thumb|200px|Die verfilming van die prent Hidden Universe 3D met ’n IMAX-kamera.
’n Driedimensionele stereoskopiese rolprent (ook bekend as ’n 3D-rolprent of S3D-rolprent) is ’n fliek wat die illusie van dieptewaarneming verhoog en dus ’n derde dimensie byvoeg. Die algemeenste metode vir die vervaardiging van 3D-prente is deur middel van stereoskopiese fotografie. Hier word ’n gewone rolprentkamerastelsel gebruik om twee beelde uit verskillende perspektiewe af te neem (of ’n rekenaar kan ná die tyd twee perspektiewe skep). Spesiale projeksiehardeware of brille word gebruik om elke beeld tot óf die kyker se linkeroog óf sy regteroog te beperk. 3D-rolprente is nie beperk tot teateruitreikings nie; televisie- of videoprente maak ook van die tegniek gebruik.
3D-rolprente bestaan sedert 1915 in die een of ander vorm, maar het nie algemeen gewild geraak nie weens die duur hardeware en prosesse wat nodig is om so ’n prent te vertoon en die gebrek aan ’n gestandaardiseerde formaat vir alle segmente van die vermaakbedryf. Tog is baie 3D-prente in die 1950's in Amerika gewys, en in die 1980's en 1990's het dit ’n wêreldwye opbloei beleef danksy IMAX-teaters en vertoonlokale met Disney-temas. In die 2000's het dit al hoe gewilder geword en ’n hoogtepunt bereik met 3D-vertonings van die rolprent Avatar in Desember 2009. Daarna het die gewildheid weer afgeneem.
Tydlyn Vroeë patente en toetse Die stereoskopiese era van rolprente het in die laat 1890's begin toe die Britse rolprentpionier William Friese-Greene ’n patent vir die 3D-rolprentproses uitgeneem het. Volgens sy patent is twee prente naas mekaar op die skerm vertoon. Die gehoor het deur ’n stereoskoop gekyk om die twee beelde te laat saamsmelt. Weens die hinderlike meganika van dié metode was teatervertonings nie prakties nie.Limbacher, James L. Four Aspects of the Film. 1968. Frederic Eugene Ives het sy stereokameratoerusting in 1900 gepatenteer. Die kamera het twee lense gehad wat 4,45 cm van mekaar af vasgemaak was.Norling, John A. "Basic Principles of 3D Photography and Projection". New Screen Techniques, p. 48.
Op 10 Junie 1915 het Edwin S. Porter en William E. Waddell ’n gehoor in die Astorteater in New York getoets. Die gehoor het drie spoele toetse gesien in rooi-groen anagliewe; dit het plattelandse tonele, toetsskote van akteurs, Oosterse dansers en tonele van die Niagara-waterval ingesluit.Denig, Lynde. "Stereoscopic Pictures Screened". Moving Picture World, 26 Junie 1915, bl. 2072. Niks is egter ná hierdie toetse vervaardig nie, volgens Adolph Zukor in sy 1953-outobiografie, The Public Is Never Wrong: My 50 Years in the Motion Picture Industry.
Stereoskopiese stelsels voor 1952 thumb|160px|links|Fairall in 1922. thumb|160px|links|Fairall se 3D-kamera.
Die eerste bevestigde 3D-rolprent wat buite ’n rolprentteater aan ’n gehoor gewys is, was The Power of Love, wat sy première op 27 September 1922 in die Ambassador Hotel in Los Angeles gehad het.Ray Zone, Stereoscopic cinema & the origins of 3D film (University Press of Kentucky, 2007) , bl. 110 Die kameratoerusting was ’n produk van die rolprentvervaardiger Harry K. Fairall en die kinematograaf Robert F. Elder. ’n Dubbele strook is swart-wit afgeneem en ’n enkele anagliewe strook is gemaak met behulp van ’n kleurfilm wat deur Harry K. Fairall geskep en gepatenteer is. Een projektor kon gebruik word om die prent te vertoon, maar anagliewe brille moes gebruik word om daarna te kyk. Die kamerastelsel en spesiale kleurfilm is op 9 Desember 1930 gepatenteer.https://patents.google.com/patent/US1784515 Ná ’n voorvertoning in New York is nie weer van die prent gehoor nie en dit word nou as verlore beskou.
Vroeg in Desember 1922 het William van Doren Kelley, die uitvinder van die Prizma-kleurstelsel, munt geslaan uit die groeiende belangstelling in 3D-rolprente wat deur Fairall se demonstrasie begin is. Hy het tonele geskiet met ’n kamerastelsel wat hy self ontwerp het en die eerste in sy reeks "Plasticon"-kortfilms met die titel Movies of the Future is in die Rivoli-teater in New York vertoon.
Laurens Hammond (later die uitvinder van die Hammond-orrel), het ook in Desember 1922 sy Teleview-stelsel in gebruik geneem en dit is in Oktober gewys. Teleview was die eerste afwisselenderaam-3D-stelsel wat die publiek gesien het. Dit het gebruik gemaak van linker- en regteroogbeelde en twee gekoppelde projektors. Linker- en regterrame is afwisselend vertoon, met elke twee rame wat drie keer gewys is om flikkering uit te skakel. Kyktoestelle op die armleunings van die teatersitplekke het roterende sluiters gehad wat sinkronies met die projektorsluiters gewerk het, en dit het ’n skoon en duidelike stereoskopiese uitwerking gehad. Net een teater het Teleview geïnstalleer en net een reeks vertonings is gehou. Dit het verskeie weke geduur en goed geld gemaak as ’n nuutjie, maar daar is nooit weer van Teleview gehoor nie.
thumb|300px|’n Gehoor kyk in 1951 met spesiale brille na ’n driedimensionele stereoskopiese rolprent in die Telekinema in Londen. In 1922 het Frederic Eugene Ives en Jacob Leventhal hul eerste stereoskopiese kortflieks begin uitreik wat oor ’n tydperk van drie jaar gemaak is. Die eerste prent, Plastigrams, is nasionaal deur Educational Pictures in die rooi-blou anagliefformaat uitgereik. Ives en Leventhal het daarna die volgende stereoskopiese kortflieks in hul "Stereoscopiks Series" vervaardig wat in 1925 uitgereik is: Zowie (10 April), Luna-cy! (18 Mei), The Run-Away Taxi (17 Desember) en Ouch (17 Desember).
In die laat 1920's tot vroeë 1930's was daar min belangstelling in stereoskopiese prente. In September 1933 het Louis Lumière tonele met sy stereoskopiese kamera in Parys geskiet. In Maart 1934 het hy ’n nuwe weergawe van sy 1895-kortfliek, L'Arrivée du Train, op ’n byeenkoms van die Franse Akademie vir Wetenskap vertoon, dié keer in anagliewe 3D. "L'Arrivée du 3-D", artikel deur Betsy A. MCLane
In 1936 is Leventhal en John Norling op grond van hul toetstonele gehuur om MGM se Audioscopiks-reeks te maak. Die afdrukke was deur Technicolor in die rooi-groen anagliefformaat. Die eerste prent, Audioscopiks, se première was op 11 Januarie 1936, en The New Audioscopiks s’n op 15 Januarie 1938. Audioscopiks is in 1936 vir ’n Oscar benoem in die kategorie "Beste lewende-aksie-kortfilm, nuwigheid".
Ná die sukses van die twee Audioscopiks-prente het MGM nog ’n kortprent in anagliewe 3D vervaardig: ’n Pete Smith-fliek met die naam Third Dimensional Murder (1941). Anders as die vorige prente, is dié een met toerusting geskiet wat deur die ateljee gebou is. Afdrukke was deur Technicolor in rooi-blou anagliewe.
Terwyl baie van diè prente in kleur afgedruk is, was nie een werklik in kleur nie; die kleurafdrukke was maar net om ’n anagliewe effek te skep.
Bekendstelling van Polaroid Terwyl Edwin H. Land aan die Harvard-universiteit studeer het, het hy die idee gekry om skerp ligskynsels te verminder deur lig te polariseer. Hy het verlof geneem om ’n laboratorium in te rig en het teen 1929 ’n polariseringsplaat uitgevind en gepatenteer. In 1932 het hy Polaroid J Sheet as ’n kommersiële produk bekendgestel. Terwyl sy oorspronklike bedoeling was om ’n filter te skep wat die skerp skynsels van motors se kopligte verminder, het hy nie die bruikbaarheid van sy Polaroidfilters in stereoskopiese vertonings onderskat nie.
In Januarie 1936 het Land die eerste demonstrasie van sy polarisasiefilters in gebruik saam met 3D-fotografie in die Waldorf-Astoria Hotel in New York gegee.Ray Zone, Stereoscopic cinema & the origins of 3D film (University Press of Kentucky, 2007) , p. 152 Die reaksie was goed en hy het dit opgevolg met ’n vertoning in die New York Museum of Science.
Met behulp van polarisasiefilters was ’n heel nuwe projeksiemetode moontlik. Twee beelde, elk op óf die linker- óf die regteroog gerig, moes in die projeksie gesinkroniseer word deur middel van ’n eksterne sinkrotransformator. Verder sou gepolariseerde lig in ’n groot mate gedepolariseer word op ’n mat wit doek, en net ’n silwerdoek of skerm wat van ’n ander weerkaatsende materiaal gemaak is, sou die aparte beelde reg vertoon.
Later dié jaar is die rolprent Nozze Vagabonde ("Swerwerstroue") in Italië vertoon, gevolg in Duitsland met Zum Greifen nah ("Jy Kan Amper Daaraan Raak") en in 1939 met Sechs Mädel rollen ins Wochenend ("Ses Meisies Ry die Naweek Binne"). Die Italiaanse prent is gemaak met ’n Gualtierotti-kamera, en die twee Duitse prente met ’n Zeiss-kamera en die Vierling-verfilmingstelsel. Dit was die eerste rolprente wat vertoon is met behulp van polarisasiefilters.
In 1939 het John Norling In Tune With Tomorrow geskiet; dit was die eerste kommersiële 3D-prent in Amerika wat Polaroid gebruik het. Die première was in 1939 by die New York World's Fair. Dit was ’n kortprent wat spesifiek vir die Chrysler-paviljoen gemaak is. ’n Hele 1939-model Chrysler Plymouth word daarin toweragtig gemonteer op maat van musiek. Dit was oorspronklik in swart-wit, maar was so gewild dat dit in kleur oorgeskiet is vir die volgende jaar se skou, met die titel New Dimensions.
In die 1940's het die Tweede Wêreldoorlog meegebring dat militêre toepassings van stereoskopiese fotografie voorrang geniet het, en 3D-rolprente het weer agteros gery.
Die "goue era" (1952-1954) thumb|200px|links|Plakkaat van die eerste stereoskopiese kleurrolprent, Bwana Devil (1952). Dit is deur Arch Oboler geskryf, geregisseer en vervaardig.
Wat aanhangers as die "goue era" van 3D-rolprente beskou, het laat in 1952 begin met die uitreiking van die eerste stereoskopiese kleurrolprent, Bwana Devil, wat deur Arch Oboler geskryf, geregisseer en vervaardig is. Die prent is in "Natural Vision" geskiet, ’n proses wat deur M.L. Gunzberg saam met hom ontwikkel en beheer is. Gunzberg, wat die toerusting saam met sy broer, Julian, en nog twee vennote geskep het, het dit sonder sukses aan verskeie ateljees probeer verkoop totdat Oboler dit gebruik het. Sy eerste prent was The Lions of Gulu.Gunzberg, M.L. (1953). "What is Natural Vision?", New Screen Techniques. 55–59. Die prent, wat deur resensente afgeskiet is, was nogtans baie gewild by die publiek vanweë die nuwigheid van 3D, en dit het Hollywood se belangstelling in 3D geprikkel in ’n tyd dat die getal fliekgangers afgeneem het.Zone, Ray (2012). 3-D Revolution: The History of Modern Stereoscopic Cinema. Lexington: The University Press of Kentucky. ble. 7-8
Soos met feitlik al die 3D-rolprente in dié tyd die geval was, is Bwana Devil met behulp van polarisasiefilters vertoon. In die 1950's is die bekende weggooibare anagliefbrille wat van karton gemaak was hoofsaaklik vir strokieboeke gebruik, asook vir ’n paar kortprente.
Omdat twee projektors met die polarisasiemetode gebruik is, het die hoeveelheid film wat op elke projektor gelaai is (sowat 1 800 m, of ’n uur se kykstof) beteken dat ’n pouse vir elke rolprent nodig was. Dikwels is die tyd vir die pouse op ’n kritieke punt in die storielyn in die draaiboek ingeskryf.
Oor Kersfees van 1952 het die vervaardiger Sol Lesser die première van ’n dubbelstrookvertoning, Stereo Techniques, in Chicago gehou."Lesser Acquires Rights to British Tri-Opticon." BoxOffice October 25, 1952: 21. Hy het die regte op vyf dubbelstrookkortflieks bekom. Twee van hulle, Now is the Time (to Put On Your Glasses) en Around is Around, is in 1951 deur Norman McLaren vir die Nasionale Rolprentraad van Kanada geregisseer. Die drie ander prente is in 1951 deur Raymond Spottiswoode in Brittanje vervaardig vir Festival of Britain. Hulle was A Solid Explanation, Royal River en The Black Swan.
James Mage was ook ’n vroeë pionier in die 3D-stormloop. Hy het sy 3D-Bolex-stelsel van 16 mm gebruik vir sy Triorama-program, waarvan die première op 10 Februarie 1953 was. Dit het uit vier kortflieks, Sunday In Stereo, Indian Summer, American Life en This is Bolex Stereo, bestaan."Just Like 1927." BoxOffice Feb. 7, 1953: 12. Dit word sedertdien as verlore beskou.