Nasionaal-Sosialisme is 'n radikale totalitêre politieke ideologie wat deur ekstreem-chauvinistiese nasionalisme, revisionisme, sosiaal-darwinisme, anti-intellektualisme, anti-kommunisme, anti-liberalisme en anti-semitisme gekenmerk word. Dit het sy wortels in die sogenaamde völkische Bewegung, 'n radikaal-nasionalistiese en anti-semitiese beweging wat in die vroeë 1880's in die Duitse Keiserryk en in Oostenryk-Hongarye ontwikkel het. Ná die Eerste Wêreldoorlog het dit vanaf 1919 'n selfstandige politieke beweging in Duitssprekende gebiede van Europa geword. Net soos die fascistiese beweging in Italië het Nasionaal-Sosialiste die demokratiese bedeling, wat in die Duitse Ryk met die Grondwet van Weimar gevestig is, summier verwerp ten gunste van die skepping van 'n outoritêre leierstaat.

In teenstelling met Italiaanse fascisme is Duitse Nasionaal-Sosialisme gekenmerk deur ekstreme rassisme, anti-semitisme en die stelselmatige uitskakeling en selfs fisiese vernietiging van politieke teenstanders en hele groepe wat as rassies minderwaardig geklassifiseer is. Hierdie radikaliteit het veral tot uiting gekom in die georganiseerde vervolging van Jode en Sinti en Roma. Ook het die Nasionaal-Sosialistiese ideologie daarna gestrewe om alle aspekte van die menslike lewe, insluitende kuns, te oorheers, terwyl die kunslewe in fascistiese Italië deur 'n hoë graad van pluralisme gekenmerk is. Nasionaal-Sosialisme was 'n unieke verbinding van moderne massa-organisasie met 'n verheerliking van menslike ongelykheid wat tot uiting gekom het in 'n strewe na mag en geweld asook Duitse selfoorskatting wat alle alliansies met gelykgesinde bewegings in ander Europese lande ondermyn het.

Onder leiding van Benito Mussolini het Italiaanse fascisme in 'n regs-konserwatiewe diktatuur ontaard, terwyl Adolf Hitler se bewind in Duitsland aggressief en radikaal geword het. Hitler se buitelandse beleid het gelei tot die ondergang van die Nasionaal-Sosialisme in Duitsland.

Inleiding

Definisie Die Nasionaal-Sosialisme was in Europa 'n algemene verskynsel tussen die twee wêreldoorloë. Die vernaamste verteenwoordigers daarvan was Italië onder Benito Mussolini (waar dit Fascisme genoem is) en Duitsland onder Hitler. In die lande waar die Nasionaal-Sosialisme volledig ontwikkel en in die politieke wêreld 'n rol gespeel het, het dit 'n ideologie ontwikkel wat eie was aan die betrokke land. Omdat dit so sterk nasionaal gebonde was en oor geen wêreldomvattende ideologie soos byvoorbeeld die van die Kommunisme beskik het nie, is dit moeilik om die Nasionaal-Sosialisme in algemene terme te omskryf.

'n Definisie daarvan kan slegs geformuleer word op grond van die ooreenkomste wat wel onder die verskillende groepe voorgekom het, soos byvoorbeeld die verheerliking van stryd en gesag en die afkeer van demokrasie en die kommunisme. Die Nasionaal-Sosialisme het die klem laat val op nasionale stryd en op 'n sterk sentrale gesag, beliggaam in 'n leiersfiguur - die duce in Italië en die Führer in Duitsland. Daar is geglo in die ongelykheid van mense, wat sowel binne die eie volk as tussen verskillende volke en rasse gekonstateer is.

Die Nasionaal-Sosialiste het die verwagting gekoester dat 'n nuwe elite uit die volk (meestal uit die eie party) die mag van die ou en dekadente elite (adel, geestelikes, kapitaliste) moes oorneem. Die ongelykheidsidee, gekoppel aan 'n aggressiewe nasionalisme, was teen die ideale van gelykheid, demokrasie en menslike waardigheid gerig. Daarom het die Nasionaal-Sosialisme in praktiese politiek sterk teen pasifisme, liberalisme, georganiseerde arbeidersbewegings en veral teen internasionale kommunisme te velde getrek.

Hulle het hul doel probeer bereik deur die organisasie van 'n totalitêre massaparty. Indien hulle daarin sou slaag om die mag oor te neem, moes die leier aan die hoof van 'n totalitêre staat die nasionaal-sosialistiese ideale verwesenlik en die "nuwe orde" vestig. In Wes-Europa het die Nasionaal-Sosialisme steun gesoek en gevind by die middelklas, veral by die groot groep kleinamptenare en kleinhandelaars wat bang was vir die kommunisme en deur die moderne bedryfsvoering en massaproduksie bedreig gevoel het.

Die beweging het egter ook groot steun onder die boere geniet, veral in Sentraal- en Oos-Europa. In die Nasionaal-Sosialistiese beweging het die jeug 'n besondere posisie ingeneem. Die jeug se geldingsdrang, idealisme en avontuurlus is deur nasionaal-sosialistiese leiers suksesvol ingespan en gekanaliseer om hul eie politieke doelwitte te bereik. In al sy verskyningsvorme was die Europese Nasionaal-Sosialisme tussen die wêreldoorloë 'n vreemde mengsel van reaksionêre en eietydse elemente.

Daar was sprake van 'n "opstand teen die moderne wêreld" en 'n verlange om terug te keer na die stande- en kastemaatskappy van die verre Oudheid (veral die van Sparta). Terselfdertyd was die Nasionaal-Sosialisme 'n produk van die 20ste eeu. In hul propagandaveldtogte het die bewegings van al die moderne tegnieke en van die moderne organisasiewese gebruik gemaak en gekonsentreer op massa-opsweping deur vulgêre sensasie en skreeuerige reklame.

Agtergrond Toestande wat na die Eerste Wêreldoorlog geheers het, was besonder gunstig vir die groei en verspreiding van nasionaal-sosialistiese idees. 'n Direkte gevolg van die oorlog was die sosio-ekonomiese ontreddering in lande waar die oorlogsnywerhede na normale produksie moes oorskakel en miljoene teruggekeerde soldate terselfdertyd werk moes vind. Dit het aanleiding gegee tot frustrasie en onrus, wat in verskeie vorme tot uiting gekom het en waaruit die Nasionaal-Sosialisme voordeel getrek het.

'n Blywender gevolg van die oorlog was die ontwikkeling van 'n massale "politieke bewussyn". Arbeiders en gewone burgers wat voor die oorlog polities "onvolwasse" was, het gedurende die oorlog hul eie politieke denke begin ontwikkel en oral in Europa het massabewegings en –partye ontstaan. Die kern daarvan is dikwels gevorm deur die massas oud-stryders, wat met hul ultra-nasionalisme (‘n produk van die oorlog) en gevoel van kameraadskap 'n vrugbare voedingsbodem vir die Nasionaal-Sosialisme was.

'n Ander bydraende faktor tot die ontstaan van Nasionaal-Sosialistiese bewegings was die mislukking van die demokrasie. Onder invloed van die seëvierende Geallieerdes (die VSA, Brittanje en Frankryk) is demokrasieë na die oorlog in die oorwonne Sentraal-Europese lande (ook Duitsland) gestig, terwyl die lande nog nie daarvoor ryp was nie. Die mislukking van die nuwe demokratiese regerings het regstreeks bygedra tot die gewildheid van antidemokratiese bewegings soos die Nasionaal-Sosialisme.

Ver regse bewegings soos die Nasionaal-Sosialisme is ook versterk deur die vrees vir die kommunisme, wat in 1917 in Rusland geseëvier het. Die vrees het in sowel nywerheids- as landboulande (Oos-Europa) bestaan. Groot dele van die bevolkings was oortuig daarvan dat daar slegs een keuse bestaan het: tussen 'n linkse of 'n regse massabeweging, wat noodwendig op 'n linkse of 'n regse diktatuur moes uitloop. Vir die meeste was 'n regse diktatuur aanvaarbaarder.

In Wes-Europese lande soos Frankryk, België en Nederland het die Nasionaal-Sosialisme wel voorgekom, maar nooit groot aanhang geniet nie omdat demokratiese tradisies in die lande te sterk gewortel was. In Oos-Europese lande, veral Roemenië en Hongarye, was die Nasionaal-Sosialisme van die begin af 'n romantiese beweging met 'n religieuse inslag. Dit het as 'n "nuwe geloof" byval gevind by veral jongmense en intellektuele, wat die posisie van die kleinboere en middelstand wou verbeter.

In Italië en later in Duitsland het nasionaal-sosialistiese bewegings daarin geslaag om die mag oor te neem, maar die oorname kon slegs geskied deur toegewings aan die ou elite (konserwatiewe regse elemente) te doen. Om die rede het die Nasionaal-Sosialisme by die magsoorname 'n karakterverandering ondergaan, wat dit soms moeilik maak om dit van ander konserwatiewe, militêre regimes soos die van Pilsoedski in Pole, Horthy in Hongarye, Dollfuss in Oostenryk en later Francisco Franco in Spanje te onderskei.

Duitsland

Agtergrond Net soos Italië het Duitsland ook eers in die tweede helfte van die 19e eeu nasionale eenheid bereik (1871). lnteenstelling met Italië was Duitsland egter nooit 'n parlementêre demokrasie nie en was hy een van die verloorders in die Eerste Wêreld oorlog. Die oorlog het die einde van die keiserryk beteken: in 1919 is 'n republiek in Weimar gestig.

Dit het gelyk of die neerlaag (soos wat in Rusland gebeur het) deur 'n Kommunistiese revolusie gevolg sou word, maar die Sosiaal-Demokrate wat aan die bewind gekom het, was nie ten gunste van 'n ingrypende sosiale omwenteling nie. Hul vakbond- en partyleiers het gevrees dat roekelose "avonture" alles wat hulle deur die jare van sosiale stryd opgebou het, in gevaar sou stel. Die revolusie-skuheid van die nuwe maghebbers was gedeeltelik ook 'n gevolg van gebeure in Rusland, waar die Sosiaal-Demokrate deur die Bolsjewiste uitgeskakel is.

Hulle het ook nie geaarsel om 'n Kommunistiese opstand in Berlyn (onder leiding van die sogenaamde Spartakusbond) met behulp van die leer en reaksionêre oud-stryders te onderdruk nie. Die onderdrukking van die Kommunistiese revolusie het aan die Sosiaal-Demokrate egter nie die simpatie of die steun van die leer, die Junker-grootgrond-besitters en die groot kapitaliste besorg nie. Die kringe het nog altyd 'n sterk afkeer van demokrasie gehad, om van sosialisme nie te praat nie.

Die Sosiaal-Demokrate was wel die grootste party en het met die verkiesing van 1919 die meeste stemme gekry, maar om te kon regeer, moes hulle koalisies vorm. Dit was uit die staanspoor duidelik dat hulle vanuit alle oorde teenkanting sou kon verwag.

Die Vrede van Versailles Die eerste taak van die nuwe Weimar-republiek was die voortsetting van vredesonderhandelings met die Geallieerdes en die ondertekening van die Verdrag van Versailles. Duitsland moes al sy kolonies en 'n aansienlike deer van sy grondgebied afstaan, 'n buitensporige "oorlogskuld" betaal en boonop die morele skuld vir die oorlog op hom neem. Om Frankryk se grense met Duitsland te beveilig, moes die Rynland gedemilitariseer word en is Duitse bewapening beperk.

Die gedikteerde vrede het in Duitsland as die Diktaat van Versailles bekend geword en die volk se wrok teen die Geallieerdes was terselfdertyd gemik teen die regering wat die verdrag onderteken het. Toestande is vererger deur die ondeurdagte optrede van Frankryk, wat in 1923, toe Duitse herstelbetalings agtergeraak het, die Ruhrgebied in Duitsland beset het. Die arbeiders in die gebied het gestaak en die regering het onderneem om hul lone te betaal.

Die middele daartoe het egter ontbreek en groot hoeveelhede papiergeld is gedruk. Die gevolge was rampspoedig. 'n Onstuitbare inflasiekoers het die geld in 'n kort tydjie feitlik waardeloos gemaak en kleinspaarders is geruïneer. Baie van die slagoffers het hul vertroue in die (demokratiese) staat en in die burgerlike normes en waardes verloor. In die geestelike leegte waarin hulle hulle bevind het, was hulle besonder ontvanklik vir die eenvoudige taal van radikale demagoge.

Hitler en die NSDAP Die sosio-ekonomiese ellende in Duitsland was 'n goeie voedingsbodem vir die idees van Adolf Hitler, wat nog veel meer as Mussolini die karakter van die Nasionaal-Sosialisme in sy land bepaal het. In 1921 het Hitler die leier van die Nationalsozialistische Deutsche Arbeiterpartei (NSDAP) geword, 'n party waarvan hy in 1919 lid geword het en waaraan hy as propagandaleier groot aanhang besorg het. Ondanks die woord Arbeiter in sy amptelike benaming, het die Nazi-party weinig met die sosialisme gemeen gehad. Anders as Mussolini was Hitler nooit 'n sosialis nie en nie een van sy medewerkers was sosialiste nie.