George Walker Bush (gebore op 6 Julie 1946) was die 43ste president van die Verenigde State, wat vir die eerste keer op 20 Januarie 2001 en vir sy tweede ampstermyn op 20 Januarie 2005 ingehuldig is. Hy is die seun van oudpres. George H.W. Bush.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Bush is vir die eerste keer in 2000 verkies, met een van die kleinste en mees omstrede voorspronge in die Amerikaanse geskiedenis. Ná 'n maand se hertelling van stembriewe en die betwistings van die verkiesingsuitslae in Florida se geregshowe het die Amerikaanse Hooggeregshof uiteindelik George W. Bush as wenner van die presidentsverkiesing verklaar.George W. Bush, et al., Petitioners v. Albert Gore, Jr., et al., 531 U.S. 98 (2000).
Agt maande ná Bush se inhuldiging as President van die Verenigde State in 2001 het negentien kapers, wat by die terreurorganisasie Al-Kaïda betrokke was, die terreuraanvalle van 11 September 2001 uitgevoer. Bush het in reaksie hierop 'n oorlog teen terrorisme verklaar, wat later dié sentrale kwessie van sy presidentskap geword het. Teen die begin van Oktober 2001 het hy die bevel vir die Amerikaanse inval in Afghanistan gegee om sodoende die Taliban-régime omver te gooi en al-Kaïda te probeer vernietig.
In Maart 2003 het Bush die bevel vir die inval in Irak gegee, nadat hy verklaar het dat Irak die bepalings van Resolusie 1441 van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad aangaande Irak se wapens van massavernietiging nie nagekom het nie.Presidential Letter to Congress (18 Maart 2003). Ná die inval in Irak het Bush sy beleid van demokratisering van die Midde-Ooste bekragtig, wat vir die eerste keer in Afghanistan en Irak toegepas is.
In 2004 het hy in sy tweede verkiesingsveldtog as self-verklaarde "oorlogspresident" stemme gewerf en uiteindelik teen die Demokratiese Senator John Kerry gewen.2004 Presidential Election Results Die verkiesingsveldtog se belangrikste temas was – naas morele waardes en ekonomiese vraagstukke – sy handhawing van die "oorlog teen terrorisme" en die oorlog in Irak."CNN – U.S. President / National / Exit Poll / Election 2004"
Kwessies rondom die "oorlog teen terrorisme", Irak, die Amerikaanse gevangenekamp Guantanamobaai op die eiland Kuba, die marteling en misbruik van gevangenes in die Irakse gevangenis Abu Ghraib het net soos die geheimediens NSA se praktyke, en federale noodhulpmaatreëls in verband met die Orkaan Katrina omstrede onderwerpe gedurende sy tweede ampstermyn geword.
Biografie duimnael|links|George W. Bush met sy ouers, Barbara en George H.W. Bush, ca. 1947 Bush is as die eersteling-seun van George H.W. Bush en sy vrou Barbara Bush in New Haven (Connecticut) gebore. Sy vaderlike voorouers was afkomstig uit Somerset in die West Country (Engeland) en het in die 17de eeu na Amerika geëmigreer. Bush se ouers het van Connecticut na Texas verhuis toe hy twee jaar oud was. Hy is met sy drie broers Jeb, Neil en Marvin en sy suster Dorothy in Midland en Houston opgevoed. Sy tweede jonger suster, Robin, is in 1953 op die ouderdom van drie aan leukemie oorlede. Bush se oupa Prescott Bush was 'n Senator van Connecticut, en sy vader het tussen 1989 en 1993 as President van die VSA gedien.
Bush het by die Phillips Academy in Andover (Massachusetts) skoolgegaan en is net soos sy vader ook deur die Yale-universiteit aanvaar, waar hy in 1968 'n B.A.-graad in Geskiedenis behaal het. Hy het tegelykertyd aan 'n aantal Republikeinse verkiesingsveldtogte deelgeneem, waaronder ook dié van sy vader as senatorskandidaat in Texas in die jare 1964 en 1970. As 'n college senior het Bush lid geword van die geheime vereniging Skull and Bones. Bush was, volgens sy eie beskrywing, 'n middelmatige student.
duimnael|George W. Bush as luitenant in die Nasionale Wag In Mei 1968 is Bush op die hoogtepunt van die Viëtnamoorlog deur die lugeenheid van die Texaanse Nasionale Wag aanvaar en het ná sy opleiding diens in Houston gedoen. Tydens sy politieke loopbaan is die toedeling en duur van Bush se diensplig herhaaldelik gekritiseer. Daar word beweer dat Bush weens die politieke pos van sy vader 'n voorkeurbehandeling geniet en sy dienspligte onreëlmatig uitgevoer het. Bush het in 1972 vir 'n verplasing na die lugeenheid van Alabama se Nasionale Wag gevra om aan die verkiesingsveldtog van 'n plaaslike Republikeinse senatorskandidaat deel te neem en in 1974 verlof gekry om sy diensplig van ses jaar met ses maande te verkort sodat hy sy studies aan die Harvard Business School betyds kon begin. Hy is toegelaat om sy militêre loopbaan nogtans op 'n eervolle manier te beëindig.
duimnael|links|George en Laura Bush met hulle dogters Jenna en Barbara in 1990 'n Aantal verslae aangaande dwelmmisbruik en ander wanordelike gedrag dateer uit hierdie tydperk. Bush het erken dat hy gedurende daardie jare "te veel" gedrink het en dié periode van sy lewe as die "nomadiese" tydperk van sy "onverantwoordelike jeug" genoem. Op 4 September 1976 is Bush op 30-jarige leeftyd in hegtenis geneem nadat hy in die buurt van die Bush-gesin se somerhuis in Kennebunkport (Maine) dronk bestuur het. Hy het skuldig gepleit, is 'n geldboete van VS$150 opgelê en sy bestuurderslisensie is tot die jaar 1978 ingetrek in Maine.
Nadat hy 'n meestersgraad in bedryfsbestuur aan die Harvard-universiteit behaal het (hy is die enigste President van die VSA met 'n MBA-graad), het Bush sy loopbaan in die Texaanse olienywerheid begin. In 1977 is hy deur vriende aan Laura Welch, 'n onderwyseres en bibliotekaresse, bekendgestel. Drie maande later het hy met Laura getrou, en die egpaar het hulle in Midland gevestig. Hulle tweelingdogters, Jenna en Barbara, is in 1981 gebore.
In 1978 is Bush in Texas se 19de Kongres-kiesdistrik as Republikeinse kandidaat vir die Huis van Verteenwoordigers genomineer en het gedurende sy verkiesingsveldtog die klemtoon op sy groot ervaring in die energiebedryf en sy konserwatiewe waardes gelê. Hy is uiteindelik deur die Demokratiese kandidaat Kent Hance met 'n meerderheid van 6 000 van die uitgebragte stemme verslaan, nadat die meeste kiesers Hance se eie konserwatiewe standpunte, sy afkeuring van strenger wapenbeheer en sy nouer verbondenheid met die landelike Texas ondersteun het. Hance het later na die Republikeinse Party oorgeloop en Bush se verkiesingsveldtog as goewerneurskandidaat met 'n donasie gesteun.
Bush het sy loopbaan in die plaaslike olienywerheid voortgesit, wat in die 1980's as gevolg van 'n skerp prysdaling in moeilikhede beland het. Omtrent 1986 het Bush 'n geheelonthouer geword, Christelike filosofie begin studeer en begin om aan kerklike en gemeenskapstudiegroepe deel te neem. Volgens sy eie woorde het Bush ná 'n persoonlike ontmoeting en gesprek met eerwaarde Billy Graham 'n wedergebore Christen geword.
In 1988 het Bush met sy gesin na Washington, D.C. verhuis om die presidensiële verkiesingsveldtog van sy vader te ondersteun. Saam met sy kollegas Lee Atwater en Doug Wead was hy by die ontwikkeling en koördinering van 'n politieke strategie betrokke, wat veral op konserwatiewe en evangeliese Christene gemik was, aangesien hulle as die beslissende faktor vir die nominasie en verkiesing beskou is.
Ná sy terugkeer na Texas het hy in April 1989 'n aandeel in die konsessiesaak van die Texas Rangers-bofbalspan gekoop en vyf jaar lank as besturende vennoot gedien. Later het hy sy aandeel van oorspronklik VS$ 800 000 vir meer as VS$ 15 miljoen verkoop.
Politieke loopbaan Goewerneur van Texas duimnael|George W. Bush met sy vader buite die Withuis, 29 April 1992 duimnael|Goewerneur Bush met sy vrou, Laura, en vader, George H.W. Bush in 1997 In 1994 is Bush as die Republikeine se goewerneurskandidaat vir Texas genomineer, ten spyte van sy gebrek aan politieke ervaring en die gewildheid van die destydse Demokratiese goewerneur Ann Richards, wat as algehele gunsteling van die kiesers in Texas beskou is.
Bush se verkiesingsveldtog is deur 'n aantal eersterangse politieke raadgewers gekoördineer en het veral goewerneur Ann Richards se swak rekord van handhawing van wet en orde, haar politieke benoemings en haar steun vir liberale politieke eise aangespreek. Bush het van homself 'n positiewe beeld geskep met onderwerpe soos "persoonlike verantwoordelikheid" en "morele leierskap" en het 'n aantal belangrike vraagstukke soos onderwys, misdaad, deregulering van die ekonomie en hervorming van die regstelsel aangespreek. Sy veldtog is gekritiseer vir die manier waarop Ann Richards neergehaal is, maar desondanks het Bush se gewildheid as gevolg van sy indrukwekkende debatsvoering toegeneem. Uiteindelik het hy Richards met 52 persent van die uitgebragte stemme geklop.
As goewerneur het Bush met sukses wetgewing ingedien waardeur die regstelsel hervorm is, die befondsing van onderwys verhoog, hoër standaarde in Texas se skole daargestel en die kriminele regstelsel hervorm is. Onder sy leierskap het Texas 152 gevangenes tereggestel – meer as onder enige ander goewerneur in die moderne geskiedenis van Amerika. Kritiese stemme soos Helen Prejean het egter geredeneer dat Bush nie ernstig was om aansoeke om grasieverlening te oorweeg nie.
Skoolbefondsing is destyds deur die politici en media as 'n politiek gevoelige saak beskou. Die deelstaat Texas het sy onderwysstelsel deur eiendomsbelasting gefinansieer. Bush het gepoog om die hoë belastingtariewe ten gunste van huiseienaars te verlaag en gelyktydig die algemene befondsing van onderwys te verhoog en nuwe belasting op maatskappye in te voer. Maar hy het sterk opposisie van sy eie party en die privaatsektor gekry. Nadat geen konsensus oor hierdie saak bereik is nie, het Bush 'n oorskot op die begroting gebruik om 'n belastingverlaging van VS$ 2 miljard toe te staan – die hoogste in Texas se geskiedenis. Hierdie besluit het sy openbare beeld van 'n fiskalies konserwatiewe politikus en beskermer van besigheidsbelange gevestig.
Bush het ook 'n pioniersrol by die instelling van godsdiensgebaseerde welsynsprogramme gespeel en die regering se steun en befondsing van nie-staats, godsdienstige organisasies verhoog, wat sosiale dienste soos opvoeding en onderwys, voorkoming van dwelm- en drankmisbruik en vermindering van huislike geweld verskaf. Goewerneur Bush het op 17 April 2000 'n memorandum geteken waarmee 10 Junie in Texas tot "Jesusdag" verklaar en alle Texane aangespoor is om hulp aan noodlydendes te verleen.
Alhoewel Bush vir sy skending van die konstitusionele skeiding van staat en kerk ("Congress shall make no law respecting an establishment of religion, or prohibiting the free exercise thereof...") gekritiseer is, het die meeste Texane, veral godsdienstige en sosiaal-konserwatiewes, sy inisiatief gesteun.
In 1998 het Bush 'n beslissende oorwinning in die goewerneursverkiesing behaal met naastenby 69 persent van die uitgebragte stemme en sodoende die eerste Texaanse goewerneur geword wat vir twee opeenvolgende ampstermyne van vier jaar elk verkies is (voor 1975 was die goewerneur se ampstermyn net twee jaar).
Die presidensiële verkiesing van die jaar 2000 Tydens sy verkiesingsveldtog het Bush homself as 'n "medelydende konserwatiewe" ("compassionate conservative") voorgedoen – volgens 'n nuwe politieke term, wat deur die onafhanklike televisiepersoonlikheid en kommentator Michael Savage gemunt is – en belowe dat hy die "eer en waardigheid van die Withuis" sou herstel.George W. Bush Speaks at Send-Off in Orlando (23 September 2000).
Voorverkiesing duimnael|George W. Bush onderteken in Concord, New Hampshire sy kandidatuur vir die presidentskap