duimnael|Asklepios, in die Griekse mitologie die god van medisyne en genesing

Geneeskunde is die vakgebied toegespits op die bestudering van die sel-, weefsel- en orgaansisteme (fisies en chemies), asook die patologiese manifestasies (biochemie, histologie, hematologie, mikrobiologie...). Sekondêr (holistiese benaderings) – sielkunde en psigiatrie. Daar word gestreef na die herstelling van die mens na 'n gesonde toestand d.m.v. diagnose, prognose en voorkoming.

Westerse geneeskunde is gebaseer op bewyse en analise. Daar is 'n logiese verband tussen oorsaak en gevolg – dus word die diagnose gemaak deur kliniese voorkoms en toetse ter bevestiging.

Bestaande terapie sluit farmakologie, chirurgie, onkologie (bestraling) en psigoterapie in. Alternatiewe geneeskunde word al hoe meer populêr.

Geskiedenis In die verlede het die mens geglo dat ernstige siektes deur die werking van bonatuurlike magte veroorsaak is. Dit is trouens vandag nog so by sekere volke waar die toordokter ontbied word as iemand in die familie ernstig siek is, omdat hulle glo dat hy as magiër die bemiddelaar tussen die mens en die bonatuurlike magte is. Daar word geglo dat die toordokter daartoe in staat is om bose geeste uit 'n sieke se liggaam te dryf of om die pasiënt se siel weer in sy liggaam terug te plaas. Verskeie metodes word gebruik om "bose geeste" uit 'n pasiënt te "verdryf". Die algemeenste metode is deur 'n opening in die skedel te boor (trepanering), waardeur die siekte dan kan "ontsnap".

In Europa en Suid-Amerika is skedels met trepaneringsopeninge gevind wat uit die prehistoriese tyd dateer. Die wette van die Babiloniese koning Hammoerabi gee 'n beeld van die geneeskunde wat omstreeks 2000 v.C. in Mesopotamië beoefen is. Uit tekste wat op 'n pilaar gegraveer is, blyk onder andere dat 'n organisasie van geneeshere destyds al bestaan het. Die wette het bepaal dat 'n swaar straf opgelê moes word as die mediese behandeling nie suksesvol was nie. Daar is geglo dat die verloop van 'n siekte voorspel kon word uit natuurlike tekens soos lig en donker, die vlug van voëls of uit die voorkoms van offerdiere se ingewande. Uit 'n aantal papirusrolle wat bewaar gebly het, veral die Ebers- en die Smith-papirus, blyk dat die geneeskunde in Ou Egipte 'n hoë peil bereik het, hoewel dit steeds nou aan die mities-magiese denke verbonde was.

Benewens 'n aantal mediese voorskrifte bevat die Ebers-papirus ook sekere besweringsformules. In die Smith-papirus is daar weer 'n verhandeling oor wondversorging. Die feit dat daar in daardie jare al geglo is in die "lewensasem" blyk uit die beskrywing daarvan op sarkofae (doodskiste): die asem is toe al as die belangrikste beginsel van lewe beskou. Daar is getuienis dat die geneeskunde in Indië en China reeds 'n paar duisend jaar voor Christus beoefen is. Die Hindoes het in daardie jare al onder meer blaasoperasies uitgevoer. Die Chinese was bekend met die gebruik van baie kruie en ander stowwe vir mediese doeleindes. Baie van die kruie is later deur die Westerse geneeskunde oorgeneem, onder andere die middel reserpien, wat die bloeddruk kan verlaag, en die bloedvatvernouer efedrien, wat ook teen asma gebruik word.

Teen die jaar 2500 v.C. het die Chinese reeds akupunktuur ontdek, 'n toegepaste metode om pyn te verlig deur goue of silwernaalde in die weefsels of organe te steek. Hierdie metode word vandag nog gebruik

Griekse en Romeinse geneeskunde Hippokrates (460-377 v.C.) was 'n die "vader van die geneeskunde" bekend staan. Daar is vandag min oor sy lewe bekend; hy het waarskynlik op die Griekse eiland Kos, waar hy gebore is, geleef. In die ou geskrifte wat aan Hippokrates toegeskryf word, word daar vir die eerste keer beweer dat daar net natuurlike oorsake van siektes is. Hierdie opvatting van Hippokrates is voorafgegaan deur 'n geleidelike verandering in die opvattinge van siektes. Die geneeskunde was oorspronklik in die hande van die tempelpriesters van Asklepios (ook bekend as Aesculapius) die god van genesing.

Die leerstellings van filosowe soos Pythagoras (geb. 582 v.C.) en Empedokles (490-430 v.C.) het die grondslag gelê vir 'n meer natuurwetenskaplike benadering in die geneeskunde. In die versamelde Griekse geneeskundige geskrifte, wat Hippokrates se ware werke insluit, die Corpus Hippocraticum, word klem gelê op waarneming en die rasionele verwerking daarvan. Hippokrates het die menslike liggaam en die fisiologiese prosesse gesien as 'n afspieëling van die skepping in sy geheel. Die liggaam bevat daarvolgens vier soorte vog, ·te wete bloed, slym, geel gal en swart gal. 'n Goeie vermenging van hierdie liggaamsvogte, die sogenaamde humores, is noodsaaklik vir goeie gesondheid en 'n ewewigtige persoonlikheid. Hierdie teorie oor siektes word die humorale patologie genoem.

Volgens hierdie geskrifte het Hippokrates sy behandeling gegrond op die selfgenesende werking van die natuur. Hy het probeer om genesing met die gebruik van maatreëls wat 'n teenoorgestelde uitwerking gehad het as die wat die siekte veroorsaak het, te bevorder. Die Eed van Hippokrates (ook bekend as die Hippokratiese eed), 'n handleiding oor die gedragsreëls vir geneeskundiges, is deur die eeue heen as die etiese grondslag van die mediese praktyk beskou. In hierdie eed word klem gelê op die geheimhoudingsplig van 'n dokter en die noodsaaklikheid van die beskerming van menselewens. Genadedood en aborsie word by name in die eed genoem en terselfdertyd veroordeel.

In die daaropvolgende eeue het die geneeskunde in steeds groter wordende mate in 'n natuurwetenskaplike rigting ontwikkel. In die eerste paar eeue na die geboorte van Christus het baie Griekse geneeskundiges na Rome gegaan. Een van hulle, Claudius Galenus (130-200 n.C.), het van Pergamum in Klein-Asië gekom en hom in 164 n.C. in Rome gevestig. Galenus was 'n aanhanger van die humorale patologie en het met sy anatomiese en fisiologiese eksperimente op diere (die oopsny van lyke was tot aan die einde van die Middeleeue verbode) onder andere ontdek dat die bloedvate bloed bevat en nie lug soos voorheen gemeen is nie. Tog het hy geen begrip van bloedsirkulasie gehad nie en geglo dat die bloed heen en weer in die slagare golf. Die hart was die oorsprong van die slagare en die lewer die oorsprong van die are, het Galenus geglo. Hy het ook baie geskryf oor sy eksperimente en só 'n soort ensiklopediese oorsig saamgestel waaruit mediese verskynsels tot en met die 17e eeu verklaar is.

Middeleeue en Renaissance Kennis van die geneeskunde het van Rome na die Oos-Romeinse Ryk versprei en van daar na Arabië. In Wes-Europa is die geneeskunde eeue lank deur monnike beoefen en was dit steeds volledig gegrond op wat van die Grieks-Romeinse geneeskunde bewaar gebly het. Ná die val van die Romeinse Ryk is weinig vooruitgang op geneeskundige gebied gemaak. Navorsers is nie meer aangemoedig om te eksperimenteer nie en dit was selfs gevaarlik om met nuwe opvattings vorendag te kom. Siekte is al hoe meer gesien as 'n straf vir sonde. In die vroeë Middeleeue het die monnike hulle veral toegelê op die kopiëring en vertaling van klassieke Griekse mediese geskrifte.

In die Arabiese Ryk het die geneeskunde wel verder ontwikkel. Die geskrifte van die Persiese geneeskundige Avicenna (980-1037 n.C.) is eeue lank as die mediese standaardwerk beskou. Die Arabiese geneeskunde het 'n belangrike bydrae gelewer tot die hedendaagse kennis van geneesmiddels en die chemie. Gedurende dieselfde tydperk (die 11e en die 12e eeu) is die mediese skool van Salerno in Suid-Italië gestig. Studente uit verskillende lande het hier kom studeer. Ná die jaar 1200 het soortgelyke skole ook in Montpellier, Parys, Bologna en Padua ontstaan. Onder die invloed van die Renaissance is die praktyk van eksperimentering geleidelik weer aangemoedig, hoewel Galenus se anatomiese teorieë steeds aanhang geniet het.

In 1527 is die alchemis Theophrastus Bombastus Paracelsus von Hohenheim (1493-1541), wat as Paracelsus bekend gestaan het, as professor in Basel aangestel. Paracelsus het revolusionêre idees gehad en voordat hy sy eerste lesings gelewer het, het hy die werke van Avicenna en Galenus in die openbaar verbrand. Volgens Paracelsus bestaan die liggaam uit 3 elemente, naamlik sout, swael en kwik. As een van hierdie bestanddele die ander oorheers, sal dit 'n siekte veroorsaak. As die ewewig herstel word, sal die siekte genees word. Paracelsus se belangrikste bydrae tot die geneeskunde is die bekendstelling van chemiese geneesmiddels (iatrochemie), waarvan hy 'n spesiale studie, veral van kwikpreparate, gemaak het. duimnael|Hermanus Boerhaave (1668-1738). Hoogleraar in geneeskunde met sy vrou Maria Drolenvaux (1686-1746) en dogtertjie Johanna Maria (1712-1791) Rijksmuseum Die Vlaamse geneeskundige Andreas Vesalius (1514-1564), 'n professor in Padua, het ook die idees van Galenus verwerp op grond van sy eie waarnemings by die ondersoek van menslike Iyke. In 1543 het hy sy werk oor die anatomie, De humani corporis fabrica, in 7 dele gepubliseer.

In 1628 het die Engelsman William Harvey (1578-1657) met berekenings en eksperimente wat hy gedoen het, bewys dat Galenus se teorie oor die golfbeweging van die bloed nie korrek kon wees nie. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die bloed in 'n kringloop moet vloei, wat gelei het tot die ontdekking van die bloedsomloopstelsel. In die 17de en 18de eeu is 'n hele aantal ander belangrike ontdekkings gedoen, veral op die gebied van die bou van die liggaam (anatomie) en die funksies van die organe (fisiologie).

Antonie van Leeuwenhoek (1632-1723) van Nederland het in 1683 met behulp van lense en 'n mikroskoop wat hyself ontwerp het, daarin geslaag om bakterieë te beskryf. 'n Hoogleraar aan die universiteit van Leiden, Hermanus Boerhaave (1668-1738), het nie self belangrike ontdekkings gedoen nie, maar het die kennis wat tot in daardie stadium oor die geneeskunde ingewin is, gesistematiseer. Hy word ook as die grondlegger van die kliniese ondersoek beskou.

Van historiese betekenis was die gebruik om mense teen pokke in te ent. In 1796 het die Engelsman Edward Jenner (1749-1823) ontdek dat inenting met beespokke-entstof beskerming teen pokke gebied het.

Negentiende en twintigste eeu  In die loop van die 18eeeu is redelike vooruitgang gemaak op die gebied van die anatomie en die fisiologie, maar aan die begin van die 1ge eeu is daar, onder die invloed van 'n meer romantiese en fatalistiese lewensbeskouing, baie min geëksperimenteer. In die tweede helfte van die 1ge eeu het daar egter 'n geweldige wetenskaplike oplewing ontstaan (met Berlyn as Europese middelpunt). wat inderdaad tot vandag voortgeduur het.

In 1848 het Rudolph Virchow (1820-1901) die studie van sellulêre patologie bekend gestel deurdat hy aangetoon het dat siekteprosesse in die selle plaasvind. Hierdie ontdekking het gelei tot die mikroskopiese studie van hierdie "boustenen” in die liggaam en hulle gedrag tydens siekte. Die era van die humorale patologie is hiermee finaal beëindig.

Louis Pasteur (1822-1895), 'n Franse chemikus, het ontdek dat sekere bakterieë 'n rol in siektes speel. Hierdeur is die grondslag gelê vir antisepsis (kiemwerende behandeling deur die toediening van kiemdodende stowwe) . Danksy hierdie ontdekking en die ontwikkeling van narkose is daar in die tweede helfte van die 19e eeu geweldige vooruitgang gemaak op die gebied van die chirurgie. Deur Pasteur se ontdekkings kon melk later gepasteuriseer word.

Joseph Lister was nog 'n pionier van antisepsis en is baie deur die werk van Pasteur beïnvloed. Lister het hom beywer vir die bestryding van infeksie deur die gebruik van karbolsuur.

Reinier de Graaf (1641-1673) het belangrike anatomiese en fisiologiese ondersoeke op die gebied van die geslagsorgane gedoen. Hy het o.m. die ryp follikels in die eierstokke beskryf (later die follikels van Graaf genoem). Hy het ook opgemerk dat die follikels in die volgende stadium (ná ovulasie) gebars het. Hy het egter nie die eiersel self waargeneem nie.