Hierdie artikel handel oor die stad in Egipte. Vir die woonbuurt/township in Suid-Afrika, sien Alexandra. Die dorp Alexandria is in die Oos-Kaap. Alexandrië الإسكندرية 280px Kaart Wapen 180px|senter senter|75px Vlag senter|90px Land Goewernoraat 20px Alexandrië Koördinate Gestig in 331 v.C. Gestig deur Alexander die Grote Bevolking: - Totaal (Februarie 2013) 4 546 231 - Metropolitaanse gebied 4 600 000 Tydsone UTC +2 (SAT) - Somertyd UTC +3 (SAST) Goewerneur Ahmed KhaledHassan Said Amptelike webwerf Alexandrië
Alexandrië (Grieks: Ἀλεξάνδρεια, [Alexándreia]; Latyn: Alexandria; Kopties: Ⲣⲁⲕⲟϯ, Rakotə of ⲁⲗⲉⲝⲁⲛⲇⲣⲓⲁ; Arabies: الإسكندرية, Al-ʼIskandariya; Egiptiese Arabies: Iskindireyya) is die tweede grootste stad van Egipte naas Kaïro en sy belangrikste seehawe aan die Middellandse See met sowat vyf miljoen inwoners. Die stad huisves onder meer die Bibliotheca Alexandrina of Nuwe Biblioteek van Alexandrië en het danksy die aardgas- en oliepypleidings (Sumed-pyplyn) vanuit Suez tot 'n beduidende nywerheidsentrum ontwikkel. Dit beskik naas Kaïro oor een van die besigste internasionale lughawens in Egipte wat deur die vlagdraer EgyptAir bedien word.
duimnael|links|'n Satellietbeeld van Alexandrië in 2015 Die stad is die belangrikste van sowat driehonderd nedersettings wat die naam van Alexander die Grote dra en het danksy die invloedryke Ptolemeïese koningshuis tot een van die beduidendste metropole van die antieke wêreld en as hoofstad van Egipte tot die kulturele sentrum van die Hellenistiese wêreld ontwikkel.
Die stad se ekonomiese welvaart was veral aan die handel te danke; hier is invoere uit die ooste gehanteer en graan na Rome en later Konstantinopel verskeep. Sy kosmopolitiese bevolking het 'n belangrike Joodse gemeente ingesluit. Sy argitektuur en instellings, soos die Vuurtoring van Alexandrië (die eerste ter wêreld en een van die Sewe wonders van die wêreld) en die Biblioteek van Alexandrië, die grootste van die antieke wêreld, was van die beroemdstes van die Klassieke Oudheid.
Etimologie
Alexandrië is geleë op die plek van 'n vroeëre Egiptiese nedersetting, genoem Rhakotis (Grieks: Ῥακῶτις, Rhakôtis), die Gehelleniseerde vorm van die Egiptiese r-ꜥ-qd(y)t. As een van die vele nedersettings wat deur Alexander die Grote gestig is, is die stad wat hy op die plek van Rhakotis gestig het, Alexándreia hḗ kat' Aígypton (Ἀλεξάνδρεια ἡ κατ' Αἴγυπτον) genoem, wat sommige bronne vertaal as "Alexandrië by Egipte", aangesien die stad destyds buite van die eintlike Egipte geleë was (die gebied oorkant die Nylrivier). Dele van die Alexandrynse en Griekse bevolkings, byvoorbeeld Hypsicles, het na die stad ook verwys as Alexándreia hḗ prós Aígypton (Ἀλεξάνδρεια ἡ πρός Αἴγυπτον, "Alexandrië naby Egipte"). Tydens die Romeinse bewind is die stadsnaam gelatiniseer asAlexandrēa ad Aegyptum.
Ná die verowering van Alexandrië deur die Rasjidoene in 641 is die naam gearabiseer: oorspronklik is Al- weer ontleed in die bepaalde artikel; die metatese het voorgekom op x, van [ks] tot [sk]; en die agtervoegsel -eia is geassimileer in die vroulike byvoeglike agtervoegsel -iyya (ـِيَّة).
Geografie en klimaat duimnael|'n Satellietbeeld van Alexandrië in 1990 Alexandrië is geleë langs die suidelike kus van die Middellandse See in die uiterste westelike deel van die Nyldelta. Volgens Köppen het die 'n halfdroë (BSh) tot warm woestynklimaat (BWh).
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|'n Kaart van die Antieke Alexandrië Volgens argeologiese ontledings dateer die oudste nedersettings in die gebied van die Alexandrië uit die periode tussen 2700 en 2200 v.C., terwyl die stad tussen 1000 en 800 v.C. sy eerste bloeitydperk beleef het. In die 4de eeu v.C. was dit 'n onbeduidende Egiptiese visserdorp met die naam Rhakotis.
Stigting van Alexandrië duimnael|'n Moderne uitbeelding van die Vuurtoring van Alexandrië In 331 v.C. het die Grieks-Masedoniese koning, Alexander die Grote, die Persiese besetters uit Egipte verdryf. Volgens historiese oorlewerings het hy besoeke aan die destydse Egiptiese hoofstad Memphis en die Orakel van Zeus Ammon in die oase van Siwa afgelê, wat sy goddelike afkoms onthul het. Die stigting van Alexandrië was die ingewing van die digter Homeros se gees, wat tydens die reis in 'n droom aan Alexander verskyn het. Die bekende argitek Dinokrates van Rhodos het die opdrag gekry om net by die plek teenoor die eiland Pharos, waar Alexander na bewering geslaap het, 'n stad te beplan wat die koning se naam sou dra.
Dinokrates se stadsontwerp was een van die mees gesofistikeerdes in die Hellenistiese wêreld. Alhoewel daar tot driehonderd stede tydens Alexander se veldtog gestig en na hom Alexandrië vernoem is, was die Egiptiese Alexandrië verreweg die belangrikste. Alexandrië sou onder meer die stad Naucratis as die belangrikste Griekse nedersetting in Egipte vervang en is daarnaas ook as 'n strategiese sentrum tussen Griekeland en die ryk Nylvallei beplan.
Nogtans het Alexander die stad self nooit meer gesien nie. Hy het onmiddellik vertrek op sy verdere veldtogte in die ooste en is uiteindelik in 323 v.C. in Babilon (die huidige Irak) oorlede. Alexander se lyk is deur koning Ptolemeüs gesteel en in Alexandrië in 'n praalgraf ter ruste gelê. Alexander se visekoning Kleomenes het met die bou en uitbreiding van die stad voortgegaan.
Ptolemeïese dinastie en Cleopatra VII duimnael|Marcus Antonius en Cleopatra. Skildery deur Lawrence Alma-Tadema Die Ptolemeïese dinastie het sy heerskappy oor Egipte gevestig en Alexandrië as sy hoofstad bevorder en uitgebou. Vanweë die groot bevolkingsdigte van Egipte, veral in die Nylvallei, het die Griekse heersers dit onnodig geag om 'n groter aantal stede met Griekse karakter te stig. Naas klein militêre kolonies was die bestaande stad Naukratis in die Nyldelta en die nuutgestigte Ptolemaïs in Bo-Egipte die enigste Griekse stigtings.
Nogtans het Alexandrië vinnig tot een van die beduidendste stede in die Hellenistiese wêreld gegroei. Brucheion was die belangrikste van sy vyf stadswyke; hier was onder meer die koninklike paleis geleë.
Die Pharos (Vuurtoring) van Alexandrië, wat in die tydperk tussen 300 en 279 v.C. deur Sostratos van Knidos gebou is, was een van die Sewe Wonders van die Klassieke Oudheid, terwyl die Biblioteek van Alexandrië met sowat 700 000 skrifrolle die grootste ter wêreld was. Twee seehawens het Alexandrië met die Mediterreense lande verbind, terwyl die binnehawe aan die Mareotis-meer die handel met die res van Egipte en die Ooste gehanteer het.
Onder koningin Cleopatra VII, die laaste maar nogtans een van die mees ambisieuse Ptolemeïes-Lagidiese heersers, was Egipte al 'n vasalstaat van die Romeinse Ryk. Haar pogings om Gaius Julius Caesar, Marcus Antonius en Octavianus (die latere keiser Augustus) as bondgenote vir die stigting van 'n Romeins-Hellenistiese monargie te werf, was uiteindelik tevergeefs. Die presiese planne van Caesar en Cleopatra bly nog steeds raaiselagtig; hulle was 'n liefdespaar en Cleopatra was die moeder van Caesar se enigste seun, Kaisarion (Latyns Caesarion, "Klein-Caesar"). Die Romeinse geskiedskrywer, Suetonius, beweer dat hulle van plan was om met spesiale vergunning te trou en 'n tweeledige ryk met die hoofstede Rome en Alexandrië te stig. In Caesar se testament word Kaisarion egter nie genoem nie.
Alexandrië onder Romeinse heerskappy duimnael|'n Graniet-sfinks uit die Ptolemeïese tydperk duimnael|Bouvalle van die Romeinse amfiteater Ná die dood van haar minnaars Caesar, wat in 44 v.C. vermoor is, en Marcus Antonius, wat 30 v.C. selfmoord gepleeg het, het Octavianus, die oorwinnaar in die Romeinse Burgeroorloë, oorlog teen die welvarende land verklaar en dit in die jaar 30 v.C. verower. Cleopatra VII het selfmoord gepleeg, nadat Octavianus Alexandrië in 'n triomftog beset het. Octavianus het Alexandrië, net soos die res van die land, wat as keiserlike provinsie by die Romeinse Ryk ingelyf is, as 'n persoonlike besitting beskou. Die land is geïsoleer en Romeinse senatore is toegang geweier. Die vrugbare Nylvallei het met sy ongekende rykdom tot die Romeinse staatskas bygedra. Alhoewel die Alexandryne van hulle historiese stadsraad, die bule, ontneem is, het Octavianus die Ptolemeïese grondwetlike bepaling, dat Alexandrië amptelik nie deel uitgemaak het van Egipte nie, steeds behou: ook die Romeine het verwys na Alexandria ad Aegyptum ("Alexandrië by Egipte") en titels soos "prefek van Alexandrië en Egipte" gebruik.
Alexandrië het na Rome 'n tyd lank die tweede grootste en belangrikste stad van die Romeinse Ryk gebly en sy naam aan die Alexandrynse Tydperk verleen. Sy bevolkingsdigtheid was ongekend in die Klassieke Oudheid: Diodoros het die aantal vrye burgers in die Laat-Hellenistiese tydperk op sowat 300 000 beraam. Volgens moderne skattings het die bevolking in die Laat-Romeinse periode selfs 500 000 beloop, waaronder sowat 180 000 Joodse burgers. Die stadsbuurte was volgens etniese en godsdienstige lyne verdeel, met woonkwartiere vir Griekse, Joodse en Koptiese burgers. Die Joods-Helleense filosoof, Philo van Alexandrië (omtrent 15/10 v.C. – 40 n.C.), het na sy geboortestad dan ook met die treffende Griekse term polypolis verwys – dit was vir hom 'n soort inhomogene stad, wat uit baie etniese buurte met uiteenlopende kulturele agtergronde bestaan het. Baie Egiptiese boere het hulle in Alexandrië gevestig om aan die knellende armoede en drukkende belasting te ontkom. Die Grieke het hierdie migrante "Anachorete" genoem.
Die bevolking van Alexandrië was nogtans merendeels van Griekse afkoms, alhoewel in die Ptolemeïese periode net Griekse burgers met 'n Alexandrynse vader en 'n Alexandrynse moeder volwaardige burgers was. Gemengde huwelike het die aantal Alexandrynse burgers dus waarskynlik geleidelik verminder.
Onder die heerskappy van die Ptolemeïes-Lagidiese dinastie is Joodse burgers in Egipte steeds by die Hellene gereken – die bevoorregte Griekssprekende bevolking. Die Romeine het hierdie status drasties afgeskaal, en net 'n baie klein groep van hulle het later Romeinse burgerskap gekry. Gevolglik is daar gewoonlik na hulle nie as Alexandryne verwys nie, maar as die "Jode van Alexandrië". Die Christelike godsdiens is volgens historiese oorlewerings in 61 deur die evangelis Markus ingevoer en het hier net soos elders in Noord-Afrika vinnig uitgebrei. In Alexandrië het baie Griekse burgers die nuwe geloof aangeneem. Ander historiese bronne beweer dat die eerste Christene in Alexandrië uit die Joodse bevolking gekom het soos Apollos en die eerste Christelike gemeenskappe dus moontlik reeds in die jaar 50 bestaan het.
Antieke bronne verwys na die prikkelbaarheid van sy inwoners en die groot aantal onluste en opstande wat daaruit voortgespruit het. Veral die Joodse burgers het onder die heerskappy van die keisers Claudius, Nero, Titus en Trajanus verskeie kere in opstand teen die Romeine gekom en volgens historiese bronne is tienduisende tydens die onluste gedood. Ná die laaste rebellie teen die begin van die 2de eeu het baie Joodse burgers na die Fezzan-gebied in die noordelike Sahara gevlug. Gedurende die 3de eeu is die Romeinse gesag steeds meer ondermyn; tydens die onluste van 274 het selfs 'n Romeinse papiervervaardiger aanspraak op die titel Augustus gemaak. Die opstand is deur keiser Diocletianus later met brute geweld neergeslaan.
In die laat-antieke tydperk het Alexandrië as 'n belangrike kulturele en Christelik-teologiese sentrum bekend gestaan. Anders as die universiteit van Athene was Alexandrië se akademiese instelling oop teenoor die Christelike godsdiens. In die Bisantynse Ryk was Alexandrië naas Konstantinopel en Antiogië aan die Orontes die beduidendste stad. In 619 is Egipte deur die Islamitiese Sassaniete verower, maar het na die jaar 628 weer Bisantyns geword. Veertien jaar later was die stad egter vir die Bisantynse Ryk vir goed verlore en is dit deur die Arabiere ingeneem.
Middeleeue en moderne tyd duimnael|links|Bibliotheca Alexandrina