Die De Havilland Vampire is Brittanje se eerste enkelsitplek straalaangedrewe vegvliegtuig. Hierdie vliegtuig se ontwerp was gedoen met die doel om 'n straalmotor optimaal te gebruik en was nie net 'n gewone skroefaangedrewe vliegtuig wat aangepas is vir 'n straalmotor nie. Die ontwerp maak voorsiening vir tweelingvalbome en 'n enkele, sentrale gondel wat die kajuit en wapentuig huisves.

Die vliegtuig het sy nooiensvlug op 20 September 1943 voltooi met Geoffrey de Havilland in beheer. Dit was net sestien maande nadat die detailontwerp begin is. Die produksiemodelle was egter te laat om deel te neem aan die Tweede Wêreldoorlog en is eers in 1946 in diens gestel by eskaders van die Britse Lugmag. Dit was toe die tweede straalvliegtuig wat in diens gestel is na die Gloster Meteor. Die prototipe se motor kon slegs 1 226 kg stukrag verskaf teenoor die hedendaagse Eurofighter Typhoon se turbowaaierenjins wat 6 097 kg stukrag verskaf.

In die eerste paar jaar na die Tweede Wêreldoorlog het die Vampire 'n groot rol gespeel in Brittanje se eerste linie van verdediging totdat hulle vervang is deur die Meteor 8 in 1951. Teen daardie tyd was die Vampire deur die Britse Lugmag gebruik in die Verre Ooste asook deur lugmagte van die Verre Ooste. Hulle is later almal vervang deur die De Havilland Venom.

In Desember 1945 het die eerste straalvliegtuig op die dek van 'n skip geland, deur 'n Sea Vampire. Die Sea Vampire was 'n versterkte Vampire F.B.5 om die ekstra kragte wat die landingshaak uitoefen teen te werk om sodoende op vliegdelskepe te kan land. Dit het ook aan die Britse Vloot 'n geleentheid gebied om die Sea Vampire as 'n opleidingsvliegtuig te gebruik vir hulle eerste geslag straalvlieëniers.

Die meeste Vampire's het tot in die 1970's diens gedoen; in die Dominikaanse Republiek en Switserland is hulle eers in die 1980's onttrek.

Gedurende die vroeë jare het die Franse maatskappy SNCASE 430 Vampire's onder lisensie vervaardig by Marseille; hulle het dié vliegtuig die Mistral genoem. Macchi van Italië het 80 en Switserland 178 gebou.

Die Vampire NF.Mk 10 is 'n nagvegvliegtuig waarvan 95 gebou is. 'n Paar is in die 1950's aan die Indiese Lugmag verkoop..

Tegniese besonderhede + Besonderhede van die De Havilland Vampire F.1: Item Statistiek Aantal motors 1 Tipe motor Straalmotor Vervaardiger de Havilland Goblin 1 turbostraal Kraglewering per motor 1 408 kg stukrag Vlerkspan12,2 m Lengte9,37 m Hoogte2,69 m Vlerkoppervlakte24,35 m2 Maks. opstygmassa4 760 kg Maks. snelheid868 km/h Operasionele hoogte 12 500m Togafstand 1 175km Klimvermoë 1 312 m per minuut Bewapening Vier 20 mm kanonne in die neus

Sien ook Lys van vegvliegtuie

Bron Crosby, Francis: THE WORLD ENCYCLOPEDIA OF FIGHTERS & BOMBERS. 2015.

Kategorie:Vegvliegtuie