Land Niedersachsen (Duits)Land Neddersassen (Nederduits)Lound Läichsaksen (Saterfries)Deelstaat Nedersakse Landsvlag Landswapen 150px 100px (Besonderhede) (Besonderhede) Basiese gegewens Ampstale: Duits, Nederduits en Saterfries Hoofstad: Hannover Gestig op: 1 November 1946 Volkslied (Landeshymne): Niedersachsenlied Oppervlakte: 47 709,82 km² (2de) Bevolking: 8 008 135 (4de)(31 Desember 2023) Bevolkingsdigtheid: 168 inwoners / km² (12de) BBP - Totaal (4de) - % Verandering teenoor vorige jaar - per inwoner 2024381,267 miljard € 3,3%47 610 € Totale skuldlas: 57,284 miljard € (30 September 2024) Skuldlas per inwoner: 7 153 € (30 September 2024) Werkloosheidsyfer: 6,1 (April 2025) ISO 3166-2: DE-NI Amptelike webwerf: www.niedersachsen.de Politiek Eerste minister: Olaf Lies (SPD)(sedert 20 Mei 2025) President van die Landtag: Hanna Naber (SPD) Regerende partye: SPD en Grüne Setels in die parlement (Landtag)(146 setels) (2017: 137 setels): SPD 57 (2017: 55)CDU 47 (50)B90/Grüne 24 (12)AfD 18 (9) Laaste verkiesing: 9 Oktober 2022 Volgende verkiesing: 2027 Parlementêre verteenwoordiging Stemme in die Federale Raad (Bundesrat): 6 (van 69) Kaart 250px
Nedersakse (Duits: Niedersachsen, [ˈniːdɐzaksn̩], ; Nederduits: Neddersassen; Saterfries: Läichsaksen), amptelik die Deelstaat Nedersakse (Duits: Land Niedersachsen, landkode: NI, afkorting: Nds.; Nederduits: Land Neddersassen; Saterfries: Lound Läichsaksen), is 'n deelstaat in die noorde van Duitsland. Volgens sy oppervlakte van 47 710 vierkante kilometer en sy bevolking van 8 miljoen is Nedersakse die grootste deelstaat van Noord-Duitsland en die tweede grootste in Duitsland ná Beiere.
Alhoewel die moderne deelstaat Nedersakse eers so onlangs soos November 1946 met die samesluiting van Hannover, Oldenburg, Brunswyk en Schaumburg-Lippe geskep is, het die naam Nedersakse 'n lang historiese tradisie wat tot in die tyd van die groot volksverhuisings tussen die 3de en 7de eeu terugdateer – 'n periode toe die Sakse, 'n Germaanse stam, hulle hier gevestig het.
Hannover is met sowat 500 000 inwoners die hoofstad en grootste stad van Nedersakse. Die twee grootste stede van Noord-Wes-Duitsland, Hamburg en Bremen, speel eweneens 'n baie belangrike rol vir Nedersakse, aangesien hulle metropolitaanse gebiede ook na Nedersakse uitgebrei het.
Etimologie duimnael|links|Die oorblyfsels van 'n seax en 'n gerekonstrueerde replika duimnael|links|Kaart van die drie huidige Duitse deelstate wat die naam Sakse dra: Nedersakse in die noordweste, Sakse-Anhalt in die middel en Sakse in die suidooste Die Duitse naam Sachsen is soos die ander Duitse streeksname Schwaben, Franken, Bayern, Hessen (asook verskeie landsnaame soos Ungarn, Polen, Schweden) afgelei van die datiewe meervoudsvorm van die inwoners se naam of die gelyknamige Germaanse stam, die Saksers (Sachsen, enkelvoud Sachse). Tradisioneel word gesê dat die Sakse se naam afgelei is van 'n soort mes uit die tydperk, genoem seax in Ou Engels en sachs in Oud-Hoogduits.
Gedurende die eerste eeue van sy gebruik is die term Sakser verbind met stropers en nie met enige duidelik gedefinieerde tuisland geassosieer nie, afgesien van Saksiese nedersettings in die huidige Engeland en Normandië. Eers heelwat later het Middeleeuse bronne van die Frankiese Ryk begin verwys na 'n groot binnelandse volk in die huidige Noord-Duitsland. Alhoewel dit daarna gerieflik geword het om na die Engelse Saksers as óf Engelse óf as Angel-Saksers te verwys, is die term Sakser nog vir 'n geruime tyd gebruik om na hulle te verwys, en dit kan moontlike verwarring skep by die interpretasie van kontemporêre rekords.
Voor die laat Middeleeue was daar 'n enkele Hertogdom Sakse. Die term "Nedersakse" is gebruik ná die ontbinding van die stamhertogdom in die laat 13de eeu om dit aan die een kant van die deur die Welfe regeerde voormalige hertogdom van die Keurvorstedom Sakse en aan die anderkant van die Hertogdom Westfale te onderskei.
Geografie Ligging duimnael|links|Die Wurmberg in die winter Nedersakse grens in die noordweste aan die Noordsee, in die noorde aan Sleeswyk-Holstein en Hamburg, in die noordooste aan Mecklenburg-Voorpommere en Brandenburg, in die ooste aan Sakse-Anhalt, in die suide aan Thüringen en Noordryn-Wesfale, en in die weste aan Nederland.
Die Noordsee vorm net soos die Elberivier se benede- en middelloop die natuurlike noordelike grens van die deelstaat Nedersakse, met die uitsondering van die Amt Neuhaus wat noordoos van die Elbe lê (en tot by die Duitse hereniging in 1990 by die Duitse Demokratiese Republiek ingesluit was) en sommige stadswyke van Hamburg wat suid van die Elbe geleë is. Die stadstaat Vrye Hansestad Bremen lê met die stede Bremen en Bremerhaven as 'n enklawe in Nedersakse.
In die suidooste loop Nedersakse se landsgrens deur die Harzgebergte. Die noordooste en weste van die deelstaat – sowat driekwart van die totale oppervlakte – maak deel uit van die Noord-Duitse Vlakte, terwyl die suide die Nedersaksiese Bergland met die streke Weserbergland, Leinebergland, Schaumburger Land, Untereichsfeld, Elm en Lappwald vorm. Die noordooste van Nedersakse word deur die heideveld van die Lüneburger Heide met sy minder vrugbare Geest-sandgronde oorheers. Die sentraal-oostelike en suidoostelike deel word deur vrugbare loes- of waaigrond gekenmerk.
In die weste van Nedersakse lê die Graafskap Bentheim, die Osnabrücker Land, die Eemsland, die Oldenburger Land, die Oldenburger Münsterland en Oos-Friesland.
Die riviere Eems, Weser, Aller en Elbe, wat vanuit die suide en suidooste in noordelike en noordwestelike rigting vloei, vorm 'n belangrike deel van die Nedersaksiese landskap. Die hoogste bergpiek is die Wurmberg (971 meter) in die Harzgebergte. Die hoogste berg in die Harzbergreeks, die Brocken, is digby die landsgrens met die deelstaat Sakse-Anhalt geleë. Die meeste Nedersaksiese heuwels en bergspitse is in die suidooste van die deelstaat te vinde, terwyl die laagste punt op sowat 2,5 meter benede seevlak in 'n laagte naby Freepsum in Oos-Friesland lê.
Die bevolking, ekonomie en infrastruktuur van Nedersakse is in die stede Stadthagen, Hannover, Celle, Brunswyk, Wolfsburg, Hildesheim en Salzgitter gekonsentreer.
Eilande duimnael|'n Strand op die eiland Juist Daar is sewe bewoonde eilande in die Nedersaksiese Waddesee – Wangerooge, Spiekeroog, Langeoog, Baltrum, Norderney, Juist en Borkum, asook twee onbewoondes – Memmert en Lütje Hörn. Die "Sewe Oos-Friese", soos die bewoonde eilande ook genoem word, lê soos 'n string pêrels tussen agt en tien kilometer van die kuslyn af en in goeie weer kan hul duine, huise en torings vanuit die vastelandse dyke raakgesien word.
Die eilande word almal deur vier tipiese landsones gekenmerk – wit duine teen die noordelike rand, waaraan groen heuwels en 'n strepie heideveld aansluit, en die soutagtige weilande (of polders) van die Waddesee in die suide wat tydens vloed oorstroom word.
Eeue lank was die eilande yl bevolkte, geïsoleerde plekke wat oorgelewer was aan die natuurgeweld van die Noordsee. Spiekeroog is die enigste eiland met bosgebiede en staan derhalwe ook as die "Groen Eiland" bekend. Danksy die toerisme is die bewoners in die 19de eeu van hulle armoede verlos.
Klimaat duimnael|'n Watermeul in die mis Nedersakse maak deel uit van die gematigde klimaatsone van Sentraal-Europa. Die deelstaat is in 'n oorgangsgebied tussen die Wes-Europese seeklimaat en die kontinentale klimaat van Oos-Europa geleë, soos uit die verskille tussen die noordelike en suidelike landsdele blyk: Die noordweste van Nedersakse het danksy sy ligging aan die Noordsee 'n Atlantiese tot sub-Atlantiese klimaat met kleiner temperatuurskommelings en baie reënval, terwyl die klimaat in die suidooste reeds kontinentale trekke toon met groter temperatuurverskille tussen die winter- en somermaande asook laer gemiddelde reënval. Veral streke soos Wendland, die Weserbergland tussen Hameln en Göttingen en die omgewing van Helmstedt word deur kontinentale klimaatinvloede gekenmerk.
Die hoogste jaarlikse reënval word in die Harz-bergreeks aangeteken. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Nedersakse is 8 °C.
Geskiedenis Geskiedenis voor die stigting van die deelstaat Saksers duimnael|upright|Die Saksiese hertog Widukind (omtrent 730–807) was 'n teenstander van Karel die Grote Die oudste historiese dokumente wat na die gebied van die huidige Nedersakse verwys dateer uit die Romeinse tydperk; die Romeine het vroeg in die 1ste eeu n.C. 'n vergeefse poging onderneem om hul magsgebied oor die Ryn tot by die benedeloop van die Elbe en die Noordseekus uit te brei. Romeinse geskiedskrywers het in hul werke wat tydens die veldtogte ontstaan het na Germaanse stamme soos die Chauke aan die Noordseekus, die Langobarde aan die Elbe en die Cheruskers langs die Weser verwys. DreiStromLand. Ems – Weser – Elbe. Boekdeel 3. Hamburg: edition nordwest im Europa Verlag 2005, bl. 6
Veral die Cheruskers het bekend gestaan vir die felle weerstand wat hulle teen die Romeinse leër onder die bevel van Varus gebied het. Met die Cheruskiese oorwinning oor die Romeine aan die noordelike rand van die Wiehengebergte in die Osnabrücker Land het die Romeine hul troepe vir goed uit die gebied onttrek. Die Germaanse stamme het hul vryheid egter nie gebruik om hulle tot 'n gemeenskaplike ryk te verenig nie en die yl bevolkte land as kleiner selfstandige gemeenskappe bewoon. Argeologiese vondse wat in 2008 en 2009 naby Kalefeld aan die rand van die Harz-gebergte opgegrawe en as oorblyfsels van Romeins-Germaanse veldslagte geïdentifiseer is, het die bewys gelewer dat die Romeine nog tot in die 3de eeu grootskaalse militêre ekspedisies na Noord-Germanië onderneem het sodat die huidige geskiedenisboeke in hierdie opsig herskryf moet word. CNN Video: Battlefield Germania. Besoek op 30 Maart 2009
Die naam "Nedersakse" is al baie oud en die naam en wapen van die huidige Duitse deelstaat verwys na die Germaanse stam van die Saksers. Hierdie volk het tydens die Volksverhuising vanaf die 3de eeu vanuit sy tuisland in Holstein oor die Elberivier in suidelike rigting uitgebrei en die huidige noordweste van Duitsland begin oorheers. Vanaf die 7de eeu was die gebied van die huidige Nedersakse en 'n aantal aangrensende gebiede soos Altmark en Wesfale deur Saksers bewoon. Die Saksiese stamgebied was in sowat 60 Gaue (geweste) verdeel. Die Friese, 'n Germaanse volk in die noordweste van Nedersakse, het eeue lank hul selfstandigheid bewaar – die nat gebiede van Friesland was minder aantreklik vir die Saksers.
Die Saksers het in teenstelling met ander Germaanse stamme geen monargiese stelsel ontwikkel nie en outonome nedersettings bewoon. Gemeenskaplike aangeleenthede is deur middel van 'n stamvergadering van Saksiese hoofde in Marklo gereël en slegs in oorlogstye het die hoofde 'n gemeenskaplike hertog as militêre leier verkies.
Stryd teen die Franke Vanaf die 6de eeu het die Saksers verskeie kere oorlog teen die Franke gevoer. Aanvanklik het die konflik uit die Saksers se pogings om hul magsgebied in rigting van die Ryn uit te brei voortgespruit, maar onder die heerskappy van Karel die Grote het die Franke hul eie offensief begin. Sedert 775 was Karel se beleid daarop gemik om die Saksiese gebied by sy ryk in te lyf. Alhoewel die Saksers felle weerstand teen die Frankiese ekspansionisme gebied het, was hulle vanweë hul politieke verdeeldheid nie in staat om gemeenskaplik teen die Frankiese heerser op te tree. Volgens oorlewerings het die sogenaamde Bloedbad van Verden, waartydens 4 500 Saksers deur die Franke vermoor is, die hoogtepunt van die konflik gevorm. Met die Saksers se onderwerping aan die Franke en die Christelike doop van die Saksiese leier Widukind het die Saksiese opstande tot 'n einde gekom. Toe Karel tydens die Kersfees van die jaar 800 as keiser bekroon is, was die Saksiese gebied 'n vreedsame deel van die Frankiese Ryk.
Politieke invloed duimnael|Die katedraal St. Peter in Osnabrück