Theunissen Vosloo, bekend as Ton Vosloo (gebore op 29 September 1937 op Uitenhage in die teenswoordige Oos-Kaap), is 'n toonaangewende afgetrede Suid-Afrikaanse senior joernalis en sakeleier, wat hom in sy loopbaan as dagbladredakteur, hoof van maatskappye, innoveerder, inisieerder en gemeenskapsleier as 'n wêreldbekende figuur gevestig het.
Oud-kollegas beskryf hom as 'n besonder veelsydige en talentvolle mens wat deur harde werk en by uitstek dryfkrag op verskeie lewensterreine uitmuntend presteer het. As voorsitter van die Nasionale Pers Beperk (later Naspers genoem) – eers uitvoerende en later nie-uitvoerende voorsitter – asook stigter-voorsitter van die sogenaamde M-groep van maatskappye en later eweneens voorsitter van Sanlam, het hy tot een van die invloedrykste figure in die Suid-Afrikaanse perswese en sakewêreld uitgestyg.Alf Ries en Hennie van Deventer skryf oor Ton Vosloo in: Daniel Malan Jacobs, navorser: Familieboek Die Vosloos — nuttige landsburgers, in 2003 uitgegee deur Ton Vosloo, NLSA Vol. 1 i29635846. Verreweg die meeste inligting vir hierdie artikel kom uit hierdie artikel in die Vosloo-familieboek, effens aangepas vir tydsverloop.
Meer nogː onder sy voorsitterskap en met sy stukrag en seën sou Naspers in die 21ste eeu deur die geniale sakeman Koos Bekker uitgebou word tot een van die wêreld se toonaangewendste internetmaatskappye met 'n omset wat alle 20ste eeuse prestasies sou verdwerg. Benewens die internet en drukmedia, spits Naspers hom ook toe op televisie en ander vertakkings van die mediabedryf in 129 lande.
Vosloo se vele en intensiewe bedrywighede as sakeleier het hom nie daarvan weerhou om sy belangstelling en liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur prakties uit te leef nie. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy pogings en inisiatiewe om Afrikaans te beskerm en te bevorder, terwyl hy die stigting en uitbouing van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en ander feeste aktief gesteun en bevorder het. Hy was ook 'n inisieerder van die Stigting vir Afrikaans en die Afrikaanse Oorlegplatform.
links|300px|duimnael|As Suid-Afrikaanse voorsitter van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) het Vosloo se paaie 'n paar keer gekruis met die destydse internasionale voorsitter, prins Philip van Brittanje. Hier groet hulle by geleentheid van 'n kongres in Miami, Florida, VSA. Hy het hom eweneens in natuurbewaring verdiep en gou 'n leidende rol begin speel in Suid-Afrikaanse en internasionale instellings wat daarmee belas is. So was hy vir vyf jaar die Suid-Afrikaanse voorsitter van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) en was hy elf jaar raadslid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke.
Sy prestasies op die verskillende terreine het nie ongemerk verbygegaan nie, soos blyk uit die groot aantal eerbewyse wat hy ontvang het.
Een van Vosloo se jongste inisiatiewe, in hierdie geval saam met sy vrou Anet, was die stigting in 2018/19 van Waarheid Eerste, 'n nie-winsgewende maatskappy om ondersoekende joernalistiek in die Media24-groep te ondersteun. Hieroor en oor sy memoires, Oor grense – 'n Lewe in die media in 'n tyd van verandering, word ondertoe in hierdie artikel meer vertel.
Jeugtyd en eerste jare in die joernalistiek
links|160px|duimnael|Gedoop Theunissen, speel die tweejarige blondekop in die sand by 'n familiekuier op Colesberg. regs|160px|duimnael|Die jong joernalis Ton Vosloo aan't werk agter sy tikmasjien. Vosloo se geboorte op Uitenhage, as die tweede seun van Jacobus Johannes Vermaak Vosloo, gebore 1902, en Hester Jacoba Combrinck, gebore Pienaar, was in die betreklike stilte voor die verwoestende storm van die Tweede Wêreldoorlog. Sy noemnaam, Ton, het hy in sy laerskooldae gekry. Hy het 1954 aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage gematrikuleer, met onderskeidings in Engels en Aardrykskunde. Van kleintyd het hy 'n belangstelling in die joernalistiek ontwikkel, en op skool het hy reeds bydraes vir die plaaslike koerant begin lewer.
Sy pa, 'n polisieman, is oorlede toe Ton Vosloo nog klein was, en later is Vosloo se ouer broer, Freddie, ook tragies dood. Daar is ook 'n sussie, Joan, wat gebore is ná hul pa se dood. Hul ma was 'n opgeleide laerskoolonderwyseres.
In sy memoires onthou Vosloo die trauma van sy broer se vroeë dood en die letsel wat dit op 'n jong gemoed gelaat het: "Freddie word op Uitenhage langs Pa begrawe. Ek het ’n foto van (Ma) Hetta in swart met peuter Joan in wit op haar arm en ek langs Pa se Willys. Oom Bunny Pienaar, Ma se broer, en sy vyf seuns ontferm hom oor my en ek kuier by hulle op Despatch. Hy neem ons bioskoop toe op Uitenhage vir ’n matinee waar King Kong wys. Maar droefheid oor my broer oorval my en ek huil deur die fliek. Tot vandag toe het ek nog nooit weer na ’n King Kong-prent gaan kyk nie."Ton Vosloo, Oor Grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, in 2018 uitgegee deur Jonathan Ball.
Daar was ook nie middele om 'n jong Ton na 'n universiteit te stuur nie. Nadat hy vergeefs 'n aanstelling as joernalis by 'n koerant probeer kry het, het hy hom by die Departement van Bosbou in Pretoria aangesluit, waar hy buitemuurs vir 'n B.A.-graad begin studeer het. In 1956 is sy ideaal verwesenlik om koerantman te word, toe hy as joernalis by die destydse Die Oosterlig in Port Elizabeth aangestel is.
regs|260px|duimnael|Ton Vosloo, sy vrou Lorna (nou oorlede) en dogter Nissa in 1971 voor hul sneeubedekte huis in Cambridge, Massachusetts, VSA, tydens Vosloo se Nieman Fellowship aan Harvard-Universiteit Van Die Oosterlig het hy in 1958 na Die Landstem in Kaapstad geskuif. Hy is in 1960 getroud met 'n medejoernalis, Lorna van der Merwe, redakteur van die destydse tydskrif Mense en later van Fleur. Daarna het hy twee en 'n halwe jaar lank as politieke joernalis by die Sondagkoerant Dagbreek gewerk voordat hy hom met die stigting van die Sondagblad Die Beeld in November 1965 weer by die Nasionale Pers aangesluit het.
links|180px|duimnael|Ge-bowler hat-en-sambreel soos 'n regte toff! Ton Vosloo tydens sy eerste oorsese reis in 1962 op die dak van Suid-Afrika Huis in Londen. Benewens berigte skryf, het hy die 1962-Mej. Suid-Afrika, Yvonne Ficker, na die Mej. Wêreld-wedstryd namens Die Landstem vergesel. Van toe af het hy vinnig opgang gemaak in die joernalistiek – steeds sy grootste liefde. Hy was Die Beeld se eerste politieke beriggewer waar hy gesaghebbend oor die politieke woelinge in die laat jare sestig geskryf het. In 1970 het hy die gesogte Nieman Fellowship verwerf, wat hom in staat gestel het om vir 'n jaar aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, te studeer.
Terwyl hy op Harvard was, het die twee Sondagkoerante Die Beeld en Dagbreek saamgesmelt en is Rapport gestig. Met sy terugkeer uit die Verenigde State het hy in 1971 Rapport se eerste nuusredakteur geword.
Vier jaar later het die Nasionale Pers met 'n nuwe dagblad, Beeld, in Johannesburg begin en is Vosloo van Rapport na Beeld oorgeplaas as assistent-redakteur. Drie jaar later het hy redakteur geword.
Vosloo as redakteur van Beeld
Beeld was destyds in 'n moordende sirkulasiestryd met die toenmalige Transvaler gewikkel. Dit was hier waar Vosloo sy staal getoon het. Hy het nie geskroom om baie lang ure te werk nie en onder sy leiding het Beeld die stryd beslissend gewen om die oggendmark in Transvaal in te palm.
Later het die oorblywende Transvaalse Afrikaanse dagblaaie ook tot niet gegaan, sodat Naspers deur Beeld en Rapport die hele Afrikaanse dagblad- en Sondagmark in die Noorde beset.
As redakteur het hy sy koerant steeds verder uitgebou om dit later die eerste Afrikaanse dagblad te laat word wat meer as 100 000 eksemplare per dag verkoop het. Beeld se redaksionele beleid was sterk op hervorming en vernuwing gerig en as sodanig het dit een van die invloedrykste koerante in die land geword.
'n Voorbeeld van die sterk politieke leiding wat van Vosloo gekom het, was 'n opspraakwekkende rubriek onder sy eie naam in 1981 waarin hy gesprekvoering tussen die destydse Nasionale Regering en die verbode ANC bepleit het. Die rubriek het wêreldwye opslae gemaak en hom die gramskap van die destydse bewindhebbers op die hals gehaal. Dit was agt jaar voordat die regering in die geheim wel met die ANC gesprek begin voer het.
Vosloo as besturende direkteur van Nasionale Pers en sy aanstelling van Koos Bekker
links|360px|duimnael|In 1984 oorhandig Lang David de Villiers die staf as besturende direkteur van die Nasionale Pers (nou Naspers) aan Ton Vosloo. (Illustrasie deur Fred Mouton.)In 1983 is hy op 46-jarige leeftyd as adjunk-besturende direkteur van die Nasionale Pers aangestel. 'n Jaar later het hy adv. David de Villiers as besturende direkteur opgevolg. Daarmee het 'n nuwe faset van sy loopbaan – as sakeman – begin waarmee hy, net soos in die joernalistiek, nuwe hoogtes sou bereik.
Reeds toe hy adjunk-besturende direkteur was, het hy die visie gehad dat die Pers ter wille van oorlewing ander inkomstebronne sou moes soek omdat die gedrukte media se vernaamste inkomstebron – advertensies – erg geknou is toe televisie in 1976 in Suid-Afrika onder 'n staatsmonopolie ingestel is. Daar moes dus gediversifiseer word.
In dié tyd het hy kennis gemaak met Koos Bekker, wat toe in Amerika 'n studie van betaal-televisie gemaak het. Vosloo het besef dat betaal-TV dalk die oplossing vir die gedrukte media is en die geleentheid met albei hande gegryp.
Hy en Bekker het 'n span gevorm en 'n nuwe maatskappy, M-Net, gestig waarby al die groot persgroepe met dagblaaie in die land betrek is. Ná lang en taai onderhandelinge met die destydse regering is 'n lisensie vir betaal-TV in Suid-Afrika bekom.
Later het ander selfstandige maatskappye uit M-Net gespruit soos Multichoice Beleggings (MIH), die selfoongroep M-Cell, die internetgroep M-Web en Supersport. Naspers se noue betrokkenheid by die M-familie met Vosloo steeds as voorsitter van die filiale in die M-groep, het aan Naspers 'n toonaangewende belang in die ontluikende elektroniese en inligtingstegnologie in die land gegee.
links|200px|duimnael|'n Groot dag in die lewe van Naspers. Ton Vosloo by die aandeleskerm van die Johannesburgse Aandelebeurs op die dag van die maatskappy se notering in 1994. regs|260px|duimnael|Lech Wałęsa, eerste president van 'n vrye Pole, was 'n gas van Naspers tydens 'n direksievergadering in Krakow, in die suide van Pole. regs|260px|duimnael|Pres. Nelson Mandela ontvang 'n geskenk van Ton Vosloo tydens 'n besoek aan Naspers. Die twee het goeie verhoudinge gehad. regs|260px|duimnael|Pres. F.W. de Klerk en sy vrou Marike in die geselskap van Ton Vosloo tydens 'n onthaal in Kaapstad. Op 12 September 1994 is 'n groot mylpaal in die Pers se geskiedenis bereik toe Naspers onder Vosloo se leiding op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is. Dit is opgevolg met noterings van MIH en daarna Open TV op die Nasdaq in New York.
Naspers word 'n internasionale mediareus Die ál groter betrokkenheid van Naspers in die inligtingstegnologie het veroorsaak dat die Pers geleidelik omvorm is van 'n maatskappy wat hom vir die eerste 70 jaar van sy bestaan hoofsaaklik op die gedrukte media en boeke toegespits het tot 'n internasionale geïntegreerde media-maatskappy met 'n ontwikkelingsfokus op die elektroniese media, digitale tegnologie en die Internet.
Daar was by geleentheid groot voorspoed op gelyk grond, dog ook insinkings weens onverwagte slaggate, soos 'n ploeër maar te wagte kan wees op 'n algehele braakland, vertel 'n oud-kollega. Maar, ondanks die onvoorspelbare wipperigheid van die markte, het daar met Vosloo se hand aan die ploeg 'n bloeityd vir die Nasionale Pers ( van 1997 bekend as Naspers) aangebreek. Benewens die inisiatief met die M-familie het Naspers honderde miljoene rande belê in nuwe drukgeriewe vir sy koerante en tydskrifte, terwyl talle nuwe publikasies in die koerant- en tydskrifsektor die lig gesien het. Met die verloop van jare is die Engelse mark betree met tydskrifte soos You, Women’s Value en Finance Week benewens die vroeëre Fair Lady.