Davidson Don Tengo Jabavu (20 Oktober 1885 – 3 Augustus 1959) was 'n swart dosent en politieke leier wat in King William’s Town in die destydse Kaapkolonie gebore is. Hy was die oudste seun van John Tengo Jabavu, redakteur van die eerste koerant in 'n swart taal in Suid-Afrika.

Davidson Don Tengo Jabavu het die Lovedale-sendinginstituut in Kaapstad, die Morija-opleidingskollege in Lesotho, en die Opleidingsinstituut van Colwyn Bay in Wallis bygewoon. Nadat hy 'n B.A.-graad by die Londen-universiteit verwerf het, asook 'n onderwyssertifikaat by Birmingham-universiteit in Brittanje, is hy in 1916 by die South African Native College by Fort Hare as die eerste swart professor aldaar aangestel, waar hy tale gedoseer het. Hy het vir meer as dertig jaar by die universiteit aangebly en onder andere 'n swart onderwysersvereniging gestig wat hulle beywer het vir beter landboumetodes, die waarde van hande-arbeid beklemtoon het en om rassesamewerking gepleit het. Hy was President van die All-Africa Convention (AAC), wat gekant was teen die segregasiewette wat in 1936 deur die Hertzog-regering in Suid-Afrika aanvaar is.

Die Rhodes-universiteit het in 1954 'n eredoktorsgraad aan hom toegeken.

Publikasies Sy publikasies sluit in: The Black Problem (1920) The Segregation Fallacy and Other Papers (1928) The life of John Tengo Jabavu, editor of Imvo Zabantsundu (1922) IziDungulwana (1958)

Eksterne skakels John Tengo Jabavu op SAhistory.org Tengo Jabavu: Orde van Luthuli (goud) postuum toegeken

Kategorie:Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Geboortes in 1885 Kategorie:Sterftes in 1959 Kategorie:Suid-Afrikaanse akademici Kategorie:Suid-Afrikaanse aktiviste Kategorie:Suid-Afrikaanse opvoedkundiges Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Xhosas