Illinois is met sy groot kosmopolitiese bevolking die mees bevolkte deelstaat in die midweste van die Verenigde State en die vyfde mees bevolkte op nasionale vlak, met 12,8 miljoen inwoners volgens die sensus van 2010 en 'n oppervlakte van 149 998 vk km. Sy hoofstad is Springfield.

Met sy ewewig van uitgestrekte voorstede en die metropool Chicago in die noordooste, landelike gebiede, klein nywerheidsdorpe en hoogs produktiewe landboubedryf in Sentraal- en Wes-Illinois, en die steenkoolmyne in die suide beskik die deelstaat oor 'n hoogs gediversifiseerde ekonomiese basis. Sy sentrale ligging, wat die Groot Mere via die Illinoisrivier met die Mississippirivier verbind, het van Illinois sowat 150 jaar lank 'n beduidende vervoersentrum gemaak. Sy mengsel van nywerhede en plase, van stedelike en plattelandse gebiede, maak van Illinois 'n ware mikrokosmos van die Verenigde State.

Terwyl die Illinoisrivier dwarsdeur die deelstaat vloei, vorm die Mississippirivier sy westelike en die Ohio- en Wabashriviere sy suidoostelike grenslyn. Die Michiganmeer lê in die noordooste van Illinois, net soos Chicago. duimnael|links|250px|French Canyon-waterval in Starved Rock State Park naby Utica Die oudste nedersettings van plaaslike Indiaanstamme het reeds omtrent 8000 v.C. ontstaan. Die sogenaamde Mississippi-beskawing met sy sentrum in Cahokia het sy bloeitydperk omtrent 1300 beleef; toe die eerste Europeërs hulle in die gebied gevestig het, was dit deur Algonkin-stamme bewoon.

Geskiedenis Die Franse ontdekkers Jacques Marquette en Louis Joliet het die gebied al in 1673 verken, en dit het tot en met 1763 onder Franse heerskappy gestaan. Ná die einde van die Franse en Indiaanse Oorlog het Illinois onder Britse bewind gekom. Ná die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring het dit eers deel uitgemaak van die Noordwesgebied (1783) en later van die Indianagebied (1800). Die Illinoisgebied, wat in 1809 gevorm is, is net nege jaar later as die 21ste deelstaat tot die Unie toegelaat.

Ondanks sy politieke verdeeldheid het Illinois gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog 'n deel van die Unie gebly. Die 20ste eeu was gekenmerk deur politieke mededinging tussen die Demokratiese en die Republikeinse Party, en sy groot aantal kiesmanne het van Illinois 'n belangrike politieke slagveld in presidensiële verkiesings gemaak. Illinois is tans een van die belangrikste nywerheidsentrums in die VSA met 'n beduidende masjienboubedryf en dienstesektor met talle assuransies.

Die belangrikste besienswaardighede is Shawnee National Forest, die Cahokia Mounds en 'n groot aantal staatsparke en historiese plekke soos New Salem en president Abraham Lincoln se huis en graf in Springfield. In die somer lok die grootste skou in die deelstaat, die Illinois State Fair, talle toeriste na Illinois.

Klimaat Illinois lê halfpad tussen die Kontinentale Waterskeiding en die Atlantiese Oseaan en meer as 500 myl noord van die Golf van Meksiko. Die deelstaat word dus deur 'n kontinentale klimaat met warm somers, koue winters en groot skommelings in temperatuur, humiditeit, windrigting en wolkbedekking gekenmerk, waar uiterste temperature nog deur berge nog deur oseane verlig word. duimnael|links|250px|Illinois was een van drie deelstate wat op 18 Maart 1925 deur die sogenaamde Tri-State Tornado geraak is, een van die mees verwoestendes ooit. Sewentien kinders het in die Longfellow-skool van Murphysboro gesterf toe die storm die gebou om 14h30 getref het Die weersomstandighede word gedurende die winter oorwegend deur koue Arktiese lug uit die noorde van Kanada en in die somer deur vogtige, warm lugmassas uit die Golf van Meksiko beïnvloed.

Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 47 °F in die noorde en 58 °F in die suide. Temperature met meer as 90 °F kom gereeld sowat 45 dae per jaar in die suide voor, maar net twaalf dae in die noorde. In die suide daal temperature net een dag per jaar of minder benede 0° F, maar op twaalf dae per jaar in die noorde. Die jaarlikse reënval beloop 34 duim in die noorde en 46 duim in die suide, die gemiddelde sneeuval 30 duim in die noorde en tien duim in die suide.

Meestal waai westewinde oor die vlaktes van Illinois, met 'n gemiddelde spoed van tussen agt en twaalf myl per uur. Windspoed is egter gewoonlik hoër in Chicago, waarmee hy sy treffende bynaam Windy City gekry het. In die algemeen is die windspoed in Illinois hoër in die winter.

Die meeste streke van Illinois het vier verskillende jaargetye, met die uitsondering van Chicago, waar die winter byna onmiddellik na die somer begin en waar volgens 'n gesegde "die wind die blare van die bome afwaai". Die bome in die digbebosde suide pronk in die herfstyd met 'n pragtige kleurespel.

Tornados hou steeds 'n bedreiging vir die hartland van Illinois in, veral in April en Junie. Ook ysreën in die winter kom veral in dié gedeelte van Illinois voor. Naas tornado's, oorstromings en weerlig is uiterste temperature die gevaarlikste weerverskynsel in Illinois. Hittegolwe in 1995 en 1999 het honderde menselewens geëis en tot kragonderbrekings in die metropolitaanse gebied van Chicago gelei.

Geografie Illinois grens in die noordooste aan die Michiganmeer, in die ooste aan die deelstaat Indiana, in die noorde aan die deelstaat Wisconsin en aan die Mississippi-rivier in die weste. Die Mississippi vorm ook die grenslyn tussen Illinois en die deelstate Missouri en Iowa.

Alhoewel Illinois deel uitmaak van die Binnelandse Vlaktes, is daar drie verskillende geografiese gebiede. Die Noorde word deur die metropolitaanse gebied van Chicago oorheers, met die Stad Chicago, sy voorstede en die aangrensende landelike gebiede, waarna die metropool begin uitbrei het. Volgens die definisie van die federale regering behels die metropolitaanse gebied van Chicago enkele distrikte in die deelstate Indiana en Wisconsin en strek oor die grootste deel van die noordoostelike Illinois. Hierdie kosmopolitiese streek is digbevolk en word deur hoë vlakke van industrialisering en etniese diversiteit gekenmerk. duimnael|links|250px|Chicago is die grootste stad in Illinois Teen die suide en weste lê Sentraal-Illinois, 'n gebied wat merendeels deur grasvlaktes oorheers word. Die westelike gebiede (wes van die Illinois-rivier) het oorspronklik deel uitgemaak van die Militêre Streek van 1812. Dit staan bekend as die Hart van Illinois en word deur kleiner dorpe en mediumgrootte stede gekenmerk. Landbou, veral mielies en sojabone, vorm naas 'n aantal nywerheidsgebiede en onderwysinstellings die gebied se ekonomiese basis. Stede sluit Peoria, die derde grootste metropolitaanse gebied in Illinois met 370 000 inwoners, Springfield (die hoofstad van Illinois), Decatur, Bloomington-Normal en Champaign-Urbana in.

Die Suidelike Illinois vorm die derde geografiese gebied, wat suid van die nasionale pad U.S. Route 50 lê en die streek Klein-Egipte naby die samevloeiing van die Mississippi- en Ohio-riviere insluit. Hierdie gebied verskil teenoor die ander twee veral ten opsigte van sy warmer klimaat, afwykende landbouprodukte (wat hier vroeër ook kleiner hoeveelhede katoen ingesluit het), die ruwe landskap, wat gedurende die verskillende Ystydperke nie vergletser was en die ontginning van steenkool. Daar is ook klein ru-olievelde in die suide.

Die suide van Illinois is effens digter bevolk as die sentrale gebiede. Die bevolking is veral gekonsentreer in Metro East, die tweede grootste metropolitaanse gebied in Illinois met naastenby 600 000 inwoners. Dit behels die voorstede van St. Louis wat in Illinois geleë is. Die tweede digbevolkte streek in die suide is die distrikte Williamson, Jackson, Franklin, Saline en Perry met 'n bevolking van sowat 210 000.

Die geweste buite die metropolitaanse gebied van Chicago word dikwels downstate Illinois genoem, alhoewel die bewoners van Sentraal- en Suid-Illinois hulle streke as aparte geografiese en kulturele gebiede beskou en hierdie term dus nie noodsaaklik gebruik nie.

Geskiedenis duimnael|250px|'n Graansuier wes van Champaign teen die naghemel

Die Voor-Kolumbiaanse tydperk Cahokia, die stedelike sentrum van die Voor-Kolumbiaanse Mississippi-beskawing, was naby die huidige Collinsville geleë. Hierdie beskawing het in die 15de eeu vir onbekende redes verdwyn. Hulle opvolger as beduidende moondheid in die gebied was die Illiniwek-konfederasie (soms ook Illini genoem), 'n politieke alliansie van verskeie stamme. Omtrent 1700 was daar sowat 25 000 Indiane in Illinois, maar as gevolg van stelselmatige aanvalle en volksmoordpogings deur die Irokese is hulle getalle met negentig persent verminder.Frederick E. Hoxie, Encyclopedia of North American Indians (1996), bl. 266-7, 506 Lede van die Potawatomi-, Miami-, Sauk- en ander stamme het vanuit die ooste en noorde na Illinois getrek om hulle hier te vestig.Nelson, Ronald E. (uitgewer): Illinois: Land and Life in the Prairie State. Dubuque (Iowa): Kendall Hunt Publishing 1978, Gedurende die Amerikaanse Rewolusie het die Illinois en die Potawatomi die Amerikaanse saak ondersteun.

Europese ontdekkers Die Franse ontdekkers Jacques Marquette en Louis Joliet het die Illinois-rivier in 1673 verken. As gevolg van hulle ekspedisie het Illinois tot by die jaar 1763 deel uitgemaak van die Franse koloniale ryk in Noord-Amerika en is daarna aan die Britte afgestaan. Die klein Franse nedersettings het voortbestaan, en afgesien van 'n klein aantal Britse soldate wat hier gestasioneer is, was daar geen Britse of Amerikaanse setlaars in die gebied.

In 1778 het George Rogers Clark namens die deelstaat Virginië aanspraak gemaak op die sogenaamde Illinois Country. Virginië het die gebied in 1783 aan die nuutgestigte Verenigde State van Amerika afgestaan, en dit het nou deel uitgemaak van die Noordwesgebied.

Die vroeë 19de eeu Die Illinois-Wabash Company was een van die eerste eisers wat op groot dele van Illinois aanspraak gemaak het. Die Illinois Territory ("Illinois-gebied") is op 3 Februarie 1809 met die hoofstad Kaskaskia geskep. Nege jaar later is Illinois as die 21ste Amerikaanse deelstaat tot die Unie toegelaat – maar eers nadat die plaaslike owerhede heeltemaal oordrewe bevolkingsyfers voorgelê het. Aanvanklik is daar 'n debat gevoer oor die invoering van slawerny in Illinois, maar met die grootskaalse vestiging van setlaars uit Kentucky in veral die suide van Illinois is sulke voorstelle verwerp. duimnael|links|250px|Hoof Black Hawk Danksy die afgevaardigde Nathaniel Pope uit Illinois het die Amerikaanse Kongres die noordelike grens van die deelstaat sowat 41 myl na 42° 30' Noord verskuif en sodoende 'n bykomende 8 500 vierkante myl by Illinois ingesluit, waaronder Chicago, Galena en mynbougebiede waar lood ontgin is. Kaskaskia het aanvanklik nog as hoofstad gedien, maar in 1819 is die administratiewe setel na Vandalia verskuif. Die Black Hawk War-Indiane, wat deur die owerhede in Iowa hervestig is, het in 1832 probeer om na Illinois terug te keer, maar is deur burgermagte verslaan en na Iowa teruggedryf.