duimnael|Verskeie vorme van openbare vervoer, insluitend busse, treine en taxi's, word deur die publiek gebruik om by hul bestemmings te kom. Publiek is die versamelnaam vir die mense, die volk, burgers of die gemeenskap van ’n land. Vandaar begrippe wat die burgers raak, soos publieke administrasie, publieke reg, publieke opinie (ook openbare mening genoem), publieke onderneming (teenoor private onderneming) en ander publiek-verwante samestellings.

In Afrikaans word “publieke” soms met die woord “openbare” vervang, insluitend openbare finansies, openbare sektor, openbare bestuur, openbare gesondheid, openbare parke en paaie en selfs openbare betrekkinge (Engels: public relations). Dit is gevolglik uitruilbaar.

Publieke administrasie duimnael|Openbare strande, biblioteke, parke en ander geriewe vir die publiek is 'n belangrike deel van publieke administrasie. Die versorging daarvan, soos dié strandtoneel by Bloubergstrand in die Wes-Kaap getuig, is ook 'n uitdaging. Publieke administrasie is die vertakking van die politieke omgewing wat te make het met strukture en prosesse wat die bestuur van openbare sake, die praktiese uitvoering van lands beleid, wetstoepassing en verwante sake raak wat die publiek aangaan. Dit word uitgevoer deur regeringsamptenare, organisasies en publieke agentskappe, wat in ’n verhouding staan teenoor die publiek en ander regeringseenhede.

Dit kom kortliks daarop neer dat gesonde publieke administrasie hoofsaaklik die volgende vier hoofpunte behels:

Dit is ’n stelsel van strukture en prosesse wat die publiek raak; Dit funksioneer binne ’n spesifieke gemeenskap; Dit voorsien ’n omgewing waarin toepaslike regeringsbeleid moontlik is; Dit maak die doeltreffende uitvoering van die neergelegde beleid moontlik.

Publieke administrasie is gevolglik heelwat wyer as bloot publieke bestuur, weliswaar ’n baie belangrike onderafdeling daarvan.

Hiervolgens is dit duidelik dat publieke administrasie nie eng grense het nie maar selfs die beheer van energiebronne, lisensiëring van voertuie en posaflewering insluit. Dit behels in werklikheid soveel fasette dat dit ’n deurlopende uitwerking op die publiek se lewens het en daarom verskil kenners oor wat publieke administrasie werklik behoort te behels.

Geskiedenis van publieke administrasie Die aanduidings is dat die mandarynse burokrasie in China reeds in sowat 500 v.C. werkgewers aangestel het wat gerigte opleiding ontvang het om die publiek te bedien. Hulle is streng gekeur en moes eksamens oor publieke administrasie aflê. Dit is deurlopend verbeter en verfyn, onder meer deur die Han-dinastie (206 v.C.) en T’ang- en Sung-bewinde in die latere eeue. Net so het die Egiptenare, Grieke en Romeine spesifieke stelsels gehad om rigting te gee aan regsaangeleenthede, militêre optrede, finansies en belasting, binnelandse en buitelandse aangeleenthede. duimnael|Thomas Woodrow Wilson, die 28ste president van Amerika, het publieke administrasie as teoretiese dissipline vasgelê met die publikasie van sy The study of administration in 1887. Die Nederlandse regering het dit in Suid-Afrika gevestig met die stigting van ’n nedersetting in die Kaap op 6 April 1652.

Die Amerikaanse president Woodrow Wilson het dit in 1887 as ’n teoretiese dissipline vasgelê deur die publikasie van sy The study of administration. In Suid-Afrika is dit die eerste keer as akademiese vak deur die Transvaalse Universiteitskollege (later die Universiteit van Pretoria) as ’n kollege van Unisa aangebied. Vandag bied minstens 17 universiteite in die land dit as studierigting aan.

In Suid-Afrika het die onderrig van publieke administrasie aanvanklik sy wortels in die vorige politieke bedeling gehad, maar die oorgang na ’n nuwe regering in 1994 het met drastiese wysigings gepaardgegaan. Teoreties behoort publieke administrasie met die publiek se behoeftes en verwagtinge ooreen te stem, doeltreffend wees, respek en waardering afdwing en dit vir die publiek moontlik maak om ’n veilige en regverdige bestaan te voer. Dit moet ook in ooreenstemming wees met internasionale ontwikkelinge en standaarde.

Etiek en korrupsie duimnael|440x440px|Unisa was die eerste universiteit wat publieke administrasie as akademiese vak in Suid-Afrika aangebied het. Etiek speel ’n groot rol in doeltreffende publieke administrasie. Dit sluit werknemers en leierskap in asook sosiopolitieke ontwikkelinge. Ongelukkig het morele denke en ontwikkelinge nie tred gehou met die drastiese struktuurveranderinge binne die publiek nie en ’n komplekse netwerk van organiese strukture, stelsels en prosedures wat grootliks anoniem funksioneer, maak dit vir betrokkenes maklik om te vergeet hoe hul besluite, doen en late ander mense raak.

Volgens Serving the Public is makro-etiek noodsaaklik, wat hoofsaaklik daarop ingestel is om makrostrukture daar te stel wat die meer objektiewe en nie-persoonlike verhoudinge tussen die publiek op ’n anonieme grondslag as rolspelers reguleer. Dit rus onder meer op morele norme en waardes – regverdigheid, eerlikheid, menslikheid, vryheid, integriteit, die waarheid en orde.

So raak korrupsie – blatante en doelbewuste oneerlikheid in die gebruik van openbare geld en goedere – die publiek ten nouste. Dit versteur die openbare orde, is destruktief en onversoenbaar met ’n stelsel wat die belange van die algemene publiek behoort te beskerm en sluit onder meer in omkopery, nepotisme, gulsigheid, die wangebruik van binne-inligting en dikwels geheime inligting vir persoonlike gewin, die bevoordeling van kennisse en familie in die toekenning van tenders en selfs die gebruik van minderwaardige materiaal om die oorloopgeld in hul eie sak te steek. duimnael|330x330px|Die publiek laat gereeld hul stem hoor teen korrupsie, wat 'n groeiende probleem in die wêreld is. Korrupsie word onder meer deur gulsigheid, gebrekkige etiek, politieke mag, die navolging van korrupte leiers en gebrekkige beheermaatreëls gedryf. In Public Administration sê die skrywers dat die publiek keer op keer geskok is oor die voorkoms en omvang van korrupsie, maar dit is egter nie net ’n hedendaagse misdryf deur funksionarisse wat veronderstel is om die publiek se belange te beskerm nie: oor die eeue was daar korrupsie waar daar mense betrokke was.

Die moontlike oorsake van korrupsie word só uiteengesit:

Gulsigheid, wat ’n obsessie met materialisme ten koste van die publiek is. Dit word aangevuur deur onder meer ongeduldige ambisie, verwagtinge wat ten koste van ander geskied en selfs ’n omgewing waarin nie ’n wakende oog oor die doen en late van die betrokke posisie gehou word nie. Gebrekkige etiek, wat die betrokkenes voor versoekings laat swig. Politieke mag, veral as regerings lank aan die bewind is en nie voldoende opposisie het om hulle op hul tone te hou nie. Begunstiging en nepotisme, wat die aanstelling in poste betref van familie en vriende wat onwaarskynlik opgewasse is vir die werk is of dit hoegenaamd nie verdien nie en tot swak diens lei. Verontagsaming van gedragskodes, of selfs die afwesigheid van gepaste voorskrifte. Die navolging van korrupte leiers. Wanneer jou leiers ’n swak voorbeeld stel, vergroot dit die weg na korrupte optrede. Gebrekkige beheermaatreëls, veral wanneer werkers saamspan om korrupsie te verdoesel. Beheptheid met amptelike geheimhouding, wat dit baie moeiliker maak om ongerymdhede te ontbloot. Oormatige regulering van die ekonomie, veral wanneer die regeerders ’n oormaat politieke en ekonomiese mag het en maklike toegang tot bates, grond, bronne en geleenthede het.

Omdat korrupsie altyd tot die nadeel van die publiek geskied, is dit belangrik om soveel maatreëls moontlik in te stel om die voorkoms daarvan te beperk. Dit sluit in ’n publiek wat waaksaam is en amptenare wat moontlike versoekings vermy of teenstaan; onafhanklike media wat korrupsie ontbloot; anonieme fluitjieblasery van personeel en ander ingeligtes; die navolging van Christelike en/of ander beginsels; die gebruik van die ombudsman; onafhanklike vervolging en streng strawwe – alles om eerlike publieke administrasie moontlik te maak.

Openbare finansies Die bestuur van die publiek se geld, wat nasionale en plaaslike belasting en ander betalings insluit, is ’n verantwoordelike werk. Openbare geld behoort aan die publiek en dit word aangewend om te sorg dat goedere, dienste en beleggingsgroei daarmee verkry word. Dié geld moet dus toepaslik en doeltreffend bestuur word en die wanbestuur daarvan dra nie tot die publiek se voordeel by nie. Ampsdraers en politici, hul gesinslede en ander verbintenisse mag gevolglik nie daarby baat behalwe in die vorm van gepaste vergoeding vir arbeid gelewer nie.

Dit is uiteraard moeilik om publieke voordele te meet en doeltreffende openbare finansies behels gevolglik ’n begroting wat duidelike bestedingsdoelwitte aandui. Volgens Managing Public Money word die publiek benadeel wanneer hul geld vrugteloos aangewend word en vermors word. Voorbeelde daarvan is onder meer:

Die besteding aan projekte wat nie sinvol is en nie suksesvol uitgevoer kan word nie. Projekte moet dus nie aangepak word indien dit nie sigbare resultate kan oplewer nie. Die vermorsing van publieke geld deur bestuurders en ander wat nie vergaderings bywoon nie en dus nie betrokke en produktief is nie.

Dit is heelwat makliker om sukses te meet in die private sektor as in die openbare sektor danksy die winsbeginsel en doeltreffender meting van sukses en produktiwiteit. In die openbare sektor is geld die middel maar nie die einde nie.

Teoreties behoort besteding slegs sinvol te wees indien die gevolge daarvan positief is – indien nie, behoort dit nie aangepak te word nie. Daarom moet departementshoofde die kennis en verantwoordelikheid hê om te besluit of die besteding vrugte sal dra. Om die verantwoordelikheid te dra vir besluite en van aksies onder jou beheer – hetsy as junior amptenaar of bestuurder – is ’n gegewe van die betrokke pos. Aanspreeklikheid, as ’n grondbeginsel van die bestuur van openbare geld, is nie onderhandelbaar nie. Dit vereis deursigtigheid, vereis prestasiebeoordeling en maak die rapportering van bedenklike bedrywighede noodsaaklik.

Publieke opinie Publieke opinie, ook openbare mening genoem, is die somtotaal van die publiek se individuele beskouinge, houdings en opvattings oor ’n spesifieke onderwerp wat gewoonlik die publiek raak. Hoewel dit die algemene mening is, beteken dit nie noodwendig dat almal daarmee saamstem nie: wanneer ’n gebeure ’n groot hoeveelheid mense raak, sal hulle dit bespreek, daaroor redeneer en ’n gedeelde mening of konsensus kry. In sommige gevalle kan die meerderheidsmening selfs tot ’n drukgroep lei wat ’n spesifieke optrede tot gevolg het.

Bewyse dat belangegroepe en drukgroepe doeltreffende meganismes is waardeur die publiek met hul owerhede – plaaslik en nasionaal – interaksie bewerkstellig, is algemeen te vind. Die feit dat groepe se kollektiewe bedingingskrag baie doeltreffender is as individue s’n, spoor die publiek aan om dié weg te volg. Hieruit volg die beïnvloeding van die regering en ander deur onderhandeling en selfs georganiseerde weerstand deur die publiek, wat ’n kragtige meganisme is om resultate te verseker. So is die rol van burgerlike verenigings (“civics”) om verandering te bespoedig algemeen in Suid-Afrika – in sowel die vorige as die nuwe politieke bedeling.

Die proses van openbaremeningsvorming word deur verskeie faktore gerig, wat ongelukkig nie altyd op feite gegrond is nie en oningeligtes, angstiges en bevooroordeeldes saamsleep. Aan die ander kant is al uitstekende resultate behaal wanneer ’n gefokuste publiek druk uitoefen. Ekonomiese hervorming is byvoorbeeld bewerkstellig toe die publiek in die Groot Depressie in die dertigerjare saamgestaan het. Wapenbeheer is ’n ander gevolg van druk van die publiek.

Openbare mening word meestal deur een of soms meer as een van die volgende beïnvloedingsbronne gevorm: