Reeds met die volksplanting in 1652 is die Christelike grondslag van die land daargestel en die Nederduitse Hervormde Kerk word as die oudste bestaande kerk in die land beskou. Die Kaapse gemeente het gegroei en baie gou is daar ook ander gemeentes gestig, en namate die binneland al hoe verder verken is, het meer gemeentes tot stand gekom. Nadat die boere onder die Engelse weg getrek het - het die Kapenaars wat agter gebly het die Nederduits Gereformeerde Kerk gestig. Later na vrede in die ou Transvaal het die twee kerke besluit om saam te smelt. Al die eiendomme was toe na die Nederduits Gereformeerde Kerk toe oorgedra. Kort hierna het die Kaapse devisie besluit om nie voort te gaan met die ooreenkoms nie. Die Nederduits Gereformeerde het die eiendomme behou maar die Boere in Transvaal het terug geval na die Nederduits Hervormde Kerk. Vandag is die Nederduitse Gereformeerde Kerk sowel as die Gereformeerde en die Nederduitsch Hervormde Kerk, wat later tot stand gekom het, selfstandige kerke.

Ander godsdiensgroepe het ook na Suid-Afrika gekom, soos die Lutherse Kerk, die Anglikaanse, die Presbiteriaanse Kerk, die Metodiste- en Rooms-Katolieke Kerk, terwyl die Apostoliese Geloofsending ook later tot stand gekom het. Vandag is hulle almal erkende kerke in Suid-Afrika. Meer kerklike vryheid en selfstandigheid was vervat in De Mist se nuwe kerkorde van 1804 sodat die staat en ander moederkerke uit die buiteland hulle al hoe minder kon inmeng. Sendingwerk het in al hierdie kerke 'n baie belangrike rol gespeel en daar is heelparty sendingstasies oor die hele land opgerig. Talle kerkgeboue is opgerig en sommige van hierdie geboue, wat 'n belangrike rol gespeel het in die geskiedenis van Suid-Afrika, is vandag nasionale gedenkwaardighede.

Nederduitse Gereformeerde Kerk

Die naam Gereformeerd is tot in 1842 algemeen gebruik, toe die naam van die kerk amptelik vasgestel is as die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Vandag is die Nederduitse Gereformeerde Kerk groter as die twee ander Afrikaanse gereformeerde kerke in die land, naamlik die Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Historiese ontwikkeling Daar word algemeen in die Nederduitse Gereformeerde Kerk aanvaar dat die kerk sedert die volksplanting van Jan van Riebeeck op 6 April 1652 bestaan. Die eerste kerkdienste is deur die sieketrooster, Willem Wijlant, waargeneem. Die dienste is eers in ’n huis en later in die Fort gehou en besoekende predikante het die amptelike Sakramentbediening soos die Doop en die Nagmaal waargeneem. Hierdie reëling het ongeveer 13 jaar gegeld, totdat ds. Johan van Arckel op 18 Augustus 1665 hier voet aan wal gesit het as die eerste permanente predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. duimnael|regs|200px|Stellenbosch se tweede kerk, wat in 1862 en '63 vergroot is tot die huidige gebou Sy aankoms word beskou as die amptelike totstandkoming van die oudste Nederduitse Gereformeerde gemeente in Suid-Afrika. Hy het die gemeentelike werksaamhede georganiseer, doop- en lidmaatregisters ingestel, 'n kerkraad laat kies en notules van kerkvergaderings gehou. Die lidmaattal van die Kaapse nedersetting het so toegeneem dat nog gemeentes mettertyd gestig is. Die tweede gemeente het in 1686 op Stellenbosch tot stand gekom. Die sieketrooster, Sybrand Mankadan, het die dienste en ander gemeentelike pligte waargeneem.

Die gereformeerde karakter van die kerk in die Kaap is verder versterk deur die koms van die Franse Hugenote in 1688. Hierna het die gemeentes Paarl (1691), Roodezand (Tulbagh, 1743) en Swartland (Malmesbury, 1745) tot stand gekom. Hierdie 5 gemeentes het in 1745 op 'n voorstel van die kerkraad van Stellenbosch 'n gekombineerde vergadering gehou. Dit is egter deur die kerkbestuur van Amsterdam verbied omdat die gemeentes nog onder hulle gesag was. Die Kerk het verder gebuk gegaan onder inmenging deur die staat.

Hierdie houding sou egter later verander en die Kerk kon toe sy eie sake begin reël. Ander gemeentes wat in die 18e eeu gestig is, was Graaff-Reinet (in 1792) en Swellendam (in 1798). Die politieke toestande van daardie tyd het die geestelike lewe in die gemeentes baie nadelig geraak. Wat die kerkorganisasie betref, was dit aanvanklik gegrond op die Hollandse patroon. Twee eredienste is gewoonlik op Sondae gehou, met 'n biduur gedurende die week.

Die Heidelbergse Kategismus was ’n belangrike leerboek vir godsdienstige onderrig op skool en in die kategese. Nadat De Mist in 1804 'n nuwe Kerkorde daargestel het, waarin beloftes vir groter kerklike vryheid en selfstandigheid vervat was, is die eerste selfstandige sinode van die Kaap in 1824 gehou. Tydens hierdie sinodesitting is daar besluit om ’n Teologiese Kweekskool op Stellenbosch te stig, wat wel op 1 November 1858 tot stand gekom het. Die regering het egter steeds seggenskap gehad in die besluitneming van die sinode aangesien alle besluite eers vir goedkeuring aan die goewerneur voorgelê moes word. Die sinodesitting van 1862 het ’n groot opskudding veroorsaak toe ingevolge 'n Hooggeregshofbevel bepaal is dat predikante en ouderlinge noord van die Oranjerivier nie na die sinode kon terugkeer nie. Deur middel van die Groot Trek is die godsdiens, wat 'n belangrike plek ingeneem het, saam na die binneland ingedra.

Die sakramente is gereeld deur die sendelinge van die Wesleyaanse Kerk, naamlik eerw. Smit, Gerrit Maritz se swaer, en die Amerikaanse sendeling, ds. Daniel Lindley, bedien. Die oudste gemeente wat noord van die Oranjerivier gestig is, was Pietermaritzburg (1839). Winburg, wat op 31 Maart 1842 tot stand gekom het, is die oudste gemeente in die Oranje-Vrystaat en hierdie datum word ook as die amptelike stigtingsdatum van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat beskou. Die Nederduitse Gereformeerde gemeente Potchefstroom, wat ook in 1842 tot stand gekom het, is die oudste Nederduitse Gereformeerde gemeente in Transvaal. Albei hierdie gemeentes is deur ds. Lindley gestig.

Die gemeentes noord van die Oranjerivier is in 1850 deur die Kaapse Kerk in 'n Ring georganiseer, wat bekend gestaan het as die Ring van die Transgariep. Die 5 gemeentes noord van die Oranjerivier was Pietermaritzburg, Port Natal en Weenen aan die oostekant van die Drakensberge en Winburg en Potchefstroom aan die westekant. Onder die predikante wat die gemeentes noord van die Oranjerivier op 'n tydelike grondslag besoek het, was ds. A.A. Louw, dr. A. Murray (jr.), dr. H.E. Faure en dr. W. Robertson.

Nadat die Trekkers in 3 kerke verdeel het, het ds. Frans Lion Cachet hom veral daarvoor beywer om die Nederduitse Gereformeerde Kerk afsonderlik te organiseer. Hierdie ideaal is in Desember 1866 verwesenlik nadat die eerste afsonderlike sinode van die Oranje-Vrystaat in Mei die vorige jaar in Bloemfontein vergader het en die eerste selfstandige sinode van Natal 2 maande later in Pietermaritzburg gekonstitueer is. Verskeie pogings is aangewend om toenadering tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Ned. Herv. Kerk te bewerkstellig.

Die sinodes van albei kerke het 'n kommissie, elk bestaande uit 7 lede, benoem om oor die saak te beraadslaag en op grond van hul pogings het die 2 kerke in 1885 saamgesmelt. Die Verenigde Kerk het sy eerste vergadering op 7 Desember 1885 gehou. Daar is voorlopig besluit om die kerk die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk te noem en die naam is in 1889 finaal aanvaar. Daar was egter 'n aantal ontevredenes in die gemeentes Pretoria, Standerton en Middelburg. Hulle het die vereniging van die 2 kerke verwerp en ds. M.J. Goddefroy beroep.

Die ontevrede lidmate van die gemeentes Rustenburg en Zeerust het in 1891 ds. J. Van Selkum beroep. Intussen het ’n groep ontevrede manslidmate ’n Prokurasiekommissie in die lewe geroep om op die kwessie van die transportering van kerklike eiendomme in te gaan. Die Verenigde Kerk het voortgegaan om die kerkgeboue van die Ned. Herv. Kerk te gebruik, totdat die ontevredenes saamgekom en 'n nuwe Ned. Herv. Kerk gestig het. In 1905 het die kommissies van die 4 afsonderlike Nederduitse Gereformeerde Kerke, naamlik Kaapland, Natal, die Oranje-Vrystaat en Transvaal, op Colesberg vergader ten einde nouer samewerking te bewerkstellig. Elke provinsie se Nederduitse Gereformeerde Kerk het egter sy eie onafhanklikheid behou. Soortgelyke Nederduitse Gereformeerde kerke is later in Namibië en Sentraal-Afrika gestig. Die Verenigde Kerk het in 1957 besluit om weer die naam van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal aan te neem. Ordonnansie 7 van 1842, wat verhinder het dat predikante en ouderlinge buite die politieke grense van die Kaapkolonie wettige lede van die sinode kon wees, is eers 'n eeu later herroep. In 1962 is die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika gestig.

Die Algemene Sinode, wat verantwoordelik is vir die bepaling van die algemene beleid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, is saamgestel uit 11 streeksinodes. Intussen het die Nederduitse Gereformeerde Kerk sy invloed op 'n wye verskeidenheid van terreine in die samelewing laat geld. Die Kerk het byvoorbeeld ’n belangrike rol gespeel in die onderwys, welsyn, sending en so meer. Teologiese fakulteite, waar predikante hul opleiding ontvang, is die Kweekskool van Stellenbosch, die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Sendingwerk Die sendingaksie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk word gewoonlik teruggevoer na 'n gebed van Jan van Riebeeck. Hoewel die Evangelie aan anderkleuriges verkondig is, was dit nooit ’n georganiseerde poging nie. Die gekerstende anderkleuriges is wel toegelaat om saam met die Blankes Nagmaal te gebruik en banke is spesiaal vir die doel in die kerke vir hulle afgesonder. Verskeie sendinggenootskappe is toegelaat om sendingwerk te doen. In 1799 het die Sendinggenootskap, wat 'n poging tot samewerking was tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Londense Sendinggenootskap, tot stand gekom.

In 1824 het die kerk op sy eerste sinode egter besluit om met sy eie sendingwerk onder anderkleuriges te begin en twee jaar later is ds. Leo Marquard as die eerste voltydse sendeling aangestel. Hierdie sendingaksie het voortgegaan tot met die sinode van 1857. Tydens hierdie sinodesitting is daar besluit om afsonderlike gemeentes en kerke vir die anderkleuriges te begin. In 1881 is daar ’n afsonderlike sendingkerk met 4 Kleurlinggemeentes gestig.

Hierdie gebruik is mettertyd algemeen aanvaar aangesien daar gemeen is dat anderkleuriges, veral die Swartmense met hul eie taal en kultuur, so die beste bearbei kon word. Die sendingwerk het so uitgebrei dat talle sendingkerke, later die dogterkerke, tot stand gekom het. Tans bestaan die volgende kerke vir anderkleuriges: die Sendingkerk in Suid-Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, met 7 streeksinodes wat ’n algemene sinode vorm, en die Reformed Church in Africa. In al die dogterkerke word die werksaamhede op naastenby dieselfde grondslag onderneem as by die moederkerk. Sendingwerk is ook in die buiteland van stapel laat loop soos byvoorbeeld in Njassaland (tans Malawi), Noord-Nigerië (bekend as die Soedan-Sending), Kenia, Noordoos-Rhodesië (tans Zambië), Suid-Rhodesië (tans Zimbabwe), Mosambiek en Betsjoeanaland (tans Botswana).

Gereformeerde Kerk

Historiese ontwikkeling Die Gereformeerde Kerk is op 11 Februarie 1859 gestig. In die advies wat die kerkraad van Cradock in 1833 van die Ring van Graaff-Reinet aangevra het oor lidmate wat geweier het om Evangeliese gesange tydens eredienste en bidure te sing, kan reeds iets van die toekomstige Gereformeerde Kerk gesien word. Op die eerste Algemene Kerkvergadering van Transvaal in 1853 is 'n versoek gerig dat die Evangeliese gesange uit die eredienste gelaat moes word.