duimnael|regs|Geïllustreerde kaart|328x328px Kartografie (in Grieks: "chartis") behels die optrek van kaarte, deur dit te bestudeer en te beoefen. 'n Persoon wat in kartografie spesialiseer, word 'n kartograaf genoem.

Gewoonlik was kaarte opgetrek met behulp van pen en papier, maar die koms en verspreiding van rekenaars het 'n omwenteling in kartografie teweeg gebring. Die meeste hedendaagse kaarte word met behulp van kartografiese sagteware op rekenaars geproduseer.

Kaarte dien as die visuele voorstellings van data wat handel oor verskillende ruimtes en areas. Hierdie data word deur verskeie tipe metings verkry, en word in 'n databasis gestoor. Die data kan dan later vir verskeie gebruike weer herroep word.

Die kartografiese proses is gebaseer op die vasgestelde feit dat die wêreld meetbaar is, en dat ons betroubare voorstellings of modelle van daardie realiteit kan maak.

Kartografie behels gevorderde vaardighede en ingesteldhede, asook die gebruik van simbole om sekere geografiese verskynsels mee te verteenwoordig, asook die vermoë om die wêreld op 'n abstrakte en afgeskaalde wyse te kan visualiseer.

duimnael|593x593px|'n Kaart van Parys, Frankryk Kartografie was oorspronklik ʼn onderafdeling van die geografie, maar het deur die toepassing van eie tegnieke tot 'n selfstandige wetenskap ontwikkel. Die doel met die kartografie is om geografiese inligting met behulp van kaarte aan die kaartgebruiker of - leser oor te dra. Die mens het van kaarte gebruik gemaak lank voordat hy kon skryf en in baie ou skriflose kulture is die jag· en oorlogsveld met behulp van die kaart afgebaken en verken. Uit ou kaarte kry 'n mens 'n goeie beeld van vroeëre beskawings se wêreldbeeld en die hoeveelheid kennis waaroor hulle beskik het ten opsigte van hulle omgewing. Dit is byvoorbeeld bekend dat die Grieke reeds voor Christus 'n teorie gehad het dat die aarde bolvormig is, 'n idee wat by die Romeine verlore gegaan het.

Gedurende die Middeleeue is daar weinig gegewens tot die bestaande kennis toegevoeg, maar in die Renaissance het daar 'n groot opbloei gekom, veraI deur die talle seekaarte wat vir die snel ontwikkelende seevaart noodsaaklik was. By die vervaardiging van landkaarte is daar aan die begin moeisame terreinopmetings gedoen, maar in die laaste paar dekades het die lugfotografie 'n baie vername rol begin speel by die versameling van gegewens wat op kaarte ingevoeg word.

Eers word 'n basiskaart gemaak waarop die kartograaf al sy waarnemings oor die topografie (hoogte, riviere, dorpe, ensovoorts) invul. Op hierdie manier ontstaan dan die topografiese kaart wat vir elke land onmisbaar is omdat dit as grondslag dien vir allerlei kaarte wat daarvan afgelei word en wat op hulle beurt weer onmisbaar is vir die ruimtelike ordening van die moderne samelewing. Wanneer daar op 'n topografiese kaart gegewens aangebring word wat die verspreiding van verskynsels volgens kwaliteit of kwantiteit aangee, is dit 'n tematiese kaart. Voorbeelde hiervan is die bevolkingsdigtheids- en die weerkaart.

Omdat hierdie kaarte dikwels ʼn goeie beeld gee van die veranderinge wat 'n bepaalde verskynsel in 'n bepaalde rigting toon (uit die gegewens op 'n wêreldkaart sou dit byvoorbeeld blyk dat die reënval oor die algemeen afneem hoe verder 'n mens jou van die kus bevind), vind die tematiese kaart baie toepassings in die samelewing. Een van die groot probleme van die kartograaf is dat hy gegewens van 'n bolvormige voorwerp (die aarde) op 'n plat vlak (die kaart) moet weergee.

As gevolg hiervan ontstaan daar allerlei vervormings ten opsigte van vorm, afstand of oppervlakte. Verskeie projeksies is nou reeds ontwikkel, maar veral oor groot gebiede moet die kartograaf dikwels tevrede wees met 'n kompromis, omdat hy nie in alle gevalle vorm-, oppervlakte- en afstandgetroue weergawes verkry nie. Die enigste ware voorstelling van die aarde is die wat met 'n aardbol verkry word. Prakties sou dit egter onmoontlik wees om op 'n aardbol al die topografiese gegewens in detail aan te bring, aangesien 'n mens dan ʼn enorme aardbol sou moes hê.

Omdat die kartograaf die gegewens nie volgens die ware grootte op ʼn kaart kan aanbring nie, maak hy gebruik van 'n skaal. Vir die bepaling van afstande word dan van verskillende metodes gebruik gemaak, waarvan die lugfoto vanuit 'n vliegtuig of 'n aardsatelliet een van die hulpmiddele is wat die meeste gebruik word.

Geskiedenis van die kartografie Die geskiedenis van die afbeelding van die aarde, lande, stede en ander soortgelyke onderwerpe is die vakgebied van die historiese kartografie. Hierdie wetenskap omvat die geskiedenis van die landmeetkunde, die teken en druk van kaarte, en ook die bestudering van die veranderinge wat deur die eeue heen in die kaartbeeld gekom het. Die mens het geteken voordat hy kon skryf en daarom is die kaart ouer as skrif. Dit geld nie net vir die volkere uit die verre verlede nie, maar bewyse daarvoor is onlangs by nuut ontdekte natuurvolke gevind. duimnael|534x534px|'n Kaart van antieke Egipte By die opstel van 'n kaart is daar altyd 'n bepaalde beweegrede en deur die historiese kartografie kan ʼn mens 'n insig hierin verkry, selfs ʼn indruk van die menslike denke uit ʼn vroeëre era. Baie dikwels was die motivering by die opstel van 'n kaart militêr georiënteer, of dit kon bloot 'n kadastrale kartering gewees het sodat die belastinggaarder presies kon vasstel watter eiendomme aan wie behoort en hy sy belasting dienooreenkomstig kon hef.

Daar was egter nog altyd 'n begeerte by die mens om vir homself 'n wêreldbeeld voor te stel, en in die historiese kartografie kan 'n mens nagaan watter deel van die aarde destyds bekend was en in watter vorm dit voorgestel is. Vir die Engelse monnik Ranulf Higden, en trouens vir feitlik die hele Middeleeuse samelewing, was die wêreld omsluit deur 'n sirkelvormige oseaan met Jerusalem as die middelpunt. Vanweë die omvattende ontdekkingsreise het die wêreldbeeld snel verander na een waarin nuwe kontinente en oseane stelselmatig bygevoeg moes word. Die feitlik verdwene Griekse teorie dat die aarde rond is en selfs nie eens die middelpunt van die heelal is nie, moes stap vir stap op kaarte aangebring word.

Uit die duisende topografiese kaarte wat bewaar gebly het, kan ʼn mens ou landskappe eien en die verandering wat dit deur die eeue ondergaan het, naspeur. Hier het die kaart hom beter bewys as skrif, want uit 'n noukeurige getekende kaart kon 'n rykdom aan inligting verkry word wat beswaarlik so volledig beskryf sou kon word. In die historiese kartografie word die volgende tydperke onderskei: die Oudheid, die Middeleeue, die Renaissance en die tydperk na die tegniese omwenteling in die 19e eeu.

Antieke kartografie Die oudste bekende kaarte is deur die Babiloniërs op kleitabtette gegraveer. Daar is kaarte waarop die Babiloniese wêreldbeeld weergegee word asook kaarte met detailafbeeldings van persele en woongebiede. Ook by die minder ontwikkelde Europese volke moes daar in die Bronstyd reeds ʼn kartografiese begrip bestaan het, soos afgelei kan word uit 'n rotstekening uit ca. 500 v.C. in die Val Camonica (Italië), waarop 'n nedersetting voorgestel word.

Uit Egipte is kaarte op papirus uit die 13e eeu v.C. bekend. In geskrifte wat bewaar gebly het, word ook melding gemaak van landmeters wat elke jaar na die jaarlikse oorstromings in die NylvalIei opnuut die landboupersele moes opmeet. Griekse geskrifte uit die 6e en 5e eeu v.C. vermeld die bestaan van wêreldkaarte. Oor die bolvorm en die grootte van die aarde was die Grieke reeds goed ingelig as gevolg van die briljante opmeetwerk van Eratosthenes (ca. 276-194v.C.) in ongeveer 240 v.C.

Kaarte uit hierdie tyd het ongelukkig nie bewaar gebly nie, selfs nie uit die tyd van Claudius Ptolemaeus (2e eeu) nie. Hy het ongeveer 160 n.C. sy werk Geographia voltooi, waarin hy die vir hom bekende wêreld beskryf het. Van die kaarte wat hierby hoort, het slegs kopieë bewaar gebly. Van die Romeine het daar op klipfragmente afbeeldings behoue gebly van 'n plattegrond van Rome en Ostia, wat volgens die verbasend groot skaal van ongeveer 1:3000 daarop verskyn.

Van die talle oorsigkaarte het egter slegs een kaart in die vorm van 'n kopie bewaar gebly, naamlik die Tabula Peutingeriana. Handboeke van Romeinse landmeters het wel beter bewaar gebly en hieruit is hulle meetmetodes bekend. In die boeke is klein fragmente van hul kaarte afgebeeld. Vir die Romeine was die wêreld 'n plat, ronde skyf, omring deur 'n oneindige oseaan. Hierdie voorstelling het gedurende die Middeleeue in stand gebly, met aanpassings vir die opvattinge van die Kerk. 'n Kaart van die Heilige Land met 'n stadsplattegrond van Jerusalem in die vorm van 'n vloermosaïek is in die ruïnes van 'n 6e-eeuse Christelike kerk in Madaba (Israel) gevind.

Middeleeuse kartografie Uit die jare 700- 1200 het ongeveer 280 kaarte bewaar gebly; meestal in die vorm van illustrasies in handskrifte. Uit die tydperk 1200-1500 is nagenoeg 800 grotere en kleinere kaarte bekend. Die meeste hiervan gee ʼn afbeelding van die wêreld in 'n sterk geskematiseerde vorm, waarby dit in 'n sirkel saamgebring word, met Asië, Afrika en Europa in posisies wat saam naastenby die letter T vorm. Daar word daarom dikwels na die kaarte as die T-in-O-kaarte verwys.

Wêreldkaarte van groot formaat het in hierdie tyd meestal as altaarversierings gedien, soos byvoorbeeld die Ebstorferkaart (ca. 1240, met 'n deursneë van 3,5 m) en die Herefordkaart (ca. 1290, deursnee 1,5 m). Hierdie kaarte is oorlaai met mitologiese en Bybelse voorstellings en bevat weinig geografiese detail. Meer eksakte kaarte, wat nie op godsdienstige of mitologiese beginsels berus nie, is byvoorbeeld die Kataloniese wereldkaart uit 1375 en die wêreldkaart van Fra Mauro uit 1459.

Voorbeelde van suiwer wetenskaplike kaarte wat gegrond is op meting en geografiese waarneming, is die Arabiese wêreldkaarte uit die 12e eeu, soos die uit die Kitab Roedzjar (1154) en die van Al ldrisi (1100- ca.1166). Streekkaarte, soos die van onder meer Engeland deur Matthew Paris (13e eeu) in ongeveer 1250, behoort tot hierdie kategorie. Naas die geografiese oorsigkaarte is in die 14e en 15e eeu reeds detail kaarte deur landmeters opgestel om eiendomme te karteer en die administrasie van grondbesit te vergemaklik.

Omstreeks 1300 het die eerste seekaarte ontstaan en die eerste bekende geskrewe see mansgidse dateer ook uit hierdie tydperk. Die oudste bekende teks van Ptolemaeus se Geographia is die kopieë wat aan die einde van die 13e eeu van die oorspronklike werk gemaak en van kaarte voorsien is. Die Latynse vertaling dateer uit die 15e eeu en vorm die begin van die Renaissance-tydperk in die kartografie.

Renaissance Die oudste boek waarin gedrukte kaarte voorkom, dateer uit 1472 en is die Etymologiae van Isodorus. Belangriker is egter die eerste gedrukte uitgawe van Ptolemaeus se Geographia in 1477, waarin 27 kaarte opgeneem is. In die talle uitgawes wat tussen 1477 en 1550 verskyn het, is ook nuwe kaarte ingesluit, waarop onder meer die ontdekking van Amerika en Asië getoon is. Van 1506 af het afsonderlike wêreldkaarte waarop die Nuwe Wêreld afgebeeld is, in druk verskyn. Martin Waldseemuller (ca. 1470-1520) het in 1507 ʼn wêreldkaart van 2,5 m X 1,5 m gedruk en in 1513 ook 'n hersiene uitgawe van die Geographia uitgegee.

Die Portugese, die Spanjaarde en die Italianers het oorsigkaarte met die hand vervaardig en die nuutste ontdekkings is hierop aangebring. Hout- en kopergraveerders asook drukkers in Italië en Suid-Duitsland het gesorg dat die nuwe kaarte gereproduseer word. Die kaartdruk - en kaarthandelbedryf is omstreeks 1550 feitlik heeltemal na Antwerpense uitgewers oorgedra. 'n Besliste vernuwing in die klassieke kartografie is deur Gerard Mercator (1512- 1594) ingevoer met sy wêreldbeskrywing met 107 kaarte, wat vir die eerste keer die naam Atlas gekry het.