Linux is 'n vrye bedryfstelselkern vir 'n verskeidenheid van rekenaars. Die naam "Linux" word ook baie gebruik om te verwys na volledige bedryfstelsels wat van die Linux-kern gebruik maak. Linux is aanvanklik deur Linus Torvalds geskryf omdat hy graag 'n Unix-bedryfstelsel vir sy Intelgebaseerde persoonlike rekenaar wou hê.Linus Torvalds, David Diamond: Just for Fun, Sedertdien het duisende mense oor die internet ingespring om dit te verbeter. Dit is gebaseer op Unix maar die bronkode is vryelik beskikbaar.
'n Linux-verspreiding (Engels: distribution) is 'n Unix-gebaseerde bedryfstelsel vir persoonlike rekenaars of bedieners, en is die algemene manier waarop 'n Linux-stelsel beskikbaar gestel word. Dit verpak Linux saam met 'n klomp programme van die GNU- en ander projekte. Sulke volledige bedryfstelsels word soms GNU/Linux-stelsels genoem, alhoewel dit algemeen slegs "Linux" genoem word.
Linux is aanvanklik geskryf vir Intel 386-rekenaars en veral gewild geword onder entoesiaste. Dit het daarna geleidelik gewild geword as bedienerbedryfstelsel en geleidelik al hoe meer korporatiewe reuse se aandag getrek, soos IBM, Hewlett-Packard en Novell. Nou word Linux ook geleidelik meer op hoofstroom- persoonlike rekenaars gebruik. Linux word egter ook op 'n groot verskeidenheid ander toestelle gebruik; van klein draagbare toestelle en netwerktoerusting, tot superrekenaars.
Geskiedenis duimnael|links|Linus Torvalds, skepper van die Linux-kern duimnael|Ubuntu duimnael|Geskiedenis van Unix-stelsels. Linux is 'n Unix-tipe stelsel maar die kode daarvan stam nie van die oorspronklike Unix af nie. In 1983 het Richard Stallman die GNU-projek gestig met die doel om 'n volledige Unix-agtige bedryfstelsel wat geheel en al uit vrye sagteware bestaan, te skep. Teen die begin van die 1990's het GNU meeste van die vereiste komponente van die stelsel geskryf of versamel — biblioteke, vertalers, teksredigeerders, 'n Unix-agtige dop (shell) — behalwe vir een belangrike komponent, die kern. Die GNU-projek het 'n kern begin ontwikkel, die Hurd, in 1990, gebaseer op die Mach-mikrokern, maar die ontwikkeling van die Mach-gebaseerde ontwerp blyk moeilik te wees en dit vorder stadig.
Intussen word 'n ander kern in 1991 as 'n stokperdjie deur die Finse student Linus Torvalds begin terwyl hy by die Universiteit van Helsinki studeer. Torvalds gebruik aanvanklik Minix op sy eie rekenaar, 'n vereenvoudigde Unix-agtige stelsel wat deur Andrew Tanenbaum geskryf is vir die leer van bedryfstelselontwerp. Tanenbaum laat egter nie toe dat ander mense sy bedryfstelsel uitbrei nie, wat daartoe lei dat Torvalds 'n plaasvervanger vir Minix skep.
Oorspronklik noem Torvalds sy kern "Freax" vir "free" en "freak" met die gereeld gebruikte X in die name van Unix-agtige stelsels. Die naam "Linux" is deur Ari Lemmke, 'n administrateur van 'n FTP-bediener wat aan die Finse Universiteitsnetwerk behoort het, uitgedink; hy bedink die naam Linux volgens die gids van waar Torvalds se projek vir die eerste keer afgelaai kon word.
Aanvanklik was 'n rekenaar wat Minix geloop het, nodig om Linux te installeer en op te stel. Aanvanklike weergawes van Linux het ook 'n ander bedryfstelsel nodig gehad om van 'n hardeskyf af te kan laai, maar daar was gou aparte selflaaiers (boot loaders) soos LILO beskikbaar. Die Linux-stelsel het Minix gou verbygesteek wat funksionaliteit betref; Torvalds en ander vroeë Linux-programmeerders het hulle werk aangepas vir die GNU-komponente en gebruikerprogramme om 'n volledige, volfunksie- en vrye bedryfstelsel daar te stel.
Vandag lei Torvalds steeds die ontwikkeling van die kern, terwyl ander subkomponente soos die GNU-komponente steeds afsonderlik ontwikkel word (die programmering van die Linux-kern is nie deel van die GNU-projek nie). Ander groepe en maatskappye kombineer en versprei die komponente met addisionele toepassingprogrammatuur in die vorm van Linux-verspreidings.
Oordraagbaarheid Die Linux-kern is oorspronklik slegs vir die Intel 80386-mikroverwerkers ontwerp, maar ondersteun nou 'n wye verskeidenheid rekenaarargitekture. Linux is nou een van die bedryfstelsels wat die meeste na ander ontwerpe oorgedra word en loop op 'n reeks argitekture, van die ARM-gebaseerde iPAQ en selfone tot die IBM System z9-hoofraam. Gespesialiseerde verspreidings bestaan vir argitekture buite die hoofstroom.
Kopiereg, lisensiëring en die Linux-handelsmerk duimnael|Kopielinks-kenteken: sekere regte voorbehou Die Linux-kern en meeste GNU-programmatuur is gelisensieer onder die GNU Algemene Publieke Lisensie. Die GPL vereis dat alle bronkode en afgeleide werke wat versprei word ook onder die GPL gelisensieer word. Daar word soms daarna as 'n "share and share-alike"- of "kopielinkslisensie" verwys. In 1997 het Linus Torvalds aangevoer dat, "Om Linux onder die GPL te plaas beslis die beste ding is wat ek ooit gedoen het." Ander programmatuur kan ander lisensies gebruik; baie biblioteke gebruik die GNU Lesser General Public License (LGPL), 'n meer permissiewe variant van die GPL, en die X-Windowstelsel gebruik die MIT-lisensie.
In die VSA is die naam "Linux" as 'n handelsmerk in Linus Torvalds se naam geregistreer. In 1997, nadat 'n ander persoon die handelsmerk geregistreer het en tantieme van Linux-versprediders geëis het, het Torvalds en sommige geaffekteerde organisasies hof toe gegaan om die handelsmerk eerder aan Torvalds toegeken te kry. Die lisensiëring van die handelsmerk word nou deur die Linux Mark Institute hanteer. Torvalds het bevestig dat hy die naam slegs geregistreer het om te verhoed dat iemand ander dit kan gebruik, maar is in 2005 volgens Amerikaanse handelsregwette gedwing om aktiewe maatstawwe te onderneem om die handelsmerk af te dwing. As gevolg hiervan het die LMI 'n aantal briewe aan verspreidingshandelaars gestuur om hulle te versoek om 'n fooi te betaal vir die gebruik van die naam en het 'n aantal maatskappye ingewillig.
Uitspraak In 1992 het Torvalds verduidelik hoe hy die woord Linux uitspreek:
'n Klanklêer waar Torvalds sê "Hello, this is Linus Torvalds, and I pronounce Linux as Linux" is hier beskikbaar. In Engels word, "Linux" en "Minix" gewoonlik met 'n kort i (IFA: /ɪ/) klank uitgespreek wat verskil van Torvalds se Fins-Sweedse uitspraak van die woorde.
In Afrikaans: Die i in Linux word uitgespreek soos die ie in bier en die u soos die u in virus. Linus Torvalds spreek Linux dus as Lienuks uit, met die klem op Lie. Ander uitsprake, anders as Torvalds s'n, is onder andere: Laainaks, Liniks, en Linieks.
Linux en die GNU-Projek duimnael|210px|Richard Stallman, stigter van die GNU-projek vir 'n vrye bedryfstelsel. Omdat alle Linux-verspreidings steun op biblioteke en gereedskap uit die GNU-projek, wat die Linux-kern voorafgegaan het, vra Richard Stallman en die Stigting vir Vrye Sagteware dat die gesamentlike stelsel eerder "GNU/Linux" of "'n Linux-gebaseerde GNU-stelsel" genoem moet word. Linus Torvalds het gesê dat hy die noem van Linux in die algemeen as GNU/Linux "eenvoudig belaglik" vind. Sommige verspreidings gebruik wel die naam—vernaamlik Debian GNU/Linux—terwyl meeste mense sommer net na die stelsel as Linux verwys. Die onderskeid tussen die Linux kern en die hele stelsel wat daarop gegrond is, is 'n bron van verwaring vir nuwe gebruikers en dit bly omstrede.
SCO-regsgeding In Maart 2003 het die SCO Groep IBM gedagvaar. In die dagvaarding beweer SCO dat IBM gedeeltes van kode waarop SCO kopiereg het tot die Linux kern bygedra het in 'n skending van IBM se lisensie om Unix te gebruik. Verder het SCO briewe gestuur aan 'n aantal maatskappye waarin hulle waarsku dat hulle gebruik van Linux sonder 'n lisensie van SCO tot vervolging kan lei, en in die pers beweer dat hulle individuele Linux-gebruikers sou dagvaar. Die omstredenheid sluit in dagvaardings deur SCO teen Novell, DaimlerChrysler (in 2004 verwerp), en AutoZone, en deur Red Hat en andere teen SCO.
Tot op hede is geen bewys van SCO se bewerings van gekopieerde kode in Linux verskaf nie en het SCO se bewerings baie gewissel.
Grootte van ontwikkelingpogings Volgens More Than a Gigabuck: Estimating GNU/Linux's Size, 'n studie van Red Hat Linux 7.1, is bevind dat dié besondere verspreiding 30 miljoen lyne bronkode bevat het. Deur die "Constructive Cost Model" toe te pas bevind die studie dat die verspreiding omtrent agtduisend man-jare ontwikkelingstyd geneem het. Volgens die studie sou die programmatuur, as dit op gewone kommersiële wyse geskep is, VS$1,08 miljard (jaar 2000) sou kos om in die VSA te ontwikkel.
Meeste van die kode (71%) is in die C-programmeertaal geskryf, maar baie ander tale is gebruik, waar onder C++, Lisp, saamsteltaal, Perl, Fortran, Python en verskeie skriptale. Effens meer as die helfte van al kode is onder GPL gelisensieer. Die Linux-kern het 2,4 miljoen lyne kode bevat, of omtrent 8% van die totaal.
In 'n studie wat daarna gedoen is, Counting potatoes: The size of Debian 2.2, is dieselfde analise op Debian GNU/Linux weergawe 2.2 gedoen. Die verspreiding het meer as vyf-en-vyftig miljoen lyne kode bevat, en die studie beraam dat dit 1,9 miljard dollar sou kos om dit op die konvensionele wyse te ontwikkel.
Toepassings duimnael|250px|'n KDE-werkskerm op die SUSE-verspreiding. Linux is voorheen hoofsaaklik as 'n bedienerbedryfstelsel gebruik, maar die lae koste, aanpasbaarheid, en Unix-agtergrond daarvan het dit vir 'n wye verskeidenheid toepassings geskik gemaak.
Linux is die hoeksteen van die LAMP-bedienerkombinasie (Linux, Apache, MySQL, Perl/PHP/Python) wat 'n hoë mate van gewildheid onder web-ontwikkelaars bereik het wat dit een van die algemeenste platforms op die web gemaak het. 'n Vername voorbeeld in dié opsig is die gebruik van dié kombinasie in die MediaWiki-stelsel — die programmatuur wat hoofsaaklik vir Wikipedia geskryf is.
Ag gevolg van die stelsel se lae koste en hoogs plooibare opstellingsmoontlikhede, word Linux baie keer in ingeboude stelsels soos digitale televisieontvangers, selfone, en handtoestelle gebruik. In selfone het Linux 'n belangrike mededinger geword vir die Symbian OS-bedryfstelsel, wat in baie selfone gebruik word. In handtoestelle, is dit 'n alternatief tot die dominante Windows CE en Palm OS bedryfstelsels. Die gewilde TiVo digitale video-opnemer gebruik 'n doelgemaakte weergawe van Linux. Verskeie outonome brandmuur- en roeteerderprodukte, waaronder verskeie van Linksys, gebruik Linux aan die binnekant, waar die gevorderde brandmuur- en roetebepalende vermoëns daarvan gebruik word.
Die Sony PlayStation 3-spelrekenaar wat in 2006 vrygestel is, sal uit die staanspoor Linux loop. Sony het tevore 'n PS2 Linux kit vir hulle PlayStation 2-spelrekenaar vrygestel. Ontwikkelaars van rekenaarspeletjies soos Atari en id Software het speletjies vrygestel wat op Linux-stelsels werk.
Linux is al hoe gewilder as 'n bedryfstelsel vir superrekenaars. In die November 2005 TOP500-lys van superrekenaars het die twee vinnigste superrekenaars ter wêreld Linux geloop. Van die 500 stelsels het 371 (74,2%) een of ander weergawe van Linux gebruik, insluitend sewe van die top tien.
Verspreidings Linux word oor die algemeen as deel van 'n Linux-verspreiding (in Engels baie keer 'n "distro" genoem) gebruik. Die verspreidings word deur individue, los spanne, en verskeie professionele organisasies saamgestel. Dit bevat gewoonlik addisionele stelsel- en Toepassingsagteware, 'n installeringstelsel om die aanvanklike stelselopstelling te vereenvoudig, en geïntegreerde bestuur van die programinstallasie en opgradering. Verspreidings word vir verskeie doeleindes geskep, insluitend rekenaarargitektuurondersteuning, lokalisering vir 'n spesifieke gebied of taal, intydse toepassings, en ingeboude stelsels, en baie sluit doelbewus slegs vrye programmatuur in. Tans word meer as driehonderd verspreidings aktief ontwikkel, waarvan omtrent 'n dosyn verspreidings die gewildste is vir algemene gebruik. Hulle sluit in: Debian Ubuntu Fedora Red Hat SuSE Mandriva