350px|duimnael|regs|'n Modernistiese huis deur die argitek Richard Neutra. Modernisme is 'n denkrigting wat die mens se vermoë om die geboude en ontwerpte omgewing met behulp van wetenskaplike kennis, tegnologie en praktiese eksperimentering te skep, verbeter, dekonstrueer en hervorm herbevestig – dus in wese beide progressief en optimisties. Die term dek baie politiese, kulturele en kunsbewegings wat hulle oorsprong in die veranderinge in die Westerse samelewing teen die einde van die 19de eeu en die begin van die 20ste eeu het.
Breedweg beskryf modernisme 'n reeks hervormende kulturele bewegings in kuns en argitektuur, musiek, literatuur en die toegepaste kunste wat te voorskyn gekom het in die dekades voor 1914. Moderne (kwantum en relatiwistiese) fisika, moderne (analitiese en kontinentale) filosofie en moderne getalteorie in wiskunde word egter ook beskou as deel van die periode.
Met die aangryp van verandering en die teenwoordige behels modernisme die werk van denkers, insluitend kunstenaars, skrywers en ontwerpers wat gerebelleer het teen negentiende eeuse akademiese en historiese tradisies, en die nuwe ekonomiese, maatskaplike en politiese aspekte van 'n ontluikende volledige geïndustrialiseerde wêreld gekonfronteer het. Party mense verdeel die twintigste eeu in bewegings aangedui deur Modernisme en Postmodernisme, terwyl ander dit as aspekte van dieselfde beweging sien.
Historiese oorsig Modernisme het as 'n neiging te voorskyn gekom in die middel van die negentiende eeu in Wes-Europa. Die oorsprong daarvan kan gevind word in die gedagte dat "tradisionele" vorms van kuns, literatuur, maatskaplike organisasie en die alle-daaglikse lewe verouderd geword het; dit was daarom noodsaaklik om hulle weg te vee. In die opsig is dit geïnspireer op vroeëre revolusionêre bewegings insluitend liberalisme en kommunisme. Modernisme moedig die herondersoek van elke aspek van bestaan aan, van handel tot filosofie, met die doel om uit te vind wat vooruitgang "terughou", en dit te vervang met nuwe, en daarom beter, maniere om dieselfde doelstelling te bereik. In wese het die modernistiese beweging geredeneer dat die nuwe realiteite van die industriële en gemeganiseerde era permanent en op hande was en dat mense hulle wêreldbeskouing moes aanpas om te aanvaar dat wat nuut was ook goed en mooi was.
Voorgangers tot modernisme
Die eerste helfte van die negentiende eeu in Europa is gekenmerk deur 'n aantal oorloë en revolusies, wat die opkoms van idees en doktrines wat nou as die Romantiek bekendstaan onthul het: klem op individuele subjektiewe ondervinding, die belangrikheid van die "Natuur" as 'n onderwerp vir kuns, revolusionêre of radikale uitbreidings van uitdrukking, en individuele vryheid. Teen die middel van die eeu het daar egter 'n sintese van hierdie idees met stabiele oorheersende vorms verskyn, gedeeltelik in reaksie op die mislukte Romantiese Revolusies van 1848. Dit is beliggaam deur Otto von Bismarck se realpolitik en deur die "praktiese" filosofiese idees soos positivisme. Die stabiliserende sintese wat onder verskeie name bekend gestaan het — in Groot-Brittanje is dit die "Victoriaanse tydperk" — se oorsprong het daarin gelê dat wat reël was dit wat subjektief was gedomineer het.
Sentraal tot hierdie sintese was gemeenskaplike aannames en institusionele verwysingsraamwerke, insluitend godsdienstige norme wat in Christendom aangetref word, wetenskaplike norme aangetref word in klassieke fisika, en doktrines wat beweer het dat die afbeelding van eksterne realiteit van 'n objektiewe standpunt nie net moontlik was, maar ook gewens. Kulturele kritici en historici bestempel die versameling doktrines as Realisme. Die term word egter nie universeel gebruik nie. In filosofie het die rasionalistiese en positivistiese beweging die voorrang van rede en stelsel gevestig.
'n Reeks idees, waarvan sommige direkte voortsetting van die Romantiese skool was, het teen die stroom geloop. Noemenswaardig was die agrariese en herlewingsbewegings in die beeldende kunste en digkuns (b.v. die Prerafaelietiese Broederskap en die filosoof John Ruskin). Rasionalisme het ook reaksies van die anti-rasionaliste in filosofie uitgelok. In besonder, Hegel se dialektiese siening van beskawing en geskiedenis het reaksies van Friedrich Nietzsche en Søren Kierkegaard, wat belangrike invloede op Eksistensialisme was, uitgelok. Al hierdie afsonderlike reaksies is te same gesien as as 'n uitdaging tot die gemaklike idees van sekerheid wat afgelei is van beskawing, geskiedenis of suiwer rede.
Van die 1870's af het die idees dat geskiedenis en beskawing altyd inherent progressief was en dat vooruitgang altyd goed was al hoe meer onder skoot gekom. Skrywers soos Wagner en Ibsen is uitgeskel vir hulle kritiek op kontemporêre beskawing en vir hulle waarskuwings dat versnellende "vooruitgang" sou lei tot die ontstaan van individue afgesonder van maatskaplike norme en geïsoleer van hulle mede mens. Argumente na vore gekom wat nie alleen gevra het of die waardes van die kunstenaar en die samelewing verskil het nie, maar wat ook beweer het dat die Samelewing in teenstelling tot Vooruitgang was en dat dit nie in die bestaande vorm kon vooruitgaan nie. Filosowe het die optimisme van te vore bevraagteken. Die werk van Schopenhauer is as "pessimisties" bestempel vir die idee van die "ontkenning van vrye wil", 'n idee wat beide verwerp is en opgeneem is deur latere denkers soos Nietzsche.
Twee van die mees ontwrigtende denkers van die periode was, in biologie, Charles Darwin en, in politieke wetenskap, Karl Marx. Darwin se evolusieteorie van natuurlike seleksie het godsdienstige sekerheid van die algemene publiek en die sin van menslike uniekheid van die intelligentsia ondermyn. Dit was moeilik om die gedagte dat mense gedryf is deur die selfde impulse as "laer diere" te versoen met die idee van 'n veredelende spiritualiteit. Karl Marx het skynbaar 'n politiese weergawe van dieselfde idee voorgestel: dat probleme met die ekonomie orde nie van verbygaande aard was nie, die resultaat van spesifieke kwaaddoeners of tydelike omstandighede nie, maar dat daar fundamentele teenstrydighede binne die "kapitalistiese" stelsel was. Beide denkers sou verdedigers en gedagteskole tot gevolg hê wat beslissend sou word in die vestiging van modernisme.
Twee idees wat in Frankryk ontstaan het, in die kunste en letterkunde, sou afsonderlik besondere impak hê. Die eerste was Impressionisme, 'n skilderskool wat aanvanklik gefokus het op werk wat nie in ateljees, maar buite (en plein air) uitgevoer is. Impressionistiese skilderye het aangetoon dat mense nie voorwerpe sien nie, maar in plaas daarvan, lig self. Die skool het aanhangers gelok ondanks interne onmin tussen die leidende beoefenaars daarvan, en het al hoe meer invloedryk geraak. Dit is aanvanklik verwerp van meeste van die kommersiële uitstallings uitgesluit — die regeringsondersteunde Paryssalon — die kuns is by die Salon des Refusés, wat deur Keiser Napoleon III geskep is om al die skilderye wat deur die Paryssalon verwerp is te vertoon, uitgestal. Terwyl baie van die werk in standaardstyle gedoen is, maar deur minderwaardige kunstenaars, het die werk van Édouard Manet geweldig baie aandag getrek en kommersiële geleenthede vir die beweging ontsluit.
Die tweede skool was Simbolisme, gekenmerk deur die geloof dat taal uitdruklik simbolies van aard is, en dat poësie en prosa verbindings moet volg wat deur die klank en tekstuur wat die woorde skep. Die digter Stéphane Mallarmé sou besonder belangrik wees vir wat later sou volg.
Terselfdertyd was maatskaplike, politieke, en ekonomiese kragte aan die werk wat die basis sou vorm om te redeneer vir 'n radikaal ander soort kuns en denke. Hieronder tel stoomaangedrewe industrialisasie, wat geboue geproduseer het wat kuns en ingenieurswese in nuwe industriële materiale soos gietyster gekombineer het om spoorwegbrûe en glas-en-yster treinloodse — of die Eiffeltoring, te produseer wat alle vorige beperkings op hoe hoog mensgemaakte voorwerpe kon wees oorkom het— en terselfdertyd 'n radikaal anderse omgewing in stedelike lewe gebied het.
Die ellende van industriële verstedeliking, en die moontlikhede wat deur wetenskaplike ondersoek van onderwerpe gebied is, het veranderinge teweeg gebring wat die Europese beskawing, wat tot op daardie stadium gesien is as asof dit 'n kontinue en progressiewe ontwikkelingstrajek van die Renaissance af gehad het, sou skud. Die telegraaf se vermoë om oombliklikheid oor afstand moontlik te maak het die ondervinding van tyd self verander.
Die alomvattendheid van die veranderinge kan waargeneem word in hoe baie moderne dissiplines beskryf word, in hulle voor-twintigsteeeuse vorm, as "klassiek", insluitend fisika, ekonomie, en die kunste soos ballet of argitektuur.
Die begin van modernisme, 1890 — 1910
Clement Greenberg het geskryf dat "Wat met veilgheid Modernisme genoem kan word" te voorskyn gekom het in die middel van negentiende eeu— en redelik plaaslik, in Frankryk, met Baudelaire in letterkunde en Manet in skilder, en moontlik ook met Flaubert, in prosa. (Dit was 'n ruk later en nie so plaaslik, dat Modernisme in musiek en argitektuur te voorskyn gekom het)."Clement Greenberg: Modernism and Postmodernism , seventh paragraph of the essay. URL accessed on June 15, 2006 Die "avant-garde" was wat Modernisme aanvanklik genoem is, en die term het behou gebly vir die beskryf van bewegings wat geïdentifiseer word met die omverwerping van een of ander aspek van tradisie of die status quo.
In die 1890's het 'n gedagtestroom begin aanvoer dat dit nodig was om die vorige norme geheel en al opsy te skuif, eerder as om slegs kennis uit die verlede aan te pas in die lig van huidige tegnieke. Die groeiende bewegings in kuns het gepaard gegaan met ontwikkelings soos die Relatiwiteitsteorie in fisika; die groter wordende integrasie van die binnebrandmotor en industrialisasie; en die verhoogde rol van die sosiale wetenskappe in openbare beleid. Daar is geredeneer dat, as die aard van realiteit self bevraagteken moes word, en dat as beperkings wat op menslike aktiwiteit aa die ophef was, dan moes kuns ook radikaal verander. Dus het 'n reeks skrywers, denkers en kunstenaars in die eerste vyftien jaar van die twintigste eeu weg gebreek van die tradisionele maniere om letterkunde, skilder en musiek uit te voer.
Sigmund Freud het 'n beskouing aangebied van subjektiewe state van die onderbewussyn vol primitiewe impulse gebalanseer met selfopgelegde beperkings, 'n beskouing wat Carl Jung sou kombineer met die geloof in natuurlike essensie om 'n gemeenskaplike onderbewussyn voor te stel wat gevul was met basiese tipologieë wat die bewussyn sou beveg of omarm. Jung se beskouing het voorgestel dat mense se impulse om maatskaplike norme te oortree nie die produk van kinderagtigheid of onkunde was nie, maar eerder noodsaaklik tot die aard van die menslike dier was, Darwin se idees het toe reeds die konsep van "die mens, die dier" gevestig.
Friedrich Nietzsche het 'n filosofie voorgestaan waarin kragte, spesifiek die 'Wil tot mag', meer belangrik as feite of dinge was. Op soortgelyke manier het die werk van Henri Bergson die 'lewenskrag' oor statiese begrippe van realiteit voorgestaan. Wat al die skrywers verenig het was 'n romantiese wantroue van die Victoriaanse positivisme en sekerheid. In stede daarvan het hulle irrasionele denkprosesse deur die lens van rasionaliteit en holisme voorgestaan, of in die geval van Freud dit probeer verduidelik. Dit was verbind aan 'n eeulange neiging om in terme van holistiese idees te dink, wat 'n groter belangstelling in die okkult en "die lewenskrag" ingesluit het.