels soos die meeste soogdiere (mense het 5) en ’n wisselende getal stertbeenwerwels (die mens het 3 tot 5 werwels behou wat die stuitjie vorm).
Aan die ruggraat is 13 ribbes, die skouer en die bekken. Anders as by mense se arms is die kat se voorbene aan die skouer vas deur middel van ’n vrybewegende sleutelbeen, wat hulle toelaat om hul lywe deur enige opening te wriemel waardeur hul kop kan pas.
duimnael|links|180px|Die kat se kopbeen. Die kat se kopbeen is ongewoon onder soogdiere deurdat hulle baie groot oogholtes en ’n spesiale, kragtige kakebeen het.* In die kakebeen is tande wat aangepas is om prooi dood te maak en uitmekaar te skeur. Wanneer hulle hul prooi oorrompel, byt hulle dit dood met hul lang oogtande en ruk die rugmurg af, wat verlamming en eindelik die dood veroorsaak. In vergelyking met ander katagtiges sit die huiskat se oogtande naby mekaar – dit is so aangepas vanweë hul voorliefde vir klein knaagdiere. Die kies- en voorkiestande word soos ’n skêr gebruik om die vleis in klein stukkies te skeur. Dit is belangrik aangesien katte nie vleis behoorlik kan kou nie.
Katte, nes honde, loop op hul tone, met die bene van hul voete wat die onderste deel van die sigbare been uitmaak. Katte kan baie presies loop omdat hulle die agterpote presies op dieselfde plek sit as die voorpote en so voetspore en geluide tot die minimum beperk. Anders as die meeste soogdiere beweeg katte die twee bene aan een kant van die lyf voor hulle die pote aan die ander kant beweeg. Dit stem ooreen met die stap van ’n kameel en kameelperd. As die kat vinniger loop en begin draf, sal die bene diagonaal beweeg nes by ander soogdiere: die diagoneel teenoorgestelde voor- en agterbeen sal gelyk beweeg.
Nes ander lede van die Felidae-familie, kan katte hul naels terugtrek. In die gewone, ontspanne posisie word die naels bedek met ’n stuk vel en pels. Dit hou die naels skerp omdat dit minder slyt weens kontak met die grond, en dit laat die kat sagter loop. Katte kan die naels aan een of al die pote willekeurig ontbloot om boom te klim, hulself te verdedig, te jag of vir ekstra klouvermoë op gladde oppervlakke. Die meeste katte het vyf kloue aan hul voor- en vier aan hul agterpote. Die vyfde klou aan die voorpote sit die naaste aan die middel van die poot. Daar is ook, nog nader aan die middel, ’n uitsteeksel wat soos ’n sesde "vinger" lyk. Dit kan ook aan die pote van die meeste groot katte en honde gevind word. Dit het geen funksie wanneer die kat normaalweg loop nie, maar word vermoedelik gebruik om te keer dat hy gly wanneer hy spring. Sommige katrasse kan meer tone, tot agt of selfs tien, aan elke poot hê.
Fisiologie + Normale fisiologiese waardes Liggaamstemperatuur 38,6 °C Hartklop 120–140 slae per minuut Asemhaling 16–40 teue per minuut
duimnael|links|180px|’n Blou Britse korthaarkat. Omdat katte so algemeen aangehou word, was dit nog altyd maklik om hul fisiologiese kenmerke goed te bestudeer. Dit stem in die algemeen ooreen met dié van ander vleisetende soogdiere, maar daar is ongewone uitsonderings wat moontlik toegeskryf kan word aan die kat se afstamming van spesies wat in die woestyn voorkom. Hulle kan byvoorbeeld baie hoë temperature uithou: mense begin gewoonlik ongemaklik voel wanneer hul veltemperatuur hoër as 44,5 °C styg; katte wys geen ongemak tot hul vel ’n temperatuur van sowat 52 °C bereik nie, en kan temperature van tot 56 °C uithou as hulle toegang tot water het.
Katte behou hitte deur die bloedvloei na hul vel te verminder en verloor hitte deur uitaseming. Hulle sweet nie en hyg net by baie hoë temperature. Dis ook ongewoon dat ’n kat se temperatuur nie deur die dag wissel nie; dit is deels vanweë die kat se gebrek aan ’n sirkadiese siklus (24 uur-siklus); dit kan ook verduidelik hoekom hulle bedags én snags bedrywig is. Katte se uitwerpsel is gewoonlik baie droog en hul urine baie gekonsentreerd; dit is aanpassings wat katte toelaat om soveel moontlik vloeistof te behou. Hul niere is so doeltreffend dat hulle kan oorleef op ’n dieet van slegs vleis, sonder dat hulle toegang tot water het, en hulle kan selfs rehidreer deur seewater te drink.
Katte moet vleis eet; hul fisiologie is ontwikkel om vleis te verteer en nie plante nie. In teenstelling met rotte, wat 4% proteïen in hul dieet nodig het, benodig katte 20% proteïen. Katte is buitengewoon afhanklik van die aminosuur arginien en ’n gebrek daaraan veroorsaak gewigsverlies en selfs die dood. Nog ’n ongewone eienskap van katte is dat hulle die aminosuur tourien vervaardig, waarsonder hulle kan blind word. Omdat hulle hul hele prooi eet, kry hulle minerale in deur die bene te eet en ’n dieet wat net uit vleis bestaan, kan ’n kalsiumtekort tot gevolg hê.
’n Kat se spysverteringstelsel is ook aangepas by die eet van vleis: dit is baie korter as by planteters en het lae vlakke van die ensieme wat nodig is om koolhidrate te verteer.
Sintuie