duimnael|250px|Hamlet, soos voorgestel deur die Amerikaanse akteur Edwin Booth in ongeveer 1870.

Hamlet is 'n treurspel deur William Shakespeare wat waarskynlik tussen 1599 en 1601 geskryf is. Die toneelstuk speel in Denemarke af en vertel hoe prins Hamlet wraak neem op sy oom, Claudius, wat Hamlet se vader vermoor, met sy moeder getrou en die troon oorgeneem het. Hamlet bevat 'n intensiewe kartering van die loop van egte en geveinsde kranksinnigheid, van oorweldigende smart tot briesende woede, en verken temas soos verraad, wraak, bloedskande en morele korrupsie.

Ten spyte van 'n groot hoeveelheid letterkundige speurwerk word die presiese jaar waarin die toneelstuk geskryf is steeds betwis. Drie verskillende vroeë weergawes van die toneelstuk bestaan vandag: hulle staan bekend as die Eerste Kwartyn (of "First Quarto" in Engels), die Tweede Kwartyn (of "Second Quarto") en die Eerste Folio ("First Folio"). Elke weergawe bevat reëls en selfs tonele wat nie in die ander voorkom nie. Shakespeare het Hamlet waarskynlik op die Amletus-legende gebaseer. Dié legende, wat sterk ooreenkomste met Shakespeare se toneelstuk bevat, is vandag bekend danksy die 13de-eeuse geskiedkundige Saxo Grammaticus, wat dit in sy Gesta Danorum weergegee het. Dit is daarna ook verhaal deur die 16de-eeuse geleerde François de Belleforest, asook in 'n verlore Elisabethaanse toneelstuk wat vandag as die Ur-Hamlet bekendstaan.

Die toneelstuk se dramatiese struktuur en die diepsinnigheid van die karakterisering beteken dat Hamlet uit verskeie oogpunte geanaliseer, geïnterpreteer en bespreek kan word. Kommentaarskrywers krap al eeue lank kop oor Hamlet se huiwering om sy oom te vermoor. Sommige sien dit as 'n manier om die aksie te verleng, terwyl ander dit sien as 'n gevolg van die druk wat uitgeoefen word deur die ingewikkelde filosofiese en etiese kwessies rondom koelbloedige moord, voorbedagte wraak en verydelde begeerte. Meer onlangse en psigoanalitiese kritici het Hamlet se onderbewussyn ondersoek en feministiese kritici het die soms beswadderde karakters van Ophelia en Gertrude herevalueer en gerehabiliteer.

Hamlet is verreweg Shakespeare se langste toneelstuk en word gereken as een van die kragtigste en invloedrykste treurspelle in die Engelse taal. Dit bied 'n intrige wat vatbaar is vir "oënskynlik eindelose hervertelling en verwerkings deur ander".Thompson en Taylor (2006a, 74). Oorspronklike Engelse aanhaling: ...capable of "seemingly endless retelling and adaptation by others". Tydens Shakespeare se leeftyd was dit een van sy gewildste werke en dit word steeds gelys onder die toneelstukke wat die meeste opgevoer is: dit is sedert 1879 bo-aan die lys van die Britse toneelgeselskap die Royal Shakespeare Company.Crystal en Crystal (2005, 66). Die toneelstuk het reeds 'n verskeidenheid skrywers geïnspireer, van Goethe en Charles Dickens tot James Joyce en Iris Murdoch, en is beskryf as die "wêreld se mees verfilmde storie na Aspoestertjie".Thompson en Taylor (2006a, 17). Oorspronklike Engelse aanhaling: "..the world's most filmed story after Cinderella." Die titelrol is waarskynlik geskep met Richard Burbage in gedagte; hy was die vernaamste treurspelspeler van Shakespeare se tyd.Sien Taylor (2002, 4); Banham (1998, 141); Hattaway beweer dat "Richard Burbage … played Hieronimo and also Richard III but then was the first Hamlet, Lear, and Othello" (1982, 91); Peter Thomson oorweeg dat die identiteit van Hamlet as Burbage in die dramaturgie van verskeie oomblike van die toneelstuk ingebou is: "we will profoundly misjudge the position if we do not recognise that, whilst this is Hamlet talking about the groundlings, it is also Burbage talking to the groundlings" (1983, 24); sien ook Thomson se bespreking oor die eerste speler se baard (1983, 110). In die vierhonderd jaar sedert die toneelstuk se skepping is die rol deur die vernaamste akteurs, en soms ook aktrises, van elke era vertolk.

Oorsig duimnael|Horatio, Hamlet, Marcellus en die spook (1780–1785), in Hamlet 1.4. Die hooffiguur in Hamlet is Prins Hamlet van Denemarke, die seun van die pas oorlede Koning Hamlet en die broerskind van Koning Claudius. Na die dood van Koning Hamlet trou Claudius in aller haas met die koning se weduwee, Gertrude, Hamlet se moeder, en volg hy sy broer as koning op. Op die agtergrond is Denemarke se langdurige vete met die naburige Noorweë en 'n inval, onder leiding van die Noorse prins, Fortinbras, word verwag.

Die toneelstuk open met 'n koue wintersnag by Elsinore, die Deense koninklike kasteel. Die skildwagte probeer Hamlet se vriend, Horatio, daarvan oortuig dat hulle Koning Hamlet se spook gesien het; die spook verskyn weereens, wat die wagte se verhale beaam. Na Horatio hom van die spook vertel het, besluit Hamlet om dit met sy eie oë te sien. Daardie nag verskyn die spook aan Hamlet: hy vertel Hamlet dat hy sy vader se gees is en onthul dat Claudius die koning vermoor het deur gif in sy ore te giet. Die spook beveel Hamlet om sy vader se dood te wreek; Hamlet stem in en besluit om homself as kranksinnig voor te doen in 'n poging om agterdog te verhoed. Hy is egter nie seker of die spook betroubaar is nie.

Claudius en Gertrude hou hulself besig met staatsaangeleenthede en probeer om 'n inval deur Prins Fortinbras van Noorweë af te weer. Hulle is besorgd oor Hamlet se aanhoudende droefheid oor sy vader se dood en sy toenemende wispelturige gedrag. Hulle stuur twee van Hamlet se vriende, Rozencrantz en Guildernstern, om die oorsaak van Hamlet se veranderde gedrag uit te vind. Hamlet ontvang sy vriende goedhartig, maar gewaar gou dat hulle spioene van sy moeder en stiefvader is.

Polonius is Claudius se getroue hoofraadgewer; sy seun, Laertes, staan op die punt om sy studies in Frankryk voort te sit en sy dogter, Ophelia, word deur Hamlet die hof gemaak. Nóg Polonious nóg Laertes keur die verhouding goed en beide waarsku haar daarteen. Kort daarna ontmoet Ophelia Hamlet in die geheim, maar sy is so verontrus deur sy vreemde gedrag dat sy haar vader van Hamlet se toestand vertel. Polonius skryf Hamlet se kranksinnigheid toe aan die "ekstase van die liefde"Uit Hamlet 2.1.99-100 "This is the very ecstacy of love, / whose violent property foredoes itself,". en lig Claudius en Gertrude daaroor in. Tydens hulle volgende afspraak vaar Hamlet teen Ophelia uit en beskuldig haar van onbeskeidenheid en sê dat sy haar na 'n nonneklooster moet haas.

Hamlet is steeds nie daarvan oortuig dat die spook hom die waarheid vertel het nie, maar die aankoms van 'n toneelgeselskap bied hom 'n uitweg. Hy besluit om 'n toneelstuk op die planke te bring wat sy vader se moord sou weergee; hy kan dan Claudius se skuld of onskuld vasstel deur sy reaksie. Die howelinge vergader om die toneelstuk te aanskou, met Hamlet wat deurlopende kommentaar lewer. Na die toneel waarin die akteur wat die koning vertolk vermoor word deur gif in sy ore, staan Claudius skielik uit sy stoel op en verlaat hy die kamer: dit is bewys genoeg om Hamlet van sy oom se skuld te oortuig. Claudius vrees vir sy lewe en stuur Hamlet onder valse voorwendsels na Engeland, onder die toesig van Rosencrantz en Guilderstern. Saam met Hamlet stuur Claudius 'n brief aan die Engelse wat instruksies gee dat die draer van die brief vermoor moet word.

Gertrude ontbied Hamlet na haar slaapkamer om 'n verduideliking te eis. Op pad daarheen ontdek Hamlet 'n biddende Claudius: hy besluit om hom nie daar en dan dood te maak nie, omdat hy glo dat, indien Claudius tydens gebed sou sterf, hy na die hemel sal gaan. In Gertrude se slaapkamer ontstaan daar 'n hewige argument tussen haar en Hamlet. Polonius beloer hulle van agter 'n muurtapyt; hy maak 'n geluid en Hamlet, wat glo dat dit Claudius is, steek hom dood. Die spook verskyn en versoek Hamlet om Gertrude sagkens te hanteer en herinner hom daaraan om Claudius dood te maak. Gertrude kan self nie die spook sien of hoor nie en neem aan dat Hamlet se gesprek met die spook verdere bewyse van sy kranksinnigheid is. Hamlet steek Polonius se lyk weg.

Opheila raak buite haar sinne van droefheid oor Polonius se dood en Hamlet se vertrek na Engeland. Sy wandel deur Elsinore terwyl sy onkuise liedjies sing. Haar broer, Laertes, keer terug van Frankryk en word siedend oor sy vader se dood en sy suster se waansinnigheid. Claudius oortuig Laertes dat Hamlet alleen hiervoor verantwoordelik is; dan arriveer daar nuus dat Hamlet steeds op vrye voet is. (Hy is op pad na Engeland deur seerowers gevangene geneem, maar weer vrygelaat.) Claudius flans gou 'n komplot saam: hy stel voor dat Laertes en Hamlet aan 'n skermgeveg deelneem, waartydens Laertes se skermsabel se punt met gif bedek sal wees. Indien Hamlet wen, beplan hy om Hamlet stilswyend 'n glas vergiftigde wyn aan te bied. Gertrude onderbreek sy gedagtes om hom in te lig dat Ophelia verdrink het.

duimnael|upright|Die grafgrawertoneel: Hamlet 5.1.1-205 (1839). Twee grafgrawers bespreek Ophelia se klaarblyklike selfmoord terwyl hulle haar graf grawe. Hamlet daag op, vergesel deur Horatio, en skerts met een van die grafgrawers. Dié grawe die skedel van Yorick op, 'n hofnar uit Hamlet se jeug. Ophelia se begrafnisstoet daag op, gelei deur Laertes. Hy en Hamlet stoei, maar hulle worsteling word opgebreek.

Terug by Elsinore vertel Hamlet aan Horatio hoe hy ontsnap het en dat Rosencrantz en Guildenstern dood is. 'n Howeling, Osric, onderbreek hulle en nooi Hamlet uit na 'n skermgeveg met Laertes. Die wedstryd begin, met Fortinbras se leër wat nader aan Elsinore beweeg. Laertes deurboor Hamlet met die giftige sabel, maar word dan self noodlottig daarmee beseer. Gertrude drink die giftige wyn en sterf. In sy laaste oomblikke maak Laertes vrede met Hamlet en onthul hy Claudius se moorddadige komplot. Hamlet slaag daarin om Claudius dood te maak en Fortinbras as sy erfgenaam te verklaar voor hy sterf. Met Fortinbras se aankoms vertel Horatio die verhaal aan hom en Fortinbras beveel dat Hamlet se liggaam eervol begrawe word.

Bronne duimnael|'n Faksimilee van Gesta Danorum deur Saxo Grammaticus, wat die legende van Amletus bevat. Hamlet-agtige legendes kan op so baie verskillende plekke gevind word (byvoorbeeld in Italië, Spanje, Bisantium en Arabië), dat die kerntema van 'n "held-as- 'n-dwaas" moontlik van Indo-Europese oorsprong is.Saxo en Hansen (1983, 36–37). Verskeie antieke geskrewe bronne vir Hamlet kan geïdentifiseer word. Die eerste is die anonieme Skandinawiese Saga van Hrólfr Kraki, waarin die vermoorde koning twee seuns het, Hroar en Helgi, wat die grootste gedeelte van die verhaal vermom is en hulself valse name gee, eerder as om te maak asof hulle kranksinnig is; die loop van die verhaal verskil ook van Shakespeare s'n.Saxo en Hansen (1983, 16–25). Die tweede is die Romeinse legende van Brutus, wat in twee verskillende Latynse werke aangeteken is. Die legende se held, Lucius ("skyn", "lig"), verander sy naam na Brutus ("eentonig", "dom") en speel die rol van 'n dwaas om die lot van sy vader en broers te systap en uiteindelik sy familie se moordenaar, Koning Tarkwinius, dood te maak. 'n 17de-eeuse Nordiese geleerde, Torfaeus, het die Yslandse held Amlodi en die Spaanse held Prins Ambales (uit die Ambales Sage) met Shakespeare se Hamlet vergelyk. Ooreenkomste sluit in die prins se voorgegewe malheid, die dood van die koning se raadgewer in sy moeder se kamer (wat per abuis gebeur het) en die uiteindelike moord op die prins se oom.Saxo en Hansen (1983, 5–15).