Alexander III of Alexander die Grote (Grieks: Αλέξανδρος, Aléxandros; 20 of 21 Julie 356 v.C. - 10 of 11 Junie 323 v.C.) was die koning van die antieke Griekse koninkryk Masedonië. Hy het sy pa, Philippos II, in 336 v.C. op 20-jarige ouderdom opgevolg en het die grootste deel van sy bewind bestee om 'n lang militêre verldtog deur Wes-Asië, Sentraal-Asië, dele van Suid-Asië en antieke Egipte te voer.
Teen die ouderdom van 30 het hy een van die grootste ryke in die geskiedenis opgebou, van Griekeland tot Noordwes-Indië.Bloom, Jonathan M.; Blair, Sheila S. (2009), The Grove Encyclopedia of Islamic Art and Architecture: Mosul to Zirid, Volume 3. (Oxford University Press Incorporated, 2009), 385; "[Khojand, Tadjikistan] Hy is nooit verslaan nie en word algemeen beskou as een van die geskiedenis se grootste en suksesvolste militêre aanvoerders.
Tot op 16 jaar was Aristoteles sy onderwyser. In 335 v.C., kort nadat hy koning van Masedonië geword het, het hy ’n veldtog in die Balkan gevoer en beheer oor Thrasië en dele van Illirië herbevestig voordat hy na die stad Thebe marsjeer het. Die stad is in die daaropvolgende geveg vernietig. Alexander het toe die Korintiese Bond gelei en sy gesag gebruik om die pan-Hellenistiese projek wat deur sy vader beplan is van stapel te stuur. Hy het leierskap van alle Grieke aanvaar in hulle verowering van Persië.
In 334 v.C. het hy die Achaemenidiese Ryk ingeval en 'n reeks veldtogte begin wat 10 jaar geduur het. Ná sy verowering van Klein-Asië het Alexander die mag van die Achaemenidiese Persië gebreek in 'n reeks beslissende gevegte. Daarna het hy Darius III omvergewerp en die Achaemenidiese Ryk in sy geheel verower.
Ná die val van Persië het die Masedoniese Ryk 'n uitgestrekte gebied tussen die Adriatiese See en die Indusrivier beslaan. Alexander het probeer om die "uiteindes van die wêreld en die Groot Buitenste See" te bereik en het in 326 v.C. Indië binnegeval, waar hy 'n belangrike oorwinning behaal het oor Porus, 'n antieke Indiese koning van die hedendaagse Punjab. Weens die muitery van sy troepe, wat huis toe verlang het, het hy uiteindelik by die Beasrivier omgedraai en is later, in 323 v.C., oorlede in Babilon, die stad in Mesopotamië wat hy beplan het om as sy ryk se hoofstad te vestig. Alexander se dood het 'n reeks beplande militêre en handelsveldtogte onvoltooid gelaat, wat sou begin het met 'n Griekse inval in Arabië. In die jare ná sy dood het 'n reeks burgeroorloë deur die Masedoniese Ryk uitgebreek, wat uiteindelik tot die verbrokkeling daarvan gelei het.
Sy dood het die Hellenistiese tydperk ingelui. Hy het meer as 20 stede gestig, waarvan die bekendste Alexandrië in Egipte is. Alexander se vestiging van Griekse koloniste en die gevolglike verspreiding van die Griekse kultuur het gelei tot die oorheersende invloed van die Hellenistiese beskawing tot so ver oos as die Indiese subkontinent. Alexander se militêre prestasies en ongekende blywende suksesse het hom die maatstaf gemaak waarteen baie latere militêre leiers hulself gemeet het, en sy taktiek bly 'n belangrike onderwerp van studie in militêre akademies wêreldwyd.
Jeug thumb|180px|links|Alexander se vader, Philippos II of Masedonië.
Alexander se vader, Philippos II, het in 359 v.C. koning van Masedonië geword. Die bevolking van hierdie landjie in Noord-Griekeland was onopgevoed in vergelyking met die Atheners, maar hulle was uitstekende krygsmanne. Philippos het sy leër die gedugste mag van daardie eeu gemaak en toe die Griekse state gedwing om hom as hul leier te aanvaar. Athene en Sparta was vanweë onderlinge oorloë te swak om hulle teen Masedonië te verenig.
In 336 v.C., terwyl Philippos besig was om 'n inval in die groot Persiese Ryk, Griekeland se tradisionele vyand, te beplan, is hy in 'n sameswering in sy paleis vermoor en sy seun Alexander het op twintigjarige ouderdom koning geword.
Alexander se vader het hom praktiese opleiding in die krygswetenskap gegee, maar die groot wysgeer Aristoteles het hom in die Griekse poësie en wetenskap opgevoed. Later het Alexander verklaar dat Aristoteles hom geleer het hoe om logies te dink. Sy geliefkoosde leesstof was die Ilias van Homeros.
Op die 24ste dag van die Masedoniese maand Dios, wat waarskynlik ooreenstem met 25 Oktober 336 v.C., is Philippos, terwyl hy die troue van sy dogter bygewoon het, vermoor deur die kaptein van sy lyfwagte, Pausanias.
Terwyl Pausanias probeer ontsnap het, het hy oor 'n wingerdstok gestruikel en is hy deur sy agtervolgers doodgemaak, insluitende twee van Alexander se metgeselle. Alexander is op die ouderdom van 20 deur die adel en die leër as koning verklaar.
Koning van Masedonië thumb|180px|Pausanias vermoor Philippos II op sy dogter se troue.
Konsolidasie van mag Alexander het sy bewind begin deur sy moontlike teenstanders om die troon uit te skakel. Hy het sy neef die voormalige Amyntas IV laat teregstel. Hy het ook twee Masedoniese prinse laat doodmaak vir hulle aandeel in sy pa se dood.
Nuus van Philippos se dood het baie state tot opstand aangevuur, insluitende Thebe, Athene, Thessalië en die Thraciese stamme noord van Masedonië. Toe Alexander van die opstande hoor, het hy vinnig gereageer. Hoewel hy aangeraai is om diplomasie te gebruik, het hy 3 000 Masedoniese ruiters bymekaargemaak en suidwaarts na Thessalië gery. Hy het die Thessaliese leër gevind waar hulle die pas tussen die berge Olimpus en Ossa beset het en het sy manne beveel om oor Ossa te ry. Toe die Thessaliërs die volgende oggend wakker word, het hulle Alexander in hul agterhoede gevind, dadelik oorgegee en hul ruiters by Alexander se mag gevoeg. Hy het toe sy reis suidwaarts voortgesit.
Athene het om vrede gesmeek en Alexander het die rebelle vergewe. In Korinthe het Alexander die titel hegemon ("leier") aangeneem en, net soos Philippos, is hy as opperbevelvoerder vir die komende oorlog teen Persië aangestel. Hy het ook nuus ontvang van 'n Thraciese opstand.,
Balkan-veldtog thumb|220px|Die Masedoniese falanks in die geveg teen die Thraciërs in 335 v.C.
Voordat hy na Asië vertrek het, wou Alexander sy noordelike grense beveilig. In die lente van 335 v.C. het hy verskeie opstande gaan onderdruk. Van Amfipolis het hy ooswaarts opgeruk en die Thraciese magte verslaan. Die Masedoniese leër het die land van die Triballi binnegegaan en hulle leër verslaan. Daarna het Alexander na die Donou gereis, waar hy die Getae-stam verras en hulle leër gedwing het om terug te val.,
Nuus het Alexander bereik dat die Illiriese leier, Kleitos, en koning Glaukias van die Taulantii openlik 'n rebellie teen sy mag voer. Hy het weswaarts na Illirië masjeer en die leiers die een ná die ander verslaan, en hulle gedwing om saam met hulle soldate te vlug. Hiermee was sy noordelike grens beveilig.,
Verwoesting van Thebe Terwyl Alexander in die noorde veldtogte gevoer het, het die mense van Athene en Thebe weer in opstand gekom. Alexander het dadelik suidwaarts opgeruk. Die ander stede het geweifel, maar Thebe het besluit om te veg. Alexander het die stad verwoes, en dit het Athene bang gemaak. Die hele Griekeland was nou tydelik vreedsaam. Alexander het hierna op sy Asiatiese veltog vertrek en Antipater, een van sy veldhere, as regent aangestel.
Verowering van die Achaemenidiese Persië Strategie Nadat Alexader sy Griekse basis beveilig en die volke van die Balkan verslaan het, en nadat hy sy leër van agter beskerm het deur die verowering die hele Afro-Asiatiese kuslyn, waar die Persiese vloot gabaseer was en van waar dit van voorraad voorsien is, het Alexander die Perse regstreeks gekonfronteer. Hy het dus die ewige probleem opgelos van 'n leër wat operasies tot diep in vyandelike gebiede uitvoer.
Klein-Asië thumb|350px|'n Kaart van Alexander se ryk en sy roete.
Van 338 v.C. af het Alexander se vader, Philippos II, begin om hom as hegemon (Grieks: ἡγεμών) van 'n bond verklaar te kry wat 'n veldtog sou voer teen die Perse vir die verliese wat die Grieke in die tweede Persiese inval in Griekeland (480 v.C.) gelei het en die Griekse stede van die weskus en eilande sou verlos van Achaemenidiese heerskappy. In 336 v.C. het hy 'n leër van 10 000 man na Anatolië gestuur om voorbereidings vir 'n inval te tref. Die Griekse stede aan die weskus van Anatolië het in opstand gekom totdat hulle die nuus gekry het dat Philippos vermoor en deur sy jong seun Alexander opgevolg is. Die Masedoniërs se moed is deur Philippos se dood gebreek en hulle is deur die Achaemeniede onder Memnon van Rhodos verslaan.
Alexander het die projek van sy vader oorgeneem en sy leër het die Hellespont (die Dardanelle) in 334 v.C. oorgesteek met sowat 48 100 soldate, 6 100 perderuiters en 'n vloot van 120 skepe, met 'n bemanning van sowat 38 000. Hy het sy voorneme gewys om die hele Persiese Ryk oor te neem deur 'n spies in die Asiatiese grond te werp en te sê hy aanvaar Asië as 'n geskenk van die gode. Dit het ook gewys hy is gretig om te veg, in teenstelling met sy vader se voorkeur vir diplomasie.
Na 'n aanvanklike oorwinning teen die Persiese magte het Alexander die oorgawe van die Persiese provinsiale hoofstad en skatkis van Sardis aanvaar. Daarna het hy met die Ioniese kus langs beweeg en outonomie en demokrasie aan die stede verleen. By Halikarnassos in Karië het Alexander sy eerste grootskaalse beleg suksesvol uitgevoer en uiteindelik sy teenstanders, die huursoldaatkaptein Memnon van Rhodos en die Persiese satraap van Karië, Orontobates, gedwing om per see te onttrek. Alexander het die regering van Karië aan 'n lid van die Hekatomnidiese dinastie, Ada, oorgelaat wat Alexander as haar seun aangeneem het.
Van Halikarnassos het Alexander die bergagtige Lisië en die Pamfiliese vlakte binnegegaan en beheer oor alle kusstede verkry om die Persiërs van vlootbasisse te ontneem. Daarna is hy die binneland in. By die antieke Frigiese hoofstad Gordium het Alexander die ingewikkelde Gordiaanse knoop losgemaak, 'n prestasie wat volgens oorlewering vir die toekomstige "koning van Klein-Asië" bestem was. Volgens die verhaal het Alexander verklaar dit maak nie saak hoe die knoop losgemaak moet word nie en het hy dit eenvoudig met sy swaard deurgehak (deurgekap), vandaar die uitdrukking "die Gordiaanse (of gordiaanse) knoop deurhak".
Die Levant en Sirië In die lente van 333 v.C. het Alexander die Taurus oorgesteek na Silisië. Ná 'n lang onderbreking weens 'n siekte het hy na Sirië opgeruk. Hoewel hy deur Darius se aansienlik groter leërmag uitoorlê is, het hy teruggetrek na Silisië, waar hy Darius by Issus verslaan het. Darius het van die slagveld gevlug. Hy het 'n vredesverdrag gesluit en die gebiede wat hy reeds verloor het aan Alexander oorgelaat. Dié het voortgegaan om Sirië en die grootste deel van die kus van die Levant oor te neem. In die daaropvolgende jaar, 332 v.C., het hy Tirus aangeval. Hy het dit ná 'n lang en moeilike beleg verower.
Egipte thumb|220px|Alexander se naam geskryf in Egiptiese hiërogliewe (van regs na links), omstreeks 332 v.C. (Louvre).
Nadat Alexander Tirus vernietig het, het die meeste van die stede op die roete na Egipte vinnig oorgegee. Hy het egter by Gaza weerstand ervaar. Die vesting was swaar versterk en op 'n heuwel gebou, wat 'n beleg nodig gemaak het. Toe sy ingenieurs vir hom sê dit sou onmoontlik wees as gevolg van die hoogte van die heuwel, het dit Alexander net meer aangemoedig om dit te waag. Ná drie onsuksesvolle aanvalle het die vesting geval, maar nie voordat Alexander 'n ernstige skouerwond opgedoen het nie. Soos in Tirus, is mans van militêre ouderdom met die swaard doodgemaak en die vroue en kinders is as slawe verkoop.