duimnael|Die woord "Chanoeka" (חֲנֻכָּה‬) in die Hebreeuse alfabet (chet-noen-waw-kaf-hé) duimnael|'n Chanoekia in Kazimierz (Krakau) duimnael|Die Makkabeërs, skildery deur Wojciech Stattler in 1842 duimnael|Die triomf van Judas Makkabeüs, skildery deur Peter Paul Rubens, 1634/1636 duimnael|Chanoekaviering op 'n 18de-eeuse skildery deur 'n onbekende skilder in 'n privaat-versameling duimnael|'n Gedekte Chanoekatafel

Chanoeka (Hebreeus: חֲנֻכָּה‬, Tiberies: חנוכה, [χanuˈka], in Moderne Hebreeus, [ˈχanukə] of [ˈχanikə] in Jiddisj; letterlik: "inhuldiging", "inwyding"), ook bekend as Ligtefees, is 'n Joodse herdenking van agt dae wat aan die Chanoekawonder tydens die Tweede Tempel se herwyding in Jerusalem in 3597 (164 v.C.) herinner. Dit begin elke jaar op die vooraand van 25 Kislew in die Joodse kalender (November/Desember volgens die Gregoriaanse kalender). Die oudste verwysing na die fees is te vinde in die apokriewe boeke van die Makkabeërs en : Jodendom in de praktijk, 6de druk, 2011. en het nie soos die meeste Joodse feeste sy oorsprong in die Tanag nie.

Tydens Chanoeka word die kerse van 'n kandelaar, bekend as Chanoeka-menora (of Chanoekia), met agt arms een-een aangesteek. Een kers word tipies bo of onder die ander of eenkant geplaas en sy lig word gebruik om die ander agt kerse aan te steek. Hierdie unieke kers staan bekend as die sjamasj (שמש, "dienaar"). Elke aand word een bykomende kers met die sjamasj aangesteek totdat al agt kerse op die laaste aand van die fees saam brand. Ander Chanoeka-tradisies sluit in die speel met die dreidel (סביבון, sewiwón; vergelyk: tol) en die opdis van olie-gebaseerde kos soos latkes (לביבות, lewiwót; vergelyk: aartappelpannekoek of blini) en soefghanijót (סופגניות; vergelyk: bagel of pantsjkes). Sedert die 1970's organiseer die wêreldwye Chabad-Chasidiese beweging Chanoekavierings op openbare plekke in verskeie lande.

Nes Poerim is Chanoeka een van die kleiner (na-Bybelse) Joodse feeste. Bedags is dit 'n gewone werkdag, maar vir die aand bestaan wel 'n paar bepalings hoe die kerse aangesteek moet word en hoe lank hulle moet brand. Die aangesteekte Chanoekia mag nie versteek brand nie en moet van buite af gesien kan word.

Geskiedenis Chanoeka herinner aan die herwyding van die Tweede Joodse Tempel in Jerusalem in 3597 (164 v.C.) na die suksesvolle Makkabeëropstand van die Jode in Judea teen helleniseerdeHelleniseer beteken om te vergrieks - om die Griekse gebruike aan te neem Jode en Makedoniese Seleukides, soos in 1 Makkabeërs, deur Flavius Josephus en in die Talmoed beskryf. Die Makkabeërs het die Seleukidiese gesag oor Judea beëindig en die tradisionele Joodse Tempeldiens heringevoer. Hulle het die Zeusaltaar verwyder; dié altaar is deur helleniseerde Jode wat JHWH met Zeus gelykgestel en op 'n Griekse manier vereer het, opgerig.

Die menora, die sewearmige kandelaar in die tempel, is bedoel om nooit dood te gaan nie. Volgens die latere tradisie was as gevolg van die gevegte met die Seleukides net een kroeg met geskikte (kosjer) olie te vinde. Hierdie olie was net genoeg vir een enkele dag. Dit neem egter agt dae om nuwe kosjer olie te produseer. Maar deur 'n wonderwerk het die lig agt dae lank bly brand, totdat nuwe geskikte olie geproduseer kon word. Hieraan herinner die agt ligte van die Chanoekia met agt arms. Elke aand word een nuwe lig aangesteek, totdat aan die einde alle agt ligte brand.

Die kandelaar het dikwels nege arms of lighouers, die negende lig is die "dienaar" (שׁמשׁ, sjamasj). Slegs daarmee mag die ander ligte aangesteek word, nadat die nodige seëninge (Hebreeus: ברכה, bragot) gesê is. Kerse of olielampe word as ligte gebruik. Tradisioneel word olyfolie gebruik nes vir die menora in die voormalige tempel.

Na die "verontreiniging" van die Tweede Tempel deur die Zeuskultus is die Chanoekawonder gevier ter nagedagtenis aan die herwyding (1 Makkabeërs 4,36–59; 2 Makkabeërs 10,5–8), totdat in 3830 (70 n.C.) die Tempel deur die Romeine heeltemal verniel is. Chanoeka word in gesinne en sinagogegemeenskappe gevier.

Datums Die eerste dag is 25 Kislew, die werklike viering begin egter altyd met sonsondergang op die vooraand (omdat 'n dag met sononder begin). Die einde wissel tussen 2 en 3 Tewét, want Kislew is een van die twee skrikkelmaande in die Joodse kalender. Aangesien maande in die Joodse kalender altyd na die maan bereken word, wissel die datum van hierdie dag volgens die Gregoriaanse kalender.

Jaar in die Joodse kalender Datum in die Gregoriaanse kalender 5778 12–20 Desember 2017 5779 2–10 Desember 2018 5780 22–30 Desember 2019 5781 10–18 Desember 2020 5782 28 November – 6 Desember 2021 5783 18–26 Desember 2022 5784 7–15 Desember 2023 5785 25 Desember 2024 – 2 Januarie 2025 5786 14–22 Desember 2025 5787 4–12 Desember 2026 5788 24 Desember 2027 – 1 Januarie 2028 5789 12–20 Desember 2028 5790 1–9 Desember 2029 5791 20–28 Desember 2030

Sien ook Lys van Joodse feeste en herdenkings Diwali, Hindoeïstiese eweknie Kersfees, Christelike eweknie

Verwysings

Verdere leesstof

Eksterne skakels

Kategorie:Joodse feeste en herdenkings