In elke beskawing en in elke tydperk was en is daar sprake van mites: heilige verhale, wat 'n verklaring bied vir allerhande begrippe, verskynsels en voorwerpe soos die kosmos, die wêreld, die kwaad, die dood, die wisseling van die seisoene, en so meer.

Dit is opvallend dat elke mite in 'n soort smettelose oertyd, toe daar nog niks was nie, geplaas word. Dit vertel dan hoe iets ontstaan het en tot nou toe bestaan. Namate meer mites en versamelings van mites (mitologieë) uit verskillende wêrelddele onder die moderne mens se aandag gekom het, is daar met ʼn klassifikasie van mites begin, aangesien dit geblyk het dat dit oor dieselfde soort "oerverhale " handel: die ontstaan van gode en mense, van gebruike en instellings.

Hoewel daar groot onderlinge verskille is, het dit gou geblyk dat dit in die mite gaan oor die diepste vrae van die bestaan, wat deur sommige wetenskaplikes as religieuse vrae omskryf word en deur ander as aspekte van die menslike (onder) bewussyn.

Gode speel gewoonlik die belangrikste rol in die mites, maar soms is daar ook 'n aantal ander karakters. Die verhale oor die helde het soms 'n historiese agtergrond: dit is gegrond op werklike gebeurtenisse, maar is met allerlei fantastiese besonderhede ingekleur.

Die Griekse mites, wat die kern van die Griekse klassieke godsdiens gevorm het, is later tydens die Grieke se kulturele oorheersing van die Middellandse See-gebied deur die Romeine oorgeneem. Die opkoms van die Christendom in omstreeks 400 n. C. het die klassieke godsdiens se lot beslis. Voor die tyd het die verval van die Griekse stadstate al die kern van die Griekse kultus aangetas en het verskillende misteriegodsdienste Griekeland en Rome binnegedring.

Algemeen 'n Mite is volgens definisie 'n verhaal oor 'n skeppingsdaad: dit vertel hoe iets in die oertyd deur die toedoen van bonatuurlike wesens ontstaan het. Die mite (Grieks vir "woord") is die heilige verhaal oor gebeurtenisse in die sogenaamde illo tempore ("volkome oertyd"), en daarom was dit 'n saak van groot erns wat aanvanklik nie sommer by enige geleentheid vertel kon word nie.

Nie enigeen kon dit vertel nie en nie enigeen kon dit hoor nie. ʼn Geleentheid wat besonder geskik was vir die vertel van mites, was die sogenaamde rites de passage ("inwydingsrites"), onder meer wanneer mense by 'n kultus ingelyf is. Vir die mens van die 20e eeu is dit moeilik om hom in die gedagtewêreld van die mite in te leef, omdat hy heeltemal anders dink oor die ontstaan van die heelal, die aarde en die mens en dit met wetenskaplike teorieë verklaar.

Die verteller van 'n mite het ʼn ander verwysingsraamwerk gehad as die hedendaagse mens: die onaantasbare oertyd – sommige volke praat van die "droomtyd" – toe die gode alles gemaak het wat nou nog op aarde is. Die mitiese mens glo dat alles nog presies is soos wat die gode dit destyds voortgebring het. By die vertelling van 'n mite word die oertoestand weer opgeroep, lewend gemaak en gevier. Daarom het die kultus en die rite ʼn belangrike rol gespeel in die vertelling van die mite: dit wat vertel is, is uitgebeeld (byvoorbeeld in 'n dans).

Dit is opvallend dat mites selde op skrif gestel is, selfs in kulture wat skrif geken het, omdat klem gelê is op die heilige woord wat aan die gemeenskap vertel is. Die beroemde antropoloog Bronislaw Kaspar Malinowski het die mite nie verniet as "die lym van die samelewing" bestempel nie, want mites het die gedrag van die gemeenskap, wat die sosiale, sedelike en religieuse lewe betref, in groot mate bepaal. Alles wat van 'n volk 'n volk gemaak het, is immers aan die mite ontleen, aan die oertyd toe die gode bepaal het hoe alles moet wees.

Hoewel dit dikwels uiters moeilik is, word daar 'n onderskeid gemaak tussen mites en uitingsvorme wat daarmee ooreenstem, soos sages, sprokies en legendes. Die beginwoorde van die sprokie, "eens op ʼn tyd was daar", is al 'n aanduiding dat dit oor iets anders gaan as die mite, wat begin met die woorde "in die begin". Die sprokie het geen gevolge gehad vir later geslagte nie en het hoofsaaklik 'n vermaaklikheidsfunksie. Die sage het 'n historiese kern van waarheid en handel gewoonlik oor iets wat in 'n bepaalde tyd in ʼn bepaalde streek gebeur het.

Vorme van mitologie Die meeste kulture wat op aarde bestaan het, het hulle eie mitologie gehad waarin al die verskillende mites sinvol georden is. Aanvanklik was dit waarskynlik nie die geval nie en het elke mite onafhanklik van die ander bestaan, maar om duplisering en teenstryighede te voorkom, is die heilige oerverhale in een groot geheel byeengebring.

Die mitologie van die Grieke en die Romeine en die van die Germaanse en Noorse volke is van die bekendste voorbeelde. In die meeste mitologieë word daar van die veronderstelling uitgegaan dat die wêreld, die natuur en die kosmos, maar veral die mens, hulle ontstaan en voortbestaan aan die gode te danke het. Baie mites is in wese oorsprongmites. Afhangend van watter aspek beklemtoon word, word verskillende vorme onderskei. Kosmogoniese mites handel oor die ontstaan van die hemel en die aarde.

In die Tibetaanse mitologie het die kosmos ontstaan deurdat ʼn eier met al die nodige bestanddele vir die kosmos oopgebars het. In ʼn Chinese mite het 'n god op 'n eier gebroei wat op die oeroseaan gedryf het, en so die aarde voortgebring. In die Germaanse mitologie word daar gepraat van 'n onmeetlike afgrond waaruit twee wêrelde te voorskyn gekom het: die vuurwêreld (Muspelheim) en die newelwêreld (Niflheim). Uit elk van die wêrelde het verskillende wesens ontstaan wat in gevegte met mekaar betrokke geraak het.

Een van hulle, die reus Ymir, is doodgemaak en uit sy liggaamsdele is die wêreld gevorm. Sy vlees het die vasteland geword, sy bloed die see en riviere, sy beendere die heuwels en berge, sy tande die stene en klippe, sy hare die plante en bome, sy skedel die hemelgewelf en sy harsings die wolke. Daar was egter nog geen lig nie: dit is uit Muspelheim (die vuurwêreld) gehaal en so het die son, maan en sterre ontstaan. In Polinesië word die mite vertel dat daar in die begin net water en duisternis was.

Die hoogste god, lo, het die water met die krag van sy gedagtes en sy woorde geskei: "Laat die water skei, laat die hemel vorm en laat die aarde daar wees!" Die mites oor die ontstaan van die gode (teogoniese mites) en van die mens (antropogoniese mites) is nou verweef met die kosmogoniese mites. Volgens die Griekse mitologie het die aarde (Gaia) uit ʼn chaos voortgekom en die see en die hemel (Oeranos) gebaar. Oeranos en Gaia is getroud en het die Titane voortgebring, wat weer op hulle beurt die stamvaders en stammoeders van die latere Griekse gode was. Uiteindelik het die kleinseun van Oeranos en Gaia, Prometheus, die mensegeslag met behulp van Pallas Athena geskep.

In die Noorse en Germaanse mitologie het die menslike geslag ontstaan deurdat die god Odin (wat die Wes-Germane Wodan genoem het) en sy broers Vili en Ve twee boomstamme in mensegestaltes verander het. Odin het asem en lewe aan hulle geskenk, ViIi verstand en beweging en Ve al hul sintuie. Die man het hulle Asker (es) genoem en die vrou Embla (olm). In Indonesië en Melanesië is daar 'n mite wat lui dat die eerste mens deur die asem van 'n god uit 'n rots geskep is; die tema van die godheid wat die mens uit slik gevorm en sy asem daarna in hom geblaas en hom met sy eie bloed besprinkel het, kom meer dikwels voor (onder meer in Oseanië).

Die sogenaamde transformasiemites is nog 'n vername groep mites. Dit is oerverhale waarin daar verklaar word waar sekere verskynsels, meestal negatief, vandaan kom. Transtormasiemites oor die oorsprong van die dood kom veral voor. In die Griekse mitologie word die skuld hiervoor aan Prometheus toegeskryf. Hy het vir die mensegeslag vuur uit die hemel gesteel, waarop Zeus die skone Pandora geskape het en haar met ʼn doos vol rampspoed en ellende na Prometheus se broer Epimetheus gestuur het.

Ondanks waarskuwings het Epimetheus met haar getrou. Sy het die doos later oopgemaak en sedertdien word die mensdom deur allerhande vorme van ellende geteister. By talle Afrika-volke kom die motief van goddelike boodskappers voor. God het twee boodskappers na die mense gestuur: die verkleurmannetjie met die boodskap dat hulle onsterflik sou wees, en die akkedis met die boodskap dat hulle sou sterf. Omdat die verkleurmannetjie nie haastig was nie, het die akkedis die mens eerste bereik en sedertdien is die mens, volgens die mite, sterflik.

'n Tweede mitologiese motief vir die dood is dat die Skepper die eerste mens tussen twee bondels laat kies het: een het die dood bevat en die ander die lewe. Hulle het die verkeerde bondel gekies en is van toe af sterflik. 'n Ander motief, wat onder meer in die Gilgamesj-epos en in die Bybel voorkom, is dat die slang die mens van sy onsterflikheid beroof het; in die geval van die Gilgamesj deur die lewenskruid te steel wat die held uit die diepsee vir sy gestorwe vriend Enkidu gaan haal het, en in die geval van die Bybel deur die vrou oor te haal om teen God se verbod op te tree.

In verskeie mites word die mensdom met 'n ontsaglike watervloed vir sy oortredings gestraf. Na die vloed is die aarde, die kosmos en die samelewing hervorm soos die mens dit vandag ken. Die hervorming word deurgevoer deur een of meer gesante van die godheid, wat dikwels ook die stamvader van die huidige mensegeslag is en op geheimsinnige wyse voortgebring is. Sulke verhale oor die herstel van die kultuur word soteriologiese mites genoem, dit wil sê verhale waarin een of meer reddersfiguur (sotèr) voorkom.

Die eskatologiese mites is presies die teenoorgestelde van die kosmogoniese mites en handel oor die dood en die einde van die wêreld. Volgens die Germaanse mitologie sal die gode teen die einde van die wêreld in 'n geveg verslaan en doodgemaak word. Die sogenaamde aetiologiese mites is verklarende mites wat volgens geleerdes nie mites in die oorspronklike sin is nie, maar latere toevoegings. Dit is verhale wat ʼn mitiese rede aangee vir besonderhede of verskynsels in die natuur of die eienaardige gebruike en gewoontes waarvan die herkoms nie meer bekend is nie.

Soms word die name van diere ook op die manier verklaar. In een van die mites word daar byvoorbeeld verklaar waarom die seekoei nie hare het nie (hy was glo eens op 'n tyd aan die brand en het toe in die water gespring; van toe af het sy hare nooit weer gegroei nie). Daar is ook ontelbare verklarings oor die ontstaan van rotse, berge en vreemde rotse.

Een van die bekendste verhale in die verband handel oor die Sipylusrots in die omgewing van Magnesia in Klein-Asië. Niobe, die dogter van die Frigiese koning Tantalos, het gespog omdat sy 7 seuns en 7 dogters het, terwyl Leto net 2 kinders gehad het, naamlik Apollo en Artemis. Om die onreg teenoor hulle moeder te wreek, het Apollo al 7 seuns doodgemaak en Artemis al 7 dogters. Niobe het toe glo van verdriet versteen en die water wat nou nog oor die Sipylusrots stroom, is haar trane.

Die held Theseus het sy vader, Aegeus, die koning van Athene, beloof om met wit seile aan sy skip terug te keer as hy niks oorgekom het nie. Toe Aegeus die skip later met donker seile sien nader kom, het hy homself uit wan hoop en verdriet in die see gewerp. Die see is toe na hom genoem en heet die Egeïese See. Die ontstaan van die konstellasie van die Groot en die Klein Beer in die hemelruim word op soortgelyke wyse verklaar. Zeus was eens op ʼn tyd verlief op Callisto ("die mooiste").