Mattheus Uys Krige (Bontebokskloof, Kaapprovinsie, 4 Februarie 1910 – Hermanus, Kaapprovinsie, 10 Augustus 1987) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer, digter, dramaturg, vertaler, rugbyspeler en oorlogskorrespondent.http://www.stellenboschwriters.com/krigeuys.html

Hy het onderrig ontvang aan die Universiteit Stellenboschhttp://esat.sun.ac.za/index.php/Uys_Krige en het daarna van 1931 tot 1935 in Frankryk en Spanje gaan woon, waar hy beide Frans en Spaans vlot leer praat het. Krige het ook rugby gespeel vir 'n rugbyklub in Toulon, in die suide van Frankryk.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1935 het hy sy loopbaan as joernalis begin as verslaggewer vir die Rand Daily Mail. Hy was ook later letterkunderedakteur van die Verenigde Party se Kaapse middagblad, Die Suiderstem.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy 'n oorlogskorrespondent vir die Suid-Afrikaanse Weermag in Noord-Afrika. Hy is in 1941 gevange geneem en na Italië gestuur waar hy twee jaar in 'n krygsgevangekamp deurgebring het. Hy het egter in September 1943 ontsnap en na Suid-Afrika teruggekeer in 1946.

As 'n skrywer en digter was Krige uiters veelsydig – sy werke sluit in romans, kortverhale, gedigte en toneelstukke in beide Afrikaans en Engels. Krige word ook gereken onder die sogenaamde "Dertigers", 'n term wat gebruik word om na skrywers uit die dertigerjare te verwys. Hy het die Penguin Book of South African Verse (1968) in medewerking met Jack Cope saamgestel. Krige het vele werke deur William Shakespeare in Afrikaans vertaal, asook werke deur Federico García Lorca, Pablo Neruda en Lope de Vega, uit die oorspronklike Spaans en werke deur Baudelaire, Villon en Paul Éluard uit die oorspronklike Frans.

Sy broer was die skilder en tekenaar Francois Krige. Hulle gesamentlike reise deur Spanje is vasgelê in Uys se boek Sol y Sombra, waarvoor François die illustrasies voorsien het. Krige maak ook per geleentheid van die skuilnaam Arnoldus Retief gebruik.

Lewe en werk duimnael|Uys Krige in 1949 duimnael|Uys Krige in 1968 Mattheus Uys Krige is op 4 Februarie 1910 op die plaas Bontebokskloof tussen die sendingstasie Zuurbraak en die dorpie Buffeljagsrivier in die distrik Swellendam gebore as tweede oudste kind van sy ouers. Bontebokskloof was die plaas van sy moeder se oupa. Sy ouers is Jacob Daniël (Japie) Krige, bekende Springboksenter, en Susanna Hermina (Sannie) Uys, bekende skryfster. Uys is een van ses kinders, waarvan vier seuns en twee dogters. Twee van sy broers is die kunsskilder Francois Krige (gebore 1913) en Jacobus Gerhardus Joubert (Bokkie) (1909), vertaler van Antoine de Saint Exupery se Vol de nuit as Nagvlug. Sy ander broer is Petrus Arnoldus (Arnold) (1911) en sy susters is Maria Magdalena (Mitzi) (1917) en Suzanne Hermine (1926). Nog ’n seun, Jacob Daniel Krige, is binne drie weke na sy geboorte in Junie 1922 oorlede. Suzanne is die moeder van die aktrise Grethe Fox en fotojoernalis en skrywer Justin Fox. Weens sy vader se werk as magistraat word hy gereeld verplaas en moet die gesin noodgedwonge baie verhuis. Tydens sy geboorte is Uys se vader klerk in die magistraatskantoor op Clanwilliam, maar hy word kort daarna na Uniondale verplaas. Van Uniondale verhuis die gesin na Bredasdorp, waar hulle op die plaas Zandhoogte bly en waar Uys groot word.

In 1917 verhuis hulle na Kaapstad, waar hulle in Hastingsstraat 17 in Tamboerskloof woon. Hier begin hy deur middel van Engels skoolgaan aan die Tamboerskloof Primary School. Teen die middel van 1919 verhuis die gesin na Van Riebeeckshof in Bellville. Hier woon hulle net ’n jaar voordat sy vader ondermagistraat in Stellenbosch word en die gesin verhuis in 1920 hierheen. Uys sit sy skoolopleiding voort aan die Stellenbosch Boys High School (wat later die Paul Roos Gimnasium sou word), waar hy in Februarie 1927 matrikuleer. Hy studeer vanaf 1927 verder vir ’n B.A.-graad in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy weens sy ouers se verhuising na Cathcart (sy vader se eerste pos as volwaardige magistraat) nou by ’n losieshuis op die dorp inwoon. Vanaf sy tweede jaar bly hy in die Dagbreek-koshuis. Professor J.L.M. Franken stel hom aan die Franse letterkunde bekend, wat in hom ’n begeerte wek om hierdie land en sy mense beter te leer ken, terwyl professor F.E.J. Malherbe hom aan die jonger Nederlandse poësie bekendstel. Hy ontvang ’n bundel van Kloos se gedigte as boekprys en word besonder getref deur Kloos se nagstemmings. Tydens sy universiteitsdae publiseer Uys heelwat werk in Die Stellenbosse Student en dien ook in 1928 en 1929 op die redaksie van hierdie tydskrif. In November 1929 behaal hy die B.A.-graad in die Regte, maar besluit daarteen om die regswese sy loopbaan te maak en sy studies op te volg met ’n LL.B.-graad, wat hom sou toelaat om te praktiseer.

In Maart 1930 word hy verslaggewer van die Rand Daily Mail in Johannesburg, waar hy ’n woonstel deel met N.H. Theunissen, die skrywer van die roman Marianne. Sy werk as algemene verslaggewer bring hom in aanraking met die skemerwêreld van prostitusie, onwettige drankverkope en dobbel en hy bring baie tyd in die howe, lykhuise en hospitale deur. Die begeerte om weg te breek en na Europa te gaan word al sterker. In 1931 verplaas die koerant hom na hulle Pretoria kantoor, maar Uys bedank sy betrekking ’n paar maande later om oorsee te gaan. Op 30 Junie 1931 vertrek hy op die Dunbar Castle vanuit Kaapstad-hawe na Southamptonhawe in Engeland. Vanaf Julie 1931 bring hy die eerste drie maande van sy oorsese verblyf in Londen deur, waarna hy na Frankryk vertrek. Dwarsdeur sy tyd in Europa verdien hy geld deur artikels vir Suid-Afrikaanse publikasies soos Cape Argus, Die Volkstem, Die Boerevrou, Die Burger, Die Huisgenoot en ander Suid-Afrikaanse blaaie te lewer. Sy broer Bokkie studeer in daardie tyd in Bonn in Duitsland en hulle korrespondeer gereeld. Bokkie is in Calais wanneer Uys ook daar aankom en verken die eerste agt dae Parys saam met hom.

Sy verblyf in Frankryk duur agtien maande, waar hy na die ekskursie na Parys in die kusdorpie Sanary-sur-Mer bly. Hier speel hy vanaf September 1931 in die Europese winter professionele rugby as senter vir die kampioenspan Toulon, sowat vier myl vanaf Sanary-sur-Mer. Gedurende die somermaande doen hy allerhande los werkies  soos skottelgoedwasser in ’n restaurant, matteverkoper en figurant in ’n rolprent. Deur sy sonnige geaardheid leer hy baie mense ken en maak talle vriende. In Januarie 1932 trek hy saam met ’n Duitse vriend, die skilder Herbert Appelbaum, in ’n huis in. In die winter van 1932 speel hy professionele rugby vir Marseille, waar hy in ’n kamertjie in die matroosbuurt woon. Hier loop hy professor Franken van Stellenbosch op besoek raak, en in Desember 1932 onderneem hy saam met die professor ’n twee weke reis deur Italië op die professor se onkoste. By sy terugkeer loseer hy by ’n losieshuis in Marseille. Reeds in die herfs van 1932 maak hy kennis met die Suid-Afrikaanse digter Roy Campbell wat in hierdie tyd in Martigues in Provence in Frankryk woon. Die rugbyklub van Marseilles is aan die begin van 1933 op die rand van bankrotskap en kan hom nie verder betaal nie, waarna Uys in Februarie 1933 by die Campbells gaan inwoon en by hulle ’n klein inkomste verdien deur onderwys te gee aan hulle dogters.

In Junie 1933 onderneem hy ’n twee weke toer deur Engeland saam met sy broer Bokkie, wat toe pas sy studies aan Oxford Universiteit voltooi het. Die lewe in Frankryk is tydens die depressie baie duur, sodanig dat die Campbells in skuld verval en dan noodgedwonge in November 1933 na Barcelona in Spanje verhuis. Uys volg hulle ’n paar dae later en kry in Barcelona vir hom losies. Hier het hy gereelde kontak met die Italiaanse skrywer Alberto Collini, op wie se lewe reeds ses aanslae gemaak is weens sy teenkanting van Fascisme en die regering van Benito Mussolini, terwyl hy ook tyd deurbring met Aldous Huxley, wat hy reeds in Frankryk ontmoet het. Wanneer die Campbells in Maart 1934 na Valencia in die platteland van Spanje en kort daarna na Altea naby Alicante verhuis, bly Krige eers in Barcelona agter. In April 1934 gaan hy self ook na Valencia, waar hy in ’n losieshuis inwoon. Hier skryf hy hom by die Universiteit van Valencia in om die Spaanse letterkunde te bestudeer en in hierdie tyd leer ken hy die werk van Federico Garçia Lorca, groot dele waarvan hy later in Afrikaans sal vertaal. Valencia word egter geteister deur die broeiende onrus voor die uitbreek van die Spaanse burgeroorlog en na ’n paar bomontploffings word die universiteit gesluit. Tydens ’n besoek aan die Campbells in Altea in April 1934 ontmoet hy vir Emilia Eulalia, ’n Katalaanse meisie met wie hy sy eerste ernstige liefdesverhouding begin.

Uys onderneem ’n hele aantal reise en leer die Spaanse platteland en die Iberiese Skiereiland goed ken, asook Madrid, waar sy broer François intussen in die skilderkuns begin studeer het. In Desember 1934 trek hy saam met François na Almería, ’n klein stad aan die suidelike kus, waar hulle etlike maande lank bly. In Maart 1935 ontmoet hy sy moeder in Gibraltar, waarna hulle saam ’n reis deur etlike lande onderneem. Na ’n uitgebreide reis deur Spanje, waar hulle onder andere Algeciras, Cadiz, Sevilla, Granada, Madrid en Almería aandoen, gaan hulle deur Provence in Frankryk na Italië en dan terug na Parys. Hiervandaan gaan hulle na België en Nederland waar hy verskeie Nederlandse en Vlaamse skrywers ontmoet. By sy terugkeer na Spanje is dit duidelik uit sy briewe dat die verhouding met Emilia baie ernstig is en hy vra selfs sy doopsertifikaat uit Suid-Afrika aan, wat hy nodig sou hê as hy in Spanje wil trou. Die verhouding kom egter nie tot troue nie en op 28 November 1935 loop hulle paaie uiteen wanneer die Spaanse Burgeroorlog op hande is en hy per boot terug vertrek Suid-Afrika toe. Tydens sy Europese verblyf het hy aan homself ’n wonderlike opvoeding gegee. Hy leer nuwe tale aan, lees en bestudeer die Europese letterkunde en verdiep hom in musiek, skilderkuns en argitektuur. Benewens gedigte, skryf hy in hierdie tyd ook verskeie artikels en sketse, sommige waarvan later gebundel word in Sol y sombra, Ver in die wêreld en Sout van die aarde.

Terug in Suid-Afrika bly hy ’n rukkie in Kaapstad. Hier maak hy kennis met belangrike letterkundiges en skrywers van die tyd, soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Abraham Jonker en I.D. du Plessis. In samewerking met ’n Nederlandse uitgewer stel hy reeds in 1935 ’n bloemlesing van die nuwere Afrikaanse digkuns van die dertigerjare saam, wat hy in 1936 voltooi. Dit word onder die titel Afrikaanse versameling gepubliseer en van sy eie verse verskyn hierin onder die skuilnaam Arnoldus Retief. Nadat hy ’n tyd by sy ouerhuis in Ladybrand in die Vrystaat deurbring, begin hy op 1 Mei 1936 as verslaggewer werk by Die Vaderland in Pretoria. Hierdie koerant se kantore verskuif op 1 Junie 1936 na Johannesburg. Wanneer die Unie-Volkspers, wat Die Vaderland uitgee, in Oktober 1936 ’n nuwe koerant in die Kaap oprig, naamlik Die Suiderstem, word hy op sy versoek as letterkundige redakteur Kaapstad toe verplaas. Hier woon hy aanvanklik teen die hang van Leeukop in ’n losieshuis van René Gretz, ’n begaafde Sweedse beeldhouer.