duimnael|links|180px|Die dorp is genoem na John Daniel Kestell, in wie se gemeente die wyk geval het toe hy leraar van Harrismith was. duimnael|links|200px|Kestell se NG kerkgebou, ontwerp deur Gerard Moerdijk en ingewy op 31 Maart 1928.

Kestell is 'n dorpie geleë in die Oos-Vrystaat, Suid-Afrika. Die N5 nasionale pad gaan deur die dorp.

Geskiedenis Die dorp is gestig in 1905 op die plase Mooifontein en Driekuil wat van Adriaan en Johannes Bezuidenhout gekoop is. Dié dorp is genoem na dr. John Daniel Kestell (1854–1941), wat 'n belangrike rol gespeel het in die Anglo-Boereoorlog en later gehelp het om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Die dorp het in 1906 'n munisipaliteit geword. Kestell is geleë tussen Bethlehem en Harrismith, waar dr. Kestell van 1894 tot 1903 predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk was. Die plaaslike NG kerkgebou, ontwerp deur die befaamde argitek van onder meer tientalle kerke en die Voortrekkermonument, Gerard Moerdijk, is op 31 Maart 1928 ingewy.

Omgewing Kestell het gegroei tot 'n handels-, kerk-, skool-, en administratiewe sentrum vir 'n belangrike landbougebied. Hier word gemengde boerdery beoefen – beeste, suiwel, skape, mielies en ander graan gewasse. Die dorp is bekend vir sy sandsteengeboue.

Tweede Vryheidsoorlog Op 25 Desember 1901 het generaal Christiaan De Wet 'n Britse kolonne verslaan in die Slag van Groenkop. Dit het sowat 20 km noordwes van Kestell plaasgevind in die voetheuwels van die Langberg en Bothasberg.

Sien ook NG gemeente Kestell Lys van dorpe in Suid-Afrika

Bronne De Kock, W.J. 1968. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel I. Pretoria: Nasionale Raad vir Sosiale Navorsing, Departement van Hoër Onderwys. Nienaber, P.J. 1963. Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek. Kaapstad, Johannesburg: Suid-Afrikaanse Boeksentrum. B.P.J. Erasmus. Op Pad in Suid-Afrika. 1995.

Verwysings

Kategorie:Nedersettings in die Vrystaat