Tiglat-Pileser IIISpelling volgens 2 Konings, 1-2 Kronieke in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel (uit Hebreeus: תִּגְלַת פִּלְאֶסֶר; Akkadies: 𒆪𒋾𒀀𒂍𒊹𒊏 Tukultī-apil-Ešarra, "my vertroue is in die seun van Ešarra") was in die 8ste eeu v.C. (745-727 v.C.) koning van die Nieu-Assiriese Ryk. Hy was een van die prominentste en histories belangrikste Assiriese konings wat 'n tydperk van stagnasie omgekeer het, talle gevorderde burgerlike, militêre en politieke stelsels ingestel en die grondgebied onder Assiriese beheer meer as verdubbel het.

Vanweë die enorme uitbreiding en sentralisasie van die Assiriese gebied en die stigting van 'n vaste weermag, beskou sommige historici Tiglat-Pileser se bewind as die ware oorgang van Assirië in 'n ryk. Die hervormings en metodes van beheer wat hy bekend gestel het, het nie net die basis geskep vir beleide wat deur latere Assiriese konings gevolg is nie, maar ook deur latere ryke vir millenniums ná sy dood.

Die omstandighede waaronder Tiglat-Pileser koning geword het, is nie duidelik nie. Omdat antieke Assiriese bronne teenstrydige weergawes van sy afkoms gee en daar 'n opstand was om en by die tyd van sy troonbestyging, het baie historici tot die gevolgtrekking gekom dat hy 'n troonrower was wat die troon van sy voorganger, Assur-nirari V, afgeneem het. Dié was óf sy pa óf sy broer. Ander historici meen die bewyse kan ook vertolk word as dat hy die troon op 'n wettige wyse geërf het. Die debat duur voort.

Tiglat-Pileser III het vroeg in sy bewind die koninklike mag vergroot deur die invloed van prominente amptenare en generaals in te kort. Hy het ’n groot deel van die antieke Nabye Ooste onderwerp; in die suide sy mede-Mesopotamiërs in Babilonië en Galdea, asook verskeie volke van die Arabiese Skiereiland; in die suidweste Israel, Juda, Filistea, Samarra, Moab, Edom, die Suteërs en Nabatea; in die noorde Urartu, Armenië en Skitië in die Kaukasus, Krimmerië aan die Swartsee, en Nairi; in die noordweste ’n groot deel van oostelike en suidwestelike Klein-Asië, insluitende die Hetiete, Frigië en Karië; in die weste die Grieke van Siprus en Aram (die hedendaagse Sirië), en die Mediterreense stadstate Fenisië/Kanaän; in die ooste Persië, Medië, die Goeteërs, die Manneërs en Elam. Later tydens sy bewind is hy ook in Babilonië as koning gekroon.

Tiglat-Pileser III het opstande teen die Assiriese bewind ontmoedig deur middel van die gedwonge deportasie van duisende mense deur sy hele ryk. Hy was een van die suksesvolste militêre aanvoerders in die wêreldgeskiedenis – hy het die grootste deel van die wêreld verower wat aan die Assiriërs bekend was.

Agtergrond Afkoms en troonbestyging thumb|180px|links|Tiglah-Pileser III in 'n koninklike strydwa op een van die reliëfs uit die koninklike paleis in Nimrud.

Daar is nie genoeg bewyse wat bewaar gebly het om te kan weet hoe Tiglat-Pileser III op die troon gekom het nie. Die aard van sy opvolging is dus onduidelik en word betwis. Verskeie bewyse dui aan dat hy 'n troonsteler (usurpator) kon gewees het. Feite wat hierop dui, is dat daar in 746/'45 v.C. 'n opstand in Nimrud, die hoofstad van die Assiriese Ryk, was en dat talle amptenare en goewerneurs ná 745 v.C. vervang is. Daarbenewens gee antieke Assiriese bronne teenstrydige inligting oor Tiglat-Pileser se afkoms, terwyl inskripsies deur Tiglat-Pileser self beweer sy troonbestyging is slegs danksy goddelike seleksie, eerder as die tipieser praktyk van Assiriese konings om hulle troonbestyging toe te skryf aan goddelike seleksie én koninklike afkoms. Volgens die Assiriese Koningslys was Tiglat-Pileser se vader sy onmiddellike voorganger, Assur-nirari V, terwyl Tiglat-Pileser self in sy inskripsies beweer hy was die seun van Adad-nirari III, wat beteken hy was Assur-nirari se broer.

Assirioloë en ander historici het oorwegend tot die gevolgtrekking gekom dat Tiglat-Pileser 'n troonrower was. Die Assirioloog Bradley J. Parker sê selfs hy was glad nie deel van die vorige koninklike dinastie nie, maar volgens die Assirioloog Karen Radner is sy bewerings van koninklike afkoms waarskynlik waar, wat beteken hy was 'n wettige aanspraakmaker op die troon, al het hy dit geroof. Hy was volgens haar die wenner in 'n interdinastiese burgeroorlog. Daar was geen opstande teen Tiglat-Pileser nadat hy die troon oorgeneem het nie.

Of hy van koninkliike afkoms was of nie, dit is steeds onseker wie se seun hy was. Die Assiriese Koningslys kon 'n fout gemaak het dat hy Assur-nirari se seun was, hoewel dit onwaarskynlik was volgens die Assirioloog Paul Garelli, omdat daar 'n verskil van 38 jaar is tussen Adad-nirari en Tiglat-Pileser se bewind. Dit kan wees dat die woord "seun" in Tiglat-Pileser se inskripsies eintlik "kleinseun" beteken, wat beteken hy was óf Assur-nirari se seun óf Adad-nirari s'n, maar het redelik laat die troon bestyg, toe hy moontlik al 50 was.

thumb|300px|'n Muurskildering van Tiglat-Pileser (sittende). Die amptenaar die naaste aan hom aan die regterkant is sy seun Salmaneser V. Die Assiriese Eponiemkroniek ('n lys eponieme, of jaarname, wat gewoonlik deur invloedryke amptenare gekies is) bevestig dat daar 'n opstand in Nimrud was die jaar voordat Tiglat-Pileser koning geword het. Die historikus Stefan Zawadzki het in 1994 geskryf die eponieme werp ook lig op hoe die oorgang van Assur-nirari na Tiglat-Pileser kon plaasgevind het. Volgens Zawadzki en ander is dit 'n aanduiding dat hy die troon ná 'n staatsgreep bestyg het. Zawadzki meen die staatsgreep is dalk nie deur Tiglat-Pileser self begin nie, maar met sy medewete en toestemming. Die Assirioloog Paul Garelli glo die opstand in 746 v.C. is deur die invloedryke hofamptenaar Samsi-ilu begin en dat Tiglat-Pileser die opstand onderdruk en die troon geërf het.

Volgens die historikus Tracy Davenport was Tiglat-Pileser se bewind heeltemal wettig en het hy dalk vir 'n ruk saam met Assur-nirari regeer. Sy het ook die Eponiemkroniek bestudeer en bevind sekere feite dui daarop dat Assur-nirari tot in 744 v.C. kon regeer het, en van 745 tot 744 v.C. saam met Tiglat-Pileser. Beide die Eponiemkroniek en Koningslys lui Assur-nirari het 10 jaar lank regeer, dus tot 744 v.C.

Naam thumb|180px|Konings Phull en Theglathphalasar in die Nürembergkroniek van 1493, wat Tiglat-Pileser en Pulu verwar as twee verskillende konings. Omdat Assirië eeue lank bekend was vanweë sy verskyning in die Hebreeuse Bybel, word die Bybelse vorm van hulle name algemeen gebruik. Die moderne naam Tiglat-Pileser kom dus van die Hebreeuse Tīglaṯ Pīl'eser (תִּגְלַת פִּלְאֶסֶר), 'n verkeerde vorm van die oorspronklike Akkadiese naam, Tukultī-apil-Ešarra (20px26px13px29px17px33px). Tukultī-apil-Ešarra is waarskynlik 'n troonnaam wat hy aangeneem het toe hy koning geword het en beteken "my vertroue is in die seun van Ešarra". Ešarra was 'n tempel wat aan die god Ninurta gewy was (wat dus "die seun van Ešarra" was). Teen die tyd van Tiglat-Pileser se bewind is Ninurta beskou as die seun van die nasionale god Assur.

In sommige bronne wat nie uit dié tyd spruit nie, soos die Ptolemeuse Kanon en die Babiloniese Koningslys, word Tiglat-Pileser Pulu genoem (Pūlu, 32px26px). Die etimologie hiervan is onseker. Geen kontemporêre bron gebruik dié naam nie en daar is geen bewyse dat dit ooit amptelik gebruik is nie. Sommige Assirioloë, soos Eckart Frahm en Paul-Alain Beaulieu, het voorgestel Pulu was Tiglat-Pileser se oorspronklike naam voordat hy koning geword en sy troonnaam aangeneem het, of dalk 'n bynaam.

Volgens Gerard Gertoux was Tiglat-Pileser III die seun van Adad-nirari III en het hy die naam Pulu as jong medeheerser gebruik. Toe hy vir die laaste twee jaar van sy lewe koning van Babilon word, het dit weer sy amptelike naam in Babilon geword. Gertoux meen die naam kom van die woord aplu, “die erfgenaam”.Gerard Gertoux 2015, Assyrian and biblical chronologies are they reliable? (hersien in 2023) 61 bladsye - hal.science

Assirië voor Tiglat-Pileser Assirië se opkoms as 'n prominente staat was die eerste keer tydens die tydperk van die Middel-Assiriese Ryk in die 14de eeu v.C. Dit was voorheen net 'n stadstaat wat gesentreer was om die stad Assur. Van die 12de eeu v.C. af het die Middel-Assiriese Ryk 'n tydperk van agteruitgang beleef en was dit toenemend beperk tot net die Assiriese hartland self. Hoewel die agteruitgang soms beëindig is deur energieke vegter-konings, het herowerings nie lank gehou nie – tot met die tyd van Assur-dan II (bewind 934-912 v.C.), wat in die noordooste en noordweste veldtogte gevoer het. Die troonbestyging van Assur-dan se seun Adad-nirari II (bewind 911-891 v.C.) merk tradisioneel die begin van die Nieu-Assiriese Ryk.

Onder die vroeë Nieu-Assiriese konings was daar 'n geleidelike herowering van Assiriese grondgebied. Die sukses hiervan was besonders in die lig daarvan dat dié konings basies die Assiriese Ryk van voor af moes opbou. Onder Assurnasirpal II (bewind 883-859 v.C.) het die Nieu-Assiriese Ryk die oorheersende politieke mag in die antieke Nabye Ooste geword. Assurnasirpal se seun Salmaneser III (bewind 859-824 v.C.) het die Assiriese grondgebied verder vergroot, maar dit was moeilik om die gebied te stabiliseer en die laaste paar jaar van sy bewind is gekenmerk deur 'n hernude tydperk van stagnasie en agteruitgang, met beide eksterne en interne konflik.

thumb|240px|Sarduri II van Urartu, 'n groot teenstander van Assirie. Die grootste probleme waarmee Salmaneser laat in sy bewind te doen gekry het, was die opkoms van die koninkryk Urartu in die noorde en die toenemende politieke gesag en invloed van die "magnate", 'n groep invloedryke Assiriese howelinge en amptenare. Die opkoms van Urartu was 'n bedreiging vir Assiriese heerskappy, want onderwerping aan Urartu is daur baie vasals beskou as 'n realistiese alternatief vir Assirië. Urartu se administrasie, kultuur, skryfstelsel en godsdiens het baie ooreengestem met dié van Assirië. Die konings was ook outokrate, nes die Assiriese konings. Die uitbreiding van grondgebied deur die konings van beide Urartu en Assirië het gelei tot gereelde militêre botsings tussen die twee, al was hulle deur die Taurusberge geskei.

Vir 'n kort ruk was Urartu se weermag net so sterk soos Assirië s'n, hoewel die Assiriërs baie oorwinnings oor Urartu behaal het, soos die plundering van Urartu se hartland laat in Salmaneser se bewind. Urartu het egter self oorwinnings behaal. In 754 het koning Sarduri II van Urartu die Assiriese weermag onder Assur-nirari V by Arpad oorwin, 'n gebeurtenis wat daartoe kon gelei het dat die Assiriese weermag vir jare daarna nie veldtogte gevoer het nie.

Die Assiriese konings kon nie eksterne bedreigings afweer nie, omdat die magnate geleidelik die oorheersende politieke spelers geword en die sentrale regering baie verswak het. Die bewind van Tiglat-Pileser se drie voorgangers, Salmaneser IV (783-773 v.C.), Assur-dan III (773-755 v.C.) en Assur-nirari V, was die laagtepunt van Assiriese koninklike mag. In Salmaneser IV se bewind het die bevelvoerder Samsi-ilu homself in plaas van die koning krediet vir militêre oorwinnings gegee. Dit lyk of Assur-nirari V redelik laks was as heerser. Hy het net drie veldtogte gevoer en deur die grootste deel van sy bewind in Assirië gebly. Hy het ook sover bekend nie enige bouprojekte aangepak nie.

Bewind Hervormings en beleide thumb|240px|'n Reliëf van Nimrud wat wys hoe Tiglat-Pileser (regs) op 'n verslane vyand trap.