Fouriesburg is 'n dorp in die Oos-Vrystaat, Suid-Afrika. Die dorp word in die ooste deur die Rooiberge en in die weste deur die Witteberge begrens.

Geskiedenis Die dorp is gestig in 1892 op die plaas Groenfontein en vernoem na Christoffel Fourie. Vir 'n paar maande was die dorp ook die setel (die laaste van die oorlog) van die regering van die Oranje-Vrystaat tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Fouriesburg is bekend vir gevegte tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Ongeveer 4000 Boeresoldate onder leiding van Marthinus Prinsloo het by Surrender Hill aan die Britse soldate oorgegee.

Die huis waarin president MT Steyn gewoon het, staan nog op die hoek van Reitz- en Robertsonstraat.

Distrik en grenspos Die distrik is 1 155 km2 groot. Gemengde boerdery (koring, mielies en beeste) word beoefen. Die dorp is ook 'n belangrike basis vir handel met Lesotho aangesien die grens slegs 10 km ver is. Die grenspos staan bekend as Caledonspoort. Visierskerf is 'n bekende berg naby Fouriesburg.

Sien ook NG gemeente Fouriesburg Lys van dorpe in Suid-Afrika

Verwysings Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995.

Kategorie:Nedersettings in die Vrystaat