Hierdie artikel handel oor die land wat algemeen as Taiwan bekend staan. Vir die eiland wat die grootste deel van hierdie land uitmaak, sien Taiwan (eiland).
Die Republiek China (Chinees: 中華民國, pinyin: Zhōnghuá Mínguó, [ʈ͡ʂʊ́ŋxu̯ɑ̌ mǐnku̯ɔ̌]; Taiwannees: Tiong-hûa Bîn-kok; Formosaans: Cunghua Minkuo; Hakka: Chûng-fà Mìn-koet), soms ook Republiek China op Taiwan, Nasionaal-China of dikwels net Taiwan genoem, is een van twee Chinese state wat daarop aanspraak maak dat hulle die regmatige verteenwoordiger van China is (die ander een is die Volksrepubliek China). Naas die hoofeiland Taiwan sluit die Republiek China se de facto-staatsgebied 'n reeks kleiner eilande soos Penghu, Kinmen, Matsu, Dongsha, Zhongsha en Nansha in.
duimnael|links|Die Nasionale Chiang Kai-shek-Gedenksaal se naam is in laat 2007 gewysig tot Nasionale Gedenksaal van die Taiwan-demokrasie duimnael|links|Konfusius-tempel in Kaohsiung duimnael|links|Ingangspoort tot die Chiang Kai-shek-gedenksaal in Taipei Die Republiek China het sy oorsprong in die Nasionaal-Chinese Republiek wat in 1912 uitgeroep is – as die eerste Asiatiese land met 'n demokratiese regeringstelsel. www.taiwantourismus.de: Allgemeine Informationen. Besoek op 8 Februarie 2018 Tot in 1949 het hierdie republiek die hele China ingesluit, van 1945 af ook die eiland Taiwan wat tydelik deur Japan beheer is en in daardie jaar aan die Republiek China oorhandig is. Nadat die Nasionaal-Chinese regering onder leiding van die Kuomintang-party in die Chinese Burgeroorlog tussen 1927 en 1949 'n nederlaag teen die Kommunistiese Party van China gely het, het die Kuomintang onder leiding van Chiang Kai-shek op 10 Desember na die eiland Taiwan uitgewyk, nadat die Kommuniste op die vasteland onder Mao reeds op 1 Oktober in Beijing die Volksrepubliek China geproklameer het. Na ramings het tussen 1,8 en twee miljoen Nasionaal-Chinese – Kuomintang-partylede, soldate, sakelui, grondbesitters en kleinboere, monnike, kunstenaars, intellektueles, maar ook krimineles – hulle binne enkele maande op Taiwan gevestig. Christopher L. Salter: Taiwan. Philadelphia: Chelsea House Publishers 2004, bl. 11 Hulle het China se destydse goudreserwes en baie kunsskatte na Taiwan geneem. Ook gedurende die 1950's en 1960's het tienduisende vastelandse Chinese hulle op Taiwan gevestig, meestal vanuit Hongkong en Burma (nou Mianmar).
Die uitbreek van die Korea-oorlog in Junie 1950 het verseker dat Taiwan van groot strategiese belang vir die Verenigde State geword het. Die Amerikaanse president Truman het oorlogskepe na die Straat van Taiwan ontplooi om die eiland teen 'n moontlike kommunistiese inval te beskerm, terwyl die Nasionaal-Chinese regering ook finansieel deur Washington gesteun is. Die Republiek China het in die tweede helfte van die 20ste eeu ongekende vooruitgang op politieke en ekonomiese gebied beleef. Vinnige ekonomiese groei en tegnologiese vooruitgang het gepaard gegaan met politieke liberalisering. Die outoritêre polisiestaat het tot 'n veelparty-demokrasie met 'n verkose president as staatshoof en vrye media, gelykheid tussen die geslagte, en respek en agting vir menseregte ontwikkel wat onder die mees gevorderde nywerheidslande gereken word.
Ondanks die groot skade, wat die eiland Taiwan gedurende die Tweede Wêreldoorlog as gevolg van lugaanvalle gely het en ondanks die moeilike situasie ná die verlore Chinese Burgeroorlog op die vasteland, toe 'n nuwe regering in Taipei gevestig moes word, is sy ekonomiese geskiedenis dié van 'n onderontwikkelde land wat sy ekonomie binne enkele dekades herstruktureer en tot een van die welvarendste ter wêreld ontwikkel het. Nog in 1900 was die eiland Taiwan se bevolking slegs twee miljoen en in 1958 is sowat sestig persent van die land se uitvoerwaarde nog met suiker en rys verdien. Hierdie aandeel het reeds in 1972 tot slegs drie persent gedaal. Schöller, Peter, Heiner Dürr en Eckart Dege (redakteurs): Fischer Länderkunde: Ostasien. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 1987, bl. 209 Die bruto nasionale produk het van slegs $200 in die tydperk kort ná die Tweede Wêreldoorlog tot meer as $13 000 in 1999 gestyg. Denny Roy: Taiwan. A Political History. Ithaca and London: Cornell University Press 2003, bl. 1 Vandag is die land met sy bevolking van 23,6 miljoen een van die vernaamste produsente van inligtingstegnologie en ander elektronika.
As eerste demokratiese en vrye Chinese samelewing het die eilandrepubliek nie net die kultuur en tradisies van China bewaar nie, maar ook sy eie nasionale kulturele identiteit ontwikkel waarin Chinese, Japannese, Westerse en inheemse invloede op 'n wonderlike manier versmelt. Taiwan bied eersterangse Chinese kookkuns, sy bevolking vier tradisionele Chinese en inheemse feeste en bewaar 'n ryk erfenis van godsdienstige boukuns met sy groot verskeidenheid tempels. roughguides.com: Taiwan. Besoek op 8 Februarie 2018
Etimologie Eilandname duimnael|Die woord "Taiwan" geskryf in Tradisionele Chinese karakters (bo) en Vereenvoudigde Chinese karakters (onder). In sy boek Daoyi Zhilüe (1349) het Wang Dayuan Liuqiu as 'n naam gebruik vir die hele eiland of 'n gedeelte daarvan naby aan Penghu. Elders was dié naam gebruik vir die Ryukyu-eilande oor die algemeen of spesifiek die Okinawa-eilande; die naam Ryūkyū is die Japannese variant van Liúqiú. Die naam het ook in die Boek van die Sui (636) en ander vroeë werke verskyn, maar geleerdes kan nie ooreenkom of hierdie verwysings op Ryukyu, Taiwan of selfs Luzon dui nie.
Die naam Formosa (福爾摩沙) dateer uit 1542, toe Portugese seevaarders dit op hul kaarte opgeteken het as Ilha Formosa (Portugees vir "mooi eiland"). Die naam Formosa het uiteindelik "al die ander in die Europese letterkunde vervang" en was tot in die 20ste eeu algemeen onder Engelssprekendes.
In 1603 het 'n Chinese ekspedisievloot geanker by 'n plek in Taiwan genaamd Dayuan, 'n variant van die naam "Taiwan". In die vroeë 17de eeu het die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie 'n handelspos gestig by Fort Zeelandia (nou Anping) op 'n kussandbank genoem "Tayouan", na hul etnoniem vir 'n nabye Taiwannese inheemse stam, moontlik die Taivoan. Dié naam is ook opgeneem in die Chinese volksmond as die naam vir die sandbank en nabygeleë gebied (Tainan). Die moderne woord "Taiwan" is afgelei van hierdie gebruik en dit is in verskillende transliterasies geskryf (大員,大圓,大灣,臺員,臺圓 of 臺窩灣) in Chinese historiese optekeninge. Die gebied wat deur die hedendaagse Tainan beslaan word, was die eerste permanente nedersetting deur beide Europese koloniste en Chinese immigrante. Die nedersetting het gegroei tot die eiland se belangrikste handelsentrum en was tot in 1887 sy hoofstad.
Die gebruik van die huidige Chinese naam (臺灣 / 台灣) het reeds in 1684 amptelik geword onder die Qing-dinastie met die stigting van die Taiwan-prefektuur met sy setel in die huidige Tainan. Deur sy vinnige ontwikkeling het die hele Taiwannese vasteland uiteindelik as "Taiwan" bekend geword.
Name van die land en regsgebied duimnael|Die woord "Republiek China" geskryf in Tradisionele Chinese karakters (bo) en Vereenvoudigde Chinese karakters (onder). Die amptelike naam van die land in Afrikaans is "Republiek China". Kort ná die Republiek China se stigting in 1912, toe dit nog op die Chinese vasteland geleë was, het die regering om na homself te verwys die kortvorm "China" (Zhōngguó, 中國) gebruik, ontleen aan zhōng ("sentraal" of "middel") en guó ("staat, nasionale staat"). Die term het onder die Zhou-dinastie verander en na sy koninklike landboedels verwys en is onder die Oostelike Zhou toegepas op die gebied rondom Luoyi (nou Luoyang) en later op die Chinese Sentrale Vlakte, voordat dit onder die Qing 'n sinoniem geword het vir die staat. Die naam van die republiek was afkomstig uit die Tongmenghui se partymanifes in 1905, waarvolgens die vier doele van die Chinese rewolusie was "om die Mantsjoe-heersers te verdryf, Chunghwa te laat herleef, 'n republiek te stig en om grond gelykop te verdeel onder die mense." Die rewolusionêre leier Sun Yat-sen het die naam Chunghwa Minkuo voorgestel sodra die rewolusie sou slaag.
Gedurende die 1950's en 1960's, nadat die Republikeinse regering na Taiwan ontwyk het, is daarna algemeen as "Nasionaal-China" (of "Vrye China") verwys om dit te onderskei van die "Kommunistiese China" (of "Rooi China"). Oor die daaropvolgende dekades heen het die Republiek China na die hoofeiland algemeen bekend geword as "Taiwan". Om verwarring te voorkom het die Republiek China se regering in 2005 "Taiwan" langs sy amptelike naam begin plaas. In staatspublikasies deur die Republiek China word die naam geskryf as "Republiek China (Taiwan)", "Republiek China/Taiwan" of soms "Taiwan (ROC)".
Die term "Taiwannese gebied" is gebruik om na die eiland Taiwan, Penghu, Kinmen, Matsu en ander gebiede onder beheer van die Republiek China te verwys in kontras met "Vastelandse gebied" wat verwys na Republiek China-gebied buite die Taiwannese gebied en onder Chinese kommunistiese beheer.
Die Republiek China neem onder die naam "Chinese Taipei" deel aan die meeste internasionale forums en organisasies as 'n kompromie met die Volksrepubliek China (VRC). Byvoorbeeld is dit die naam waaronder dit deelneem aan Olimpiese Spele en die APEC. Die term "Taiwannese owerhede" word soms deur die Volksrepubliek China gebruik om na die regering op Taiwan te verwys.
Geografie Ligging en topografie duimnael|Nasa-satellietbeeld van Taiwan Die Republiek China beslaan sedert 1949, toe op die Chinese vasteland 'n kommunistiese volksrepubliek uitgeroep is, 'n totale oppervlakte van 35 980 vierkante kilometer. Die hoofeiland Taiwan, geleë in die Stille Oseaan, het 'n oppervlakte van 35 801 vierkante kilometer, 'n maksimale lengte van 394 kilometer en 'n maksimale wydte van 144 kilometer. Sy vorm herinner aan 'n tabakblaar. Die Republiek China op Taiwan behels daarnaas die eilandgroepe Pescadores (Penghu), Matsu (Mazu) en Quemoy (Jinmen) in die Straat van Taiwan asook 'n aantal kleiner eilande wat onder meer in die Suid-Chinese See lê.
Die kleiner eilande het ongerepte natuur. Die vulkaniese Groen Eiland, Ludao, staan bekend vir sy weelderige plantegroei en warm soutwaterbronne, maar word histories ook verbind as die eiland waar politieke gevangenes en ballinge gedurende die sogenaamde "Wit Terreur" van die 1950's aangehou is. Die Orgideë-eiland, ook bekend onder sy Chinese naam Lanyu, het 'n klein inheemse bevolking van 3 000. Die plaaslike Tao is een van die mees geïsoleerde etniese groepe in die Republiek China wat eers in 1945 in aanraking gekom het met die moderne beskawing. Die Penghu-argipel, vroeër bekend as Pescadores-eilandgroep, bestaan uit 64 eilandjies.
Taiwan word in die weste deur die Straat van Taiwan van die Chinese vasteland se suidooskus geskei en in die suide deur die Straat van Luzon van die Filippyne. In die ooste word Taiwan deur die Filippynse Bekken begrens. Die eiland grens in die noorde aan die Japannese eilandgroep Ryūkyū en die Oos-Chinese See. Sy ligging tussen Korea en Japan in die noorde en Hongkong en die Filippyne in die suide maak van Taiwan 'n belangrike tussenstop vir reise na en in Asië.
Taiwan is 'n bergagtige eiland – byna twee derdes van sy oppervlakte word deur beboste berggebiede beslaan en slegs een derde is geskik vir landbou. Die Sentraalgebergte, wat oor 'n afstand van 270 kilometer in 'n noord-suidelike rigting strek, verdeel die eiland in twee hoofkuslandskappe met uitlopers van die groter bergreekse, terrasvormige vlaktes en kusvlaktes en -bekkens. Meer as eenhonderd pieke met hoogtes van meer as 3 000 m maak deel uit van die sentrale bergreeks. Die hoogste hiervan is die Jadeberg op 3 952 m bo seevlak. Taiwan se ooskus is betreklik steil, die noordkus word oorheers deur vulkaniese pieke met hoogtes van meer as 1 000 m, terwyl die suidkus deur talle sandstrande gekenmerk word. Die relatief plat weskusgebied is digbevolk.
Natuurwonders en tektoniek