Somerset-Oos is 'n dorp in die Oos-Kaap in die Kaapse Middellande aan die voet van die boomryke Boschberg, 185 km noord van Gqeberha en 820 meter bo seespieël geleë. Dit lê ook aan die teerpad tussen Oos-Londen en Kaapstad. Somerset-Oos is 'n gewilde binnelandse vakansieoord vir mense wat aan die kus in Gqeberha en omstreke woon. Van die dorp se aantreklikhede is onder meer 'n museum, die Walter Battiss-kunsmuseum en 'n nabygeleë natuurreservaat. Daar is ook 'n woonwapark met alle moderne geriewe. Somerset-Oos het 'n bestendige bevolking, want in 2007 was hier na raming 16 176 inwoners, slegs sowat 500 meer as in 1996. In 2013 was die skatting 17 908, skaars 700 meer in 2008 se 17 271.. URL besoek op 24 Junie 2013.
Geskiedenis Die eerste setlaar in die gebied was Willem Prinsloo. Hy het hom onder die Bosberg kom vestig, baie na aan die huidige museum, vroeër die NG gemeente Somerset-Oos se pastorie waarin vier predikante agtereenvolgens gewoon het. Prinsloo was die nieamptelike veldkornet van die distrik waarin minstens 20 ander gesinne hulle teen die jaar 1774 gevestig het. Hulle het ’n versoekskrif aan die koloniale owerheid in die Kaap gerig met ’n versoek om ’n drosdy en gemeente hier te vestig. So het Graaff-Reinet ontstaan. Op ’n tydstip het Prinsloo dele van sy plaas afgestaan en ’n boer genaamd Otto het kom woon op die deel wat nou as Bestershoek bekendstaan. Later het ook die familie Trichardt en die Besters gevolg.
Lord Charles Somerset (1767–1831), goewerneur van die Kaapkolonie van 1814 tot 1826, wou die voorstel van goewerneur sir John Cradock en goewerneur Caledon uitvoer dat ’n nedersetting aan die indertydse oosgrens gevestig moes word en aanvoorwerk gedoen vir ’n plan om ’n proefplaas in die omgewing uit te lê. Die Amerikaanse plantkundige dr. Mackrill het opdrag gekry om ’n geskikte plaas te kry en is aangesê om drie plekke te ondersoek: die Gamtoosvallei, die Swartkopsvallei en Bosberg, wat hy dan ook gekies het. Die plaas is in 1815 tot stand gebring met die doel om veeteelt in die Kaapkolonie te verbeter en om vars produkte aan soldate aan die grens te lewer. Dié plaas is Somerset Farm genoem.
Tien jaar later, in 1825, is die projek laat vaar, ’n nuwe drosdy uitgevaardig en die dorp Somerset aangelê. Die amptelike stigtingsdatum is 11 Maart 1825. Die agtervoegsel is eers sowat 30 jaar later bygevoeg om dit van Somerset-Wes te onderskei.
Somerset-Oos het in Februarie 1884 munisipale status verkry (volgens 'n ander bron Februarie 1837Dictionary of Southern African Place names. URL besoek op 26 Julie 2013.). Die dorp was dikwels betrokke in die Kaapse grensoorloë. Vandag is dit 'n sentrum vir wol- en ander boerderybedrywighede.
Opvoeding Bellevue Seminary duimnael|links|Die oudste gebou van die Bellevue-seminarie is moontlik ontwerp deur Carl Otto Hager en is nou 'n provinsiale erfenisterrein. Teen 1880 het Somerset-Oos twee klein privaat skole vir meisies gehad terwyl seuns onderrig ontvang het aan die Gill-kollege, opgerig in 1869. Ds. J.H. Hofmeyr het die kerkraad oorreed om 'n meisieskool te bou en te finansier en vir dié doel is 'n stuk grond in Pauletstraat aangekoop. Die hoeksteen is op 19 Julie 1881 gelê en die gebou ontwerp deur die Duits gebore argitek Carl Otto Hager, wat ook die dorp se NG kerk ontwerp het wat vandag nog gebruik word. Die eerste prinsipale van die Bellevue Seminarie vir Meisies was Jan Wright van Aberdeen in Skotland. Sy het later ds. Hofmeyr se broer ds. Arend Hofmeyr van Hanover se tweede vrou geword. Die skool het in 1925 'n hoërskool geword en in 1965 met Gill-kollege saamgesmelt onder laasgenoemde se naam. Deesdae huisves die gebou, 'n provinsiale erfenisterrein, die Umzi Wethu Opleidingsakademie vir Kwesbare Jeugdiges.
Gill-kollege duimnael|Die hoofgebou van die Gill-kollege, voltooi in die 1918. links|duimnael|Die oudste gebou van die Gill-kollege, ingewy in 1869, en die koshuis op die agtergrond, voltooi in 1892. Die hoofgebou se hoeksteen is op 1 April 1867 gelê, 'n dag nadat ds. J.H. Hofmeyr in die NG gemeente Somerset-Oos bevestig is. Hy was 41 jaar verbonde aan die gemeente en vir die grootste deel daarvan 'n trustee en bestuurslid van Gill-kollege.
Somerset-Oos is die tuiste van een van die roemrykste skole in die Oos-Kaap,Die tydskrif Fairlady wys Gill aan as een van die top-50 staatshoërskole in die land. URL besoek op 5 Junie 2013 die tweetalige, gemengde Gill-kollege (gestig in 1867), asook die gelyknamige laerskool.
Die skool is in 1869 gestig danksy ’n erflating van dr. William Gill (1783–1863), ’n geneesheer en wolboer, as ’n hoërskool en universiteitsopleidingsentrum vir seuns en jongmans. Die oorspronklike gedagte was dat dit die Oostelike Provinsie (Oos-Kaap) se universiteit moes word, maar weens strawwe mededinging van die Rhodes-universiteitskollege in Grahamstad, wat destyds soos vandag ’n veel groter en belangriker nedersetting as Somerset-Oos was, kon Gill-kollege nie aan die vereiste voldoen wat die status van 'n universiteitskollege beperk het tot ’n instelling waar meer as 75 studente jaarliks matriek behaal het. Gevolglik verloor Gill-kollege sy universiteitstatus in 1903 en word 34 jaar ná sy ontstaan slegs ’n hoërskool.
Toe die erflating nie meer aangewend kon word vir die instandhouding van Gill-kollege nie, het die Privaat Wet op die Gill-kollegekorporasie van 1912 dit wettig gemaak om die bemaking aan te wend vir tersiêre beurse. Die fonds word tot vandag toe geadministreer deur die Gill-korporasie, wat jaarliks vier of vyf beurse toeken aan studente wat aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit wil gaan studeer.
Die bedoeling was dat Gill ’n opleidingsinstelling vir seuns en jongmans sou wees, maar dit het een van die eerste tersiêre instellings geword wat dames toegelaat het. Van 1928 af het Gill opnuut net seuns aanvaar en het ’n seunskool gebly tot 1965, toe Gill-kollege en die Hoër Meisieskool Bellevue saamgesmelt het. Die skool besit uitsonderlike, geskiedkundige geboue, onder meer die oorspronklike gebou wat in 1869 in gebruik geneem is en wat nou as skoolbiblioteek dien. Die senior seunskoshuis is in 1892 ingewy. Die lowerryke skoolterrein is besonder ruim en sluit ook die aangrensende, gelyknamige laerskool in. Gill-kollege het tot 2012 reeds drie Springbok-rugbyspelers opgelewer.Rugby15.co.za se lys skole wat die meeste Springbokke opgelewer het . URL besoek op 12 Junie 2013
Gedenkskool William Oates duimnael|Die gedenkskool William Oates, genoem na die Kongregasionalistiese leraar William Oates wat die plaaslike gemeente bedien het van 1880 tot 1927. Die William Oates-skool aan die voet van die Bosberg is genoem na eerw. William Oats, oorspronklik 'n Wesleyaanse predikant en 'n Suid-Afrikaner wat sy opleiding in Grahamstad en op Somerset-Oos en aan Lovedale op Alice gekry het. Eerw. Oates het uit die Hope Church, die Kongregasionalistiese kerk vir bruin lidmate bedank, maar in 1868 weer tot die amp toegetree. Hy het in 1880 die predikant van die Hollandssprekende Kongregasionalistiese kerk vir bruin mense op Somerset-Oos geword en in die amp aangebly tot en met sy dood in 1927.
Somerset-Oos-museum duimnael|links|Dié gebou was eers 'n Wesleyaanse sendingpastorie, toe 105 jaar lank die NG kerk se pastorie en eindelik van 1972 die provinsiale museum.
Somerset-Oos se provinsiale museum is eiesoortig omdat dit in ’n natuurgebied geleë is – aan die voet van die Bosberg. Kort nadat die dorp aangelê is, is die grond waarop die museum nou geleë is aan die Wesleyaanse sendelinge gegee sodat hulle ’n kapel en begraafplaas kon bou. Die kapel is voltooi en in 1828 ingewy, maar die grond en omliggende grond is enkele jare later aan die NG gemeente Somerset-Oos oorgedra en in 1835 is die kapel in ’n pastorie vir die gemeente omskep.
Dié doel het die gebou 105 jaar lank vervul toe vier predikante agtereenvolgens hier gewoon het: George Morgan (tot 1841), John Pears (tot 1866), Jan-Hendrik Hofmeyr (tot 1908) en sy seun John Murray. Hierna is die huis aan laasgenoemde se seun dr. Jan-Hendrik Hofmeyr verkoop. In 1971 het die indertydse eienaar, K.S. Birch, die huis as ’n museum beskikbaar gestel en in 1972 het dit ’n provinsiale museum geword. Enkele maande daarna is die
Die Georgiaanse huis met die Bosberg wat skilderagtig daaragter uittroon, is statig geleë tussen hoë inheemse bome en besit ’n lieflike roostuin. Die geelhoutdalkbalke en –vloere is vervaardig van bome op Bosberg. Die eertydse pastorie is gemeubileer met oudhede wat gewild was aan die einde van die 19de eeu. Die museum is weeksdae van 08:00 tot 17:00 oop vir die publiek. Daar is ’n klein winkel met plaaslike produkte en poskaarte, terwyl die bestuur in 2012 begin het om ’n biblioteek in te rig waarin skoolkinders die dorp se ryke verlede sal kan navors.
Walter Battiss-kunsmuseum duimnael|links|Die ou offisiersmenasie in Pauletstraat huisves die Walter Battiss-kunsmuseum, waar die grootste versameling van sy skilderye tentoongestel word.
Dié kunsmuseum het sy oorsprong gehad toe die kunstenaar Walter Battiss sy versameling van sy eie kunswerk in 1981 tydens ’n seremonie voor die wit gewelhuis in Pauletstraat aan die inwoners van Somerset-Oos en Suid-Afrika bemaak.
Die verdiepinghuis is in die vroeë jare van die dorp se bestaan as ’n offisiersmenasie opgerig en het lank gelede aan die gesin Battiss behoort wat dit van 1914 tot 1917 as privaat hotel bedryf het. Geldnood het hulle gedwing om die onderneming te laat vaar en so verhuis hulle na Koffiefontein in die Vrystaat toe die latere kunstenaar 11 jaar oud was. Die gebou is ’n straatblok vanaf die Somerset-Oos-museum in die mees geskiedkundige straat op die dorp geleë. Dit huisves nou die grootste versameling van Battiss se werk in Afrika en is in 1999 ten volle opgeknap nadat ernstige agteruitgang aan die gebou aan die lig gekom het.
In November 2006 is die honderdjarige herdenking van sy geboorte en die 25ste herdenking van die opening van die Walter Battiss-kunsmuseum gevier in die spesiaal versierde gebou met voordrag, sang en voorlesings uit sy boek Fook deur Battiss se vriend Walter Saunders. Die museum word in samewerking met die dorpsmuseum bestuur en huisves ook die Bloukraan-toerismeburo.
Godsdiens en kerke
Kongregasionalistiese kerk duimnael|Die Kongregasionalistiese kerk (die Hope Church) in Pauletstraat is 'n nasionale gedenkwaardigheid en is reeds in 1844 opgerig. duimnael|links|Die Metodistekerk in die oudste deel van die dorp, naby aan die gedenkskool William Oates.
Die verklaarde nasionale gedenkwaardigheid in Pauletstraat is opgerig uit die erflating van Dorothy Evans, die weduwee van ds. John Evans, van 1818 tot aan sy dood in 1823 die eerste leraar van die NG gemeente Cradock en een van die vroegste Skotse predikante wat in die 19de eeu die tekort aan leraars in die Nederduitse Gereformeerde Kerk moes kom aanvul. Kort ná haar man se dood het mev. Evans verhuis na die dorp Somerset wat in 1825 gestig is. Hier het sy gewoon tot haar dood in 1842 toe sy agter die teenswoordige dorpsmuseum begrawe is.
Evans het haar huis en erf in Pauletstraat aan die Londense Sendinggenootskap bemaak. In Desember van haar sterfjaar het die superintendent van die genootskap se Suid-Afrikaanse sending suksesvol by goewerneur sir George Napier aansoek gedoen om 'n jaarlikse toelaag van £20 as vergoeding vir 'n onderwyser vir die bruin mense van Somerset. 'n Predikant is na Suid-Afrika gestuur en in 1844 reeds is 'n kerk vir die bruin, Hollandssprekende gemeente op mev. Evans se erf opgerig. Die Londense Sendinggenootskap het later opgegaan in die Kongregasionalistiese Kerk.
Die gebou is later jare tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar, maar nadat dit in die besit van die Afrikaanse Protestantse Kerk gekom het, het dié gemeente die marmersteen by die ingang verwyder. Ná dreigemente van 'n hofsaak, is die steen teruggeplaas, maar 'n plant is daarvoor geplant om dit minder opsigtelik te maak.
NG gemeente