Washington, D.C. 280px Kaart Seël 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|raam|senter Land Federale distrik raam|20px Distrik Columbia Koördinate Gestig op 16 Julie 1790 Oppervlakte: - Totaal 177 km² Hoogte bo seevlak 0–125 m Bevolking: - Totaal (2020) 689 545 - Bevolkingsdigtheid 4 361,45/vk km - Metropolitaanse gebied 6 385 162 Tydsone UTC -5 (OST) - Somertyd UTC -4 (ODT) Klimaat - Tipe Subtropiese klimaat - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 14,6 °C - Gem. temp. Januarie/Julie 2,3 / 26,6 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1 055,3 mm Burgemeester Muriel Bowser (D) Amptelike webwerf dc.gov
Washington, D.C. is die administratiewe hoofstad van die Verenigde State van Amerika. "D.C." is 'n afkorting vir die Distrik Columbia (Engels: District of Columbia), die federale distrik, wat egter feitlik gelykstaan aan die stad Washington. Die stad is genoem na George Washington, die militêre leier van die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog en eerste president van die Verenigde State.
duimnael|links|'n Lugaansig van Capitol Hill en die National Mall duimnael|links|Die gebou van die Amerikaanse Hooggeregshof (Supreme Court of the United States) teen skemertyd duimnael|links|United States Capitol teen sonop duimnael|links|Die U.S. Air Force Band Ceremonial Brass poseer voor die Withuis Die Distrik Columbia en die stad Washington word deur dieselfde munisipale regering beheer. Vir die meeste praktiese doeleindes word hulle tans as dieselfde politieke en geografiese eenheid beskou. In 1871 was Georgetown egter nog 'n selfstandige stad en daar was verskillende munisipale regsgebiede in die Distrik. Alhoewel daar 'n burgemeester en munisipale regering bestaan, oefen die Kongres die hoogste gesag in die Distrik uit, sodat die burgers 'n ander status en minder verteenwoordiging in die regering het as bewoners van ander deelstate.
Die Distrik Columbia dien as die sentrum van sowel die wetgewende en uitvoerende asook die regsprekende gesag van die Verenigde State. Die stad huisves daarnaas ook die hoofkwartiere van die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Organisasie van Amerikaanse Lande en ander nasionale en internasionale instellings. Washington, en veral sy National Mall, is die plek waar 'n groot aantal betogings en proteste plaasvind.
Talle nasionale besienswaardighede, monumente en museums maak van Washington, D.C. 'n gewilde toeristebestemming. Die stad staan in die VSA algemeen bekend as D.C., The District of net Washington. Om verwarring met die deelstaat Washington in die Noordwestelike Stille Oseaangebied te voorkom, word die stad dikwels D.C. genoem en die deelstaat Washington State.
Die Distrik Columbia het volgens 'n 2019-skatting van die VSA se Sensusburo 'n bevolking van 705 749. Die metropolitaanse gebied van Washington en Baltimore het 'n bevolking van meer as 8 miljoen en is die vierde grootste in die land. As 'n selfstandige deelstaat sou Washington, D.C. ten opsigte van sy oppervlakte die kleinste na Rhode Eiland wees, die vyftigste ten opsigte van sy bevolking (nog voor Wyoming), die eerste ten opsigte van sy bevolkingsdigtheid nog voor New Jersey en die 35ste ten opsigte van sy bruto geografiese produk.
'n Groot persentasie Washingtoners is nakomelinge van arm swart gesinne uit die suide wat hulle baie generasies gelede in die hoofstad gevestig het, in 'n tydperk toe regeringsinstellings die enigste werkgewers was wat ook swartmense vir goedbetaalde loopbane en gevorderde opleiding aangestel het. Ter geleentheid van regeringswisselings of nuwe kongresse vestig enkele duisend nuwe aankomelinge hulle steeds in die hoofstad, maar die oorgrote meerderheid van die inwoners is in ander bedrywe soos nywerhede en die opvoedkundige en sosiale sektor werksaam.
Etimologie Die amptelike naam van die Amerikaanse hoofstad is District of Columbia. Columbia, afgelei van die seevaarder Christophorus Columbus se naam, was ten tyde van die naamgewing 'n algemene poëtiese term vir Amerika. Die stad Washington is genoem na George Washington, opperbevelvoerder tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog en die eerste President van die Verenigde State. Toe in 1871 die stede Washington en Georgetown, asook Washington County met die District of Columbia Organic Act ontbind is, is bepaal, dat die gebied van die distrik, waar die vorige stad Washington geleë was, die naam Washington sal behou. As pars pro toto het Washington, D.C. die algemene benaming vir die hele distrik geword.
Geskiedenis Die Distrik Columbia, wat op 16 Julie 1790 gestig is, is volgens die Verenigde State se Grondwet 'n federale distrik waaroor die Amerikaanse Kongres uiteindelike gesag het. 'n Groot deel van hierdie gesag is egter aan die munisipale owerhede oorgedra. Die land wat die federale distrik nou beslaan, het oorspronklik van die deelstate Maryland en Virginië gekom. 'n Gebied van sowat eenhonderd vierkante kilometer (39 vierkante myl) is in 1847 aan Virginië teruggegee en maak nou deel uit van die distrik Arlington en die stad Alexandria. Ná 1847 het die gebied van die distrik uitsluitend uit land bestaan, wat vroeër deel uitgemaak het van Maryland.
Beplanning duimnael|links|L'Enfant se plan van Washington duimnael|upright|George Washington. Skildery deur Gilbert Stuart duimnael|links|Washington, D.C. soos gesien vanuit die ruimte Gedurende die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog het die Amerikaanse Kongres meestal in Philadelphia vergader, die grootste stad in die destydse dertien kolonies. Die afgevaardigdes was egter nie oortuig daarvan dat die plaaslike owerhede in staat sou wees om moontlike gewelddadige betogings onder bedwang te bring nie en het in 1783 besluit om 'n nuwe hoofstad op te rig, wat nie deel sou uitmaak van 'n bestaande deelstaat nie. In 1787 het die Amerikaanse stigtingsvaders die idee van 'n federale distrik met 'n oppervlak van tot eenhonderd vierkante myl ontwikkel, waarin die Kongres die eksklusiewe wetgewende gesag sou uitoefen.
Die Kongres het drie jaar lank 'n aantal voorstelle vir 'n nuwe hoofstad oorweeg. Aanvanklik is geskikte rivierhawens langs die Atlantiese kus in oorweging geneem, waarby die noordelike deelstate ten gunste van 'n plek teen die Delaware- of Susquehanna-rivier was, terwyl die Suidstate die voorkeur aan die Potomac gegee het.
Gedurende 'n dinee wat deur Thomas Jefferson gehou is, het James Madison en Alexander Hamilton ooreengekom dat die nuwe hoofstad van die Verenigde State in die suide opgerig sou word – in ruil vir die Suidstate se toestemming tot die oorname van oorlogs-skuldlaste deur die federale regering. Die stad is deur Pierre Charles L'Enfant, 'n majoor in die Amerikaanse leër, in die barokstyl ontwerp, met breë straalvormige lane, hoofstrate en verkeersirkels, wat uitsigte op belangrike bakens en geboue gebied het.
Die aanvanklike uitleg van die "Federale Distrik" was in die vorm van 'n gelykvormige diamant met 'n sylengte van sestien kilometer of tien myl en 'n totale oppervlakte van 256 vierkante kilometer (100 vierkante myl). Die plek teen die Potomac-rivier is deur President Washington gekies – vermoedelik vanweë sy landskap, wat uiters geskik was vir 'n toekomstige waterweg, en omdat hy self in die Potomac-gebied woonagtig was. Dit was bowendien 'n kompromis wat sowel noordelike asook suidelike deelstate tevrede gestel het. Die stad is op 9 September 1791 amptelik "Washington" genoem. Met sy kenmerkende beskeidenheid het George Washington na die hoofstad nooit as Washington verwys nie, maar dit liewer "die Federale Stad" genoem. Alhoewel hy die plek self gekies en in die nabygeleë Mount Vernon gewoon het, het hy nouliks besoek aan die stad afgelê. Die Federale Distrik is "Columbia" genoem – afgelei van die poëtiese naam Columbia, wat destyds as sinoniem vir die Verenigde State gebruik is.
Aanvanklik het die Distrik Columbia vier verskillende seksies beslaan, waarvan die stad Washington net een was. Die ander drie was die Alexandria-distrik, Georgetown en die Washington-distrik. Georgetown het binne sy huidige grense gelê. Alexandria het uit gedeeltes van die huidige stad Alexandria, asook die huidige Arlington-distrik in die deelstaat Virginië bestaan. Die stad Washington het die grootste deel van sy huidige gebied beslaan, maar het in die weste slegs tot by die huidige Rock Creek Park en in die noorde slegs tot by Floridalaan en Benningstraat gestrek. Floridalaan is destyds Boundary Street genoem. Die Washington-distrik het die res van die gebied beslaan.
In 1791–92 het Andrew Ellicott en Benjamin Banneker die grense van die Distrik met Maryland en Virginië opgemeet en by elke mylpaal grensstene geplaas, waarvan baie tot vandag bewaar is. Die hoeksteen van die Withuis, die eerste nuut opgerigte gebou van die nuwe hoofstad, is op 13 Oktober 1792 gelê – een dag ná die eerste plegtige viering van Columbusdag op die 300ste verjaarsdag van die ontdekking van Amerika.
Die 19de eeu duimnael|links|Die Washington-monument in die aandskemer duimnael|Newspaper Row (1874) duimnael|Die Southwest Waterfront word herontwikkel as The Wharf. Fase II van die projek sal teen 2022 voltooi wees In een van die merkwaardigste strooptogte van die Engels-Amerikaanse Oorlog van die jaar 1812 het die Britte op 24 Augustus 1812 die Amerikaanse hoofstad aan die brand gesteek – as vergelding vir 'n Amerikaanse aanval in die winter, waartydens die stad York (die huidige Toronto) geplunder en neergebrand is en wat talle Kanadese dakloos gelaat het. President James Madison en die Amerikaanse troepe het gevlug voordat die Britse soldate Washington ingeneem en sy openbare geboue, waaronder die Kapitool, die Withuis en die gebou van die Departement van Finansies, afgebrand het.
Die arsenaal van die Amerikaanse Vloot is deur matrose afgebrand om te voorkom dat die skepe en voorrade in Britse hande sou val. Die huis van die Kommandant van die Marinekorps is as een van min regeringsgeboue deur die Britse soldate gespaar – as 'n teken van respek. Dit is tans een van die oudste openbare geboue wat nog steeds in gebruik is.
Tydens die besetting het 'n orkaan, wat ook 'n tornado ingesluit het, oor die gebied getrek en sowel skade by die Britse troepe asook in die Amerikaanse hoofstad berokken. Die storm het vinnig verswak, maar was voldoende om die vlamme te blus. Die Britte het Washington 26 ure lank beset en was daarna binne 'n week op pad na hul volgende teiken, Baltimore.
Gedurende die 1830's is een van die grootste slawehandelstransaksies in die land in die Federale Distrik deurgevoer. Die hawestad Georgetown was 'n groot mededinger vir Alexandria en uit vrees dat die slawerny in die hoofstad afgeskaf sou word, het die bevolking van die Alexandria-distrik in 1846 in 'n referendum gestem waarmee die Kongres oorreed is om Alexandria op 9 Julie van daardie jaar weer by die deelstaat Virginië in te lyf.
Tot by die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog in 1861 het Washington 'n klein stad gebly – volgens die sensus van 1860 het sy bevolking 75 000 beloop. As gevolg van die krygsvoering en die gepaardgaande administratiewe laste het die bevolking vinnig toegeneem. In 1870 was daar reeds 132 000 inwoners in die distrik.
In Julie 1864 het Gekonfedereerde troepe onder die bevel van generaal Jubal Anderson Early 'n aanval op Washington geloods, maar hulle is in die Slag van Fort Stevens afgeweer en Early het uiteindelik na die Shenandoah-vallei teruggekeer. Dit was die enigste slag in die Verenigde State waartydens 'n president, Abraham Lincoln, onder vyandelike vuur gekom het.